Is ouderdom só goor?

ATT00019Ek hoor nou elke dag meer en meer dat om oud te word nie vir sissies is nie.

So asof almal my teen die ouderdom wil waarsku. Asof alles van ouderdom net altyd sleg of onaangenaam is.

Of is dit dalk dat hulle dink dat ek ’n sissie is?

Het ouderdom dan geen positiewe kant nie?

Is dit net tieners en dié onder veertigs op wie die son kan skyn? Nie dat ek kon onthou dat puisies en onkunde enige pret was nie, maar miskien het ek net vergeet hoe lekker dit was.

Wat baie mense nie besef nie, is dat daar voordele aan ouderdom verbonde is. En hier praat ek nie net van goedkoper gaan fliek of op die bus ry nie. Nie dat die laatste een in Suid-Afrika ’n opsie is nie!

Kenners beweer dat senior burgers gelukkiger as hulle jonger eweknieë is. En in teenstelling met die algemeen aanvaarde persepsie dat jou brein totaal aan die ineenstort is, beweer dié slim mense dat sekere dele van die brein beter funksioneer as in die verlede. (Laat dit nou vir julle jonges ’n les wees.)

Maar my waardering van ouderdom is nie so wetenskaplik gefundeerd as bostaande navorsing nie.

Myne was sommer ’n laatnag hartsgewaarwording van ’n baie dankbare oupa.

Luca het gister vyf geword en ek het opnuut besef dat om oupa te wees en om jou kleinkinders se armpies om jou nek te voel, net iets is wat met die ouderdom gepaard kan gaan. Jy moet eers daardie grens van nie-sissie-wees-nie, oorsteek om dít te ervaar.

Maar ek het my eie kinders, hoor ek jou sê.

Toegegee, eie kinders is verby kosbaar. Maar kleinkinders is soos ’n ekstra bonus. ’n Onverwagte Lotto-wen! Kleinkinders en al die gepaardgaande, ongelooflik kosbare gewaarwordinge is ’n fase van die lewe, wat ek vir geen terugdraai van die horlosie, sal verruil nie.

En as ek dalk as jeugdige geweet het hoe vervullend dié ervaring sou wees, sou ek dalk gouer oud wou wees! Of soos my goeie vriend Dan van Zyl senior altyd sê: As ek geweet het hoe lekker kleinkinders is, sou ek hulle eerste gehad het!

Dankie, Here vir die genade om oud te kan word!

 

None is so old as those who have outlived enthusiasm.Henry David Thoreau

Because if you’ve found meaning in your life, you don’t want to go back. You want to go forward.Morrie Schwartz

Learn how to live and you’ll know how to die; learn how to die, and you’ll know how to live. – Morrie Schwartz

Image: Daily Telegraph.com.au

(Visited 178 times, 1 visits today)

, , ,

5 Responses to Is ouderdom só goor?

  1. Albertus Ziervogel October, Thursday 1 2015 at 1:00 pm #

    Ouderdom is goed, indien dit saam met wysheid gaan, indien daar lewenslange groei was, en steeds is. Ouderdom is egter nie die hoeveelheid jare wat jy asem gehaal het nie, maar die jare wat jy geleef het. Sommige is 80 en het net 20 jaar gelewe, ander is 60 en het die volle waarde van 60 jaar.

    Ouderdom is die keuse wat jy maak.

    • Rian Truter October, Thursday 1 2015 at 1:55 pm #

      Stem 100% saam, Albertus! Dankie vir die lees! Mooi loop!

  2. Cari October, Thursday 1 2015 at 3:05 pm #

    Die kleinkinders so erg oor hulle oupa xx

  3. erich October, Sunday 4 2015 at 11:02 am #

    Dankie vir die perspektief Rian!

    • Rian Truter October, Sunday 4 2015 at 11:11 am #

      Vreugde! Dankie vir die lees, Erich.

Leave a Reply