Elke pleister het sy eie storie.

10720810

Het jy miskien al gewonder wat rugbyspelers op die pleister wat hulle om hulle polse draai, skryf?

Dié pleisterskrywery het veral onder rugbyspelers begin posvat en hulle skryf van geliefdes se name tot aanhalings om hulle te motiveer, op hierdie stukkie taai materiaal.

Die meeste sportmanne het maar die een of ander ritueel wat hulle glo hulle gaan help om sukses te behaal. Party glo hul sokkies moet nie opgetrek wees nie en ander wil elke keer voor ’n wedstryd op dieselfde plek in die kleedkamer sit.

Is dié geskrywery dan ook maar net nog so ’n ritueel?

Party skryf selfs net ’n klomp syfers neer. Onverstaanbare getalle vir diegene wat nie weet wat dit beteken nie, maar gelaai met inhoud vir die wat weet wat dié syfer op die pleister beteken.

Suid-Afrikaners herken dadelik die syfer 46664 as Nelson Mandela se nommer op Robbeneiland en begryp die betekenis daarvan. Menige Suid-Afrikaanse sportspan het dan ook met dié nommer op die mou op die veld gedraf.

Ook op Aaron Cruden (All Blacklosskakel) se gewrig pryk elke wedstryd die kode GEJ0342 – sy hospitaaltoelatingsnommer. As negentienjarige is hy deur ’n uiters moeilike tyd toe hy vir nege weke chemoterapie vir testikulêre kanker moes ontvang!

Vandag is hy genadiglik genees, maar hy sê dié syfer herinner hom elke dag dat hy al moeilike tye oorleef het en dat hy wat die wedstryd of lewe na hom gooi, kan hanteer. Maar meer nog; dit herinner hom om gedurig te onderskei tussen wat in die lewe belangrik is en wat nie.

Self moes ek die afgelope tyd opnuut besef hoe broos en feilbaar die menslike liggaam is. Niemand in hierdie wêreld word gevrywaar van enige siekte of ramp nie. Óf jou naam nou Aaron óf Rian is. Óf jy negentien óf drie en sestig is. Jou beurt is jou beurt!

Maar in hierdie spesiale kolfbeurt van jou is dit nogal belangrik wat jy op die pleister om jou pols skryf, want hierdie pleister maak nie net gesond nie, maar bepaal ook vir baie die koers en tempo van herstel.

So het die syfer 153 vir my in die tyd wat ek met prostaatkanker gediagnoseer is, en na die operasie, ’n baie spesiale betekenis gekry.

Nee, 153 is nie my toelatingsnommer of iets dergliks nie. Dit is eintlik ’n getal wat ek al baie keer in my lewe moes gelees het, maar nog nooit eintlik begryp het nie. Kom ek verduidelik.

In Johannes 21 verskyn Jesus na sy kruisiging by die See van Tiberias aan sy dissipels. Ja, dit is daar waar hulle niks vang nie en Jesus vir hulle sê om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi.

En toe vang hulle so baie vis dat hulle nie weer die net kon intrek in die skuit nie. Hulle moes dit wal toe sleep!

En dan in vers 11: Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie. (Die Boodskap)

Skielik kyk ek met ander oë na hierdie storie wat ek al van kindsbeen af ken. Dit is asof ek die syfer 153 vir die eerste keer sien, al moes ek dit hoeveel keer vantevore gelees het.

En ek besef die Here se genade is nie sommer net ’n hoop vis in ’n net nie. Nee, die Here se genade is baie spesifiek. Om presies te wees, 153 spesifiek!

Die dissipels het nie honderd een en vyftig of honderd twee en vyftig visse nodig gehad nie, maar 153!

En net so ontvang elkeen van ons presies dié porsie genade en hoop wat ons nodig het van die Here. Ook nie iemand anders sin nie. Net joune; presies afgetel tot by jou eie 153.

Nog belangriker. Hoe groot of baie die visse is; jou net sál nie skeur nie!

Jou net is deur die genade sterk genoeg om jou 153 groot visse aan wal te bring. Al moet jy dit wal toe sleep!

My pleister se kode is ietwat korter as as Aaron sin. Geen letters nie; net syfers. Net 153 wat my elke dag herinner dat Jesus se genade so oorvloedig is soos die vis in die see.

Wat staan op jóú polspleister geskryf?

Dit is maklik om populêre spreuke en gesegdes neer te pen, maar die truuk is om dít wat jy daar skryf, uit te leef.

As ons dit nie doen nie, is ons gedagtes niks meer as ander mense se menings nie en die geskryf op ons pleisters niks anders as ’n aanhaling van iemand ander se passie nie.

En watter vermorsing van 153 visse sal dít nie wees nie!

 

Human spirit is the ability to face the uncertainty of the future with curiosity and optimism. It is the belief that problems can be solved, differences resolved. It is a type of confidence. And it is fragile. It can be blackened by fear and superstition. – Bernard Beckett

Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy wil hê Hy moet doen nie. – Max Lucado

Faith is to believe what you do not yet see; the reward for this faith is to see what you believe. St. Augustine of Hippo
Foto: Sunday News (Rugby Heaven)

(Visited 169 times, 1 visits today)

, , , , , ,

4 Responses to Elke pleister het sy eie storie.

  1. Ian Brand June, Tuesday 28 2016 at 1:11 pm #

    Sjoe Rian, jy laat my hoendervleis kry terwyl ek hier loop en lees! Saam met jou skills om motiveringstoesprake te lewer, kan jy maklik ‘n top-evangelis word! Ek is baie jammer om te hoor van die moeilike tyd waardeur jy gegaan het. Ons bid vir jou, Elsa & jul familie en glo Hy sal jou volkome genees! Baie dankie vir dit wat jy gedeel het, dit is baie waardevol!

    • Rian Truter June, Tuesday 28 2016 at 1:22 pm #

      Dankie vir die lees en goeie wense, Ian! Mooi loop!

  2. Louise Rheeder June, Tuesday 28 2016 at 3:46 pm #

    Rian, ja, genadiglik kry ons ook elke dag die krag om eise soos wat jy ook nou moes hanteer, te kan hanteer! Baie sterkte ook in hierdie tyd! Mag jy elke dag ook ervaar dat die Groot Geneser in beheer is!

Leave a Reply