Wat is dit met ons en badges?
Hoe blinker en hoe meer die balkies, hoe beter die leier glo ons.
Amper soos Idi Amin van vervloë dae.
Om watter duistere rede beplak ons kinders met badges en balkies om te wys dat hulle leiers is? Is dit dalk hier ’n geval van dat ons hoop die nodige vere die nodige voël gaan maak?
Elke keer as ek met kinders oor leierskap praat, wil ek by hulle weet hoekom hulle dink hulle as leiers geïdentifiseer is.
Min van dié leiers kon nog ’n sinvolle antwoord verskaf en meestal dink hulle, let wel, dink hulle sus of so. Miskien het iemand iets in my gesien? Of dalk dink hulle ek kan dit of dat vermag.
Dit is dan dat ek hulle herinner dat ek glo, sonder om te veralgemeen, die meeste van hulle gelukkig is om daar te wees, want ek is oortuig daar is baie ander “leiers” in die skool, wat gemaklik hulle plek kan neem.
Miskien is die kwessie nie die leiers wat skole voorhou nie, maar dít wat met die leiers gebeur.
In die meeste gevalle; niks. Na die bekroning met die badge of balkie vind daar die tradisionele kamp of seminaar plaas en daarna moet die balkie hulle op koers hou.
Orals in die wêreld, en veral in Suid-Afrika, het leierskap ’n brandende kwessie geword. Etiese en besielende leiers bestaan amper nie meer nie en almal kla en mor oor die gebrek aan leiers wat as rolmodelle kan dien.
Dit het dus dringend noodsaaklik geword dat skole oor leierskap moet besin. Nie op die tradisionele Leerderraad- of prefekmanier nie, maar nuut en vars.
As ons gaan kyk hoeveel van ons skoolkinders op universiteit of na skool hulle vir leierskapposisies beskikbaar stel, dan wonder ons of die skoolleierstelsel hulle lus gemaak het om te lei, of totaal daarvan afgeskrik het.
Ek glo nie die probleem is dat daar te min leiers in ’n skool is nie. Daar is eerder te veel. Die probleem lê myns insiens daarin dat ons nie die volle potentiaal van leierskap in ons skole ontsluit en ontgin nie.
Hoe dan gemaak?
Die antwoord lê opgesluit in ons vermoë om al die leierskappotensiaal wat in ’n skool is raak te sien en te ontwikkel.
Hoekom hoegenaamd leiers aanwys?
Waarom moet net 20 of 30 leerders elke jaar die voorreg kry om as ’n sogenaamde leier ontwikkel te word?
Hoekom nie alle graad 12’s of graad 7’s as leiers beskou nie? Stel almal aan gereelde leierskapontwikkeling bloot en beloon die uitskieters om soos nodig ’n leiersrol te vervul.
As die vlag gehys moet word, kry vir Piet en verduidelik dat jy dink hy is nou die geskikte leier om die vlag die lug in te stuur. As die genooide gas volgende week verwelkom moet word, kry vir Mandie, want sy is op daardie oomblik die vaardigste spreker in die groep.
O nee, hoor ek baie brom. Wat van die tradisie?
Moet asseblief nie die tradisieverskoning gebruik nie!
Ek is pro-tradisie, maar vir baie van ons het tradisie sinoniem met gewoonte geraak. En almal van ons weet dat gewoonte en in ’n groef wees, amper dieselfde is.
In die woorde van prof Johann Coetzee: nou is die tyd dat onderwysvoorlopers die konvensionele skooldinge vir die onkonvensionele moet verruil.
Wees braaf en doen ’n slag dinge anders!
As ons effektiewe leierskap begeer, kan ons nie langer wag nie.
Veral nie in ons skole nie, want dit is daar waar die leiers van môre gekweek en ontwikkel word.
You don’t need a title to be a leader. – Mark Sanborn
Men don’t follow titles, they follow courage. – William Wallace in Braveheart
As we look ahead into the next century leaders will be those who empower others. – Bill Gates
Foto: AP
Wyse, wyse woorde. Of daar wyse hoorders hiervoor is is egter ‘n ander vraag. Die idee van ontwikkeling aan ‘n hele klas – veral in die laerskool – is iets wat ek al baie begeer het. Ek het soveel keer in die verlede gesien hoe die nuwe prefekkies blinkoog en trots (om nie van die moeders te praat nie) op die verhoog staan net om gou gou nie die mas op te kom nie. Persoonlik is ek vas oortuig dat ‘n laerskool kind nie gereed is vir leierskap posisies soos in die tradisionele sin nie en behoort dit nie op hulle afgedwing te word nie.
Christine, dankie vir jou kommentaar. Al dink ‘n paar skole net hieroor is dit al die moeite werd. Ek stem 100% saam oor laerskoolleiers. Mooi loop!
Sjoe Rian, hoe waar is jou woorde nie. Tradisie en “soos ons maaar altyd dit in die verlede doen”… is die hekkies waaroor ons moet kom. Jy is reg: uit die boks moet ons begin dink. Kinders is nie meer kinders nie, ons wil hulle op spogpodiums plaas waar hulle nog nie hoort nie. In die proses is daar baie “ongevalle”, soms blywende skade wat nie noodwendig moes plaasgevind het nie. Geen mens weet hoekom daar op hierdie vlak ook nog ‘n kompetisie moet wees nie. Ek is ‘n voorstaander dat kinders solank as wat hulle kan, kinders moet bly, maaar die samelewing en “groepsdruk” neem baie van die onbevange, vrye kindwees weg van ons kinders. Gee ‘n bietjie meer pitkos oor wat jy dink ons in ons laerskole moet doen en moet toepas om leierskap beter te ontwikkel. Ek sal dit graag met die personeel, gr. 7-leerders en ons ouers wil deel. Dankie!
Dankie, Nanette! Stem heelhartig met jou saam. Laat ek bietjie verder dink en praat oor die onderwerp. Mooi loop!