Wat ’n vreemde kombinasie!
Almal wil weet waar kom die titel van die blog vandaan, want die vreemdheid van dié kombinasie laat jou dadelik wonder. Was dit brood en konfyt of snoek en patats, sou dit die wenkbroue veel minder laat lig het. Maar piesangs en jellietots …
As jong en mooi onderwyser het ek my loopbaan as Afrikaansonderwyser by die Hoërskool Zwaanswyk in Retreat begin. (Vandag is ek nog net mooi…)
Ek was nog nie getroud nie en soos dit maar met ‘n ongetroude gaan, het ek menige dag sonder toebroodjies skooltoe gekom en op die snoepwinkel se genade probeer oorleef.
Miskien het ek erens in een van die klasse iets oor my leë kosblik gesê, of miskien het van die kinders dit opgemerk en besluit om hulle oor my te ontferm.
So kry ek dan ook op een goeie dag van een van die meisies in een van my klasse ’n pakkie toebroodjies vir pouse. Ek was ietwat uit die veld geslaan, maar tog baie dankbaar, want ek het wéér nie iets vir pouse ingepak nie.
Maar die mens, of sou ek liewer sê onderwyser, se aangebore agterdog laat jou tog wonder waarom dié geskenk? Is dit nie dalk weer een of ander poets wat die klas uitgedink het of probeer die kind jou nie terugkry vir daardie swak toetspunt nie?
Teen pousetyd was ek al so versigtig vir daardie pakkie toegedraaide toebroodjies soos ‘n politikus vir ’n briefbom.
Die toebroodjies was netjies met waspapier toegedraai. Die hoeke was perfek omgevou en het presiese driehoeke met die sye van die pakkie gevorm. Amper te perfek …
Ek het die waspapier versigtig – gedagtig aan ’n briefbom of iets dergliks – losgewoel. Voor my het twee witbroodtoebroodjies gelê. Die korsies afgesny.
Al wat ietwat verdag aan die toebroodjies was, was die ongelykheid van die oppervlakke. Dit was of daar oral sulke bultjies op die gladde wit oppervlakke was. Asof die brood een of ander iets onder lede het!
My wantroue in my Samaritaan was nou so te sê finaal voltrek. Hierdie was nie ’n goeie daad nie, maar beslis ’n truuk!
Versigtig het ek die die boonste sny brood van een van die broodjies afgewoel. Gereed vir ’n vinnige ontruiming indien daar iets sou uitspring.
Maar niks gebeur nie. Ek wikkel die twee snye brood versigtig verder van mekaar los …
Piesangs en jellietots!
My Samaritaan het besluit meneer se brood se vulsel sal uit lang snye piesangs bestaan. En om dit finaal af te rond, het sy dit met jellietots versier! Vir háár meneer!
Vir ’n kaas-en-konfyt-ou was dit amper so vreemd soos kaviaar. Nie net die vulsel nie.
Nog vreemder, dat iemand soveel moeite vir ’n ander kon doen. Meer nog vir my?
Ek het ’n versigtige eerste byt gegee. Die jellietot was ietwat taai onder my tande. Die piesang se smaak eksoties. Saam het hulle inmekaar gevloei tot …
Piesangs en jellietots! Apart op hulle eie met geen manier tot ’n smaak wat hulle kan trou nie.
Ek het hulle verslind. Maklik en ’n mooi gesig was dit seker nie, maar tot vandag toe beskou en my piesangs-en-jellietottoebroodjies as een van die kosbaarste geskenke wat ek nog óóit in my lewe ontvang het.
Nou weet jy …
We do no great things, only small things with love. – Mother Teresa
Unless someone like you cares a whole awful lot, nothing is going to get better. It’s not. – Dr. Seuss