Tag Archives | Kleinkinders

Is ouderdom só goor?

ATT00019Ek hoor nou elke dag meer en meer dat om oud te word nie vir sissies is nie.

So asof almal my teen die ouderdom wil waarsku. Asof alles van ouderdom net altyd sleg of onaangenaam is.

Of is dit dalk dat hulle dink dat ek ’n sissie is?

Het ouderdom dan geen positiewe kant nie?

Is dit net tieners en dié onder veertigs op wie die son kan skyn? Nie dat ek kon onthou dat puisies en onkunde enige pret was nie, maar miskien het ek net vergeet hoe lekker dit was.

Wat baie mense nie besef nie, is dat daar voordele aan ouderdom verbonde is. En hier praat ek nie net van goedkoper gaan fliek of op die bus ry nie. Nie dat die laatste een in Suid-Afrika ’n opsie is nie!

Kenners beweer dat senior burgers gelukkiger as hulle jonger eweknieë is. En in teenstelling met die algemeen aanvaarde persepsie dat jou brein totaal aan die ineenstort is, beweer dié slim mense dat sekere dele van die brein beter funksioneer as in die verlede. (Laat dit nou vir julle jonges ’n les wees.)

Maar my waardering van ouderdom is nie so wetenskaplik gefundeerd as bostaande navorsing nie.

Myne was sommer ’n laatnag hartsgewaarwording van ’n baie dankbare oupa.

Luca het gister vyf geword en ek het opnuut besef dat om oupa te wees en om jou kleinkinders se armpies om jou nek te voel, net iets is wat met die ouderdom gepaard kan gaan. Jy moet eers daardie grens van nie-sissie-wees-nie, oorsteek om dít te ervaar.

Maar ek het my eie kinders, hoor ek jou sê.

Toegegee, eie kinders is verby kosbaar. Maar kleinkinders is soos ’n ekstra bonus. ’n Onverwagte Lotto-wen! Kleinkinders en al die gepaardgaande, ongelooflik kosbare gewaarwordinge is ’n fase van die lewe, wat ek vir geen terugdraai van die horlosie, sal verruil nie.

En as ek dalk as jeugdige geweet het hoe vervullend dié ervaring sou wees, sou ek dalk gouer oud wou wees! Of soos my goeie vriend Dan van Zyl senior altyd sê: As ek geweet het hoe lekker kleinkinders is, sou ek hulle eerste gehad het!

Dankie, Here vir die genade om oud te kan word!

 

None is so old as those who have outlived enthusiasm.Henry David Thoreau

Because if you’ve found meaning in your life, you don’t want to go back. You want to go forward.Morrie Schwartz

Learn how to live and you’ll know how to die; learn how to die, and you’ll know how to live. – Morrie Schwartz

Image: Daily Telegraph.com.au

Continue Reading

Motte het nie ore nie

Die eenvoudigste speelgoed lyk my bly nog maar die interessantste. Veral as dit nog lewendig is!

Nou die middag speel ek en Luca met ’n  mot. Ek vang die mot en laat hom dan weer uit die tronk van my bakhand ontvlug. Luca gril en gil van senuweeagtigheid en plesier. As ek dink dis nou genoeg, want die mot is besig om in stof te verander, dan skree hy: Nog, Oupa! Nog!

Uiteindelik ontsnap die mot en gaan kruip êrens tussen die struike, waar ons hom nie weer kan kry nie, weg. Ek verwonder my aan Luca se rooi wangetjies en besef net weer hoe kosbaar die lewe is. En êrens in my onderbewussyn klink Annesu de Vos se woorde uit haar gedig Pilatus op:

jy

kan my nie hoor nie

want motte het nie ore nie

nie ore nie

’n mot het nie

’n oor nie

En skielik besef ek daar is nog so baie wat ek vir my kleinkinders moet leer…

Leer dat hulle vir alles wat asem haal, respek moet hê. Selfs vir ’n mot, want alles wat asem het, is ’n skepping van God.

En saam met die respek moet hulle ook liefhê.

Seth Godin skryf dat liefde vir iets eers na die respek kom: Respect is insufficient by itself, though. Respect doesn’t get the heart to race, respect doesn’t often lead to waiting in line or gushing about an idea to someone else. No, those things come from falling in love, from the ineffable and magic switch that gets flipped when we are touched by something on an emotional level.

Maar my kleinkinders het ore. Ore om te hoor wat Oupa oor die lewe vir hulle wil sê.

Oupa moet dit nét sê …

Ek wil hê jy moet saam sing as die musiek begin speel. En dans in die somer se reën. En soek vir die reënboog langs die pad, my skat. – Karin Zoid

The truest form of love is how you behave toward someone, not how you feel about them. – Steve Hall

The man who sat on the ground in his tipi, thinking of life and its meaning, accepting the kinship of all creatures and knowing unity with all things, was drawing into his being the true heart of civilization. – Chief Luther Standing Bear

Foto: Christian Meyn/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading