Tag Archives | Rolmodel

Die dorp wat hulle grootmaak

It’s a strange, strange world we live in master Jack…

Of die Four Jacks and a Jill in 1968 ooit besef het hoe profeties hierdie woorde sou word, betwyfel ek.

En net toe ons dink Covid en al sy tentakels is die toppunt van tragedie, wys van ons medeSuid-Afrikaners ons hoe sake oornag van erg na erger kan eskaleer.

Ek is die eerste een wat erken Afrika is ’n tawwe kontinent, maar selfs ek het nie in my wildste drome gedink mense sal oop en bloot, in die lens van van ’n nasionale TV-kamera, ’n winkelsentrum plunder en beroof nie!

Nie eens rot en kaal steel nie, want ek glo dat elke rot betyds die pad gevat het… Eerder tot op die fondasie afbreek!

Wat nog erger was, was om kinders tussen die volwassens te sien wat meedoen aan hierdie skreiende anargisme.

Die spreekwoord It takes a village to raise a child het onwillekeurig in my gedagtes opgekom.

En ek wonder wat het in hierdie dorpie skeefgeloop?

Wie was hulle rolmodelle? Politici, gemeenskapleiers, ouers, grootouers, bure, onderwysers…

Watter waardes is aan hulle voorgehou? Die vyf op die plakkate in die skoolgange strook definitief nie met dit wat hulle by die leiers van die dorp en land waargeneem het nie.

Dalk is dit ’n onderwysstelsel wat geen waarborg op werk verskaf nie?

Was dit sistemiese armoede of honger wat hulle hiertoe gedryf het?

Of is hulle bloot in die suigstroom van die dorp opgeslurp en in hierdie chaos uitgespoeg?

Maar die ergste nog; is hierdie nuwe normaal hulle morele kompas vir die res van hulle lewe?

As bogenoemde vraag waar sou wees; behoed hulle, ons en die land waarvan hulle dorpie ’n deel is.

 

The essence of community, its heart and soul, is the non-monetary exchange of value; things we do and share because we care for others, and for the good of the place. – Dee Hock

Parents must lead by example. Don’t use the cliche; do as I say and not as I do. We are our children’s first and most important role models. – Lee Haney

Parents are the ultimate role models for children. Every word, movement and action has an effect. No other person or outside force has a greater influence on a child than the parent. Bob Keeshan

Continue Reading

Terwyl standbeelde tuimel

rhodes-lead_3261770b

…dobber ons jeug in ’n lugleegte van koploseleierskap rond.

Sonder ’n verlede, ’n vae hede en ’n onsekere toekoms.

Nóú, meer as ooit, is dit die tyd vir ouers, grootouers en onderwysers om hierdie vakuum met besielende leierskap te vul.

’n Leierskap wat sê: Volg my! Ek weet waar jy vandaan kom en ek gaan jou wys waarheen jy op pad is.

’n Leierskap waarvan die dade en voorbeeld meer wys as hoeveel volgelinge jy op Twitter of Facebook het. ’n Rolmodelskap wat getuig van Nelson Mandela se woorde en nalatenskap: For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.

Self gee ek eerlik nie om of alle standbeelde in Suid-Afrika verwyder word nie, maar my wroeging is, waarmee vervang ons dit?

’n Vredevolle trooskombersie waaruit ons kinders niks wys word nie? ’n Rooskleurige vakuum waarin alles net goed en gaaf is en vir ewig so sal bly?

Hoe gaan hulle dan ooit uit ons foute leer?

Hoe gaan hulle weet om nie dieselfde foute as ons te maak nie? Veral as sommige Suid-Afrikaners verkies om die verlede onder swart vullissakke (Rhodes), te verbloem.

Miskien verstaan dié onbekende Nederlander, nogal ironies want volgens my is hulle die oorsaak van al die gekheid in hierdie land, dit die beste as hy/sy sê als je niet leert van het verleden, zal je in die toekomst telkens nieuwe lessen krijgen.

Nee, ons sal ons kinders moet wys waar hulle vandaan kom sodat hulle kan begryp waarheen hulle op pad is. Op pad na ’n toekoms vol moontlikhede en vryheid.

Maar ook om te wys dat die verlede nie net altyd boos was nie.

Op pad na ’n toekoms wat nie deur lewelose, koue stukke klip en metaal gedefinieer word nie, maar deur die voorbeeld van lewende rolmodelle wat as rigtingwysers staan.

Lewende rolmodelle wat leef uit ’n tradisie… Of soos die seun van Sutherland, NP van Wyk Louw, dit gestel het – leef in ’n bestendige debat met die verlede.

 
Forgiving does not erase the bitter past. A healed memory is not a deleted memory. Instead, forgiving what we cannot forget creates a new way to remember. We change the memory of our past into a hope for our future. – Lewis B Smedes

O, yes the past can hurt. But you can either run from it or, learn from it. – The Lion King

We are made wise not by the recollection of our past, but by the responsibility for our future. – George Bernard Shaw

Foto: AP

Continue Reading

Moet op prinse nie vertrou nie.

Wat is dit met ons rolmodelle dat hulle so sukkel om staande te bly?

Raak al die aandag en geld net te veel? Maak al die bewondering en gedurige in die kollig wees dat hulle onaantasbaar en verhewe bo die gewone en alledaagse begin voel?

Eers is dit Hansie wat aan ’n duur Indiese samoesa verstik. Toe Tiger wat oor sy gholfstok struikel en daarna vriend Lance wat hom uit sy fiets uit verneuk. En nou is dit onse Oscar wat dink hy is die enigste sheriff in Pretoria.

Paddy Upton (prestasiebestuurder van die Proteas) meen dat mense geneig is om kampioene spesiaal te behandel. Maar hy waarsku ook dat 80% van bergklimmers wat die hoogste piek bereik, hulle nadat hulle die kruin bereik het, doodval. Dieselfde gevaar staar kampioene wat op die kruin van die golf ry, volgens hom, in die gesig.

Behalwe die naar kol op my maag oor my rolmodelle se doen en late, maak hulle eskapades dat ek al my aanbiedings oor rolmodelle moet gaan oordoen. Ek kan hulle nie meer op die rolmodeltroontjie sit en aan mense as die voorbeeld van waarna ons moet strewe, voorhou nie.

Of miskien kan ek nou juis, want dit is dalk ons wat vergeet dat hierdie rolmodeltroontjie nie uit klip gekap is nie, maar uit klei. Net soos die klei waarin ons met ons eie ou voetjies staan.

Al weet ons baie goed dat mense feilbare wesens is, plaas ons hierdie kampioene, helde en celebs tog te graag op die troontjie. En as hulle daar affoeter, is ons geskok. Ons gryp na ons harte en snak na ons asem en wonder hoekom. Hoe kon hulle? Meer nog; hoe durf hulle!

Die Bybel waarsku ons tog al vir eeue: Vertrou nie op prinse, mensekind, by wie geen heil is nie (Ps. 146:3). Maar steeds luister ons nie!

Ons gaan voort om mense te verafgod omdat hulle ’n bal kan skop of ’n noot kan sing. Of ’n filmster omdat sy woorde kan opsê wat iemand anders vir haar geskryf het. Self het hulle niks meer as ek en jy bereik nie. Meer in die kollig en meer geld ja, maar niks minder voete van klein as ons nie.

Ek is oortuig, nou meer as ooit, dat dit tyd geword het dat ons na die ware helde in die wêreld gaan soek. Gewone mense wat elke dag hulle bes probeer om hulle werk so goed as moontlik te doen en onder die moeilikste omstandighede vir hulle kinders kos op die tafel sit.

Daardie skoonmaker op die skoolgronde wat nie die voorreg gehad het om teologie op Potch te gaan swot nie, maar wat Saterdag na Saterdag in die derdeklaswa vir die dronkes en eensames op pad na nêrens preek.

Die vrou wat nooit geleer het om ’n musiekinstrument te bespeel nie, maar elke week die siekes in Worcester se hospitaal begelei en voorgaan in die sing van lofliedere.

Die bode en sy vrou in Heideveld wat nou al tien kinders in hul huis het. Net twee hul eie. Die res wees- en hawelose kinders van die gemeenskap. En elke keer as daar nog een aankom, kry hulle nog ’n gaatjie waar hy/sy kan slaap!

Hierdie is ons ware helde! Hulle dra nie make-up of verdien miljoene in borgskappe nie. Van hulle kan nie eens ’n bal slaan of skop nie. Sommige van hulle sing erg vals en party is nie eens mooi om na te kyk nie. Gelukkig weet hulle nie van die kollig nie, want die meeste het nie eens elektrisiteit nie!

Terwyl ons helde met vervelige reëlmaat om ons val, is dit dalk nou die tyd dat ek en jy weer ons supermanonderbroek aantrek en die rolmodelle word wat van ons verwag word. Moenie skrik nie! Jy hoef nie die wêreld oor heldedade te gaan verrig nie.

Net daar waar jy moet. In jou gesin, by die werk en tussen jou vriende.

Dit is nou tyd dat ons land se kinders weer soos hulle ouers wil wees. My pa is die sterkste en my ma die mooiste …

Al is hulle voete is van klei. Hulle gly en val, maar staan elke keer weer op.

Maar op die wêreld se prinse vertrou hulle nie.

A hero is a man who does what he can. – Romain Rolland

A hero is someone who understands the responsibility that comes with his freedom. – Bob Dylan

A hero is not braver than an ordinary man, but he is brave five minutes longer. – Ralph Waldo Emerson

Image: siraphat/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading