Die woord vir 2019 is glo Zondo-kommissie.
Volgens PanSAT (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) is dit die woord wat dié jaar se luim en filosofie die beste omvat.
Al wat ek kan sê, is… krokodilbollie!
My woord is die een wat sedert die begin van die Rugby Wêreldbeker op almal se lippe is, naamlik respek. En presies oor die teenoorgestelde rede as die van PanSAT.
Natuurlik is die woord vir die meeste van ons glad nie vreemd nie.
Ons het immers met hierdie woord grootgeword. Maar wat daarvan geword het, is ’n ope vraag.
Om een of ander rede het die toepassing van die woord nie regtig inslag by ons as Suid-Afrikaners gevind nie.
Maar waarom wel by die Japannese?
Dit kan beslis nie wees omdat die begrip van respek nie genoeg by ons ingedril, en selfs ingefoeter, is nie.
Daar is omtrent nie ’n skool in Suid-Afrika wat nie die een of ander waardeprogram volg en waarvan respek ’n groot deel uitmaak nie.
Suid-Afrikaners by die Wêreldbeker knoop hulle dubbel om te konnichiwa en selfs met pantoffels en kamerjasse op die paviljoen te gaan sit.
Maar ten spyte van al hierdie tydelike betoon van respek in ’n vreemde land, betoon ons as nasie tuis min of geen respek aan mekaar nie. Nie in die klein dingetjes nie en nog minder in die grotes.
Miskien het ons al die jare net die woord in teorie geleer en verstaan. Die woordeboekdefinisie daarvan, maar die uitoefening het ongelukkig agterweë gebly.
Te veel is die woord gepredik en te min is dit gedoen!
Die spieël van respek waarin ons jeug moet kyk, is te dof om te sien hoe daar met respek opgetree word?
Ons moet nou respek begin leef en ophou net praat daarvan.
Wanneer jy respek aan jou opponent betoon, respekteer jy jouself. – John-Laffnie de Jager
It’s always been a mystery to me how people can respect themselves when they humiliate other humans. – Mahatma Gandhi
Respect is a two-way street, if you want to get it, you’ve got to give it. – RG Risch