Archive | Leadership

Sherpa Talk : Webinar

ABOUT THIS WEBINAR

Summit, the educators congress that has made a big difference in the lives of thousands of educators all across the country, and Schoolscape, the organisation that introduces schools to the best products and services in the education landscape, collaborate to bring you Sherpa Talk.

Sherpa Talks is a series of webinars with the main aim of encouraging and inspiring educators in these unprecedented times.

The interviewer, Rian Truter, Founder of Summit, is well known in the education sphere. Having been an educator in public schools for 30,5 years, he is now a highly inspiring motivational speaker, he’s also passionate about leadership development, facilitates strategic sessions and team building and does consulting.

The interviewee, Marais Erasmus, is an International cricket referee and the International Cricket Council Referee of the year. He has been involved in more than 300 international cricket games, and is also the Boland cricket captain. Furthermore he is a teacher and a proud South African.

COST: Free, Mahala, Gratis!

DATE: Thursday 11 June 2020

TIME: 15:15

REGISTER: https://app.livestorm.co/schooladvisor/founder-of-the-summit-conference-rian-truter-talks-to-international-cricket-ref-marais-erasmus

NOT AVAILABLE ON 11/6: Register and watch it on your own time.

We would like you to join us on the 11th of June 2020 for the very first Sherpa Talk. Where would the world be without a little bit of inspiration…

Continue Reading

‘n Teenmiddel teen Chaos : 12 Reëls

Op ’n vriend se aanbeveling het ek Jordan Peterson se boek, 12 Rules for Life, gelees en gedink dié reëls van hom is iets wat almal goed kan gebruik.  Veral ouers en onderwysers.

Sy subtitel vir die boek is An Antidote to Chaos.

En dit was nog voor Covid-19 en die staat van inperking.  Intussen het ons wêreldjie egter vinnig verander!  

Miskien sou Peterson, as hy van die virus geweet het, ook die volgende drie bygevoeg het:

  • Was jou hande gereeld.
  • Bly by die huis.
  • Handhaaf fisieke distansiëring.

Maar dalk is die twaalf reëls in hierdie uitdagende tye nou meer van toepassing as ooit. En ’n GPS vir die dag wat ons weer aan die ander kant uitkom.

Ek het die reëls in Afrikaans vertaal. Hoekom, hoor ek jou vra? Sommer net… Ek het mos nou die tyd!

By sommige is die Afrikaans vir my net meer in die kol as die oorspronklike.  Kies maar die taal waarvan jy hou.

Ek het ook nie die reëls verklaar nie, want jou eie belewing en menswees sal hulle vir jou inkleur.  Sou jy Peterson se verklaring vir elke reël wil weet; lees gerus die boek.

12 REËLS

#1 : Kop op; skouers terug.

       Stand up straight with your shoulders back.

#2 : Behandel jouself asof jy iemand is waarvoor jy verantwoordelik is.

       Treat yourself like someone you are responsible for helping.

#3 : Maak vriende met mense wat die beste vir jou wil hê.

       Make friends with people who want the best for you.

#4 : Meet jouself aan wie jy gister was en nie aan wat iemand anders vandag is nie.

       Compare yourself to who you were yesterday, not to who someone else is today.

#5 :  Moenie toelaat dat jou kinders iets doen wat gaan maak dat jy nie van hulle gaan hou nie.

        Do not let your children do anything that makes you dislike them.

#6.   Maak eers jou eie huis aan die kant voor jy die wêreld kritiseer.

        Set your house in perfect order before you criticise the world.

#7.   Soek na wat waardevol is en nie na wat slegs die oomblik bevredig nie.

        Pursue what is meaningful (not what is expedient).

#8.  Praat die waarheid en bly weg van leuens.

       Tell the truth – or, at least, don’t lie.

#9.  Aanvaar dat die persoon na wie jy luister, iets weet wat jy nie weet nie.

     Assume that the person you are listening to might know something you don’t.

#10. Wees uiters noukeurig in wat jy sê. 

        Be precise in your speech.

#11. Moenie kinders pla as hulle skateboard nie.

        Do not bother children when they are skateboarding.

#12. Streel ’n kat as jy een op straat raakloop.

        Pet a cat when you encounter one on the street.

Miskien moet ek hierdie aan ons agbare ministers Cele, Mbalula en Zulu stuur? Dalk sal hulle dan met beter begrip en insig met die huidige staat van inperking omgaan.

Maar wie sal weet. Ons vandag is beslis nie ons gister nie.

 

Learn the rules like a pro, so you can break them like an artist. – Pablo Picasso

The young man knows the rules, but the old man knows the exceptions. – Oliver Wendell Holmes, Sr.

There is no more important rule of conduct in the world than this: attach yourself as much as you can to people who are abler than you and yet not so very different that you cannot understand them. – Georg Christoph Lichtenberg

Continue Reading

Wat is dit met sommige mense en titels?

Verlede week was ek die amptelike meet and greeter vir ’n funksie.

Omdat daar uitstallers en onderwysers teenwoordig was, moes ek uitvind wie is wie.  En omdat my instink na jare in die tuig nog redelik akkuraat is (of so het ek gedink), kon ek die onderwysers met min moeite identifiseer.

Met die oorgrote meerderheid was my voorgevoel in die kol, maar  ’n paar keer het ek die toets liederlik gedop!

Om te sien of my vermoede reg is, het ek dan aan hulle gevra of hulle onderwysers is.

Die meeste het die vraag positief beantwoord en sommer vrywilliglik bygevoeg watter skool hulle verteenwoordig.

Maar drie keer was die antwoord : Ek is die hoof! (Menende die skoolhoof.)

Jammer Meneer/Mevrou! Ek is ontsettend  jammer dat ek nie u titel kon raaksien nie!

Allemagtig! Wat is dit met sommige mense en titels?

Van wanneer is skoolhoofde dan nie meer onderwysers nie? Of is, om nét ’n onderwyser te wees, benede dié uitverkore betiteldes?

Sondagaand, tydens die US Woordfees, luister ons na Koos van der Merwe en hy sing Bob Dylan:

Mama, take this badge off of me

I can’t use it anymore

It’s gettin’ dark, too dark to see

I feel I’m knockin’ on heaven’s door.

En ek besef; dit is nét heavens door wat die badge van sommige mense sal kan stroop.

Sela.

I don’t want to be a VIP. I want to be a LIP, a Less Important Person. – Mamata Banerjee

I can’t help feeling that I am not a very important person, and being treated like one gives me strange feelings. – Sally Rooney

I didn’t wake up one morning and become some important person. – Linda Sarsour

Continue Reading

Terwyl standbeelde tuimel

rhodes-lead_3261770b

…dobber ons jeug in ’n lugleegte van koploseleierskap rond.

Sonder ’n verlede, ’n vae hede en ’n onsekere toekoms.

Nóú, meer as ooit, is dit die tyd vir ouers, grootouers en onderwysers om hierdie vakuum met besielende leierskap te vul.

’n Leierskap wat sê: Volg my! Ek weet waar jy vandaan kom en ek gaan jou wys waarheen jy op pad is.

’n Leierskap waarvan die dade en voorbeeld meer wys as hoeveel volgelinge jy op Twitter of Facebook het. ’n Rolmodelskap wat getuig van Nelson Mandela se woorde en nalatenskap: For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.

Self gee ek eerlik nie om of alle standbeelde in Suid-Afrika verwyder word nie, maar my wroeging is, waarmee vervang ons dit?

’n Vredevolle trooskombersie waaruit ons kinders niks wys word nie? ’n Rooskleurige vakuum waarin alles net goed en gaaf is en vir ewig so sal bly?

Hoe gaan hulle dan ooit uit ons foute leer?

Hoe gaan hulle weet om nie dieselfde foute as ons te maak nie? Veral as sommige Suid-Afrikaners verkies om die verlede onder swart vullissakke (Rhodes), te verbloem.

Miskien verstaan dié onbekende Nederlander, nogal ironies want volgens my is hulle die oorsaak van al die gekheid in hierdie land, dit die beste as hy/sy sê als je niet leert van het verleden, zal je in die toekomst telkens nieuwe lessen krijgen.

Nee, ons sal ons kinders moet wys waar hulle vandaan kom sodat hulle kan begryp waarheen hulle op pad is. Op pad na ’n toekoms vol moontlikhede en vryheid.

Maar ook om te wys dat die verlede nie net altyd boos was nie.

Op pad na ’n toekoms wat nie deur lewelose, koue stukke klip en metaal gedefinieer word nie, maar deur die voorbeeld van lewende rolmodelle wat as rigtingwysers staan.

Lewende rolmodelle wat leef uit ’n tradisie… Of soos die seun van Sutherland, NP van Wyk Louw, dit gestel het – leef in ’n bestendige debat met die verlede.

 
Forgiving does not erase the bitter past. A healed memory is not a deleted memory. Instead, forgiving what we cannot forget creates a new way to remember. We change the memory of our past into a hope for our future. – Lewis B Smedes

O, yes the past can hurt. But you can either run from it or, learn from it. – The Lion King

We are made wise not by the recollection of our past, but by the responsibility for our future. – George Bernard Shaw

Foto: AP

Continue Reading

Burokrasie is gesond en leef tussen ons.

Die HAT verklaar die woord burokrasie as: 1. Gesamentlike staatsamptenaar. 2. Gees, gedrag van ’n burokraat; amptelike kleingeestigheid.

Nou wat is ’n burokraat dan, vra jy? Weer die HAT: Kleingeestige (en eiemagtige) amptenaar wat net aan die letter van die wet vashou.

Na ’n besoek hierdie afgelope Maandag aan die Departement van Arbeid se kantoor in Bellville, verstaan ek hierdie twee begrippe beter. Baie beter!

’n Volle vyf uur en 40 minute se beter!

Want dit was presies hoe lank dit my geneem het om my reeds voltooide UIF-vorms in te dien.

Gedurende dié genoemde vyf plus ure het ek gesien waar die woordeboekmakers hulle definisies kom formuleer.

En ek kan getuig dat hulle definisie een honderd persent in die kol is, want soos ek op my al sensitiewer wordende agterent numeries vorentoe (baie stadig!) vorder, het ek dié definisie in sy volle omvang beleef.

’n Amptenaar wat vorms aan die skare op die bankies verduidelik asof almal totaal stupid is. Maar die ergste is dat dié amptenaar die inligtingsessie gebruik om sy die standup comedy te beoefen. En die enigste wat lag is hy, want hy het die hef in die hand. Luister moet jy luister.

’n Rêrige gevange skare, want maak jy die verkeerde geluid of beweging, wie weet wanneer kom jy hier uit. Dalk nooit en jy word soos hulle. Ek het ook besef dat ons nie ’n inval van wesens uit die buitenste ruimte moet vrees nie. Hulle is reeds hier… hulle is in diens van die Departement van Arbeid.

Amptenare wat vir ’n departement werk wat die edelste woord in enige woordeskat verteenwoordig, maar gerieflik vergeet het wat dié woord beteken. Soos klokslag verdwyn hulle soos mis voor die son en laat die rye vormdraers sonder enige taal of tyding.

Kantore word driemandiep beset en deur die ruit sien ek die breedste glimlagge wat enige tandepasta-advertensie groen van jaloesie sal maak. Dis net dat ons arme drommels met die vorms, soos die minute ure word, ongelukkig nie die grap kan insien of saam wil lag nie.

En hoe later hoe kwater. Dit help nie om te vra wie in beheer van hierdie departement van onarbeidsaamheid is nie. Niemand wil verantwoordelikheid hiervoor aanvaar nie. Die warm patat van leierskap en blote verantwoordelikheid word van die een kantoor na die ander verskuif. En om alles te kroon, staan daar op ’n bordjie bo een van die kantore: Client Services!

En glimlaggend kyk ons president vanuit ’n groot geraamde portret op sy volgelinge en amptenare neer. Alles is wel in die staatsdiens.

Miskien begryp ek die hele besigheid totaal en al verkeerd?

Word dié amptenare se salarisse nie met my en jou swaarverdiende belastinggeld betaal nie?

Is hulle daarom dan nie veronderstel om die publiek as hul kliënte te sien nie? Ook daardie arme mense wat nie anders kan nie en van hospitaal, kliniek en regshulp van bank na bank móét skuif.

Ek weet ek veralgemeen, want in enige organisasie is daar uitsonderings op die reël. En ek het met een of twee van hulle ook te doen gekry, maar hulle was min. Bitter min.

Ek wonder hoe lank hulle (die bittereinders) teen hierdie tsunami van burokrasie staande gaan bly, voor hulle ook die handdoek ingooi en net nog ’n amptenaar word wat alle oogkontak met die publiek vermy?

Ek het die gevoel gekry dat dié met die lêer(s) onder die arm, wat so stip voor hulle staar as hulle loop, skaam is. Skaam omdat hulle geswig het voor die verkragting van die eens edel begrip dat arbeid adel is.

Terwyl ek daar gesit het, het ek gewens ons president wil uit sy portret klim, die tafels kom omgooi en die sweep in hierdie sinagoge kom klap!

Voor dit te laat is.

Of is die skrif reeds aan die muur?

 

Geleenthede gaan by die meeste mense verby omdat dit ’n oorpak aanhet en na werk lyk. – Thomas Edison

Om te rus kry jou nie daar nie. – Ugandese spreekwoord

Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek. – Prediker 10:18

 

 

Continue Reading

Dink nuut oor leerderleierskap

Wat is dit met ons en badges?

Hoe blinker en hoe meer die balkies, hoe beter die leier glo ons.

Amper soos Idi Amin van vervloë dae.

Om watter duistere rede beplak ons kinders met badges en balkies om te wys dat hulle leiers is? Is dit dalk hier ’n geval van dat ons hoop die nodige vere die nodige voël gaan maak?

Elke keer as ek met kinders oor leierskap praat, wil ek by hulle weet hoekom hulle dink hulle as leiers geïdentifiseer is.

Min van dié leiers kon nog ’n sinvolle antwoord verskaf en meestal dink hulle, let wel, dink hulle sus of so. Miskien het iemand iets in my gesien?  Of dalk dink hulle ek kan dit of dat vermag.

Dit is dan dat ek hulle herinner dat ek glo, sonder om te veralgemeen, die meeste van hulle gelukkig is om daar te wees, want ek is oortuig daar is baie ander “leiers” in die skool, wat gemaklik hulle plek kan neem.

Miskien is die kwessie nie die leiers wat skole voorhou nie, maar dít wat met die leiers gebeur.

In die meeste gevalle; niks. Na die bekroning met die badge of balkie vind daar die tradisionele kamp of seminaar plaas en daarna moet die balkie hulle op koers hou.

Orals in die wêreld, en veral in Suid-Afrika, het leierskap ’n brandende kwessie geword. Etiese en besielende leiers bestaan amper nie meer nie en almal kla en mor oor die gebrek aan leiers wat as rolmodelle kan dien.

Dit het dus dringend noodsaaklik geword dat skole oor leierskap moet besin. Nie op die tradisionele Leerderraad- of prefekmanier nie, maar nuut en vars.

As ons gaan kyk hoeveel van ons skoolkinders op universiteit of na skool hulle vir leierskapposisies beskikbaar stel, dan wonder ons of die skoolleierstelsel hulle lus gemaak het om te lei, of totaal daarvan afgeskrik het.

Ek glo nie die probleem is dat daar te min leiers in ’n skool is nie. Daar is eerder te veel. Die probleem lê myns insiens daarin dat ons nie die volle potentiaal van leierskap in ons skole ontsluit en ontgin nie.

Hoe dan gemaak?

Die antwoord lê opgesluit in ons vermoë om al die leierskappotensiaal wat in ’n skool is raak te sien en te ontwikkel.

Hoekom hoegenaamd leiers aanwys?

Waarom moet net 20 of 30 leerders elke jaar die voorreg kry om as ’n sogenaamde leier ontwikkel te word?

Hoekom nie alle graad 12’s of graad 7’s as leiers beskou nie? Stel almal aan gereelde leierskapontwikkeling bloot en beloon die uitskieters om soos nodig ’n leiersrol te vervul.

As die vlag gehys moet word, kry vir Piet en verduidelik dat jy dink hy is nou die geskikte leier om die vlag die lug in te stuur.  As die genooide gas volgende week verwelkom moet word, kry vir Mandie, want sy is op daardie oomblik die vaardigste spreker in die groep.

O nee, hoor ek baie brom. Wat van die tradisie?

Moet asseblief nie die tradisieverskoning gebruik nie!

Ek is pro-tradisie, maar vir baie van ons het tradisie sinoniem met gewoonte geraak.  En almal van ons weet dat gewoonte en in ’n groef wees, amper dieselfde is.

In die woorde van prof Johann Coetzee: nou is die tyd dat onderwysvoorlopers die konvensionele skooldinge vir die onkonvensionele moet verruil.

Wees braaf en doen ’n slag dinge anders!

As ons effektiewe leierskap begeer, kan ons nie langer wag nie.

Veral nie in ons skole nie, want dit is daar waar die leiers van môre gekweek en ontwikkel word.

 

You don’t need a title to be a leader.Mark Sanborn

Men don’t follow titles, they follow courage.William Wallace in Braveheart

As we look ahead into the next century leaders will be those who empower others.Bill Gates

Foto: AP

 

Continue Reading

Luister lekker!

Ek lees nou die dag op ’n plek dat die meeste leiers met hulle monde oop sterf.

Ja, met hulle monde oop, want hulle is gedurig aan die praat. Besig om mense te vertel hoe om dít of dát te doen of om raad te gee, want leiers moet mos altyd die antwoorde hê.

Dit het my laat wonder oor hoe goed ek luister? Wanneer laas het ek meer gekonsentreer op wat die ander persoon sê as wat my antwoord gaan wees?

Suksesvolle leiers, en dit sluit ouers in, is goeie luisteraars. En natuurlik goeie sprekers, maar jy kan net regtig in mense belangstel en vir hulle omgee as jy na hulle luister.  En laat ek dadelik bysê: met volle oorgawe na hulle luister!

Dit is hier waar die meeste van ons se voorneme om te luister in die hek duik. Al is ons mond dalk toe, is ons brein op ’n ander plek. Ons dros eintlik so ’n bietjie uit die gesprek en terwyl die persoon voort babbel, dink ons aan ander dinge.

Hopelik sal ons, as sy stilbly, net instemmend kan knik of ’n ekspressiewe geluid kan uiter om valslik te wys dat ons met die gesprek bygebly het.

Ongelukkig is stilbly nie luister nie. Om regtig intensief na iemand anders te luister, beteken dat die persoon na wie jy luister, die middelpunt van jou totale belangstelling word. Al jou sintuie is gefokus op wat die persoon sê en ook nie sê nie. Baie keer hoor jy meer uit die persoon se liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en uit dit wat die persoon nie sê nie, as die woorde.

Om na iemand te luister, sê dat jy respek vir hom of haar het. Al is jy die meerdere. Uit respek ontwikkel daar vertroue wat hopelik tot groter verdraagsaamheid en tot minder konflik sal lei.

As ons meer luister, gaan ons beslis ook meer weet.  Meer weet van die wêreld waarin ons leef en van die mense wat dié aarde saam met ons bewandel.

Jy gaan agterkom hoe effektiewer jy luister, hoe rustiger en kalmer gaan jy word. Nie omdat dit makliker is om te luister nie. Inteendeel; luister verg baie meer inspanning en vaardigheid as praat! Maar omdat jy fokus en daarom alle ander bollie uit jou kop en lewe skuif.

As ons meer luister as praat, sal ons ook dalk minder spyt wees oor goed wat ons nie moes gesê het nie.

Onthou die wyse raad: ’n Toe bek is ’n heel bek!

 

No man ever listened himself out of a job. – Calvin Coolidge

The first duty of love is to listen. – Paul Tillich

The greatest gift you can give another is the purity of your attention. – Richard Moss

Image: David Castillo Dominici/FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading

‘n Nuwe kyk na wat jy doen

Hoekom doen ek dit?

Gewonder waarom hou jy skool, of waarom bak jy cupcakes? Of bloot die wonder of daar nie ‘n beter manier is om te doen wat jy nou besig is om te doen nie?

Baie keer ken jy die antwoord, maar jy soek net weer so ‘n geutjie ekstra inspirasie.  Daardie skop onder die jis, daardie inspuiting van ‘n nuwe kyk na wat jy doen.

Presies so ‘n boek is die The Fortune Cookie Principle deur Bernadette Jiwa.

Of jy nou ‘n skoolhoof of ‘n graad 1—juffrou is, hierdie boek gaan jou nuut na jou besigheid laat kyk.  En daaroor laat wonder.

Laat ek dadelik sê dat The Fortune Cookie Principle nie ‘n onderwysboek is nie. Dit is eintlik ‘n besigheidsboek, maar of jy nou skoolhou, wynmaak, preek of ‘n ma van Mom’s Taxi is, jy bedryf eintlik ook ‘n besigheid!

Tina Roth Eisenberg (stigter van Tattly) som dit knap op: If you’re someone who cares about why you do what you do and how you do it, this book is for you.

Die Fortune Cookie Principle lees maklik en is glad nie in hoogdrawende M.B.A-taal geskryf nie. Jiwa illustreer haar stellings met inspirerende stories oor besighede soos Lego, Airbnb, Kimpton Hotel en vele ander.

Hier volg ‘n paar aanhalings wat jou sommer dadelik aan die dink (en lees) sal sit:

People don’t want to buy a quarter-inch drill. They want a quarter-inch hole. – Theodore Levitt, Harvard Business Professor

We are defined not by what we do but by why we do it. …We need to understand our purpose, and without that we’re just going to set up a company to make money to sell it. In a way, businesses need soul, too, and the why is the soul. – David Hieatt, co-founder, Hiut Denim

Consumers don’t want to understand the story. Increasingly, they want to be part of it … – Robert Fabricant

Lees gerus The Fortune Cookie Principle. Jy sal nie spyt wees nie!

Continue Reading

Motte het nie ore nie

Die eenvoudigste speelgoed lyk my bly nog maar die interessantste. Veral as dit nog lewendig is!

Nou die middag speel ek en Luca met ’n  mot. Ek vang die mot en laat hom dan weer uit die tronk van my bakhand ontvlug. Luca gril en gil van senuweeagtigheid en plesier. As ek dink dis nou genoeg, want die mot is besig om in stof te verander, dan skree hy: Nog, Oupa! Nog!

Uiteindelik ontsnap die mot en gaan kruip êrens tussen die struike, waar ons hom nie weer kan kry nie, weg. Ek verwonder my aan Luca se rooi wangetjies en besef net weer hoe kosbaar die lewe is. En êrens in my onderbewussyn klink Annesu de Vos se woorde uit haar gedig Pilatus op:

jy

kan my nie hoor nie

want motte het nie ore nie

nie ore nie

’n mot het nie

’n oor nie

En skielik besef ek daar is nog so baie wat ek vir my kleinkinders moet leer…

Leer dat hulle vir alles wat asem haal, respek moet hê. Selfs vir ’n mot, want alles wat asem het, is ’n skepping van God.

En saam met die respek moet hulle ook liefhê.

Seth Godin skryf dat liefde vir iets eers na die respek kom: Respect is insufficient by itself, though. Respect doesn’t get the heart to race, respect doesn’t often lead to waiting in line or gushing about an idea to someone else. No, those things come from falling in love, from the ineffable and magic switch that gets flipped when we are touched by something on an emotional level.

Maar my kleinkinders het ore. Ore om te hoor wat Oupa oor die lewe vir hulle wil sê.

Oupa moet dit nét sê …

Ek wil hê jy moet saam sing as die musiek begin speel. En dans in die somer se reën. En soek vir die reënboog langs die pad, my skat. – Karin Zoid

The truest form of love is how you behave toward someone, not how you feel about them. – Steve Hall

The man who sat on the ground in his tipi, thinking of life and its meaning, accepting the kinship of all creatures and knowing unity with all things, was drawing into his being the true heart of civilization. – Chief Luther Standing Bear

Foto: Christian Meyn/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Erkenning is die superglue van menswees

Twee belangrike besigheidsbeginsels is, volgens my beskeie mening, in Die Bybel opgeteken. Nie in ’n selfhelp-treffer of in die een of ander handleiding oor leierskap nie.

 # 1: Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. (Pred 11: 1)

 # 2: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. (Matt 7:12)

En dit is oor die tweede een wat ek iets op die hart het.

Ek verstaan nie hoe leiers nie dié eenvoudige konsep onder die knie kan kry nie. Was dit nie deel van hulle MBA nie of is dit net ’n basiese tekortkoming in hulle menswees?

Tom Peters skryf dat acknowledgement beslis die sleutel tot mense se harte is.

Yes, we all want to matter, to register, to be at the heart of things. And, moreover, we want to be seen by others as mattering and as at the heart of things. And yet, in my experience, even the smartest bosses don’t “get it” as often or more often than not.

Hy vertel dié storie van president Ulysses S. Grant (1869 – 1877):

General U.S. Grant, during his presidency, made giant steps, the last, alas, for a long time, toward healing the Union after the Civil War. Grant’s approach was deeply imbedded in his belief system. A quote from a Confederate soldier’s diary, at the end of a bloody battle that had resulted in a Confederate surrender, is highly illuminating. Grant biographer Jean Edward Smith explains:  “The [Union senior] officers rode past the Confederates smugly, without any sign of recognition, except by one. ‘When General Grant reached the line of ragged, filthy, bloody, despairing prisoners strung out on each side of the bridge, he lifted his hat and held it over his head until he passed the last man of that living funeral cortege. He was the only officer in that whole train who recognized us as being on the face of the earth.’”

En dan sê Tom: I’m an old man, and an old soldier (sailor, actually), and whenever I read that aloud in a seminar, I tear up. What can I say? I can say: Oh, the power and the glory of human acknowledgement! And hats way off to General Grant!

Hoe dan nou gemaak meneer/mevrou die CEO?

Vergeet bietjie van jouself en onthou die betekenis van Ubuntu: ’n Mens is eers mens deur ander mense.

Begin vandag nog om in die mense wat vir jou werk (regstelling; saam met jou werk!) belang te stel.  Vergeet ’n bietjie van die bottom line en onthou generaal Grant op die front line.

Antwoord die volgende eerlik:

  • Hoeveel keer sê ek dankie? (Opreg bedoel?)
  • Hoeveel dankie-sê-briefies of sms’e stuur ek?
  • Hoe spoedig doen ek bogenoemde?
  • Groet ek almal? (Van die skoonmaker tot die visie-president?)
  • Ken ek almal? (Leer by David Kramer: Sê vir my wie is u/’n Hofmeyer van Montaqu/getroud met ’n van Deventer van Barrydale/Ek ken jou pa se tante op Bonnievale/Ja, sy was la Grange van Ladysmith/Rossouw is sy getroud, ja nou verstaan ek dit…)
  • Hoe luister ek?  Afgesaagde een dié, maar steeds duik ons lelik in die hek met hierdie ou toetsie. Konsentreer volgende keer en ek wed jou jy gaan ontdek dat jou gedagtes gedurende die gesprek afdwaal. Of erger nog dat jy reeds halfpad die oplossing/antwoord het!
  • Celebrate ek small victories?  (Van die netjiese beddings tot die miljoen dollar kontrak.)
  • Stap ek voor? Of praat ek net voor?
  • En as jy praat, praat jy ék of ons?
  • Is ek daar waar die tekkie die teer tref?  (Teenwoordigheid is alles.)

Met goed soos die is dit maklik om jouself amper net regmerkies te wil gee, want ek is mos nie só nie! Maar wees ’n bietjie braaf en vra ander of jy nie dalk tog só is nie? Dalk net ’n klein bietjie.  En net soms?

Wat ook al die uitslag mag wees; begin vandag om aan ander te doen soos wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.

Jy sal verbaas wees!

Gaan lees Tom Peters se volledige artikel by http://www.tompeters.com/docs/Acknowledgement.BECKER.0730.12A.4234.doc.4234.doc

 

The deepest principal in human nature is the craving to be appreciated. – William James

A soldier will give you his life for a bit of colored ribbon. – Napoleon

I’ve learned that people will forget what you said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel. — Maya Angelou

It doesn’t take a hero to order men into battle. It takes a hero to be one of those men who goes into battle. – Norman Schwarzkopf

Image: FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading