Tag Archives | Respek

Respek. Dit is nou of nooit!

Die woord vir 2019 is glo Zondo-kommissie.

Volgens PanSAT (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) is dit die woord wat dié jaar se luim en filosofie die beste omvat.

Al wat ek kan sê, is… krokodilbollie! 

My woord is die een wat sedert die begin van die Rugby Wêreldbeker op almal se lippe is, naamlik respek. En presies oor die teenoorgestelde rede as die van PanSAT.

Natuurlik is die woord vir die meeste van ons glad nie vreemd nie. 

Ons het immers met hierdie woord grootgeword.  Maar wat daarvan geword het, is ’n ope vraag.

Om een of ander rede het die toepassing van die woord nie regtig inslag by ons as Suid-Afrikaners gevind nie. 

Maar waarom wel by die Japannese?

Dit kan beslis nie wees omdat die begrip van respek nie genoeg by ons ingedril, en selfs ingefoeter, is nie. 

Daar is omtrent nie ’n skool in Suid-Afrika wat nie die een of ander waardeprogram volg en waarvan respek ’n groot deel uitmaak nie.

Suid-Afrikaners by die Wêreldbeker knoop hulle dubbel om te konnichiwa en  selfs met pantoffels en kamerjasse op die paviljoen te gaan sit.

Maar ten spyte van al hierdie tydelike betoon van respek in ’n vreemde land, betoon ons as nasie tuis min of geen respek aan mekaar nie. Nie in die klein dingetjes nie en nog minder in die grotes.

Miskien het ons al die jare net die woord in teorie geleer en verstaan. Die woordeboekdefinisie daarvan, maar die uitoefening het ongelukkig agterweë gebly.

Te veel is die woord gepredik en te min is dit gedoen!

Die spieël van respek waarin ons jeug moet kyk, is te dof om te sien hoe daar met respek opgetree word?

Ons moet nou respek begin leef en ophou net praat daarvan.

 

Wanneer jy respek aan jou opponent betoon, respekteer jy jouself. – John-Laffnie de Jager

It’s always been a mystery to me how people can respect themselves when they humiliate other humans. – Mahatma Gandhi

Respect is a two-way street, if you want to get it, you’ve got to give it. – RG Risch

Continue Reading

Wat is dan fout met nét meneer?

Is dit net ons ou volkie wat só behep is met titels?

Of ly die hele wêreld aan hierdie siekte wat jou menswees en belangrikheid aan ’n titel koppel?

Mense dink jy weet iets van iets as jy doktor of professor só of só is, want ’n gewone meneer is mos amper net soos ons.  Waar sal sy kennis dan nou  vandaan kom en wat sal hy dan nou meer weet as ek?

Maar as hy ’n boek geskryf het… Of ’n CD gemaak het, dan volg ons hom sommer weer ’n keer kaalvoet oor die Drakensberge!

Dit is waarom ek sê, moenie vir jou kind ’n erfposie nalaat nie. Doop hom van die begin af professor Swanepoel. Vir die res van sy lewe sal hy nie eens hoef te leer nie, want die wêreld gaan hom op sy titel takseer en nie op wie hy is nie.

Amper soos onse eie Pallo. ’n Intellektueel het sommige, en koerante, hom genoem.

Miskien was dit omdat ons meer waarde aan die titel geheg het, as aan die ware mens self?

Ons dig so baie waardes en eienskappe aan ’n titel toe, dat die mens dit nie eens as ’n karaktereienskap hoef te besit nie.

Geen wonder dat ons ouer garde beweer die jonger geslag het ’n gebrek aan respek nie.

Maar miskien het die jonger geslag net nie die titelbril op wat die ouer geslag mee geboei word nie.

Ek begin al meer glo hulle is dalk reg, want respek is iets wat verdien moet word en nie saam met ’n titel gekry (of gekoop) word nie.

Waar het ek nou weer gelees, dat al dra ’n aap ’n goue ring, bly hy maar ’n simpel ding?

 

Moenie jou eie beuel blaas nie. Moenie vir almal vertel hoe goed jy is nie. Laat ander mense dit liewer doen. – Spreuke 27:2

When the game is over, the king and the pawn go into the same box.Italian proverb

Whenever I climb I am followed by a dog called “Ego”. – Friedrich Wilhelm Nietzsche


 

Continue Reading

Luister lekker!

Ek lees nou die dag op ’n plek dat die meeste leiers met hulle monde oop sterf.

Ja, met hulle monde oop, want hulle is gedurig aan die praat. Besig om mense te vertel hoe om dít of dát te doen of om raad te gee, want leiers moet mos altyd die antwoorde hê.

Dit het my laat wonder oor hoe goed ek luister? Wanneer laas het ek meer gekonsentreer op wat die ander persoon sê as wat my antwoord gaan wees?

Suksesvolle leiers, en dit sluit ouers in, is goeie luisteraars. En natuurlik goeie sprekers, maar jy kan net regtig in mense belangstel en vir hulle omgee as jy na hulle luister.  En laat ek dadelik bysê: met volle oorgawe na hulle luister!

Dit is hier waar die meeste van ons se voorneme om te luister in die hek duik. Al is ons mond dalk toe, is ons brein op ’n ander plek. Ons dros eintlik so ’n bietjie uit die gesprek en terwyl die persoon voort babbel, dink ons aan ander dinge.

Hopelik sal ons, as sy stilbly, net instemmend kan knik of ’n ekspressiewe geluid kan uiter om valslik te wys dat ons met die gesprek bygebly het.

Ongelukkig is stilbly nie luister nie. Om regtig intensief na iemand anders te luister, beteken dat die persoon na wie jy luister, die middelpunt van jou totale belangstelling word. Al jou sintuie is gefokus op wat die persoon sê en ook nie sê nie. Baie keer hoor jy meer uit die persoon se liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en uit dit wat die persoon nie sê nie, as die woorde.

Om na iemand te luister, sê dat jy respek vir hom of haar het. Al is jy die meerdere. Uit respek ontwikkel daar vertroue wat hopelik tot groter verdraagsaamheid en tot minder konflik sal lei.

As ons meer luister, gaan ons beslis ook meer weet.  Meer weet van die wêreld waarin ons leef en van die mense wat dié aarde saam met ons bewandel.

Jy gaan agterkom hoe effektiewer jy luister, hoe rustiger en kalmer gaan jy word. Nie omdat dit makliker is om te luister nie. Inteendeel; luister verg baie meer inspanning en vaardigheid as praat! Maar omdat jy fokus en daarom alle ander bollie uit jou kop en lewe skuif.

As ons meer luister as praat, sal ons ook dalk minder spyt wees oor goed wat ons nie moes gesê het nie.

Onthou die wyse raad: ’n Toe bek is ’n heel bek!

 

No man ever listened himself out of a job. – Calvin Coolidge

The first duty of love is to listen. – Paul Tillich

The greatest gift you can give another is the purity of your attention. – Richard Moss

Image: David Castillo Dominici/FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading

Motte het nie ore nie

Die eenvoudigste speelgoed lyk my bly nog maar die interessantste. Veral as dit nog lewendig is!

Nou die middag speel ek en Luca met ’n  mot. Ek vang die mot en laat hom dan weer uit die tronk van my bakhand ontvlug. Luca gril en gil van senuweeagtigheid en plesier. As ek dink dis nou genoeg, want die mot is besig om in stof te verander, dan skree hy: Nog, Oupa! Nog!

Uiteindelik ontsnap die mot en gaan kruip êrens tussen die struike, waar ons hom nie weer kan kry nie, weg. Ek verwonder my aan Luca se rooi wangetjies en besef net weer hoe kosbaar die lewe is. En êrens in my onderbewussyn klink Annesu de Vos se woorde uit haar gedig Pilatus op:

jy

kan my nie hoor nie

want motte het nie ore nie

nie ore nie

’n mot het nie

’n oor nie

En skielik besef ek daar is nog so baie wat ek vir my kleinkinders moet leer…

Leer dat hulle vir alles wat asem haal, respek moet hê. Selfs vir ’n mot, want alles wat asem het, is ’n skepping van God.

En saam met die respek moet hulle ook liefhê.

Seth Godin skryf dat liefde vir iets eers na die respek kom: Respect is insufficient by itself, though. Respect doesn’t get the heart to race, respect doesn’t often lead to waiting in line or gushing about an idea to someone else. No, those things come from falling in love, from the ineffable and magic switch that gets flipped when we are touched by something on an emotional level.

Maar my kleinkinders het ore. Ore om te hoor wat Oupa oor die lewe vir hulle wil sê.

Oupa moet dit nét sê …

Ek wil hê jy moet saam sing as die musiek begin speel. En dans in die somer se reën. En soek vir die reënboog langs die pad, my skat. – Karin Zoid

The truest form of love is how you behave toward someone, not how you feel about them. – Steve Hall

The man who sat on the ground in his tipi, thinking of life and its meaning, accepting the kinship of all creatures and knowing unity with all things, was drawing into his being the true heart of civilization. – Chief Luther Standing Bear

Foto: Christian Meyn/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading