Archive | Guest Posts

Die jeug se oplossing vir SA Onderwyskrisis

Aldu Duminy

 Hierdie week se gasskrywer is Aldu Duminy van Riversdal. Ek het hom tydens die US-Jip Matrikulant van die Jaar-kompetisie ontmoet en gevra hy moet sy siening oor Suid-Afrikaanse Onderwys met Piesangs en Jellietots deel. Aldu was vanjaar hoofseun van Hoërskool Langenhoven en het tydens bogenoemde kompetisie ’n toekenning vir uitnemendheid (‘n beurs ter waarde van R30 000 en ‘n skootrekenaar te waarde van R12 000) ontvang. Hier volg sy oplossing vir SA se onderwys:

Die kruin van die onderwyskrisis is uiteindelik bereik. Verskeie alternatiewe roetes wink nou vir die toekomstige onderwys. In ons keuse van ‘n roete behoort ons bewus te wees dat onderwys die enigste sleutelfaktor is en altyd sal wees, wat aangewend kan word om ‘n verskil in ons land te maak.

Aangesien opvoeding, finansies en ander insette benodig word, is die regering en die privaatsektor die hoofrolspelers en argitekte in hierdie verband. Sedert 1994, nadat ‘n nuwe aanslag ten opsigte van onderwys gemaak is, kleef ons nog steeds vas aan dieselfde eertydse veranderinge.

Die tyd het aangebreek vir ‘n nuwe wending. Die belegging in onderwys tot op hierdie stadium, wat ‘n groot persentasie uitmaak van die Nasionale Begroting oor die afgelope 17 jaar, moet nou beslis herevalueer word. Die volk, asook die wêreld, wil graag weet wat die rentabiliteit op hul belegging en insette tot op hede is.

Gesien in die lig van vorige opmerkings, is dit dus glashelder dat daar nou eerder staat gemaak moet word op die kreatiwiteit en inisiatief van die opportunistiese jeug.

Om mee weg te spring: Die eerste twee bedreigings, naamlik armoede en werkloosheid, kan in ‘n waardevolle geleentheid omskep word. Die sleutel tot hierdie sukses berus op kreatiwiteit – met opvoeding as basis. Deur hierdie kosbare hulpbron positief te benut, kan daar ‘n daadwerklike verskil gemaak word aan menselewens en hul sodoende toerus met vaardighede wat hul van regeringstoelaes onafhanklik sal maak. Op hiérdie wyse word mense beklee met ‘n visie vir die toekoms, wat op hul beurt ’n positiewe sneeubal-effek sal verseker.

‘n Ander voorstel lê in die keuse rondom leerareas opgesluit. Sekere leerareas word huidig op leerders, sonder in agneming van potensiaal en belangstelling, afgedwing. Introspeksie moet ten opsigte van die waarde hiervan gedoen word. Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid en Lewensoriëntering is die struikelblokke wat toekomsroetes versper. Daar moet besin word of die gedwonge bestudering van hierdie leerareas die kernprobleme in ons land aanspreek. Ons het eerder ‘n behoefte aan beroepsgerigte onderwys van so vroeg as wanneer leerders hul eerste tree op die skoolgrond gee.

Voorts sal in die toekoms vanweë globalisering, veel groter eise aan individue gestel word. Die minimum vereistes in hierdie verband word nog nie deur die huidige stelsel in ag geneem nie. Gesien in die lig dat die wêreld omskep word in ‘n klein dorpie, moet daar op ‘n gekoördineerde en harmonieuse wyse beplan en besin word wat nou eintlik die primêre vaardighede vir elke toekomstige aardbewoner moet wees. ‘n Eenvormige taal wat in ons kontinent en die wêreld gebesig word, moet bemeester word. Sodoende kan kommunikasie, as primêre medium, die uitdagings rondom globalisering die hoof bied.

Dissipline is ‘n rots in die weg van kwaliteit onderwys. Leerders ontwyk dissipline in gevalle waar die omgewing met hul persoonlike verwagtinge bots. Die skoolkurrikulum, gebrek aan kommunikasie tussen ouers en onderwysers, aanslag en bevoegdhede van pedagoë, asook die skoolinfrastruktuur, ondermyn dissipline. ‘n Duidelike organigram met afgebakende magte, bevoegdhede en verantwoordelikhede moet vir al die rolspelers, aan die begin van elke jaar, uitgespel word ten einde impulsiewe delegering van pligte te voorkom. Hierdie euwel bring mee dat belangrike doelwitte nooit gekontroleer en uitgevoer kan word nie. Dit is dus ooglopend dat hierdie rots tot die kernprobleem in die hedendaagse onderwysstelsel ontwikkel het.

Hierdie argitektoniese, nuwe skepping van toekomstige onderwys dien as rigtingaanwyser om die mees aanvaarbare, alternatiewe roete te bewandel. Deur hiérdie rigting in te slaan, sal ons die uitdagings in verband met opvoeding in definitiewe geleenthede omskep – met buitengewone opbrengs vir álle rolspelers.

 

’n Intellektueel is ’n persoon wat opgevoed is bokant sy intelligensie. – Jan Smuts

Education is the most powerful weapon which you can use to change the world. – Nelson Mandela

An investment in knowledge pays the best investment. – Benjamin Franklin

  

Continue Reading

Betyds vir te laat …

 
 
 
 

Johann Coetzee

 

Toe ek die onderstaande skrywe van prof Johann Coetzee lees, het ek net geweet ek móét dit met die lesers van Piesangs & Jellietots deel! Johann het dan ook goedgunstiglik ingestem dat ek dit in P&J kan plaas.

 

 Een van ons vliegvriende sterf.

Vyfhonderd mense daag op by die begrafnis in Nelspruit. Ons vlieg van oral om die laaste eer te bewys op ’n Donderdagmiddag.

Ons is almal netbetyds-om-te-laat-te-wees. Maar, ons is moreel en hartseer daar om sy familie te omhels en om met mekaar te gesels.

Terwyl ek om my kyk in die kerk, merk ek ’n 100 van my vriende wat topposte beklee en almal buitengewoon besig is. Meteens tref dit my dat almal ’n dag in hulle dagboek kon vind om by ’n dooie mens te kom kuier. Tog hartseer dat ons nie ’n uur vir mekaar kan afknyp terwyl ons lewe nie!

Wat help hierdie onbekwame spoed in die versugting na versameling, eervolle betrokkenheid, produktiewe bydrae, ens. ens. Vanwaar kom die dissipline om met beredeneerde prysgawe en kompromie tyd te vat om juis die mense te besoek en te geniet vir wie jy lief is en om die dinge te doen wat jy verkies, maar so tipies verwaarloos.

Wanneer ruil jy die begrafnis in op die bazaar? Wanneer laas het jy van jou pelle gebel, ’n afspraak gemaak en gewoon net gaan kuier sonder agenda?

Wanneer laas het jy vir van jou maats met die hand (en met ink) ’n brief geskryf?

Ek was dankbaar ek was by die begrafnis, maar intens skaam en skuldig oor die lewe saam wat ons so verskraal en verwaarloos het.

Uit: Van Doerietyd tot Netnou deur Johann Coetzee

 

I held a moment in my hand, brilliant as a star, fragile as a flower, a tiny sliver of one hour. I dripped it carelessly, Ah! I didn’t know, I held opportunity. – Hazel Lee

Haraka Haraka haina Baraka … (Swahili) If you don’t have time to do it right, how will you find time to do it over?

Yesterday is but today’s memory and tomorrow is today’s dream. – Kahlil Gibran

Continue Reading

Op wieke van die wind

 

My goeie vriend, Stoney Steenkamp van Bredasdorp,  is hierdie week die gasskrywer op P&J. Stoney is ’n professionele pensioenaris en ’n rolmodel van hoe jy na jou dagwerk moet leef! Hoekom wil mens nou op `n motorfiets die land deurkruis?

Die antwoord is eenvoudig; as jy dit nog nooit gedoen het nie, sal jy nooit weet hoe lekker dit is nie.  Daardie gevoel van vryheid, die reuk van die veld, die wind wat aan jou pluk en dan natuurlik die avontuurlus wat dit in `n mens wakker maak, is onbeskryflik.

Ek wou eerstehands hierdie gevoel van vryheid, waarvan so baie gepraat word, ervaar.  En so begin my eerste grondpadtoer saam met twee goeie vriende.

Om vir `n paar dae met `n motorfiets te toer, veral in eensame gebiede, moet jy anders kan dink en daarvolgens kan beplan.  Jy moet groot dink, maar klein en min pak, want sien die spasie op `n motorfiets is mos maar min. 

So begin die items wat moet saam gestalte kry: `n klein 1-mantentjie, `n klein slaapsakkie, braairoostertjie, gasstofie en net die nodige klere.  As jy al die klein items bymekaar het, dan moet jy weer prioritiseer, want nog steeds kan alles nie saamgaan nie.

Ek vertrek die Maandagoggend vroeg vanaf Bredasdorp, onderskep die R62 kort duskant Barrydale en ontmoet my reisgenote op Oudtshoorn.  Hiervandaan is die beplanning oor die Swartberge, dan af in Gamkapoort (Die Hel), terug oor Prins Albert, Merweville, Fraserburg, Sutherland, Middelpos, Calvinia, met die Calvinia Ceres Karoopad (skynbaar die langste stuk reguit grondpad) tot in Clanwilliam.  Hiervandaan deur die Cederberge, in `n suidelike rigting deur die Koue Bokkeveld om die Klein Karoo weer by Montagu binne te kom. 

By Oudtshoorn word my motorfiets amper koorsagtig met onderdele (voetrus/pedale), wat skynbaar nie breed genoeg is vir die doel nie, gemodifiseer.  My tegniese vriend doen die werkie in `n japtrap en nadat ons weer voorraadopname gedoen het, vertrek ons via die Swarbergpas, om sowat een uur later te begin afsak in die Hel in. 

Ek het nooit kon dink dat ek ooit dié gevaarlike pas met `n motorfiets sou aandurf nie.  Wat `n belewenis was dit nie! Om telkemale stil te hou en net die omgewing in te asem, was ongelooflik. 

Ons oornag in die wilderniskampgebied en durf (versigtig) weer die pas aan; hierdie keer in Prins Abert se rigting.  Hier vul ons brandstof aan en vertrek na Fraserburg oor Merweville.  Die grondpaaie hier is in `n goeie toestand en ons kan redelik vinnig vorder om dan juis die heel lekkerste van so `n avontuur te kan beleef; die stilhou in die middel van nêrens om die grootheid van hierdie pragtige deel van ons land te kan inneem.  Die oneindige horisonne, silhoeëtte van berge in die vertes, windpompe wat onverstoord draai, plaasdamme en alles wat sinoniem kan wees met die Karoo. 

Ons reis vorder gedurende die volgende vyf dae en elke dag word my gees versterk met die eenvoudige  maar tog  die mees vervulde ervaringe; om saam met goeie vriende te reis, om sommer net oor die klein dingetjies liries te raak. Om uitbundig te lag en die prag en praal van die Karoo te kan beleef. 

Ons stop op afgeleë plekkies en swem in plaasdamme, ontmoet die mees fantastiese mense, wat met groot dankbaarheid leef en met min tevrede is.  In die aande word tent opgeslaan, vuurgemaak en sterre gekyk.  Waar in die wêreld kan die naghemel mooier lyk as in die Karoo.  Dis dan wat ek onwillekeurig dink aan die gedig en gebed van `n goeie vriend:

Onse Hemelse Vader.

Wees my genadig en bring u Koningkryk nader.

Help my om te glo en te aanvaar,

te besef alles is nie aan die mens geopenbaar.

Laat my weer word soos `n onskuldige kind,

laat my twyfel verdwyn op wieke van die wind.

So eindig `n fantastiese motorfietstoer.  Sal ek dit weer wil doen?

Beslis!  Die volgende toer word reeds beplan!  

Ons dink groot: om die sirkel om die Groot Karoo nog wyer te trek, om met minder klein goedjies oor die weg te kom en om die skoonheid van ons land en die genade van God, soos die sterre van die Karoo nog helderder te ervaar.

Let us so live that when we come to die even the undertaker will be sorry. – Mark Twain     

Wat my betref, reis ek nie om na enige plek te gaan nie, maar om te gaan. Ek reis om te reis. Die groot ding is om te beweeg. – Robert Louis Stevenson

One who does not travel will not know the value of men. – Moroccan proverb

 

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

Stoney en sy ysterperd(e)

  

Continue Reading

Nico Koopman se ABC vir onderwys

Last week I was privileged to attend the inauguration of the new multipurpose activity centre of DF Malan High School.

For me, as a previous principal, it was a special moment because it just again underlined the fact that dreams can come true.  All it takes is hard work and people with a vision to make things happen. Some may even say money!  But even this obstacle can be overcome as long as the previous two is present.

Being part of such an auspicious occasion can easily influence one’s judgment and vision concerning the purpose of education. Sitting there and looking at all the splendor and grandeur you can start thinking this is what education is all about.

Prof Nico Koopman, dean of the Faculty of Theology of Stellenbosch University, was the guest speaker and I felt that his speech must reach more teachers and pupils than only those present at the function. 

He kindly agreed that I may share his speech with you.

Skole, kolleges, universiteite en ander opvoedkundige instansies poog om hul leerders die ABC te leer.

1. A verwys na Athene, spesifiek na die filosowe Sokrates, Plato en Aristoteles wat die doel van opvoeding as karaktervorming beskryf. Deuteronomium 6 vertel van waardes wat ingeskerp moet word by ons leerders. Hierdie inskerp en ingravering is wat karakter vorm. Mooi waardes is ingegraveer by die mens van goeie karakter. Mense met karakter beliggaam dus waardes. Hulle leef met deugde. Deugde is beliggaamde waardes. Deugde is die neiging en predisposisie om in ooreenstemming met die goeie te leef, te kies en te handel.

Die vier deugde wat die filosowe van Athene geformuleer het, is geregtigheid, wysheid, matigheid/selfbeheersing en moed/krag/geduld. Die Christelike teologie het drie deugde bygevoeg naamlik geloof wat nee sê vir angs en ja vir gebondenheid; hoop wat nee sê vir swartgalligheid en ja vir vreugde; liefde wat nee sê vir lelikheid en ja vir lieflikheid. Sonder hierdie deugde kan goeie samelewings nie gebou word nie.

2. B verwys na die Berlyn-model van opvoeding. Die Berlyn-model verwys na denkers soos die teoloog Friedrich Schleiermacher van die Humboldt Universiteit in Berlyn. Hulle het intellektuele denke beklemtoon. Jy moet sake ontleed en jy moet te midde van ‘n warboel van inligting en idees sistematiseer en orde skep. Hierdie model wil graag sien dat leerders denkende mense is. Mense wat besef hoe kompleks die lewe is. Mense wat weet als is nie net eenduidig sleg of eenduidig goed nie. Ons funksioneer meermale met grys gebiede. Denkers sê byvoorbeeld nie maar net als is sleg in Suid-Afrika, of als is goed in Suid-Afrika nie. Hulle weet daar is mooi dinge in ons land, maar daar is ook nog baie lelike dinge wat ons moet afbreek. In die liefdesgebod (Matteus 22) roep die Here ons op om Hom lief te hê ook met ons hele verstand.

3. Die C-model verwys na Cross Roads. Cross Roads is ‘n informele nedersetting in die Kaap. Daar ervaar mense honger, dakloosheid, naaktheid, swaarkry. Opvoeding wil mense vorm wie se harte uitgaan na hulle in nood, mense wat hul talente en gawes en kwalifikasies gebruik om andere in nood by te staan. In Matteus 25 sê die Here Jesus mos juis dat ons diens aan Hom verrig as ons noodlydende mense bystaan, en dat ons Hom in die steek laat as ons noodlydendes in die steek laat.

Hierdie boodskap van professor Koopman het my weer opnuut laat nadink oor die ware ABC van opvoeding en onderrig.

Whatever is good to know is difficult to learn. – Greek Proverb

Intelligence plus character–that is the goal of true education. – Martin Luther King Jr

 When asked how much educated men were superior to those uneducated, Aristotle answered, ‘As much as the living are to the dead.’ – Diogenes Laetius

Image: digitalart/FreeDigitalPhotos.net 

Continue Reading

Ou Ryperd – baie meer as net ‘n liedjie!

 
 
 
 

Nina leer by die perde van die Noord-Kaap.

Nina Joubert is hierdie week die gasskrywer op Piesangs & Jellietots. Nina swot, na drie jaar se praktiese onderwys, tans Hons B.Ed aan die Universiteit Stellenbosch.

Ek het onlangs die voorreg gehad om by oom Barrie Burger, die Horse Whisperer van die Noord-Kaap, te gaan kers opsteek oor die leer van perde.

My liefde vir perde kom al van kleins af. Vandat my naamgenoot ouma vir my perdeprentjies aangedra het as hulle vir ons kom kuier het. Hierdie liefde loop hand-aan-hand met my liefde vir kinders. Dit was dus baie maklik om die ooreenkomste in hierdie twee passies in my lewe raak te sien. 

Oom Barrie het uit sy ondervinding verskeie stappe ontwikkel om ‘n perd suksesvol te leer, sonder die alombekende inbreek van ‘n perd. Hy het gevind dat daar vier fisiese ruimtes is waarin ‘n perd geleer moet word.

Eerste aan die beurt is die stal, waar die perd verskeie opdragte en vaardighede (ongeveer 24) moet aanleer. Elk van hierdie opdragte en vaardighede moet die perd 100% kan uitvoer voordat die perd na die tweede ruimte, naamlik die paddock, geneem kan word. Die paddock is ‘n ruimte wat direk aan die stal grens. Die derde ruimte is die ring, waarna die vierde ruimte, die rybaan, volg. Binne elkeen van hierdie ruimtes moet die perd al die opdragte en vaardighede wat vir hom oorspronklik in die stal geleer is, perfek kan doen, voor hy na die volgende ruimte kan vorder. 

Nou hoe korreleer al hierdie perdekennis met kinders? Baie eenvoudig.

Ek voel baie sterk dat ‘n kind geleer moet word in die stal van die lewe naamlik hul ouerhuis. ‘n Ma en pa wat duidelik grense stel, maar steeds hul kinders met liefde en respek behandel kan hul kinders ‘n standvastige grondslag gee. ‘n Grondslag wat baie handig te pas kom wanneer hulle kinders situasies, en die soms potensieel gevaarlike lewe daarbuite, suksesvol en met goeie oordeel moet aanpak.

Stel reëls saam wat gebreek kan word, het oom Barrie ons geleer. ‘n Reël kan verander word, maar ‘n gebroke kind is baie moeiliker om heel te maak. ‘n Ouer het ‘n veel langer lys van opdragte en vaardighede wat hulle vir hul kinders moet leer, as die skamele 24 wat ‘n perd moet leer. En elkeen van die lewenslesse wat in die huis geleer word, sal die kind help om ‘n volwaardige volwassene te wees.

Nadat ‘n perd deur al vier ruimtes geneem is, en als suksesvol kan doen, sal die perd nooit onwillig of bang wees om na sy stal toe te gaan, of by sy staldeur vassteek en weier om binne te gaan nie. Hoekom is dit dan so moeilik vir tieners en ander jongmense om hul maats huis toe te neem en daar saam te kuier in plaas van by ‘n inkopiesentrum of op straat? Hoekom is daar soveel jong studente of eerstejaars wat heeltemal die pad byster raak op universiteit of kollege? Hoekom is die gedrag van tieners soms so totaal ongemanierd en onvanpas? Hoekom kry mens selde hedendaagse kinders wat goeie maniere openbaar, of net ‘n eenvoudige asseblief of dankie gebruik wanneer ‘n kelner vir hulle hul bestelling bring? 

‘n Perd is ‘n gevoelsdier wat met sy hele lyf vir jou kan skree wanneer iets nie reg is nie. Dit als sonder dat een enkele geluid hoorbaar is. Dit is een van die hoofredes hoekom mens ‘n perd op ‘n konstante basis sal prys wanneer die perd iets reg doen. ‘n Perd is ook ‘n dier wat hoogs sensitief is vir enige gemoedstoestand. Dis hoekom hulle so vinnig leer wanneer jy vir hulle positiewe aandag gee wanneer hulle iets suksesvol uitvoer. Make every situation a intentional learning experience instead of an accidental one.

Ongelukkig is dit soveel makliker vir sommige ouers om krities te wees en hul kinders te dryf tot hoogtes wat hulle dalk nooit self kon bereik nie. “Ouers, word wakker. Julle kinders soek liefde en begrip. Kritiek het ‘n plek, maar moet altyd lei tot positiewe gedrag en gevolge!”

Ek kan soveel van die uitdagende – en probleemgedrag wat onderwysers in die skool ondervind, terugtrek na hul stal of ouerhuis toe. Ons is so geneig om die wrede wêreld die skuld te gee vir ons kinders se probleme bv. TV, internet, sosiale netwerke (bv. Facebook), slegte maats of moeilike omstandighede.

Ek is egter vas oortuig dat wanneer die verhouding met ma en pa goed is en daar standvastige verhoudinge in die ouerhuis is, vele toekomstige probleme voorkom kan word.

There is something about the outside of a horse that is good for the inside of a man.  – Winston Churchill

Horses and children, I often think, have a lot of the good sense there is in the world.  – Josephine Demott Robinson  

All I pay my psychiatrist is the cost of feed and hay, and he’ll listen to me any day.  – Author Unknown

Continue Reading