Archive | June

Elke pleister het sy eie storie.

10720810

Het jy miskien al gewonder wat rugbyspelers op die pleister wat hulle om hulle polse draai, skryf?

Dié pleisterskrywery het veral onder rugbyspelers begin posvat en hulle skryf van geliefdes se name tot aanhalings om hulle te motiveer, op hierdie stukkie taai materiaal.

Die meeste sportmanne het maar die een of ander ritueel wat hulle glo hulle gaan help om sukses te behaal. Party glo hul sokkies moet nie opgetrek wees nie en ander wil elke keer voor ’n wedstryd op dieselfde plek in die kleedkamer sit.

Is dié geskrywery dan ook maar net nog so ’n ritueel?

Party skryf selfs net ’n klomp syfers neer. Onverstaanbare getalle vir diegene wat nie weet wat dit beteken nie, maar gelaai met inhoud vir die wat weet wat dié syfer op die pleister beteken.

Suid-Afrikaners herken dadelik die syfer 46664 as Nelson Mandela se nommer op Robbeneiland en begryp die betekenis daarvan. Menige Suid-Afrikaanse sportspan het dan ook met dié nommer op die mou op die veld gedraf.

Ook op Aaron Cruden (All Blacklosskakel) se gewrig pryk elke wedstryd die kode GEJ0342 – sy hospitaaltoelatingsnommer. As negentienjarige is hy deur ’n uiters moeilike tyd toe hy vir nege weke chemoterapie vir testikulêre kanker moes ontvang!

Vandag is hy genadiglik genees, maar hy sê dié syfer herinner hom elke dag dat hy al moeilike tye oorleef het en dat hy wat die wedstryd of lewe na hom gooi, kan hanteer. Maar meer nog; dit herinner hom om gedurig te onderskei tussen wat in die lewe belangrik is en wat nie.

Self moes ek die afgelope tyd opnuut besef hoe broos en feilbaar die menslike liggaam is. Niemand in hierdie wêreld word gevrywaar van enige siekte of ramp nie. Óf jou naam nou Aaron óf Rian is. Óf jy negentien óf drie en sestig is. Jou beurt is jou beurt!

Maar in hierdie spesiale kolfbeurt van jou is dit nogal belangrik wat jy op die pleister om jou pols skryf, want hierdie pleister maak nie net gesond nie, maar bepaal ook vir baie die koers en tempo van herstel.

So het die syfer 153 vir my in die tyd wat ek met prostaatkanker gediagnoseer is, en na die operasie, ’n baie spesiale betekenis gekry.

Nee, 153 is nie my toelatingsnommer of iets dergliks nie. Dit is eintlik ’n getal wat ek al baie keer in my lewe moes gelees het, maar nog nooit eintlik begryp het nie. Kom ek verduidelik.

In Johannes 21 verskyn Jesus na sy kruisiging by die See van Tiberias aan sy dissipels. Ja, dit is daar waar hulle niks vang nie en Jesus vir hulle sê om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi.

En toe vang hulle so baie vis dat hulle nie weer die net kon intrek in die skuit nie. Hulle moes dit wal toe sleep!

En dan in vers 11: Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie. (Die Boodskap)

Skielik kyk ek met ander oë na hierdie storie wat ek al van kindsbeen af ken. Dit is asof ek die syfer 153 vir die eerste keer sien, al moes ek dit hoeveel keer vantevore gelees het.

En ek besef die Here se genade is nie sommer net ’n hoop vis in ’n net nie. Nee, die Here se genade is baie spesifiek. Om presies te wees, 153 spesifiek!

Die dissipels het nie honderd een en vyftig of honderd twee en vyftig visse nodig gehad nie, maar 153!

En net so ontvang elkeen van ons presies dié porsie genade en hoop wat ons nodig het van die Here. Ook nie iemand anders sin nie. Net joune; presies afgetel tot by jou eie 153.

Nog belangriker. Hoe groot of baie die visse is; jou net sál nie skeur nie!

Jou net is deur die genade sterk genoeg om jou 153 groot visse aan wal te bring. Al moet jy dit wal toe sleep!

My pleister se kode is ietwat korter as as Aaron sin. Geen letters nie; net syfers. Net 153 wat my elke dag herinner dat Jesus se genade so oorvloedig is soos die vis in die see.

Wat staan op jóú polspleister geskryf?

Dit is maklik om populêre spreuke en gesegdes neer te pen, maar die truuk is om dít wat jy daar skryf, uit te leef.

As ons dit nie doen nie, is ons gedagtes niks meer as ander mense se menings nie en die geskryf op ons pleisters niks anders as ’n aanhaling van iemand ander se passie nie.

En watter vermorsing van 153 visse sal dít nie wees nie!

 

Human spirit is the ability to face the uncertainty of the future with curiosity and optimism. It is the belief that problems can be solved, differences resolved. It is a type of confidence. And it is fragile. It can be blackened by fear and superstition. – Bernard Beckett

Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy wil hê Hy moet doen nie. – Max Lucado

Faith is to believe what you do not yet see; the reward for this faith is to see what you believe. St. Augustine of Hippo
Foto: Sunday News (Rugby Heaven)

Continue Reading

Waar kry jy die meeste vis?

Andrew, my energieke koerantverkopervriend, vra my nou die dag: Wa kry djy die meeste vis, laanie?

Onmiddellik is ek op my hoede, want ’n verkeerde antwoord gaan my onnosel laat lyk. ’n Verkeerde antwoord kan my ’n goue ster kos en die hoek-van-die-straat-flinkdinktrein laat verpas.

My gegradueerde brein laat alle sinapse gelyk snap, crackle en pop (NASA sou jaloers wees!) en my antwoord word half versigtig op die tafel gesit: Seker in die see…

Nei, laanie! Tussen die kop ennie stert, da kry djy die meeste vis!

Natuurlik! Logies; waar anders?

En toe laat Andrew my wonder. Waarom soek ons altyd die antwoord by die kop? Hoekom jaag ons gedurig van die kop na die stert en mis die meeste vis in die middel?

Miskien is dit omdat ons kultuur, gemeenskap en skole ons só programmeer. Of dalk word ons gebreinspoel dat net die kop saak maak. Net dié met die goue sterre tel. Die name op die erebord in die saal is die uitverkorenes. Dit is hulle, en nét hulle, wat êrens gaan kom in die lewe.

Ek dink elke dag meer en meer die antwoord lê êrens in die middel… Soos Andrew sê. Of  dalk soos Boerneef gedig het:

Tussen die katel en die koppenent /Ennie katel se voetenent/Daar lê die begin/En daar lê die einde/Die begin vannie ding/Ennie end vannie ding… (Palissandryne)

Ken Robinson slaan vir my die spyker op die kop as hy die volgende oor skole te sê het: Schools have a narrow view of ability, school systems usually promote a very wide view of disability.

Die vraag ontstaan nou hoe ons te werk moet gaan dat skole ’n groter begrip vir elke kind se moontlike ability ontwikkel?

Eerstens moet onderwysers (en ouers) meer van elke kind verwag. Beslis meer as net dit wat die kurrikulum voorskryf. Hierdie verwagting moet egter realisties wees, want ’n verwagting wat nie aan die werklikheid gekoppel is nie, is net valse hoop. Maar daarteenoor is verwagtinge wat te klein is, ook weer sonde.  Sulke verwagtinge  mis die meeste van die vis in die middel.

Ons is vandag op soek na volwassenes wat kinders diep sal laat delf tussen die kop en die stert.  Na waar hul die meeste vis sal kry. Rolmodelle wat ons kinders sal laat ontdek waartoe hulle werklik in staat is.  En hulle dan sal lei om dié te potentiaal te verwesenlik. Of dit nou by die kop, middel of stert is!

Seth Godin sê op sy beurt: The mirror we hold up to the person next to us is one of the most important pictures she will ever see.

Nou, meer as ooit te vore, is dit nodig dat ouers en onderwysers dié spieël so sal hou dat kinders die volgende sal sien:

  1. Elke mens is intelligent en uniek. Maar nie almal is op dieselfde manier intelligent nie.
  2. Almal is kreatief, want ons word met hierdie eienskap gebore.
  3. Jy is verantwoordelik vir jou lewe. Aanvaar dié verantwoordelikheid.
  4. Leef met liefde.

Meer nog; dat dit nie net die goue ster en die eerste span is wat tel nie, want Andrew, Boerneef, Ken en Seth het gesê jy kry die meeste vis in die middel.

Miskien sal ons dan ophou om van die een punt na die ander te jaag. Van die A-klas na die eerste span na die goue ster. Ophou glo die geluk lê vir ons aan die einde van die reënboog en wag, want as ons dít glo, gaan ons die mooiste kleure van die reënboog in die middel glad nie raaksien nie!

 

Free the child’s potential, and you will transform him into the world. – Maria Montessori.

I was never top of the class at school, but my classmates must have seen potential in me, because my nickname was “Einstein”. – Stephen Hawking

Focus on your potential instead of your limitations. – Alan Loy McGinn

 

Image courtesy of duron123 at FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading