Archive | 2012

My kosbaarste besitting

Vir vyftien maande van my lewe het ek die voorreg gehad om in Springbok te kon bly. As skoolhoof van die Hoërskool Namakwaland, of soos almal dit in daardie geweste ken en noem, HSN.

Vir diegene wat nie weet waar Springbok is nie, kan ek net sê dit is een van die groot stede in Namakwaland. 

En vir stadsjapies soos ek, is Namakwaland ’n ander land. Jy moet na regte eintlik ‘n visum  daarvoor hê, want dis soos die bekende reisspreuk sê: you go to another country to find they do things differently there.

Nie te min, die aanpassing was nie altyd maklik nie en menige dag het ek my besluit om die Kaap te verlaat, ernstig betwyfel.  Tot op een goeie pragtige Namakwalandse môre …

Op dié spesifieke oggend, ek kan nie meer onthou watter dag van die week dit was nie, het ek seker drie keer verby ’n vrou gestap wat in die voorportaal voor my kantoor gewag het.  Ek was onder die indruk sy het ’n afspraak met iemand anders, maar later vra ek tog of ek haar kan help? 

Sy sê toe sy is op soek na die skoolhoof. 

In die kantoor wou ek weet hoe ek haar kon help?  Voor my het ’n vrou met ’n kopdoek oor haar hare gesit.  Haar gesig gebeitel deur die fel Namakwalandse son en weer.  Maar met ’n trots van iemand wat nie twyfel oor wie sy is nie.

Sy wou hoor of ek nie haar dogter by HSN sal inskryf nie.

My onmiddellike reaksie was dat die skool en koshuis vol is en dat sy aan die begin van die nuwe skooljaar weer moet probeer. Dit was in die middel van die kwartaal en die skool en koshuis was tot kapasiteit toe beset.

Maar ek wou meer uitvind van hierdie vrou, want miskien is sy onwetend een van die rykste mense in die omgewing en ek wys haar uit onkunde weg.  Wie weet, dalk wil sy ’n swembad vir HSN bou? Ek kon al die Rian Truter Swembad se blou water sien!

Ek wou weet van waar kom sy?  Van Garies.

Wat doen sy?  Sy werk as skoonmaker in die skoolkoshuis op Garies.

Hoe het sy dan op Springbok gekom?  Sy het ’n geleentheid agter op een of ander boer se bakkie gekry.

Nou was my visoen van ’n moontlike swembad  in skerwe en saam daarmee was HSN finaal vol!

Die skoolhoof in my het ingeskop. Sy moet daarvan vergeet om haar dogter by HSN in te skryf, want behalwe dat ons vol is, kon sy vir baie goedkoper haar kind op Garies laat skoolgaan.

Asseblief meneer, vra sy.  Asseblief meneer, ek het tydens die blommetyd by die hotel op Kammieskroon gaan werk en die blommekykers se klere gewas om ekstra geld te verdien.  Ek het vir Grietjie (kan tot my skande nie meer die kind se naam onthou nie!)’n onderokiekie en ’n seepiekie gekoop.  Asseblief, meneer!

Ek het volgehou dat die skool vol was en opgestaan.  Toe ek my hand uitsteek om haar te groet, gryp sy my hand met altwee haar hande vas.

Asseblief, meneer…

Maar mevrou ek het mos gesê die skool is vol en in elk geval is dit beter vir jou en Grietjie dat sy sommer daar by jou skoolgaan.

En net toe ek besig was om my finaal van hierdie vrou se hande los te wikkel, los sy skielik my hand en buig na my toe oor die lessenaar en kyk my met trane in haar oë aan en sê in ’n fluisterstem:

Asseblief, meneer.  Meneer, ek bring vandag vir jou my kosbaarste besitting …

Dit was op daardie oomblik dat die Here my klap en vir my sê: Dit is waarom Ek jou Springbok toe gestuur het.  Om net weer te besef dat jy elke dag met iemand se kosbaarste besitting werk.

Baie dae vergeet ons as onderwysers dat ons elke dag met mense se kosbaarste besittings werk.  Ons hou kermisse en samel verwoed geld in vir die skool en reël selfs dat die bank die geld op ’n Saterdagmiddag vir veilige bewaring sal kom haal.

Maar elke dag sit daar miljoene rande se kosbaarste besittings in ’n klas en so maklik sê ons jou luiaard, sleg, skollie of onnosel.

Ongelukkig is dit ook waar dat ouers van hul kosbaarste besitting vergeet.  Hulle raak so besig met ander dinge wat veel minder werd is as hul kinders en skrik soms te laat wakker as hierdie kosbaarste besitting amper deur hul vingers geglip het.

Of HSN vol gebly het?

Nee, skielik was ons nie meer so vol dat ek nie nog een kosbare besitting kon akkommodeer nie.

  

We are always too busy for our children; we never give them the time or interest they deserve.  We lavish gifts upon them; but the most precious gift, our personal association, which means so much to them, we give grudgingly. –  Mark Twain

Throughout life one does not miss any chance to hold onto the things that are really precious. If one is truly wise.  – Ed Greenwood

Die ma se hart is haar kind se klaskamer.  – Henry Ward Beecher

Continue Reading

Wie ore het moet luister!

Ek loop my nou die oggend amper disnis teen ’n man wat agteruit na my toe aangestap kom. Onmiddellik dink ek: wie is nou só simpel!      

My irritasie wil my net op ’n knop ruk toe ek sien die man is besig om met ’n kierie op die grond te tik. Nogal met mening. Tik! Tik! Tak!

En so twintig tree verder kom ’n klein seuntjie, seker so ses jaar oud, al agter die geluid aangestap. Ligblou sweetpakbaadjie en die tradisionele grys skoolbroekie. Soms so ’n bietjie van koers af, maar as die man dan harder op die grond kap, korrigeer sy interne GPS hom en zone hy op die geluid in.

Want sien hy is blind.  En die man was besig om hom te leer om in ’n besige winkelsentrum koers te hou. Agter op die sweetpakkie staan daar iets soos In Training geskryf, maar ek kon nie mooi lees nie…

Want lank nadat die man en die alleen figuurtjie al om die volgende hoek verdwyn het, het die wasigheid eers uit my oë verdwyn. En ek het skielik begin wonder watter geluide ek volg?

Is dit die geluid van die kasregister wat my lok? Geld en materiële dinge om my te laat voel die lewe is die moeite werd.

Of is dit dalk die geluid van applous in my ore? For he’s a jolly good fellow en ons sê almal so. Almal se pel. Gewild of die middelpunt van die attraksie.

Of dalk die geluid van jou nuwe selfoon waarsonder jy nerens kan gaan nie? Daai ene waarop jy kliphard in die bussie oppad na die vliegtuig praat.

Of dalk loop jy agter die geluid van jou eie liggaam aan? Die looks, die klere, die lyf. Die ewigdurende gimsessies om beter te wil lyk.

Of loop jy al agter die geween en gekners van tande aan? Saam met al die smartvrate wat glo hulle verdien beter as dit wat hulle reeds het.

Ek sien weer die alleen kleinmensie wat agter die geluid van ’n kierrie aanloop en ek sê dankie Here.

Dankie vir alles wat ek het en nie elke dag waardeer nie.

Dankie vir mense wat bereid is om te sê: Volg my!

Al wat dan nog oorbly om te vra, is: Watter geluid maak ek?

  

The Future’s So Bright, I Gotta Wear Shades. – Timbuk3

There are three classes of people: those who see. Those who see when they are shown. Those who do not see. – Leonardo da Vinci

Wie ore het en kan hoor, moet luister. – Mark 4:9

Image: Danilo Rizzuti/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

En die wenners is…

Baie dankie vir almal wat aan Piesangs & Jellietots se eerste verjaardagkompetisie deelgeneem het.

Die wenners van die pryse is:

 1e PrysSitka de Bruin

’n Eksklusiewe wynproe vir jou en drie pelle saam met Beyers Truter op Beyerskloof en ’n getekende bottel Beyerskloof Pinotage. Jy gaan uit die vate proe en ook die geleentheid kry om saam met Beyers ou wyne uit sy privaatkelder te beoordeel.

 2e Prys: Ronell van Wyngaardt

Die beste cupcakes in die Suide! Gebak deur SitCakes. ’n Volle dosyn liplekkerverleidelikheid net vir jou.

Ek tree binnekort met die wenners in verbinding.

Veels geluk!

 

Continue Reading

What’s up Doc?

Actual writings in Hospital Records 

1. Examination of genitalia reveals that he is circus sized.           
2. The patient has no previous history of suicides.         
3. Patient has left white blood cells at another hospital.         
4. Patient’s medical history has been remarkably insignificant with only 11kgs weight gain in the past three days.        
5. She has no rigors or shaking chills, but her husband states she was very hot in bed last night.        
6. Patient has chest pain if she lies on her left side for over a year.       

7. On the second day the knee was better, and on the third day it disappeared.       

8. The patient is tearful and crying constantly. She also appears to be depressed.

9. The patient has been depressed since she began seeing me in 1993.

10. Discharge status: Alive but without my permission.  

11. Healthy appearing decrepit 69-year old male, mentally alert but  forgetful.        

12.  Patient had waffles for breakfast and anorexia for lunch.             

13. She is numb from her toes down.       

14. While in ER, she was examined, x-rated and sent home.     

15. The skin was moist and dry.    

16. Occasional, constant infrequent headaches.     

17. Patient was alert and unresponsive.     

18. Rectal examination revealed a normal size thyroid.    

19. She stated that she had been constipated for most of her life, until she got a divorce.    

20. I saw your patient today, who is still under our car for physical  therapy.    

21. Both breasts are equal and reactive to light and accommodation.

22. The patient refused autopsy.     

23. The lab test indicated abnormal lover function.   

24. Skin: somewhat pale but present.    

25.  Large brown stool ambulating in the hall.     

26. Patient has two teenage children, but no other abnormalities

 

Image: jscreations/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Is goed genoeg ons ondergang?

‘n Skool vra my nou die dag om oor standaarde met hulle te kom praat.  Makliker gesê as gedaan, want mense se begrip van wat goeie standaarde is verskil so baie van mekaar soos die Stormers en die Bulle. En tog speel beide rugby.

Om nie eens van skole te praat nie. Party dink goeie rugby is die standaard en ander slaan weer die tromme as hulle aan die staat se slaagvereistes voldoen.

Maar laat ek begin deur te vra: wie het al van Alexander the Good gehoor? Of van Henry die Middelste of van Gertjie die Tweede Beste? Ek is seker nie baie nie.

Maar van Alexander the Great en van Henry die 8ste weet ons almal.

Nou wat het Alexander met standaarde uit te waai? Net dit: as jy jou standaard op good instel, gaan dit net so niksseggend soos Alexander the Good wees. Goed is net nie meer goed genoeg as dit by die stel van standaarde kom nie.

Sannie op Bitterfontein se cupcakes kan goed wees en almal op die basaar kan vrek daaroor. Die vraag is of hulle dieselfde aftrek in Upington gaan kry? Of in Kaapstad en of Sanjeev in Deli dit sal ruil vir sy kerrie? 

Indien wel; dan is haar cupcakes nie meer good nie maar great! Dan is Sannie se standaard nie meer local nie maar global… En dit is die standaard waaraan ons moet meet.

Jy kan nie (eerder mág nie!) pille, karre of vakansiehuise om die draai van my verhuur of verkoop en sê dat jy nie elke dag jou e-pos of sms’e lees nie! Nie as ek binne minute van Atilla Yurttas in Istanbul kan hoor in watter Hamam ek moet gaan bad nie. Dit is duidelik dat Atilla die Turk besig is om draaie om jou te hardloop.

Jim Collins het gesê dat goed die grootste vyand van great is. Volgens hom is dit dan ook die rede waarom baie dinge net goed bly en nooit uitsonderlik word nie, want dit is net baie makliker om vir goed te skik.

Miskien kan besighede, skole en kerke nog verskoon word as hul standaard net goed is, want almal beskik nie oor ’n MBA nie.

Onverskoonbaar, eintlik krimineel, as die standaard vir jou lewe net goed is.  As jy eendag op die ouetehuis se stoep sit en fluister dat jy net ’n goeie lewe gehad het.

Net ’n goeie lewe? wil ek skree. Het jy dan die standaad vir die lewe heeltemal gemis? Strategies verkeerd gelees soos Malema.

Het jy vergeet van Covey se the law of abundance. Dat daar oorvloed in die lewe is.  Genoeg vir almal om great te kan lewe.

Jy ken nie my lewe nie, hoor ek jou sê. Jy weet nie waardeur ek is nie.

Reg so my pel, maar miskien was dit net makliker om vir ‘n good life te settle?

Jý wat lees. Hoe lyk jou lewe? Net good?

Kom nou.

Skree Geronimo en vra: Alexander wie?

 

Don’t try to innovate for the future. Innovate for the present. – Peter Drucker

Excellence means when a man or a woman asks of himself more than others do. – Jose Ortega Y Gasset

Hold yourself responsible for a higher standard than anybody expects of you. Never excuse yourself. – Henry Ward Beecher

 

Image: koratmember/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

If you snooze you lose!

The deadline for entering the first P&J competition is just 7 days away and if you thought about entering, the time is now!

You can get the details of the competition right here.

Closing date: 24 April 2012

Announcement of winners: 8 May 2012

Come on! Enter now!

You know two people who would love to read Piesangs & Jellietots. Don’t be like Solly:

A local Cape Town radio station had a competition where 10 people could win a trip to Mauritius. To compete they first had to meet the following criteria:

  • They should be fluent in English
  • They should be non-drinkers
  • They should be employed.

 So Solly calls in:

Solly: Ek kannie eintlik English soe lekke praatie…

Presenter: and….??

Solly: En I have a bit of a drinking thing uh, uh, problem…

Presenter: and….?

Solly: “Djy sien eke Hettie ‘n job eintlikkie ….”

Presenter: So what is it that you want, you don’t qualify for this competition…

Solly: Ja ek wiet.  Ek bel maa net om te se………..ek gattie saamie…

Continue Reading

Bacchus fluister en ons luister!

 

Wat kry jy as jy vier energieke, middeljarige manne te lank in mekaar se geselskap los?

Planne!

Baie planne … ’n Wyse man het gesê dat ’n mens met baie min in die lewe kan klaarkom, maar as jy nie meer planne het nie, is dit verby met jou.

Een van dié planne was om ons eie wyn te bottel. Hierdie laataandplan het in ’n opwindende projek ontwikkel waaruit myWijn gebore is.

Op Saterdag 3 Maart is ons toe Croydon Estate toe om al ons wynmaakvernuf op die proef te stel. Miskien moet ek ook net noem dat ons teen dié tyd reeds ’n vat wyn (300 bottels) by Corius Visser (wynmaker van Croydon) gekoop en ook ons eie etikette ontwerp en laat druk het.

Al wat nog gedoen moes word, was om die wyn te versny (blend) soos ons dit wou hê. Om te keer dat ons nie ’n te groot gemors aanvang nie, het ons vir Beyers Truter en Corius as konsultante opgekommandeer. Eintlik dink ons wou hulle net sien wat gebeur, want hulle is bang myWijn raak kompetisie vir hulle wyn!

Om die proses aan die gang te kry, het Corius vir ons ses kultivars uitgesit om eers te beoordeel. Ons versnit sou uit enige verhouding van dié kultivars kon bestaan.

Pinotage was die gunsteling onder ons en dit het natuurlik beteken dat Pinotage die basis van myWijn sou vorm.  Hierdie uitkoms het mooi by ons planne ingeskakel, want ons het in die agterkop die idee gehad om ’n Cape Blend te probeer maak. Vir die wat nie weet nie, ’n Cape Blend is ’n versnit met ten minste 30% Pinotage, maar met nie meer as 70% nie.

Hierna het ons eers ons eie versnit bymekaar gegooi en besluit Leon se blend was die beste van ons vier se pogings. Die twee professionele wynmakers is vir kommentaar genader en uiteindelik, na byvoegings en weglatings, het ons op ’n blend uitgekom waarmee ons tevrede was.Maar net voor ons amen wou sê, het Bacchus in ons oor kom fluister: Verminder die Merlot met 2% en vermeerder die Caberbet met dieselfde persentasie. En wie is ons om nie te luister as Bacchus praat nie? Gemaak soos hy sê en myWijn was daar!

Ten slotte: ons het gedink ons weet so ietsie van wyn af. Nou weet ons ons weet boggerol! Om iets by mekaar te sit wat drinkbaar is, is ’n kuns. Om ’n kampioenwyn te versny verg tonne vaardigheid, geduld en kennis!

Nou kan ons net nie wag om die kurktrekker sy werk te laat doen nie. En met elke sluk gaan ons weet, dié wyn is myWijn!

Volgende jaar maak ons weer so. Ten minste twee vaatjies!

O ja, voor ek vergeet.  myWijn is intussen amptelik geregistreer en die naam behoort wettig en wetlik aan ons.

Naam: As die wyn op jou tafel staan, wil ons nie hê jy moet sê dit is die of daai se wyn nie. Op jou tafel is dit jóú wyn. Met ander woorde my wyn! Die twee woorde is vir die effek as een woord geskryf en die nederlandse spelling van my wyn is erkenning aan onse vriend Jan van Riebeeck wat die wynbedryf in Suid-Afrika kom vestig het. Ook klink die woord wyn later ietwat soos wat dit gespel is! Ons huldig ook soos Beyers die mening dat die inspirasie van myWijn in die tweede helfte van die bottel opgesluit lê.

myWijn Assessement:

This well structured full bodied red wine with notes of red and black berries, shows hints of herbs, thus, making this wine suitable for hearty dishes. With well integrated wood, this wine will age for at least three to five years and longer. This depends if one could leave it this long! – Corius Visser (Winemaker: Croydon Estate)

Cultivars: Pinotage, Cabernet Sauvignon, Shiraz, Merlot and Malbec.

In water one sees one’s own face; but in wine one beholds the heart of another. – French Proverb

Making wine is like having children; you love them all, but boy, are they different. – Buddy Finkelstein (co-owner of Judd’s Hill Winery)

All winemakers should possess a good fertile imagination if they are to be successful in their craft. – Max Schubert 

 

  

 

Continue Reading

Veels geluk, Piesangs & Jellietots!

Op 28 April is Piesangs & Jellietots een volle jaar oud!

Sedert P&J se ontstaan, het daar 75 posts verskyn en 6 883 mense het om die een of ander rede op P&J se webblad gaan kliek. Al hierdie feite is nie om te spog nie; sommer net vir die interessantheid en gedink julle sal wil weet.

Ek wil ’n groot dankie sê aan al P&J se getroue lesers. Voorkopsoene (ala Sitka) vir almal! Veral die wat vir die e-poskennisgewings aangeteken het.

En om hierdie mylpaal te vier, wil ek die eerste P&J-kompetisie aan die rol sit. Maar soos met alles in die lewe gaan, daar is nêrens ’n free lunch nie! Ek soek iets terug.

Eers die pryse.  Ja daar is meer as een:

1e Prys:  ’n Eksklusiewe wynproe vir jou en drie pelle saam met Beyers Truter op Beyerskloof en ’n getekende bottel Beyerskloof Pinotage. Jy gaan uit die vate proe en ook die geleentheid kry om saam met Beyers ou wyne uit sy privaatkelder te beoordeel.

 

 

2e Prys: Die beste cupcakes in die Suide! Gebak deur Sitka Basson van Sitcakes. ’n Volle dosyn liplekkerverleidelikheid net vir jou.

 

 

 

Wat moet jy doen om te wen?

Daar is geen vrae wat jy moet beantwoord of kwalifiserende rondtes nie! Jy moet net e-posadresse verskaf. Die rede:

Ek soek nog mense wat P&J wil lees. Mense wat ek op die e-poslys kan plaas. Vir elke 2 wettige adresse wat jy verskaf, kry jy een inskrywing in die kompetisie. Gee jy 10 name, dan het jy vyf kanse. Só eenvoudig.

Maar die adresse moet asseblief van mense wees wat jy in hierdie saak geken het.  Hulle moet nie gespam word nie, want dit maak hulle kwaad. Baie kwaad. En hulle moet P&J wíl lees. Dit is uiters belangrik.

Hoe neem jy deel?

1.  Gaan na die Contact-bladsy bo aan die hoofblad van Piesangs & Jellietots. As jy sukkel met die Contact-bladsy, stuur sommer jou inskrywing met die gevraagde inligting aan: truterrian@gmail.com

2.  Voltooi jou info soos gevra.

3.  Voltooi onderwerpspasie as: P&J Kompetisie #1

4.  By boodskap skryf die e-posadresse wat jy deurgee.

5.  Voltooi die sekuriteitskode soos gevra.

6.  Druk die Submit-knoppie en siedaar jy is ingeskryf!

Reëls

1. Die beslissing van die beoordelaar is finaal.

2. Almal mag deelneem. So veel keer as wat jy wil!  Familie en vriende ook.

3. Geen agteraf gemoan en gevloek word toegelaat nie.

4. Regverdigheid en eerlikheid sal geskied. Ons is immers kerkmense.

5. Foto’s sal van die wenners gepubliseer word.

6. Pryse moet teen einde November 2012 opgeneem word.

7. Sluitingsdatum: 24 April 2012

Kom neem deel! Jy ken beslis twee mense wat P&J sal wil ontvang.

Hierdie mag jou gelukkige dag wees!

 

Continue Reading

Broodbak is ‘n metafoor.

Self gebak!

Suid-Afrika se MasterChef is aan die kook en elke hierjy dink hy’s ‘n Gordon Ramsay. As jy ‘n lepel kan vashou en ‘n paar knope kan los, dan is jy ‘n groter celeb as Riaan Cruywagen by die KKNK!

Wat ek nie verstaan nie, is dat elke deelnemer meer flambojant as die ander wil wees. Snaakse konkoksies en fyn geurtjies om die beoordelaars te beïndruk. Selfs die goeie ou braai word opgejack dat dit soos ’n pastorie-mammie wat ‘n oorlede Michael J-move op die verhoog uithaal, lyk!

En dit gebeur nou alles net op dié stadium dat ek en vriend Braaitang meen ons het broodbak onder die knie. Let wel, nie daai fancy brode met die krulle en goed nie. Gewone brood. Potbrood en oondbrood. Eenvoudig en reguit van sy ma af.

Dis snaaks, so gesels ons, dis amper asof ons van al ons kookery die meeste genot uit broodbak kry. En moet nou nie ‘n fout maak nie, ons kan ook die stoppe uittrek as dit moet. Cordon Bleu en al daai ander kosserige kragwoorde.

Miskien is die knie, meer Braaitang.  Die knie-ery is terapeuties van aard. Emosioneel amper. Jou eie kopdokter; net sonder die rekening.

Brood het ook ’n eie identiteit.  Amper so asof dit ’n eie wil het. Jy kan dit vorm soos jy wil, maar op die ou einde neem dit sy eie vorm aan.  Nie een brood lyk presies dieselfde nie.

Terwyl jy knie, dink jy ver. Jou kop begin saam met die ritme van die knieproses paaie loop. Die filosoof in jou kom los en jy kry kans om die daaglikse warboel netjies te liasseer.

Die Hongare het ‘n spreekwoord dat brood ouer as die mens is. Vir my is broodbak die aardste bakproses wat ek ken. Eenvoudige bestanddele.  Meel, water, sout, suiker, olyfolie en gis. Basisbestanddele; onopgesmuk en eerlik.

Broodbak is ‘n leefwyse. Braaitang meen broodbakkers is goeie mense.  Naby-die-aardemense.

Broodbak is liefde. Om brood te bak is om van jouself te gee, want dit verg moeite. Anders kon jy maar net so wel kafee toe gery het om ‘n plastiekbrood te gaan koop…

Om brood te bak is ook om te hoop. Te hoop dit flop nie. Meer as dit; om jou brood op die water te werp en te glo dat dit na baie dae sal terug kom.

Om saam brood te breek is vriendskap. Ware vriendskap. Veral as jy die brood self gebak het!

Jy sê jy weet nie waarvan ek praat nie.

Kom, rol op die moue. Laat ‘n bietjie liefde los. Bak ‘n brood!

 

Broodbak is ‘n metafoor vir die lewe. – Pieter Veldsman

There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread. – Mahatma Gandhi

All sorrows are less with bread. – Miguel de Cervantes Saavedra

Continue Reading

Parstyd: Nie een maal nie, maar twee!

 

Beyers vertel nou die dag dié storie en ek besef dadelik dit sal ‘n goeie tema vir ’n skoolhoof se saalperiode wees. Maar ook ’n baie gepaste post hier net voor Paasfees.

In die Bybel word daar baie na druiwe, wyn en of die wingerdstok verwys. Party bronne beweer tot so veel as 200 keer!

Die wyn waarvan daar in die Bybel gepraat word, is gewoonlik met water verdun en die wynmaakproses was nie so wetenskaplik soos ons dit vandag ken nie. Die druiwe is gepars en die sap is dan deur lappe gefiltreer. Om dit te bewaar, is dit in kleipotte of leersakke gestoor.

Wat egter vir die proses van wynmaak belangrik is, is die feit dat die druiwekorrel gebreek moet word sodat die sap kan uitkom. Die selletjies breek of bars en stel dan die kleur en geur van die druif vry.

Om die soet sap in droë wyn te verander, is ‘n gistingsproses nodig wat weer op sy beurt die suiker in alkohol omskakel. Behalwe vir die omskakel na alkohol, maak die gisting alles in die sap skoon.  Dit reinig en suiwer.

Om ’n vonkelwyn te kry, word ’n basiswyn gemaak en daarna word dit nog ’n keer in ’n tenk of in die bottel gegis om die koolsuurgas te ontwikkel wat die bruisende borreltjies in die vonkelwyn vorm.

Nou waarom dié lang storie oor vonkelwyn?

Die analogie behoort voor die hand liggend te wees, want ons as gelowiges is net soos wyn.

Ons moet ook eers gebreek word om die sap en die kleur in ons  te laat uitkom. By baie van ons stop die proses daar en ons vorder nie verder as ‘n druiwesapgeloof nie. Soet en lekker, maar sonder werklike substansie.

Ander weer gaan deur een gistingsproses en vorder tot ’n basiswyngeloof. Drinkbaar en verouder mooi met tyd.

Die gelukkiges onder ons kry die voorreg om twee keer gesuiwer of gelouter te word. Dit is in die meeste gevalle nie lekker nie en dit gaan gepaard met jeremiades en tonne betwyfeling. Maar as jy dit oorleef, dan is die borrels daar! Dan is die vonkelwyngeloof daar. Gereed om die prop te laat skiet en uit te jubbel dat ons Verlosser leef!

Om só te kan leef dat ander te alle tye die borrels in jou lewe sien en om saam te bid dat die Here ons daagliks soos vonkelwyn skoon sal maak – nie een keer nie, maar twee!

Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. – Johannes 15:1

Eat the bread with joy and
drink the wine with a merry heart. – Ecclesiastes 9

Men are like wine – some turn to vinegar, but the best improve with age.  – Pope John XXIII, 1881-1963

 

Image: Indra Harsaputra 

Continue Reading