‘n Teerpad van ‘n ander kleur.

Take me home country roads sing oorlede John Denver terwyl die klippe onder my bakkie se wiele spat.

Behalwe vir die hitte, en die koue waarvan hulle vergeet het, was van die eerste dinge waarteen die Namakwalanders my met ons koms na Springbok gewaarsku het, die grondpaaie van die omgewing. 

Nie dat die pad iets aan jou gaan doen nie.  Nee, dit is eerder wat jy dink jy aan die pad kan doen.  Want sien, jy glo baie gou dat ‘n grondpad eintlik maar net ‘n teerpad van ‘n ander kleur is.  En jy begin dit dan so behandel.

En dit is dan net daar waar jy jou deeglik met jou oordeelsvermoë misgis en voor jy kan sê kokerboom, sit die grondpad wydsbeen oor jou!  As jy gelukkig is, sal jy jou stommiteit kan oorvertel, maar daar is baie wat nie kon nie …

Grondpadry is baie soos die lewe.  Dit is net as jy dink jy het hierdie oefening mooi onder die knie, dat die lewe jou onverwags uit die saal gooi.

Om ‘n groot lorrie op ‘n grondpad verby te gaan is een van die moeilikste en frustrerendste dinge waaraan ek kan dink.  Jy kan niks sien aankom nie, want die stofwolke is so dig dat jy amper nie eens jou bakkie se neus kan uitmaak nie!

In die lewe kry ons ook baie spreekwoordelike lorries wat in ons pad kom.  Baie lyk onmoontlik om by verby te kom en dit is amper of ons niks voor die lorrie kan sien nie.  Of dit ‘n reguit stuk pad is en of daar ‘n draai is, dit weet jy nie. Maar in die meeste gevalle kom ons tog op een of ander gelyk stukkie pad om hierdie voortsnellende hindernis.  En dan lê die pad weer wyd en oop voor ons.

Die ander pes van ‘n grondpad is die opskietklippe wat jou voertuig en voorruit kan tref. Baie keer kom jy ongeskonde uit jou grondpadryery, maar ander kere is daar ‘n prys te betaal.  Soos ‘n gat in die voorruit.

Maar dit help nie om te lank daaroor te huil of te kla nie, want dit is deel van die grondpadpakket. Toe dit met my net anderkant Sesriem gebeur, en  ek op die eerste beste Namibiër se skouer wou huil, toe sê hy: Meneer, dis Namibië dié.  Wat verwag jy?

Dit is die lewe, Meneer. Wat verwag jy? Niemand kom ongeskonde uit die lewe nie. Party rol hul karre, ander kry klippe deur die ruit en ander vreet stof.

Ek wonder of Winston Churchill ooit grondpad gery het?  Hy moes, want hy het eens op ‘n tyd  gesê:

If you are going through hell, keep going!   

Maar dit is eers as jy ‘n grondpad met ‘n fiets probeer aandurf, dat jy weet hóé onsimpatiek en ongenaakbaar só ‘n pad kan wees. Elke voertuig van voor en agter is soos ‘n persoonlike aanval op jou lewe. As jy net stof vreet dan is jy gelukkig …

As jy by die armsalige vent op sy fiets verby flits, besef jy hoe gelukkig jy is om hierdie pad in jou bakkie te kan aanpak.  Dit kon ék op daardie fiets gewees het.

Die sleutel tot grondpadry is respek.  Behandel daardie gruis met ‘n heilige ontsag. 

En geniet dit, want dalk gaan jy daardie stuk pad net een keer in jou lewe ry…

 

The safest road to hell is the gradual one – the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts. – C.S. Lewis

You know, somebody actually complimented me on my driving today. They left me a little note on the windscreen, it said Parking Fine. – Tommy Cooper

Trying to predict the future is like trying to drive down a country road at night with no lights while looking out of the back window. – Peter Drucker

(Visited 142 times, 1 visits today)

, , , ,

2 Responses to ‘n Teerpad van ‘n ander kleur.

  1. Jacob Rheeder February, Monday 27 2012 at 8:26 am #

    Hier in die Transkei het ons agtergekom dat die slegste paadjies jou na die mooiste plekke toe vat

    • Rian Truter February, Monday 27 2012 at 4:51 pm #

      100% reg. Niks kom sonder moeite nie!

Leave a Reply