Waar kry jy die meeste vis?

Andrew, my energieke koerantverkopervriend, vra my nou die dag: Wa kry djy die meeste vis, laanie?

Onmiddellik is ek op my hoede, want ’n verkeerde antwoord gaan my onnosel laat lyk. ’n Verkeerde antwoord kan my ’n goue ster kos en die hoek-van-die-straat-flinkdinktrein laat verpas.

My gegradueerde brein laat alle sinapse gelyk snap, crackle en pop (NASA sou jaloers wees!) en my antwoord word half versigtig op die tafel gesit: Seker in die see…

Nei, laanie! Tussen die kop ennie stert, da kry djy die meeste vis!

Natuurlik! Logies; waar anders?

En toe laat Andrew my wonder. Waarom soek ons altyd die antwoord by die kop? Hoekom jaag ons gedurig van die kop na die stert en mis die meeste vis in die middel?

Miskien is dit omdat ons kultuur, gemeenskap en skole ons só programmeer. Of dalk word ons gebreinspoel dat net die kop saak maak. Net dié met die goue sterre tel. Die name op die erebord in die saal is die uitverkorenes. Dit is hulle, en nét hulle, wat êrens gaan kom in die lewe.

Ek dink elke dag meer en meer die antwoord lê êrens in die middel… Soos Andrew sê. Of  dalk soos Boerneef gedig het:

Tussen die katel en die koppenent /Ennie katel se voetenent/Daar lê die begin/En daar lê die einde/Die begin vannie ding/Ennie end vannie ding… (Palissandryne)

Ken Robinson slaan vir my die spyker op die kop as hy die volgende oor skole te sê het: Schools have a narrow view of ability, school systems usually promote a very wide view of disability.

Die vraag ontstaan nou hoe ons te werk moet gaan dat skole ’n groter begrip vir elke kind se moontlike ability ontwikkel?

Eerstens moet onderwysers (en ouers) meer van elke kind verwag. Beslis meer as net dit wat die kurrikulum voorskryf. Hierdie verwagting moet egter realisties wees, want ’n verwagting wat nie aan die werklikheid gekoppel is nie, is net valse hoop. Maar daarteenoor is verwagtinge wat te klein is, ook weer sonde.  Sulke verwagtinge  mis die meeste van die vis in die middel.

Ons is vandag op soek na volwassenes wat kinders diep sal laat delf tussen die kop en die stert.  Na waar hul die meeste vis sal kry. Rolmodelle wat ons kinders sal laat ontdek waartoe hulle werklik in staat is.  En hulle dan sal lei om dié te potentiaal te verwesenlik. Of dit nou by die kop, middel of stert is!

Seth Godin sê op sy beurt: The mirror we hold up to the person next to us is one of the most important pictures she will ever see.

Nou, meer as ooit te vore, is dit nodig dat ouers en onderwysers dié spieël so sal hou dat kinders die volgende sal sien:

  1. Elke mens is intelligent en uniek. Maar nie almal is op dieselfde manier intelligent nie.
  2. Almal is kreatief, want ons word met hierdie eienskap gebore.
  3. Jy is verantwoordelik vir jou lewe. Aanvaar dié verantwoordelikheid.
  4. Leef met liefde.

Meer nog; dat dit nie net die goue ster en die eerste span is wat tel nie, want Andrew, Boerneef, Ken en Seth het gesê jy kry die meeste vis in die middel.

Miskien sal ons dan ophou om van die een punt na die ander te jaag. Van die A-klas na die eerste span na die goue ster. Ophou glo die geluk lê vir ons aan die einde van die reënboog en wag, want as ons dít glo, gaan ons die mooiste kleure van die reënboog in die middel glad nie raaksien nie!

 

Free the child’s potential, and you will transform him into the world. – Maria Montessori.

I was never top of the class at school, but my classmates must have seen potential in me, because my nickname was “Einstein”. – Stephen Hawking

Focus on your potential instead of your limitations. – Alan Loy McGinn

 

Image courtesy of duron123 at FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

‘n Gedagte oor Kreatiwiteit

Ek lees nou die dag die onderstaande gedeelte op Austin Kleon se blog. En dog toe net ek moet dit deel:

The child is the first artist. Out of the material around him he creates a world of his own. – Carleton Noyes, The Gate of Appreciation, 1907. He continues: His play is his expression. He creates; and he is able to merge himself in the thing created. In his play he loses all consciousness of self… then comes a change… imagination surrenders to intellect; emotion gives place to knowledge. Gradually the material world shuts in about us until it becomes for us a hard, inert thing, and no longer a living, changing presence, instinct with infinite possibilities of experience and feeling… It happens, unfortunately for our enjoyment of life, that we get used to things. Little by little we come to accept them, to take them for granted, and they cease to mean anything to us… Unless the world is new-created every day… unless each new day is a gift and new opportunity, then we cannot interpret the meaning of life nor read the riddle of art. For we cannot truly appreciate art except as we learn to appreciate life.”


Every child is an artist until he’s told he’s no an artist. – John Lennon

There is only one of you in all time, this expression is unique. And if you block it, it will never exist through any other medium and it will be lost. — Martha Graham

The principle goal of education is to create men who are capable of doing new things, not simply of repeating what other generations have done – men who are creative, inventive and discoverers. — Jean Piaget

 

Continue Reading

Die Here sal jou seën, Meneer.

My bakkie staan nou die oggend in die oprit, want ek moes weer uit om iets te gaan haal.

’n Fout, want lyk my ’n voertuig in die oprit is ’n ope uitnodiging vir almal wat verby loop om die deurklokkie te kom lui.

Eers die fietspatrollieman wat rekenaaronderdele vir sy kind soek.

Net my sit agter die rekenaar gekry, toe lui die voordeurklokkie weer!

Ek is skielik vies vir my wat die bakkie buite gelos het en vir almal wat die klokkie lui.

Seker weer iemand wat iets kom bedel!

Met ’n beswaarde gemoed ruk ek die deur oop en daar staan sy. Middeljarig en netjies.

Het meneer nie iets vir…

En voor sy die bekende rympie kan voltooi, vertel ek haar dat tussen haar en die vorige hulpbehoewendes, die kerk en die belastinggaarder is ek een van die mooi dae saam met haar besig om voordeurklokkies te lui.

Want sien, speel ek my troefkaart, net gister het ek vir meer as vyf uur by die Departement van Arbeid gaan toustaan om my werkloosheidversekering te gaan kollekteer.

Eintlik soek sy hulp by die verkeerde mense, want ek is ook hulpbehoewend. Dink sy, ons wat hier bly, is ryk en daarom kom soek sy hier hulp?

Meneer, dis nie eintlik wat ek gemeen het nie. Ek was ’n seamster wat met die overlocker gewerk het en verlede Desember het die baas ons net so gelos en verdwyn.

Nou bly ek by die inlaws in die agterplaas.  Toe ek gewerk het, het hulle graag die groceries by my gevat.  Nou eet hulle voor die kinders!

Het meneer nie dalk net ’n glas yswater vir my nie? En ek wonder wat is dit met mense wat bedel en yswater? Is koue water nie goed genoeg nie?

Terug kombuis toe om die water te gaan haal, moet ek by my beursie verby en dié praat met my. Amper soos die advertensie op TV.

Ek haal ’n groen noot en ’n paar muntstukke uit en neem dit saam met die yswater deur toe.

Wat is jou naam? vra ek.

Lillian, meneer.  Dankie meneer, en haar oë skiet vol trane toe sy die geld en water vat.  Ek het nog nooit die soort ding gedoen nie. Dankie meneer, die Here sal meneer seën.

Terug by my lessenaar kry ek nie my sit nie, want Lillian se oë kyk te diep in my siel.

Ek staan op en vat die groot noot uit my beursie en gaan soek na Lillian in die straat.

Twee huise verder af sien ek haar. Sy stap stadig.

Lillian, roep ek haar en stap tot by haar.

Ek het jou geld gegee, sê ek.  Ek wil dit terug hê.

Lillian se oë rek, maar sy grawe in die sak en haal die geld uit en gee dit vir my.

Ek het nou só groot geskrik! Het ek iets verkeerd gedoen?

Nee, wil ek sê, dis nie jy wat iets verkeerd gedoen het nie, dis eintlik ek.

Nee, Lillian. Daar is nie fout nie.  Ek wil net die geld wat ek vir jou gegee het, met dié omruil.

En toe breek die damme agter Lillian en my oë en spoel twee vreemdelinge vir ’n oomblik saam op die eiland van menswees uit .

Meneer, ek gaan nou dadelik huis toe. Die Here sal jou seën, meneer!

Dankie, Lillian. Dis eintlik nie nodig nie, wil ek sê.

Want ek het net vanoggend weer besef dat die Here het my al lankal geseën het!

 

Grace is not part of consciousness; it is the amount of light in our souls, not knowledge or reason. – Pope Francis

I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us. – Anne Lamott

I am only one, but I am one. I cannot do everything, but I can do something. And I will not let what I cannot do interfere with what I can do. And by the grace of God. I will. – Edward Everett Hale

 

 

 

 

 

Continue Reading

‘n Briefie vir my juffrou.

My naam is Luca.

My oupa sê ek is van ’n ander planeet.

Ek is vier jaar oud en gaan vanjaar vir die eerste keer na die groot skool toe. Na graad RR.

Dit is daarom dat ons die briefie aan juffrou skryf.

My oupa sê dis nonsens dat ek só gou al in ’n skool moet gaan sit, want ek is reeds slim genoeg. Hy vra dat juffrou my nie slim moet maak nie, maar net slim hou.

Ek kan al tel en ek weet hoe ’n iPad werk. En ek was al in Hong Kong en het al met ’n helikopter gevlieg, maar ek was nog nie op die maan nie.

Oupa vra dat juffrou my nie net van die goed wat juffrou moet sal leer nie, maar ook van myself. En die wêreld en die mense in dié wêreld. Dat juffrou my truuks sal leer van hoe om in 2032 te leef.  Ek sal dan 21 wees!

Truuks van hoe om goed te kan praat, hoe om nie met mense te baklei nie, hoe om vir mense lief te wees, veral vir mense wat anders as ek is. Ook hoe om weer op te staan as ek val en dat dit OK is om buite die lyne in te kleur.

Oupa sê ek gaan baie lief wees vir  juffrou, want jy is ’n superhero. Jy gebruik woorde soos WOW, wonderlik, cool en fantasties.  Jy dra ook baie keer ’n donkerbril, want jy sê ons toekoms is so helder dat dit in jou oë skyn.

Juffrou gaan ook vir my lief wees, want Liewe Jesus het jou spesiaal geva om na my en my nuwe maatjies te kyk. Niemand anders nie.

My naam in Luca.  Luca Dominico Cutino en ek is ’n groot seun.  Ek het die foto van my, sélf geneem. ’n Selfie op die dag toe my sussie gedoop is.

Juffrou kan my ook Superman noem. Of Mannemarak, want dit is wat my oupa my noem.

Lief vir juffrou.

Die superhero-personeel van Laerskool Fairland verwelkom die kinders vir 'n WOW-2015 terug. 14/1/2015

Willie Goosen (Skoolhoof) verduidelik aan die kinders dat daar reeds voetspore op die maan is. Laerskool Fairland gaan hulle om die rede in 2015 verby die maan vat. Go my Captain go!!

I think a role model is a mentor – someone you see on a daily basis, and learn from them.Denzel Washington

I never teach my pupils. I only attempt to provide the conditions in which they can learn.Albert Einstein

I believe this passionately: that we don’t grow into creativity, we grow out of it. Or rather, we get educated out of it. Ken Robinson

 

Continue Reading

Strome van seën.

God have blessed you with grandchildren. You are só blessed, is die gevleuelde woorde van my nuutgevonde Zim-nutsman, Francis.

You are só blessed…

Hierdie so blessed het my opnuut laat wonder waarom ek nie ook altyd dié seën wat Francis so maklik raaksien, kan sien nie.

Is dit dalk omdat ek tot by my kroontjie in dié seën staan dat ek dit nie meer kan sien vir wat dit is nie?

Francis was opgewonde oor die weggooibekers wat hy huis toe kon neem. Baie opgewonde.

Amper té opgewonde, want die bekers was reeds vir die weggooidrom bestem!

Maar miskien is die feit dat ek reeds so baie het, die oogklappe wat verhoed dat ek soos Francis kan sien.

Selfs as dit lewensgroot voor my staan!

Lyk my hoe minder jy het, hoe makliker sien jy die seën in dinge raak.

’n Totale gawe uit die hand van God.

’n Gawe wat ek nie kan verdien nie, maar tog so oorvloedig ontvang.

En skielik is ek weer klein en die gemeente sing uit volle bors:

Strome van seën van bowe,

Dit het die liefde beloof;

Heerlike tyd van verkwikking

Vloei uit ons Heiland en Hoof…

 

 

One of the main reasons that we lose our enthusiasm for life is because we become ungrateful… we let what was once a miracle become common to us. We get so accustomed to His goodness it becomes a routine. – Joel Osteen

Blessings are oftentimes not valued till they are gone. – Thomas Fuller

When you are grateful – when you can see what you have – you unlock blessings to flow in your life. – Suze Orman

Continue Reading

Burokrasie is gesond en leef tussen ons.

Die HAT verklaar die woord burokrasie as: 1. Gesamentlike staatsamptenaar. 2. Gees, gedrag van ’n burokraat; amptelike kleingeestigheid.

Nou wat is ’n burokraat dan, vra jy? Weer die HAT: Kleingeestige (en eiemagtige) amptenaar wat net aan die letter van die wet vashou.

Na ’n besoek hierdie afgelope Maandag aan die Departement van Arbeid se kantoor in Bellville, verstaan ek hierdie twee begrippe beter. Baie beter!

’n Volle vyf uur en 40 minute se beter!

Want dit was presies hoe lank dit my geneem het om my reeds voltooide UIF-vorms in te dien.

Gedurende dié genoemde vyf plus ure het ek gesien waar die woordeboekmakers hulle definisies kom formuleer.

En ek kan getuig dat hulle definisie een honderd persent in die kol is, want soos ek op my al sensitiewer wordende agterent numeries vorentoe (baie stadig!) vorder, het ek dié definisie in sy volle omvang beleef.

’n Amptenaar wat vorms aan die skare op die bankies verduidelik asof almal totaal stupid is. Maar die ergste is dat dié amptenaar die inligtingsessie gebruik om sy die standup comedy te beoefen. En die enigste wat lag is hy, want hy het die hef in die hand. Luister moet jy luister.

’n Rêrige gevange skare, want maak jy die verkeerde geluid of beweging, wie weet wanneer kom jy hier uit. Dalk nooit en jy word soos hulle. Ek het ook besef dat ons nie ’n inval van wesens uit die buitenste ruimte moet vrees nie. Hulle is reeds hier… hulle is in diens van die Departement van Arbeid.

Amptenare wat vir ’n departement werk wat die edelste woord in enige woordeskat verteenwoordig, maar gerieflik vergeet het wat dié woord beteken. Soos klokslag verdwyn hulle soos mis voor die son en laat die rye vormdraers sonder enige taal of tyding.

Kantore word driemandiep beset en deur die ruit sien ek die breedste glimlagge wat enige tandepasta-advertensie groen van jaloesie sal maak. Dis net dat ons arme drommels met die vorms, soos die minute ure word, ongelukkig nie die grap kan insien of saam wil lag nie.

En hoe later hoe kwater. Dit help nie om te vra wie in beheer van hierdie departement van onarbeidsaamheid is nie. Niemand wil verantwoordelikheid hiervoor aanvaar nie. Die warm patat van leierskap en blote verantwoordelikheid word van die een kantoor na die ander verskuif. En om alles te kroon, staan daar op ’n bordjie bo een van die kantore: Client Services!

En glimlaggend kyk ons president vanuit ’n groot geraamde portret op sy volgelinge en amptenare neer. Alles is wel in die staatsdiens.

Miskien begryp ek die hele besigheid totaal en al verkeerd?

Word dié amptenare se salarisse nie met my en jou swaarverdiende belastinggeld betaal nie?

Is hulle daarom dan nie veronderstel om die publiek as hul kliënte te sien nie? Ook daardie arme mense wat nie anders kan nie en van hospitaal, kliniek en regshulp van bank na bank móét skuif.

Ek weet ek veralgemeen, want in enige organisasie is daar uitsonderings op die reël. En ek het met een of twee van hulle ook te doen gekry, maar hulle was min. Bitter min.

Ek wonder hoe lank hulle (die bittereinders) teen hierdie tsunami van burokrasie staande gaan bly, voor hulle ook die handdoek ingooi en net nog ’n amptenaar word wat alle oogkontak met die publiek vermy?

Ek het die gevoel gekry dat dié met die lêer(s) onder die arm, wat so stip voor hulle staar as hulle loop, skaam is. Skaam omdat hulle geswig het voor die verkragting van die eens edel begrip dat arbeid adel is.

Terwyl ek daar gesit het, het ek gewens ons president wil uit sy portret klim, die tafels kom omgooi en die sweep in hierdie sinagoge kom klap!

Voor dit te laat is.

Of is die skrif reeds aan die muur?

 

Geleenthede gaan by die meeste mense verby omdat dit ’n oorpak aanhet en na werk lyk. – Thomas Edison

Om te rus kry jou nie daar nie. – Ugandese spreekwoord

Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek. – Prediker 10:18

 

 

Continue Reading

Kobus Gelderblom: Brandewyn se meester!

Saam met Kobus in die Paarl.

Brandewyn het nie brieke nie en brandewyn laat my staan, is die twee gedagtes wat my brein laat gis terwyl ek Paarl toe ry om met Kobus Gelderblom oor brandewyn te gaan gesels. Want hulle sê, as daar iemand is wat iets van brandewyn af weet, dan is dit Kobus.

Self sal ek my nie eintlik as ’n brandewynkenner, of selfs as ‘n brandy-en-coke-man beskou nie, maar ek weet darem dat brandewyn iets is wat ’n mens nie sommer ligtelik moet opneem nie.  Daar is baie meer aan brandewyn as nét die massakonsumpsie saam met Coke of water!

Kobus Gelderblom het vir 26 jaar vir KWV, die laatste 15 as hoof brandewynmeester, gewerk voor hy in 2012 sy die ding by Mountain Spirit begin doen het. Terwyl hy by KWV werksaam was, het Kobus nie net toekennings vir die beste brandewyn in die wêreld ontvang nie, maar ook ’n vaatjie vol ander medaljes. Om presies te wees: 5 dubbel goud, 40 goud en 78 silwer medaljes!

Maar voor ek verder Kobus se lof besing… Jy het seker al begin wonder wie is die man dan nou eintlik?

Kobus is in Bellville gebore en getoë. Skool gegaan by die Laerskool Excelsior en by Hoërskool Bellville. Volgens hom het hy egter op skool baie meer in die buitemuurs as die akademie belang gestel. As kranige sportman speel hy op hoërskool eerste span krieket en rugby.

Na skool was dit weermag toe. Upington se hitte en die korporaals van 8 SAI het vir hom gewag.

Na voltooiing van sy diensplig, begin hy in 1986 by Brandvlei Kelder as parshulp werk en later word hy as assistent-wynmaker aangestel. Dit was dan ook gedurende hierdie tydperk dat KWV hom vra om by hul konsentraataanleg in Robertson te gaan werk.  Na een jaar op Robertson benodig KWV ’n wyndeskundige, maar om vir dié posisie te kon kwalifiseer, moes Kobus eers gaan swot.

Sy studentedae aan die Kaapse Technikon was, veral die eerste jaar, iets besonders.  Kobus was ’n uiters gewilde student, want hy was ’n eerstejaar wat  sy eie KWV-kwota gehad het! En volgens hom is dit nie altyd tot ’n man se voordeel nie, want saam met dié kwota, kom daar baie ander versoekings! Hy voltooi sy studie in Voedseltegnologie en keer na KWV terug om navorsing en produkontwikkeling te doen.

Hierna word hy brandewyntegnoloog en later, soos reeds genoem, brandewynmeester.  As brandewynmeester was hy verantwoordelik vir die totale proses van die maak van brandewyn. Letterlik van die druif tot in die bottel! Gedurende sy tyd by KWV het hy op verskeie proepanele gedien en onder andere ’n ogie gehou oor die distillasie- en verouderingsproses by al die  kelders.  En om alles af te rond, was hy verantwoordelik vir die versnyding van ander produkte soos jenewer en likeurs. Kobus het ook as een van ses internasionale beoordelaars op die beoordelingspaneel van die International Spirits Challenge in London gedien.

Nodeloos om te noem dat Kobus gedurende hierdie tydperk wye internasionale blootstelling verwerf het.  Hy maak wyn in Duitsland en doen navorsing oor die maak van grappa in Italië en vodka in Rusland. Om net ’n paar te noem!

In 2012 sprei Kobus sy vlerke en begin Mountain Spirit wat op kontrak brandewyn by Oude Molen en Suid-Kaap Wingerde maak. Hy konsulteer ook vir verskeie Suid-Afrikaanse en oorsese maatskappye en wynplase.  En boonop verkoop hy ook vate om besig te bly!

Wat doen Kobus as hy nie brandewyn maak, proe of beoordeel nie?

Hy is gelukkig getroud met Hanlie wat hy gedurende een Stilbaaivakansie ontmoet het.  Hulle het ’n dogter, Jana (8).

Kobus kan ook ’n gholfstok swaai (voorgee 16) en as hy die kans kry, ry hy agter diere aan. Miskien is dit hoekom hy eers ’n wildbewaarder wou word?  Hy ondersteun die WP en die Springbokke en jag as die geleentheid hom voordoen.

Om Kobus nog beter te leer ken, het ek hom die volgende vrae gevra:

  1. Waarom het jy ’n wynmaker geword?

As gevolg van my vakansiewerk in die kelder. Na skool wou ek òf ’n predikant òf wildbewaarder word, maar…

2.  Wat is die beste brandewyn/wyn wat jy al ooit gemaak het?

My grootste prestasie was die 2000 Imoya VSOP. Die beste wat ek gemaak het, was Oude Molen VOV 14 jaar.

3.  Wat is die beste wyn wat jy gedrink het?

Dit was De la Maine se 125 jare oue konjak.  En dit was nogal in Frankryk!

4.  As jy nie ’n wynmaker geword het nie, wat dan anders?

Beslis ’n wildbewaarder. Ek wil nog graag betrokke raak by aksies teen renosterstropery.

5.  Wat is onafgehandel op jou bucket list?

Op werkgebied wil ek nog met ’n klein landgoedbrandewyn ’n trofee wen. Op persoonlike vlak wil ek ’n rodeo in die VSA gaan bywoon of ’n FA Cup-finaal sien.

6.  Troeteldier(e)

Twee honde – staffies.  Ons het ook visse probeer, maar dit was nie te suksesvol nie.

7.  Wat is jou gewildste TV-program?

7 de Laan

8.  Watter liedjie sing jy in die kelder/stort/kar?

Ek is nie eintlik ’n groot sanger nie!

9.  Wat is jou lewensmotto?

Gee! Sonder om iets terug te verwag.

10.  Wat dink jy van bokswyn?

Ek is nie te mal oor bokswyn nie, maar my vrou sal nie daarsonder kan oorleef nie.

11. Watter wyn drink jy as jy nie brandewyn drink nie?

Rooi wyn. Beyerskloof of Wolftrap.

12.  In watter kultivar het Jesus die water by die troue in die Nuwe Testament verander?

’n Eksotiese kultivar wat nie meer bestaan nie.

13. Hoe ontspan jy?

Ek maak vuur en braai. Of ek sit langs ’n grensdraad en bekyk die diere.

In die proeglas: Oude Molen VOV

Product description: 14 YEAR OLD POT STILL BRANDY


Parameters Specification Units Comment
Alcohol 40.2 ± 0.2 Vol%
Methanol < 200 g/hℓaa
Reducing sugar 10 ± 0.5 g/ℓ
Colour 79 – 81 %T @     520nm Rich gold
Haze < 1 NTU’s
Ca < 4 mg/ℓ
Cu < 0.5 mg/ℓ
Fe < 0.5 mg/ℓ

Organoleptical features:Wine made of selected grapes from the Western Cape, double distilled in copper pot stills where after aged in French oak barrels.  Blended with care results in complex dried apricot and peach aromas, enhanced by subtle vanilla, sweet tobacco and fig flavours. Complex and balanced with a smooth lingering aftertaste of various fruit. (Inligting verskaf)

 

Claret is the liquor for boys, port for men; but he who aspires to be a hero must drink brandy. – Samuel Johnson

Art is wine and experience is the brandy we distill from it.– Robertson Davies

An American monkey, after getting drunk on brandy, would never touch it again, and thus is much wiser than most men. – Charles Darwin


Brandewyn se baas! Kobus met een van sy vele toekennings.

Kobus saam met een van sy beste brandewyne in die wêreld: Laborie Alambic.

Gedink brandewyn gaan net saam met water? Kobus verduidelik hoe brandewyn en dim sum mekaar komplimenteer. Foto: Neil Pendoch

Mountain Spirit: www.mountainspirit.co.za


 

Continue Reading

Kreatief in slegs 8 minute!

My goeie vriend Gillian Arendse sê graag die volgende: Djy is kwaai gebore my broe…

Wat hy eintlik hiermee bedoel, is dat jy met soveel natuurlike talent en potentiaal gebore word, dat jy in staat is om enige iets te kan doen.

Jy word gebore met die potensiaal om ’n ontwerper, leier, skilder, wynmaker, dosent of master chef te word. By gesê; as jy nét wil!

Die vraag waarmee ek bly worstel, is: wat word by die meeste mense van hierdie natuurlike genialiteit en kreatiwiteit?

Wie ontwurm ons genialiteit en kreatiwiteit?

Moet ons ’n skoolstelsel, wat ons dwing om binne die lyne in te kleur en wat veroorsaak dat ons ons glad nie ons hand wil opsteek as iemand vra of jy kan sing nie, hiervoor blameer?

Of het ons net vroeg geleer dat om goed op skool te doen, nie oor persoonlikheid, oorspronklikheid of kreatiwiteit gaan nie.  Sukses op skool word eerder gemeet in die gee van die regte antwoord en in die vermoë om die vernedering wat met foute en mislukking gepaard gaan, te vermy.

Op die ou einde is dit net makliker om te sê: ek weet nie of ek het nie die talent nie. En om te glo dat ander mense al die kreatiwiteit besit en ek nie.

Robert McCammon noem in sy boek Boy’s life dat ons almal met die kennis van magic gebore word. Maar dat …we get the magic educated right out of our souls. We get it churched out, spanked out, washed out and comed out.

Nou hoe wurm ’n mens hierdie magic, of eerder kreatiwiteit, in jou lewe terug?

In die boek Creativity on Demand van Michael J Gelb word vertel van Vanda North wat verskeie terugslae in haar lewe beleef het. Nie alleen is haar besigheid gelikwideer nie, maar boonop verbrokkel lewenslange verhoudings en geliefdes sterf.

Op sestig moes sy diep grawe om kreatiewe oplossings vir al haar probleme te vind, maar volgens haar is … a creative mindset the most important when we face uncertainty and adversity.

Vanda maak van ‘n eenvoudige 8 minute proses (een minuut vir elk van die agt stappe) gebruik. Sy het hierdie oefening vir die bevordering van ’n kreatiewe ingesteldheid saam met Richard Israel ontwikkel.

Hier is die agt stappe (onthou alle stappe duur een minuut elk.):

  1. Trek jou asem tot diep in jou maag in. Laat toe dat jou maag uitsit en dan na die natuurlike vorm terug keer as jy uitasem.
  2. Konsentreer nou vir die tweede minuut op die hede. Die nou. Kyk na die minuutwyser op jou horlosie en probeer vir hierdie minuut net aan die woord een dink. Wanneer ‘n indringergedagte ontstaan, beweeg aan na die volgende syfer byvoorbeeld twee, drie ensovoorts. ’n Syfer vir elke gedagte. Kyk op watter syfer jy aan die einde van die minuut eindig! Die doel van hiertoe stap is om die telling op een te probeer hou!
  3. Kyk nou terug oor die afgelope 24 uur om te sien waar jy positiewer, meer behulpsaam of kreatiewer kon opgetree of gekommunikeer het.  Tel hierdie gevalle op jou nie-dominante hand.
  4. Volgende, kyk terug oor die afgelope 24 uur om te sien waar jy wel positief, behulpsaam en kreatief opgetree of gekommunikeer het. Tel dié gevalle hierdie keer op jou dominante hand. Vasbyt! Jy is nou halfpad daar!
  5. Let nou weer op jou asemhaling, die liggaamlike sensasies en gevoelens wat jy op hierdie oomblik ervaar.
  6. Verbeel jou nou jy asem kreatiewe energie tot diep tot in jou maag in. Fokus op die positiewe eienskappe en optredes wat jy graag wil verpersoonlik. As jy jou asem uitblaas, verbeel jou jy raak van alles wat stres kan veroorsaak, ontslae.
  7. Visualiseer die volgende 24 uur. Hoe wíl jy dink, voel en optree? Skep ‘n positiewe visie van jou volgende dag.
  8. Laat ’n gevoel van diepe dankbaarheid vir alles wat jy ontvang het en nog kan ontvang, oor jou spoel. Dankbaarheid versterk jou immuunstelsel, verbeter jou gemoedstoestand en veroorsaak ‘n gesonde vloei van kreatiwiteit.

Die geheim met bogenoemde is dat jy agt minute in jou besige dag móét opsy sit om dié oefening te doen.

Hoor ek jou sê juffrou Rottenmeier het al jou kreatiwiteit in graad twee opgevoeter? Of dat jy nie die tyd het nie?

Bog, twak en onsin!

Máák ’n slag tyd om jou kop oop te kry. Raak ontslae van alle blokkasies wat jou natuurlike kreatiwiteit onderdruk en versmoor.

Lees gerus die boek van Michael J. Gelb  – jy hoef nie al die oefeninge te doen nie!

En as ek jou weer sien, dans jy, já jy, op die tafel!

 

Creativity is not a talent. It is a way of operating. – John Cleese

If children grew up according to early indications, we should have nothing but geniuses. – Johan Wolfgang von Goethe

Indeed, our power of imagination makes us infinite. – John Muir

 

Bucket of flowers - David Clark-Brown 2013

Fullcolour Bottleform Ball - Heath Nash 2012

Sureroad PPC Cement Laptop Bag - Wren Wrenden Setzer 2014

Foto’s geneem by Makers + thinkers (Cape TownWorld Design Capital 2014)

Out of Box image: kibsri at FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading

Onderwysersdag

 

Vandag is Wêreld-onderwysersdag en daarom lig ek graag ’n glasie op die onderwysers van Suid-Afrika; asook die res van die wêreld.

Maar beslis nie op almal van hulle nie, veral nie op die moangatte, natbroeke en pensioenoppassers nie!

Net op die vlamgatonderwysers wat die vuur van optimisme in kinders aan die brand steek.

Die kreatiewes wat kinders leer om buite die lyne in te kleur.

Dié wat die moed het om die kind eerste te stel en die kurrikulum tweede.

Die wat skoolhou sonder om te weet hoe die finale bedrag op hul betaalstrokie lyk.

Diegene wat die ware stem gehoor en êrens ’n ster gesien het om te volg, want vir hulle gaan dit om die pêrel in Jesus se kroon.

Hulle wat elke môre besef hul aanraking gaan die toekoms beïnvloed.

Die rolmodelle wat die vakuum wat afwesige ouers en lamsakkige leiers laat, vul.

Hulle wat die loopneusies afvee en die trane afdroog; sonder om te vra of dit binne hul  amptelike werksbeskrywing is.

En laastens vir dié wat elke dag, ten spyte van hulle eie swaarkry en ellende, hul supermanonderbroek aantrek en vir die kinders wys dat dit tog moontlik is om te vlieg. (Drome kán waar word!)

Vir hulle klim ek op my stoel en sê: Ek salueer jou my captain, my captain!

Jy loop voorwaar in die herders se voetspore.

Mooi loop as jy voorloop!

My kleinkinders en Suid-Afrika het jou nodig.

 

A teacher is a compass that activates the magnets of curiosity, knowledge and wisdom in the pupils. – Ever Garrison

Every child deserves a champion – an adult who will never give up on them, who understands the power of connection and insists that they become the best that they can possibly be. – Rita Pierson

Teachers can changes lives with just the right mix of chalk and challenges. – Joyce Meyer

Image: Unique Teaching Resoures

 

Continue Reading

As Suid-Afrika té suur word.

My ma, en ek is seker jou ma ook, het altyd gesê dat alles met ’n te by, kan nie goed wees nie.

Te lekker, te veel, te… Noem maar op.

En nou wil dit vir my lyk of onse ou volkie nie meer dié oeroue wysheid ken of begryp nie.

Ons raak die spoor geheel en al byster as studente hulle gesigte swart smeer om soos twee bekende Amerikaanse sussies te lyk. Vergaderings en inkwisisies word gehou om vas te stel wie se brose etnisiteit te na gekom is.

In plaas daarvan om die hele affêre te sien vir wat dit is: Pret! En nogal in hoofletters, studentepret!

Gelukkig vir dié twee manne het hulle nie besluit om sekere ander dele van, veral die een sussie se anatomie uit te beeld nie, want dan was die vet behoorlik in die vuur!

Nie net sou die hele Saartjie Baartman Ondersteunersklub op hulle neergedaal het nie, maar ook prof Tim en sy bantingbrigade, want dik is nie cool nie!

Alhoewel die oormatige eet van vet aanvaarbaar is…

Al gevolgtrekking wat ek uit ons volkie se nuutgevonde suurheid en kortsigtigheid kan maak, is dat die reënboognasie sy onderskeidingsvermoë êrens tussen Nkandla en die begrafnisondernemer Banting se dieet, verloor het!

Die tragiese feit is dat Suid-Afrika nie meer vir homself kán of wíl lag nie. En Heyneke en sy troepe help ook nie!

Dit is eenvoudiger net makliker om suur en ernstig te wees en om agter elke swartgesmeerde gesig bose bedoelings (wat nie bestaan nie) te gaan soek.

Nou dat Braaidag stewig sy plek op die Suid-Afrikaanse kalender ingeneem het, voel ek ons kort dringend ’n Lagdag.

Miskien kan Mark Lottering of Emo Adams vir ons ou volkie doen wat Jan Braai reggekry het?

Jy braai, maar smile jy?

 

Laughter is timeless. Imagination has no age. And dreams are forever. – Walt Disney

It is a narrow mind which cannot look at a subject from various points of view. – George Eliot

I have not seen anyone dying of laughter, but I know of millions who are dying because they are not laughing. – Dr. Mandan Kataria

 

Image: FreeDigitalPhotos.net/artur84

 

Continue Reading