Vars kreet vir Nuweland

Onthou jy nog die interskoleliedjies wat jy op skool gesing het?

Waar sommige se woorde ontstaan het en presies wat die logika daarvan was, bly vandag nog vir my ‘n raaisel.

Een so ’n treffer was Eet kool. Met min of meer die volgende, herhalende woorde: Eet kool, kool gee wind, kool gee spoed, eet kool!

Hierdie liedjie is  met die grootste oorgawe gesing. Niemand het die feitlikheid daarvan betwyfel nie.

Ons atlete moes blykbaar die lied se raad letterlik opgeneem het (dit was voor opkikkers), want as ons voor gehardloop het, het dit kompleet gelyk of die teenstanders verkies om so ’n tree of twee agter te bly.

Ons het natuurlik geglo dit is ons aanmoediging van die pawiljoen wat dié spoed veroorsaak. Vandag dink ek eerder dit was die koolwinde wat ons atlete aangedryf het.

Saterdag op Nuweland sit ek weer langs so ’n selfaangestelde rasieleier vir die Stormers.

Uitgevat in sy Stormerstrui en vlymskerp met sy sêgoed en kwinkslae. Ken nogal die spel en die spelers. Maar dit is sy kreet wat die aandag trek.

As die Stormers aanval, of as Beast val in die skrum, trek hy weg met Eet sy pap! Eet sy pap!

Ek probeer agterkom of hy die sêding vir toejuiging, aanmoediging of uitjou gebruik, maar ek besef later  die kreet is meerdoelig.

Aanvanklik is die mense in ons deel van die pawiljoen half uit die veld geslaan met die eet van die pap. Maar sy Eet sy pap! Eet sy pap! kry gou ’n klein  koortjie agter ons by. Dié koortjie groei met die verloop van die wedstryd aan en teen rustyd eet ons deel van die grootpawiljoen almal pap.

Deur die verloop van die tweede helfte is daar net een kreet op ons lippe: Eet sy pap! Eet sy pap!

Ons dreunsing dit as Andries Bekker die bal in die lynstaan vat en as die Sharks in die skrum teruggestoot word.

Ons rasieleier het intussen iewers ’n opgestopte hondjie met ’n Stormerstrui gaan koop. Dié aandenking word versigtig op sy skoot vasgehou, want dit is glo vir die kleintjie by die huis.

Net voor die einde, toe ons nou seker is die Stormers gaan dié een deurtrek, staan hy op en met ‘n laaste Eet sy pap! Eet sy pap! verlaat ons rasieleier die pawiljoen.  Oppad huis toe met die hondjie triomfantlik as ’n oorwinningsaluut in die lug gehou.

Eet sy pap! Eet sy pap! bulder die pawiljoen agter ons dirigent aan. En met ’n laaste wuif verdwyn hy die trap af.

En skielik is dit stil.

Maar wát ’n dag op Nuweland was dit nie!

Dat die Stormers gewen het, was ’n bonus. Die hoogtepunt was ons mini interskole en die sing van ons nuwe kreet.

Vir ’n tydjie is ons weggevoer na ons kinderdae en het dit kompleet gevoel ons is met hees gesingde kele terug op die pawiljoen tussen stukkende cheesecutters.

Voor die wedstryd was ons vreemdelinge, maar nou was ons ’n span. Een van doel, een van gees.

Saamgesnoer deur ’n rasieleier wie se naam ons nie ken nie, maar wat ons geleer het ons kan die opponente se pap vir ons vat!

Eet sy pap! Eet sy pap!

Enthusiasm is contagious. Be a carrier. – Susan Rabin

Enthusiasm is excitement with inspiration, motivation, and a pinch of creativity. – Bo Bennet

To look back all the time is boring. Excitement lies in tomorrow. – Natalia Makarova

(Visited 3,582 times, 1 visits today)

, , , , , ,

2 Responses to Vars kreet vir Nuweland

  1. magda basson April, Tuesday 23 2013 at 8:35 am #

    Dit is darem maar lekker om so tussen jou eie mense te wees. Die sêgoed is vir my wonderlik en gee ‘n mens sommer weer moed vir die week wat voorlê.

Leave a Reply