Op wieke van die wind

 

My goeie vriend, Stoney Steenkamp van Bredasdorp,  is hierdie week die gasskrywer op P&J. Stoney is ’n professionele pensioenaris en ’n rolmodel van hoe jy na jou dagwerk moet leef! Hoekom wil mens nou op `n motorfiets die land deurkruis?

Die antwoord is eenvoudig; as jy dit nog nooit gedoen het nie, sal jy nooit weet hoe lekker dit is nie.  Daardie gevoel van vryheid, die reuk van die veld, die wind wat aan jou pluk en dan natuurlik die avontuurlus wat dit in `n mens wakker maak, is onbeskryflik.

Ek wou eerstehands hierdie gevoel van vryheid, waarvan so baie gepraat word, ervaar.  En so begin my eerste grondpadtoer saam met twee goeie vriende.

Om vir `n paar dae met `n motorfiets te toer, veral in eensame gebiede, moet jy anders kan dink en daarvolgens kan beplan.  Jy moet groot dink, maar klein en min pak, want sien die spasie op `n motorfiets is mos maar min. 

So begin die items wat moet saam gestalte kry: `n klein 1-mantentjie, `n klein slaapsakkie, braairoostertjie, gasstofie en net die nodige klere.  As jy al die klein items bymekaar het, dan moet jy weer prioritiseer, want nog steeds kan alles nie saamgaan nie.

Ek vertrek die Maandagoggend vroeg vanaf Bredasdorp, onderskep die R62 kort duskant Barrydale en ontmoet my reisgenote op Oudtshoorn.  Hiervandaan is die beplanning oor die Swartberge, dan af in Gamkapoort (Die Hel), terug oor Prins Albert, Merweville, Fraserburg, Sutherland, Middelpos, Calvinia, met die Calvinia Ceres Karoopad (skynbaar die langste stuk reguit grondpad) tot in Clanwilliam.  Hiervandaan deur die Cederberge, in `n suidelike rigting deur die Koue Bokkeveld om die Klein Karoo weer by Montagu binne te kom. 

By Oudtshoorn word my motorfiets amper koorsagtig met onderdele (voetrus/pedale), wat skynbaar nie breed genoeg is vir die doel nie, gemodifiseer.  My tegniese vriend doen die werkie in `n japtrap en nadat ons weer voorraadopname gedoen het, vertrek ons via die Swarbergpas, om sowat een uur later te begin afsak in die Hel in. 

Ek het nooit kon dink dat ek ooit dié gevaarlike pas met `n motorfiets sou aandurf nie.  Wat `n belewenis was dit nie! Om telkemale stil te hou en net die omgewing in te asem, was ongelooflik. 

Ons oornag in die wilderniskampgebied en durf (versigtig) weer die pas aan; hierdie keer in Prins Abert se rigting.  Hier vul ons brandstof aan en vertrek na Fraserburg oor Merweville.  Die grondpaaie hier is in `n goeie toestand en ons kan redelik vinnig vorder om dan juis die heel lekkerste van so `n avontuur te kan beleef; die stilhou in die middel van nêrens om die grootheid van hierdie pragtige deel van ons land te kan inneem.  Die oneindige horisonne, silhoeëtte van berge in die vertes, windpompe wat onverstoord draai, plaasdamme en alles wat sinoniem kan wees met die Karoo. 

Ons reis vorder gedurende die volgende vyf dae en elke dag word my gees versterk met die eenvoudige  maar tog  die mees vervulde ervaringe; om saam met goeie vriende te reis, om sommer net oor die klein dingetjies liries te raak. Om uitbundig te lag en die prag en praal van die Karoo te kan beleef. 

Ons stop op afgeleë plekkies en swem in plaasdamme, ontmoet die mees fantastiese mense, wat met groot dankbaarheid leef en met min tevrede is.  In die aande word tent opgeslaan, vuurgemaak en sterre gekyk.  Waar in die wêreld kan die naghemel mooier lyk as in die Karoo.  Dis dan wat ek onwillekeurig dink aan die gedig en gebed van `n goeie vriend:

Onse Hemelse Vader.

Wees my genadig en bring u Koningkryk nader.

Help my om te glo en te aanvaar,

te besef alles is nie aan die mens geopenbaar.

Laat my weer word soos `n onskuldige kind,

laat my twyfel verdwyn op wieke van die wind.

So eindig `n fantastiese motorfietstoer.  Sal ek dit weer wil doen?

Beslis!  Die volgende toer word reeds beplan!  

Ons dink groot: om die sirkel om die Groot Karoo nog wyer te trek, om met minder klein goedjies oor die weg te kom en om die skoonheid van ons land en die genade van God, soos die sterre van die Karoo nog helderder te ervaar.

Let us so live that when we come to die even the undertaker will be sorry. – Mark Twain     

Wat my betref, reis ek nie om na enige plek te gaan nie, maar om te gaan. Ek reis om te reis. Die groot ding is om te beweeg. – Robert Louis Stevenson

One who does not travel will not know the value of men. – Moroccan proverb

 

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

Stoney en sy ysterperd(e)

  

(Visited 180 times, 1 visits today)

, , ,

5 Responses to Op wieke van die wind

  1. Anita Steenkamp March, Sunday 11 2012 at 10:33 am #

    Ai, hoe lekker lees ek nou van julle Ysterperd reise, klink so lekker. Ware natuurkinders wat sorgeloos die wereld verken……

    • Rian Truter March, Sunday 11 2012 at 11:26 am #

      Party mense het die tyd die ander die geld. Stoney het beide!

  2. Leon March, Monday 12 2012 at 8:51 am #

    Dit is mos ook wat ons wil doen…net op vier wiele….kan nie motorfiets ry nie!! ai

    • Rian Truter March, Monday 12 2012 at 2:02 pm #

      Waar, waar! Maar ons is besig om dit geleidelik te begin doen.

  3. Nina March, Thursday 15 2012 at 11:03 am #

    Oom Stoney, dit klink hemels. Ver van die “hel” af. 😉 Dit is ‘n voorreg om naby aan God se natuur te kom en net sy stem weer vir ‘n slag te hoor, want dorp- en stadsgeraas doof soms daardie stemmetjie uit.
    Het dit baie geniet om van oom se reise te lees.

Leave a Reply