Die jeug se oplossing vir SA Onderwyskrisis

Aldu Duminy

 Hierdie week se gasskrywer is Aldu Duminy van Riversdal. Ek het hom tydens die US-Jip Matrikulant van die Jaar-kompetisie ontmoet en gevra hy moet sy siening oor Suid-Afrikaanse Onderwys met Piesangs en Jellietots deel. Aldu was vanjaar hoofseun van Hoërskool Langenhoven en het tydens bogenoemde kompetisie ’n toekenning vir uitnemendheid (‘n beurs ter waarde van R30 000 en ‘n skootrekenaar te waarde van R12 000) ontvang. Hier volg sy oplossing vir SA se onderwys:

Die kruin van die onderwyskrisis is uiteindelik bereik. Verskeie alternatiewe roetes wink nou vir die toekomstige onderwys. In ons keuse van ‘n roete behoort ons bewus te wees dat onderwys die enigste sleutelfaktor is en altyd sal wees, wat aangewend kan word om ‘n verskil in ons land te maak.

Aangesien opvoeding, finansies en ander insette benodig word, is die regering en die privaatsektor die hoofrolspelers en argitekte in hierdie verband. Sedert 1994, nadat ‘n nuwe aanslag ten opsigte van onderwys gemaak is, kleef ons nog steeds vas aan dieselfde eertydse veranderinge.

Die tyd het aangebreek vir ‘n nuwe wending. Die belegging in onderwys tot op hierdie stadium, wat ‘n groot persentasie uitmaak van die Nasionale Begroting oor die afgelope 17 jaar, moet nou beslis herevalueer word. Die volk, asook die wêreld, wil graag weet wat die rentabiliteit op hul belegging en insette tot op hede is.

Gesien in die lig van vorige opmerkings, is dit dus glashelder dat daar nou eerder staat gemaak moet word op die kreatiwiteit en inisiatief van die opportunistiese jeug.

Om mee weg te spring: Die eerste twee bedreigings, naamlik armoede en werkloosheid, kan in ‘n waardevolle geleentheid omskep word. Die sleutel tot hierdie sukses berus op kreatiwiteit – met opvoeding as basis. Deur hierdie kosbare hulpbron positief te benut, kan daar ‘n daadwerklike verskil gemaak word aan menselewens en hul sodoende toerus met vaardighede wat hul van regeringstoelaes onafhanklik sal maak. Op hiérdie wyse word mense beklee met ‘n visie vir die toekoms, wat op hul beurt ’n positiewe sneeubal-effek sal verseker.

‘n Ander voorstel lê in die keuse rondom leerareas opgesluit. Sekere leerareas word huidig op leerders, sonder in agneming van potensiaal en belangstelling, afgedwing. Introspeksie moet ten opsigte van die waarde hiervan gedoen word. Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid en Lewensoriëntering is die struikelblokke wat toekomsroetes versper. Daar moet besin word of die gedwonge bestudering van hierdie leerareas die kernprobleme in ons land aanspreek. Ons het eerder ‘n behoefte aan beroepsgerigte onderwys van so vroeg as wanneer leerders hul eerste tree op die skoolgrond gee.

Voorts sal in die toekoms vanweë globalisering, veel groter eise aan individue gestel word. Die minimum vereistes in hierdie verband word nog nie deur die huidige stelsel in ag geneem nie. Gesien in die lig dat die wêreld omskep word in ‘n klein dorpie, moet daar op ‘n gekoördineerde en harmonieuse wyse beplan en besin word wat nou eintlik die primêre vaardighede vir elke toekomstige aardbewoner moet wees. ‘n Eenvormige taal wat in ons kontinent en die wêreld gebesig word, moet bemeester word. Sodoende kan kommunikasie, as primêre medium, die uitdagings rondom globalisering die hoof bied.

Dissipline is ‘n rots in die weg van kwaliteit onderwys. Leerders ontwyk dissipline in gevalle waar die omgewing met hul persoonlike verwagtinge bots. Die skoolkurrikulum, gebrek aan kommunikasie tussen ouers en onderwysers, aanslag en bevoegdhede van pedagoë, asook die skoolinfrastruktuur, ondermyn dissipline. ‘n Duidelike organigram met afgebakende magte, bevoegdhede en verantwoordelikhede moet vir al die rolspelers, aan die begin van elke jaar, uitgespel word ten einde impulsiewe delegering van pligte te voorkom. Hierdie euwel bring mee dat belangrike doelwitte nooit gekontroleer en uitgevoer kan word nie. Dit is dus ooglopend dat hierdie rots tot die kernprobleem in die hedendaagse onderwysstelsel ontwikkel het.

Hierdie argitektoniese, nuwe skepping van toekomstige onderwys dien as rigtingaanwyser om die mees aanvaarbare, alternatiewe roete te bewandel. Deur hiérdie rigting in te slaan, sal ons die uitdagings in verband met opvoeding in definitiewe geleenthede omskep – met buitengewone opbrengs vir álle rolspelers.

 

’n Intellektueel is ’n persoon wat opgevoed is bokant sy intelligensie. – Jan Smuts

Education is the most powerful weapon which you can use to change the world. – Nelson Mandela

An investment in knowledge pays the best investment. – Benjamin Franklin

  

(Visited 1,248 times, 1 visits today)

, , , , ,

4 Responses to Die jeug se oplossing vir SA Onderwyskrisis

  1. magda basson November, Thursday 8 2012 at 8:47 am #

    Ek dink dit is tyd dat die jeug met Minister van Onderwys gaan gesels. Hulle weet meer as meeste van die wat daar bo sit.
    Welgedaan Aldu!!!

    • Rian Truter November, Monday 12 2012 at 4:17 pm #

      As sy (bedoel nou Nasionaal) net wil, Magda!

  2. Pierre Potgieter November, Monday 12 2012 at 10:05 am #

    So mond moet jam kry! Hierdie jongman weet waarvan hy praat!

    Pierre

Leave a Reply