Author Archive | Rian Truter

Veels geluk, Piesangs & Jellietots!

Op 28 April is Piesangs & Jellietots een volle jaar oud!

Sedert P&J se ontstaan, het daar 75 posts verskyn en 6 883 mense het om die een of ander rede op P&J se webblad gaan kliek. Al hierdie feite is nie om te spog nie; sommer net vir die interessantheid en gedink julle sal wil weet.

Ek wil ’n groot dankie sê aan al P&J se getroue lesers. Voorkopsoene (ala Sitka) vir almal! Veral die wat vir die e-poskennisgewings aangeteken het.

En om hierdie mylpaal te vier, wil ek die eerste P&J-kompetisie aan die rol sit. Maar soos met alles in die lewe gaan, daar is nêrens ’n free lunch nie! Ek soek iets terug.

Eers die pryse.  Ja daar is meer as een:

1e Prys:  ’n Eksklusiewe wynproe vir jou en drie pelle saam met Beyers Truter op Beyerskloof en ’n getekende bottel Beyerskloof Pinotage. Jy gaan uit die vate proe en ook die geleentheid kry om saam met Beyers ou wyne uit sy privaatkelder te beoordeel.

 

 

2e Prys: Die beste cupcakes in die Suide! Gebak deur Sitka Basson van Sitcakes. ’n Volle dosyn liplekkerverleidelikheid net vir jou.

 

 

 

Wat moet jy doen om te wen?

Daar is geen vrae wat jy moet beantwoord of kwalifiserende rondtes nie! Jy moet net e-posadresse verskaf. Die rede:

Ek soek nog mense wat P&J wil lees. Mense wat ek op die e-poslys kan plaas. Vir elke 2 wettige adresse wat jy verskaf, kry jy een inskrywing in die kompetisie. Gee jy 10 name, dan het jy vyf kanse. Só eenvoudig.

Maar die adresse moet asseblief van mense wees wat jy in hierdie saak geken het.  Hulle moet nie gespam word nie, want dit maak hulle kwaad. Baie kwaad. En hulle moet P&J wíl lees. Dit is uiters belangrik.

Hoe neem jy deel?

1.  Gaan na die Contact-bladsy bo aan die hoofblad van Piesangs & Jellietots. As jy sukkel met die Contact-bladsy, stuur sommer jou inskrywing met die gevraagde inligting aan: truterrian@gmail.com

2.  Voltooi jou info soos gevra.

3.  Voltooi onderwerpspasie as: P&J Kompetisie #1

4.  By boodskap skryf die e-posadresse wat jy deurgee.

5.  Voltooi die sekuriteitskode soos gevra.

6.  Druk die Submit-knoppie en siedaar jy is ingeskryf!

Reëls

1. Die beslissing van die beoordelaar is finaal.

2. Almal mag deelneem. So veel keer as wat jy wil!  Familie en vriende ook.

3. Geen agteraf gemoan en gevloek word toegelaat nie.

4. Regverdigheid en eerlikheid sal geskied. Ons is immers kerkmense.

5. Foto’s sal van die wenners gepubliseer word.

6. Pryse moet teen einde November 2012 opgeneem word.

7. Sluitingsdatum: 24 April 2012

Kom neem deel! Jy ken beslis twee mense wat P&J sal wil ontvang.

Hierdie mag jou gelukkige dag wees!

 

Continue Reading

Broodbak is ‘n metafoor.

Self gebak!

Suid-Afrika se MasterChef is aan die kook en elke hierjy dink hy’s ‘n Gordon Ramsay. As jy ‘n lepel kan vashou en ‘n paar knope kan los, dan is jy ‘n groter celeb as Riaan Cruywagen by die KKNK!

Wat ek nie verstaan nie, is dat elke deelnemer meer flambojant as die ander wil wees. Snaakse konkoksies en fyn geurtjies om die beoordelaars te beïndruk. Selfs die goeie ou braai word opgejack dat dit soos ’n pastorie-mammie wat ‘n oorlede Michael J-move op die verhoog uithaal, lyk!

En dit gebeur nou alles net op dié stadium dat ek en vriend Braaitang meen ons het broodbak onder die knie. Let wel, nie daai fancy brode met die krulle en goed nie. Gewone brood. Potbrood en oondbrood. Eenvoudig en reguit van sy ma af.

Dis snaaks, so gesels ons, dis amper asof ons van al ons kookery die meeste genot uit broodbak kry. En moet nou nie ‘n fout maak nie, ons kan ook die stoppe uittrek as dit moet. Cordon Bleu en al daai ander kosserige kragwoorde.

Miskien is die knie, meer Braaitang.  Die knie-ery is terapeuties van aard. Emosioneel amper. Jou eie kopdokter; net sonder die rekening.

Brood het ook ’n eie identiteit.  Amper so asof dit ’n eie wil het. Jy kan dit vorm soos jy wil, maar op die ou einde neem dit sy eie vorm aan.  Nie een brood lyk presies dieselfde nie.

Terwyl jy knie, dink jy ver. Jou kop begin saam met die ritme van die knieproses paaie loop. Die filosoof in jou kom los en jy kry kans om die daaglikse warboel netjies te liasseer.

Die Hongare het ‘n spreekwoord dat brood ouer as die mens is. Vir my is broodbak die aardste bakproses wat ek ken. Eenvoudige bestanddele.  Meel, water, sout, suiker, olyfolie en gis. Basisbestanddele; onopgesmuk en eerlik.

Broodbak is ‘n leefwyse. Braaitang meen broodbakkers is goeie mense.  Naby-die-aardemense.

Broodbak is liefde. Om brood te bak is om van jouself te gee, want dit verg moeite. Anders kon jy maar net so wel kafee toe gery het om ‘n plastiekbrood te gaan koop…

Om brood te bak is ook om te hoop. Te hoop dit flop nie. Meer as dit; om jou brood op die water te werp en te glo dat dit na baie dae sal terug kom.

Om saam brood te breek is vriendskap. Ware vriendskap. Veral as jy die brood self gebak het!

Jy sê jy weet nie waarvan ek praat nie.

Kom, rol op die moue. Laat ‘n bietjie liefde los. Bak ‘n brood!

 

Broodbak is ‘n metafoor vir die lewe. – Pieter Veldsman

There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread. – Mahatma Gandhi

All sorrows are less with bread. – Miguel de Cervantes Saavedra

Continue Reading

Parstyd: Nie een maal nie, maar twee!

 

Beyers vertel nou die dag dié storie en ek besef dadelik dit sal ‘n goeie tema vir ’n skoolhoof se saalperiode wees. Maar ook ’n baie gepaste post hier net voor Paasfees.

In die Bybel word daar baie na druiwe, wyn en of die wingerdstok verwys. Party bronne beweer tot so veel as 200 keer!

Die wyn waarvan daar in die Bybel gepraat word, is gewoonlik met water verdun en die wynmaakproses was nie so wetenskaplik soos ons dit vandag ken nie. Die druiwe is gepars en die sap is dan deur lappe gefiltreer. Om dit te bewaar, is dit in kleipotte of leersakke gestoor.

Wat egter vir die proses van wynmaak belangrik is, is die feit dat die druiwekorrel gebreek moet word sodat die sap kan uitkom. Die selletjies breek of bars en stel dan die kleur en geur van die druif vry.

Om die soet sap in droë wyn te verander, is ‘n gistingsproses nodig wat weer op sy beurt die suiker in alkohol omskakel. Behalwe vir die omskakel na alkohol, maak die gisting alles in die sap skoon.  Dit reinig en suiwer.

Om ’n vonkelwyn te kry, word ’n basiswyn gemaak en daarna word dit nog ’n keer in ’n tenk of in die bottel gegis om die koolsuurgas te ontwikkel wat die bruisende borreltjies in die vonkelwyn vorm.

Nou waarom dié lang storie oor vonkelwyn?

Die analogie behoort voor die hand liggend te wees, want ons as gelowiges is net soos wyn.

Ons moet ook eers gebreek word om die sap en die kleur in ons  te laat uitkom. By baie van ons stop die proses daar en ons vorder nie verder as ‘n druiwesapgeloof nie. Soet en lekker, maar sonder werklike substansie.

Ander weer gaan deur een gistingsproses en vorder tot ’n basiswyngeloof. Drinkbaar en verouder mooi met tyd.

Die gelukkiges onder ons kry die voorreg om twee keer gesuiwer of gelouter te word. Dit is in die meeste gevalle nie lekker nie en dit gaan gepaard met jeremiades en tonne betwyfeling. Maar as jy dit oorleef, dan is die borrels daar! Dan is die vonkelwyngeloof daar. Gereed om die prop te laat skiet en uit te jubbel dat ons Verlosser leef!

Om só te kan leef dat ander te alle tye die borrels in jou lewe sien en om saam te bid dat die Here ons daagliks soos vonkelwyn skoon sal maak – nie een keer nie, maar twee!

Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. – Johannes 15:1

Eat the bread with joy and
drink the wine with a merry heart. – Ecclesiastes 9

Men are like wine – some turn to vinegar, but the best improve with age.  – Pope John XXIII, 1881-1963

 

Image: Indra Harsaputra 

Continue Reading

Is jy te kollegiaal?

Ons het ‘n kollegiale samelewing geword.

Desnieteenstaande die feit dat die woord kollega so steriel soos ‘n alkoholdepper is!

Kollega is amper net so goed soos ‘n enema. En dan is ek nog diskriminerend teenoor die woord enema, want die ding het ten minste ‘n funksie.  Dit maak skoon!

Maar kollega hou jou so op ‘n armlengte-afstand. Dit laat jou nie te naby aan iemand kom nie.  Dit maak jou nog nie sy vriend of sy pel nie!

Net so met sms’e. Hoekom nie iemand bel as sy verjaar nie? Ons stuur kollegiale sms’e en skryf op ons vriende se Facebookmure.

Makliker, hoor ek jou sê. Goedkoper, hoor ek iemand anders sê.

Snert! Dit is die kollegialiteit van ons samelewing, wil ek vir jou sê.  Dit hou mense op ‘n afstand en nie so naby aan jou lyf nie.

Kom ons stop dié kollegialiteit en maak weer ons vriende ons pelle.  Laat hulle jou stem hoor as hulle verjaar of as hulle siek is, want dit is net as ek jou stem hoor, dat ek weet hoe jy oor my voel.

 

I get by with a little help from my friends. – John Lennon

The problem with communication is the illusion that it has occurred. – George Bernard Shaw

Electric communication will never be a substitute for the face of someone who with their soul encourages another person to be brave and true. – Charles Dickens

Image: sippakorn/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Dis hoe jy eindig wat saak maak!

Daar word baie gesê dat dit nie is hoe jy die wedloop begin nie, maar hoe jy die wedloop voltooi.

As jy dit voltooi …

Om halfpad op te hou, lyk dit vir my, het ’n aanvaarbare norm van ons tyd geword. Ons het dan ook nog genoeg, goed gemotiveerde verskonings gereed om dié ophou mee te regverdig.

Verby is die dae dat jy dit wat jy begin, tot op die einde deurvoer.

Miskien het dit tyd geword dat ons weer ons kinders leer dat ’n mens alles wat jy aanpak, met dieselfde geesdrif moet afsluit as waarmee jy dit begin het. Al wen jy nie die resies nie.

Want dit gaan nie altyd oor wen nie. Dit gaan oor die klaarmaak. Om te kan sê ek het die Comrades gehardloop of ek het die Argus gery. Niemand wil eintlik weet hoeveelste jy gekom het nie. Die belangrikste is dat jy deelgeneem en klaargemaak het.

Saam met die klaarmaak, kan ons dalk ook ons kinders van deelname vertel. Ons staan deesdae so lekker op die kantlyn en kritiseer, want dis makliker om ander se pogings te beoordeel en te kritiseer as jou eie.  ’n Mens stel jou mos net nie meer só bloot nie!

En terwyl ons nou besig is om ons kinders te onderrig, kan ons hulle ook leer dat die klaarmaak baie meer van jou karakter vertel as wat die wegspring ooit kan.  Die finale oordeel oor ‘n poging lê baie keer in die strompel oor die wenstreep. In die val oor die hekkie en die weer opstaan. Dit lê in die strikkie om die geskenkpakkie en dit word vergestalt in die dankie-sê-briefie na die lekker kuier.

Dit is wat die mense gaan onthou. Die einde.  Nie die wegspring uit die blokke nie. Almal kan wegspring, maar nie almal kan klaarmaak nie.

John Stephen Akhwari, marathonatleet van Tansanië, het tydens die Olimpiese Spele van 1968 in Mexiko nie die goue medalje verower nie. Ook nie die silwer of die brons nie. Inteendeel; hy het meer as ‘n uur na die wenner reeds aangekondig is, die wedloop voltooi! In die heel laaste plek.

Daar was nog net ’n paar toeskouers in die stadion oor toe Akhwari, stuikelend en met ’n bebloede verband om die been, die stadion instrompel. Maar van handdoek ingooi was daar geen sprake nie.

Die klein skare se applous het John Stephen oor die wenstreep gedra. Toe ’n verslaggewer hom vra waarom hy nie opgehou hardloop het nie, want daar was geen kans dat hy kon wen nie, het John Stephen verbaas geantwoord:    My country did not send me to Mexico City to start the race. They sent me to finish.

Luister mooi: they send me to finish!

Dit is nie hoe ek begin nie, maar hoe ek klaarmaak.

Finish en klaar!

 

It is not the critic who counts: not the man who points out how the strong man stumbles or where the doer of deeds could have done better. The credit belongs to the man who is actually in the arena, whose face is marred by dust and sweat and blood, who strives valiantly, who errs and comes up short again and again, because there is no effort without error or shortcoming, but who knows the great enthusiasms, the great devotions, who spends himself for a worthy cause; who, at the best, knows, in the end, the triumph of high achievement, and who, at the worst, if he fails, at least he fails while daring greatly, so that his place shall never be with those cold and timid souls who knew neither victory nor defeat. – Theodore Roosevelt

Inside a ring or out, ain’t nothing wrong with going down. It’s staying down that’s wrong. – Muhammad Ali

Success is the ability to go from one failure to another with no loss of enthusiasm. – Winston Churchill

Image: 312010/FreeDigitalPhotos.net

  

Continue Reading

Op wieke van die wind

 

My goeie vriend, Stoney Steenkamp van Bredasdorp,  is hierdie week die gasskrywer op P&J. Stoney is ’n professionele pensioenaris en ’n rolmodel van hoe jy na jou dagwerk moet leef! Hoekom wil mens nou op `n motorfiets die land deurkruis?

Die antwoord is eenvoudig; as jy dit nog nooit gedoen het nie, sal jy nooit weet hoe lekker dit is nie.  Daardie gevoel van vryheid, die reuk van die veld, die wind wat aan jou pluk en dan natuurlik die avontuurlus wat dit in `n mens wakker maak, is onbeskryflik.

Ek wou eerstehands hierdie gevoel van vryheid, waarvan so baie gepraat word, ervaar.  En so begin my eerste grondpadtoer saam met twee goeie vriende.

Om vir `n paar dae met `n motorfiets te toer, veral in eensame gebiede, moet jy anders kan dink en daarvolgens kan beplan.  Jy moet groot dink, maar klein en min pak, want sien die spasie op `n motorfiets is mos maar min. 

So begin die items wat moet saam gestalte kry: `n klein 1-mantentjie, `n klein slaapsakkie, braairoostertjie, gasstofie en net die nodige klere.  As jy al die klein items bymekaar het, dan moet jy weer prioritiseer, want nog steeds kan alles nie saamgaan nie.

Ek vertrek die Maandagoggend vroeg vanaf Bredasdorp, onderskep die R62 kort duskant Barrydale en ontmoet my reisgenote op Oudtshoorn.  Hiervandaan is die beplanning oor die Swartberge, dan af in Gamkapoort (Die Hel), terug oor Prins Albert, Merweville, Fraserburg, Sutherland, Middelpos, Calvinia, met die Calvinia Ceres Karoopad (skynbaar die langste stuk reguit grondpad) tot in Clanwilliam.  Hiervandaan deur die Cederberge, in `n suidelike rigting deur die Koue Bokkeveld om die Klein Karoo weer by Montagu binne te kom. 

By Oudtshoorn word my motorfiets amper koorsagtig met onderdele (voetrus/pedale), wat skynbaar nie breed genoeg is vir die doel nie, gemodifiseer.  My tegniese vriend doen die werkie in `n japtrap en nadat ons weer voorraadopname gedoen het, vertrek ons via die Swarbergpas, om sowat een uur later te begin afsak in die Hel in. 

Ek het nooit kon dink dat ek ooit dié gevaarlike pas met `n motorfiets sou aandurf nie.  Wat `n belewenis was dit nie! Om telkemale stil te hou en net die omgewing in te asem, was ongelooflik. 

Ons oornag in die wilderniskampgebied en durf (versigtig) weer die pas aan; hierdie keer in Prins Abert se rigting.  Hier vul ons brandstof aan en vertrek na Fraserburg oor Merweville.  Die grondpaaie hier is in `n goeie toestand en ons kan redelik vinnig vorder om dan juis die heel lekkerste van so `n avontuur te kan beleef; die stilhou in die middel van nêrens om die grootheid van hierdie pragtige deel van ons land te kan inneem.  Die oneindige horisonne, silhoeëtte van berge in die vertes, windpompe wat onverstoord draai, plaasdamme en alles wat sinoniem kan wees met die Karoo. 

Ons reis vorder gedurende die volgende vyf dae en elke dag word my gees versterk met die eenvoudige  maar tog  die mees vervulde ervaringe; om saam met goeie vriende te reis, om sommer net oor die klein dingetjies liries te raak. Om uitbundig te lag en die prag en praal van die Karoo te kan beleef. 

Ons stop op afgeleë plekkies en swem in plaasdamme, ontmoet die mees fantastiese mense, wat met groot dankbaarheid leef en met min tevrede is.  In die aande word tent opgeslaan, vuurgemaak en sterre gekyk.  Waar in die wêreld kan die naghemel mooier lyk as in die Karoo.  Dis dan wat ek onwillekeurig dink aan die gedig en gebed van `n goeie vriend:

Onse Hemelse Vader.

Wees my genadig en bring u Koningkryk nader.

Help my om te glo en te aanvaar,

te besef alles is nie aan die mens geopenbaar.

Laat my weer word soos `n onskuldige kind,

laat my twyfel verdwyn op wieke van die wind.

So eindig `n fantastiese motorfietstoer.  Sal ek dit weer wil doen?

Beslis!  Die volgende toer word reeds beplan!  

Ons dink groot: om die sirkel om die Groot Karoo nog wyer te trek, om met minder klein goedjies oor die weg te kom en om die skoonheid van ons land en die genade van God, soos die sterre van die Karoo nog helderder te ervaar.

Let us so live that when we come to die even the undertaker will be sorry. – Mark Twain     

Wat my betref, reis ek nie om na enige plek te gaan nie, maar om te gaan. Ek reis om te reis. Die groot ding is om te beweeg. – Robert Louis Stevenson

One who does not travel will not know the value of men. – Moroccan proverb

 

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

Stoney en sy ysterperd(e)

  

Continue Reading

Is skool ‘n dinosourus?

As jy vandag met mense oor die onderwys praat, frons hulle onwillekeurig. Dit is nou net nadat hulle hul so vinnig moontlik uit die voete gemaak het!

Almal is dit egter eens dat sake nie te rooskleurig lyk nie. Van prof Jonathan tot swanger Sannie, wat nou reeds wroeg oor na watter laerskool sy hulle kind na toe moet stuur.

Almal het ‘n verklaring vir die onderwysmoeras waarin ons ons bevind. Dit is die regering se skuld dat dinge nou só lyk in die onderwys. Gerieflikheidshalwe word vergeet dat dié probleem reg oor die wêreld bestaan. Die verandering van die kurrikulum moet die skuld kry en dan praat ons nie eens van swak en lui onderwysers nie!

Die koppe knik, soos die hondjie in die Cortina se agterruit, instemmend saam.

Maar niemand het regtig ’n sinvolle oplossing nie. 

Niemand sê hardop soos Seth Godin dat large-scale education was not developed to motivate kids or to create scholars. It was invented to churn out adults who worked well within the system. Scale was more important than quality, just as it was for most industrialists.

En as jy hierdie feit vir hulle uitlig, knik die koppe nog meer verwoed saam.  Die hondjie in die Cortina begin soos die energizer hasie lyk.

Maar niemand doen iets hieraan nie. Môre gaan onderwysers weer terug klas toe en doen dieselfde as al die jare tevore. Ouers stuur steeds hulle kinders na skole wat dieselfde prosesse as 150 jaar gelede volg. En niemand staan vir ’n oomblik stil en bevraagteken wat besig is om te gebeur nie!

Hoe kan enige iemand dan verwag dat onderwys moet beter word?

Gelukkig is daar twee stemme wat opgaan en pleit dat mense dringend en indringend na onderwys moet kyk. Voor dit heeltemal te laat is.

Hulle is Seth Godin en sir Ken Robinson.

Seth Godin het pas ‘n 30 000 woord manifes die lig laat sien waarin hy die rol en die doel met/van skole onder die vergrootglas plaas.

The economy has changed, probably forever.
School hasn’t.
School was invented to create a constant stream of compliant factory workers to the growing businesses of the 1900s. It continues to do an excellent job at achieving this goal, but it’s not a goal we need to achieve any longer.
In this 30,000 word manifesto, I imagine a different set of goals and start (I hope) a discussion about how we can reach them. One thing is certain: if we keep doing what we’ve been doing, we’re going to keep getting what we’ve been getting.
Our kids are too important to sacrifice to the status quo.

Gaan lees asseblief wat hy te sê het by www.squidoo.com/stop-stealing-dreams  Die hele dokument, eintlik ’n e-boek, kan gratis en verniet afgelaai word.

Sir Ken Robinson sê op sy beurt in Changing Education Paradigms ook soos Godin dat ons steeds besig is om dieselfde metodiek, soos net na die industriële rewolusie, in ons skole te volg en toe te pas.  Die wêreld het verander, maar ons gebruik steeds ‘n onderwyssisteem wat 150 jaar gelede toepaslik was!

It used to be simple: the teacher was the cop, the lecturer, the source of answers, and the gatekeeper to resources. All rolled into one.

The internet is making the role of the gatekeeper unimportant. Redundant. Even wasteful.

If there’s information that can be written down, widespread digital access now means that just about anyone can look it up. We don’t need a human being standing next to us to lecture us on how to find the square root of a number or sharpen an axe.

What we need is someone to persuade us that we want to learn these things, and someone to push us or encourage us or create a space where we want to learn to do them better. (S.Godin)

Gaan laai asseblief Seth se manifes af.  Lees dit en gee dit vir skoolhoofde, onderwysers en ouers.

En begin vrae vra oor waarmee ons in ons skole besig is.

Insanity: doing the same thing over and over again and expecting different results. – Albert Einstein

Nothing in the world is more dangerous than sincere ignorance and conscientious stupidity. – Dr. Martin Luther King, Jr.

The difference between school and life? In school, you’re taught a lesson and then given a test. In life, you’re given a test that teaches you a lesson. – Tom Bodett

 

Continue Reading

‘n Teerpad van ‘n ander kleur.

Take me home country roads sing oorlede John Denver terwyl die klippe onder my bakkie se wiele spat.

Behalwe vir die hitte, en die koue waarvan hulle vergeet het, was van die eerste dinge waarteen die Namakwalanders my met ons koms na Springbok gewaarsku het, die grondpaaie van die omgewing. 

Nie dat die pad iets aan jou gaan doen nie.  Nee, dit is eerder wat jy dink jy aan die pad kan doen.  Want sien, jy glo baie gou dat ‘n grondpad eintlik maar net ‘n teerpad van ‘n ander kleur is.  En jy begin dit dan so behandel.

En dit is dan net daar waar jy jou deeglik met jou oordeelsvermoë misgis en voor jy kan sê kokerboom, sit die grondpad wydsbeen oor jou!  As jy gelukkig is, sal jy jou stommiteit kan oorvertel, maar daar is baie wat nie kon nie …

Grondpadry is baie soos die lewe.  Dit is net as jy dink jy het hierdie oefening mooi onder die knie, dat die lewe jou onverwags uit die saal gooi.

Om ‘n groot lorrie op ‘n grondpad verby te gaan is een van die moeilikste en frustrerendste dinge waaraan ek kan dink.  Jy kan niks sien aankom nie, want die stofwolke is so dig dat jy amper nie eens jou bakkie se neus kan uitmaak nie!

In die lewe kry ons ook baie spreekwoordelike lorries wat in ons pad kom.  Baie lyk onmoontlik om by verby te kom en dit is amper of ons niks voor die lorrie kan sien nie.  Of dit ‘n reguit stuk pad is en of daar ‘n draai is, dit weet jy nie. Maar in die meeste gevalle kom ons tog op een of ander gelyk stukkie pad om hierdie voortsnellende hindernis.  En dan lê die pad weer wyd en oop voor ons.

Die ander pes van ‘n grondpad is die opskietklippe wat jou voertuig en voorruit kan tref. Baie keer kom jy ongeskonde uit jou grondpadryery, maar ander kere is daar ‘n prys te betaal.  Soos ‘n gat in die voorruit.

Maar dit help nie om te lank daaroor te huil of te kla nie, want dit is deel van die grondpadpakket. Toe dit met my net anderkant Sesriem gebeur, en  ek op die eerste beste Namibiër se skouer wou huil, toe sê hy: Meneer, dis Namibië dié.  Wat verwag jy?

Dit is die lewe, Meneer. Wat verwag jy? Niemand kom ongeskonde uit die lewe nie. Party rol hul karre, ander kry klippe deur die ruit en ander vreet stof.

Ek wonder of Winston Churchill ooit grondpad gery het?  Hy moes, want hy het eens op ‘n tyd  gesê:

If you are going through hell, keep going!   

Maar dit is eers as jy ‘n grondpad met ‘n fiets probeer aandurf, dat jy weet hóé onsimpatiek en ongenaakbaar só ‘n pad kan wees. Elke voertuig van voor en agter is soos ‘n persoonlike aanval op jou lewe. As jy net stof vreet dan is jy gelukkig …

As jy by die armsalige vent op sy fiets verby flits, besef jy hoe gelukkig jy is om hierdie pad in jou bakkie te kan aanpak.  Dit kon ék op daardie fiets gewees het.

Die sleutel tot grondpadry is respek.  Behandel daardie gruis met ‘n heilige ontsag. 

En geniet dit, want dalk gaan jy daardie stuk pad net een keer in jou lewe ry…

 

The safest road to hell is the gradual one – the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts. – C.S. Lewis

You know, somebody actually complimented me on my driving today. They left me a little note on the windscreen, it said Parking Fine. – Tommy Cooper

Trying to predict the future is like trying to drive down a country road at night with no lights while looking out of the back window. – Peter Drucker

Continue Reading

Wie nie waag nie …

Jy het ook al na programme op TV gekyk waar die deelnemer op die rand staan om sy geld te verdubbel, maar dan begewe sy moed hom en hy kies die veilige opsie … die geld wat hy reeds bymekaar gemaak het.

Ek wil dan my middelpaadjie in ’n pontytail knoop van frustrasie, maar gelukkkig is alle deelnemers nie só nie!

Nou die dag was daar ’n deelnemer, nogal so ’n vaal ene, wat nie ’n banggat was nie.

Toe dit by dubble or quits kom, toe besluit hy om te waag.  Braaf of dom, hoor ek jou sê, maar hy het hom voorgeneem om as hy dink hy weet die antwoord, dan gaan hy waag.

En hy het presies dít gedoen. En sy geld verdubbel.

Want sien, sy filosofie was: Ek gaan dalk nooit weer ’n kans kry om iets só waaghalsig aan te vang nie. Wen ek, dan kan ek vir altyd daaroor praat; verloor ek, dan kan ek vir altyd praat oor die kans wat ek deur my vingers laat glip het.

En praat sal hy kan praat! Tot selfs lank na hy die geld uitgegee het.

Wat ’n great filosofie! Daar loop net te veel mense op hierdie aardbol rond wat niks het om oor te praat nie, want hulle speel altyd veilig. Baie veilig …

Na al my jare begin ek glo die lewe gaan nie net oor veilig speel nie. Jy gaan nêrens kom met jou voet altyd op die rem nie.

 

The person who has had a bull by the tail once has learned 60 or 70 times as much as a person who hasn’t. – Mark Twain

Either you decide to stay in the shallow end of the pool or you go out in the ocean. – Christopher Reeve

The man who viewed the world at 50 the same as he did at 20 has wasted 30 years of his life. – Muhammad Ali

Image: David Castillo Dominici / FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading