Tag Archives | role model

John Stephen Akhwari: Goud vir laaste!

Het jy al van John Stephen Akhwari gehoor?

Nog nie?

Moenie sleg voel nie.  Bitter min mense weet wie hy is.

Maar nou dat die Olimpiese Spele net ’n week of twee weg is, dink ek onwillekeurig meer aan hom.  Elke reklameflits op die TV laat sy storie weer opvlam en dwing my om verder van hom te vertel.

John Stephen was in 1968 lid van Tanzanië se olimpiese span van drie atlete!  Hy was ‘n marathonatleet wat op die laaste dag nog ’n kans gestaan het om ’n medalje vir sy land huis toe te bring.

Maar op Sondag 20 Oktober 1968 het sake nie verloop soos hy gehoop het dit sou nie. Die lugdruk pla hom sommer met die wegspring en vroeg in die wedloop val hy en beseer hy sy knieligamente. Hy staan egter op en voltooi bebloed en al strompelend die wedloop.

Die merkwaardigheid van Akhwari se prestasie lê eerstens opgesluit in die feit dat hy die wedloop voltooi het. 75 Atlete het weggespring, maar net 57 het dit klaar gemaak. En hy was beseer genoeg om te sê tot hiertoe en nie ‘n tree verder nie.

Wat sy wedloop egter nog merkwaardiger maak, is dat hy nie gewen het nie! Gewoonlik verwag ons ’n Walt Disney-einde met die held wat ten spyte van terugslae steeds triomfeer.

Nie in sy geval nie. John Stephen kom heel laaste.  Nie net laaste nie; die wenner is reeds meer as ’n uur gelede oor die wenstreep. Akhwari se tyd kon amper met ’n almanak gemeet word!

Die merkwaardigste gebeur toe ’n verslaggewer hom na die wedloop vra waarom hy dan aanhou hardloop het? Waarom het hy nie net opgehou nie?

Verbaas het Akhwari geantwoord: My country did not send me to Mexico City to start the race. They sent me to finish.

Sjoe, John my kaptein! Wat ‘n antwoord!

Hoeveel keer gooi ons nie sommer tou op nie?

Dit voel amper vir my of die moderne samelewing met ’n wit vlag in die sak gebore word. Gereed om dit op te steek en oor te gee as dinge net ietwat moeilik of rof raak.

Ons kinders stop netbal speel as hulle uit die eerste span gedrop word. Tweede span is nie goed genoeg nie.  Net eerste of niks.

Wat dan van John Stephen Akhwari? Waar sou hy moes speel?

Miskien is dit omdat ons nie altyd weet waarheen ons oppad is nie. As jy nie ’n einddoel in sig het nie, is dit makliker om tou op te gooi. John het geweet waar sy eindpunt was. In die stadion.

Miskien is dit omdat ons te graag vir die skare wil speel. Kyk maar Saterdag na Saterdag hoe soek die rugbyspelers hulself op die groot skerm van die stadion. Daar was bitter min toeskouers om vir John hande te klap.  Die wat egter daar was, was bevoorreg om een van die grootste oomblikke in die olimpiese geskiedenis te aanskou.

Miskien is dit omdat ons nie weet vir wie of hoekom ons dit doen nie? Dit lyk vir my almal doen net iets as dit vir hulle eie gewin is. Dis net ék ék ék. En as ek nie baat nie, dan doen ek dit eenvoudig net nie. John het geweet hy doen dit vir sy land, want hulle het hom met ’n opdrag gestuur.  Maak klaar wat jy begin!

Jy wil by my weet wie gewen het.

Die wenner was ’n Ethiopiër met die naam Mamo Wolde.

Maar kom ek wed jou dat jy sy naam nie gaan onthou nie. John Stephen Akhwari sin wel.

En hy het nie eens ’n medalje gekry nie!

Ek wonder net wat het van die ander agtien, wat nie klaar gemaak het nie, geword?

 

Most important thing in the Olympic Games is not to win, but to take part; just as the most important thing in life is not the triumph but the struggle. The essential thing is not to have conquered, but to have fought well. – Olympic Creed

Perseverance is the hard work you do after you get tired of doing the hard work you already did. – Newt Gingrich

Men do not quit playing because they grow old; they grow old because they quit playing. – Oliver Wendell Holmes

Image: www.ficomaulana.com

Continue Reading

For he’s a jolly good Fellow!

Ons bloed is Groen! Hier kom die Bokke!

Dit lyk my ons Minister van Sport, die agbare Fikile Mbalula, het ook Dale Carnegie se boek How to win friends and influence people gelees?

Klaarblyklik het daar sedert ek die boek gelees het ‘n hoofstuk bygekom.  Naamlik: Hoe om in Afrikaans te vloek en vriende te maak.

Dat Afrikaans ‘n kragtige taal is, dit weet almal van ons wat dit van kindsbeen praat.  En dat daar seker min tale in die wêreld is wat by Afrikaans kan kers vashou as dit by vloekwoorde kom!

Die heer Fikile het dit ook seker gesnap, want waarom anders sal hy ons Springbokke opdrag gee om hulle te moer?  En hulle te bliksem?

Miskien wou hy hulle met Kill the Kiwi aanhits, maar het hom bedink en gedog die plakaat wat hy in die skare sien, was deel van sy toespraak. Of dalk het die jolige atmosfeer hom terug geneem na sy dae as ANC Jeugliga-voorsitter.  Dit was nou voor onse Julius M.

Die skare was egter in hulle noppies, want hier praat die agbare minister, wat meegehelp het dat hulle geliefde bok nou ‘n laaste staanplek op die trui se mou gekry het, húlle taal.  En boonop sterk woorde.  Woorde wat hulle verstaan. For he’s a jolly good fellow …

Ek dink arme Bakkies Botha was totaal verward.  Wat moet hy nou doen? Hulle bliksem of uitlos?

Ek hoop Minister Fikile gaan opdraf as ons manne sy opdrag letterlik opneem en ons met 13 man moet speel.  Want dit wil lyk dat as hy praat, luister hulle.

Die minister moes dieselfde woordeskat tydens personeelsessies gebruik het, want na die SA Sporttoekennings in Sun City vanjaar, het sy personeel blykbaar ‘n hotelkamer wat R60 000 per nag kos se versiering eiehandig verander. Maar hulle sê dis kwaadwillige liegstories.

Ek hoop dit was Minister Mbalula se laaste spanpraatjie aan enige sportspan – behalwe aan ons boksers.  Hulle het dit nodig, want hulle word gewoonlik net gemoer.

Ek wil aanbeveel dat die minister die betrokke hoofstuk weer, maar met meer aandag, gaan deurlees. Êrens mis hy ‘n belangrike sinsnede.  Die een wat sê dat die mooiste woorde in ‘n vreemde taal asseblief en dankie is.

Om in enige taal die vloek- en kragwoorde te gebruik, maak van vreemdelinge nog nie jou vriende nie.  Hulle wonder eerder oor jou.

Ons land en kinders het rolmodelle nodig.  Mense vir wie ons ons nie hoef te skaam nie. Mense soos Nelson Mandela wat die hele Suid-Afrika verenig het sonder om enige negatiewe woord te uiter.  Hy wat die Springbokke en hul ondersteuners tot die wen van die Web Ellistrofee gemotiveer het deur net hul geliefde groen trui te dra.

Daar is oorgenoeg mense in ons land wat wil moer en bliksem, maar ek dog dit is presies van hulle wat ons ontslae wil raak. Ons is eerder op soek na mense wat bereid is om die ander wang te draai. Suid-Afrikaners wat mekaar se hande wil vat in plaas van hul hande vir mekaar vuis te maak.

Skuus, meneer die Minister! Ek weet rugby is ‘n kontaksport, en volgens Div nie ballet nie, maar ons wil nie alles moer en bliksem nie. Ons het genoeg daarvan gehad. Kyk hoe lyk ons pragtige land van al die gemoer en gebliksem!

For he’s a jolly good fellow … maar ons sê nie almal só nie!

Alle praat in hierdie treurige, bitter, bont, begrafnisland is politiek – of dit nou fluisterpraat, kakpraat, wind- of spoeg- of sáámpraat is. – Breyten Breytenbach

The most terrifying words in the English language is: I’m from the goverment and I’m here to help. – Ronald Reagan

Continue Reading

Ashley Kaimowitz – For the love of our Children

Die vraag waarmee ek deesdae worstel, is hoe kry ons mense om meer te gee as wat hulle wil hê?  Om in plaas van hand uitsteek om te ontvang, hand uit die mou steek om iets te doen. ‘n Moeilike ene, hoor ek jou sê.

Miskien is die antwoord: Van kleins af?

Ek weet maar al te goed daar is individue wat prysenswaardige dinge doen, maar dit voel of die meeste mense net besig is om bymekaar te maak in plaas daarvan om weg te gee.  Nie dat daar fundamenteel iets mee verkeerd is om vir jouself te sorg nie, maar om om te sien na ander wat minder as jy het, bly tog ’n kardinale verantwoordelikheid van elke mens.

Ek sê nou die dag vir ‘n klomp matrieks op hul matriekkamp dat dit vir my lyk of ’n mens eers iets moet verloor voor jy iets uitsonderliks begin doen.

Want dit is mense soos Nick Vujicic, Hein Wagner, Natalie du Toit en Jessica Cox wat dinge laat gebeur.  Dit is hulle wat sonder sig, arms en bene die hoogste berge klim en die vinnigste voertuie trotseer om ander te help.

 

Ashley behind the camera.

En iemand soos Ashley Kaimowitz…  Hier volg ’n uittreksel van haar aangrypende verhaal soos vertel deur Carte Blanche:

Summer in Cape Town six years ago… and for 19-year-old Ashley Kaimowitz, the world was her oyster. Popular, talented and full of hope for the future, she was about to go to film school in Australia on a scholarship.

Then came the news that every parent dreads…

Ashley was killed by a drunk driver while driving to her home in Sea Point.

Losing a daughter and a sister was devastating.  But beyond their grief, Ashley had left a legacy which would reach into other people’s lives for years to come.

Three years earlier, when she was 16, Ashley had been on a school trip to Khayelitsha organized by the local Rotary club. The school girls had met with community leader, Nocawe Mankayi, who had responded to a desperate need for help in her abuse-ridden area.

On the day the school girls arrived to visit the centre, Nocawe had been helping a little girl who had been brutally raped. She relayed the story to them, moving Ashley and her fellow pupils to tears.

Nocawe: You know they were all crying. And there was this particular child, who was Ashley, who said: Today, I’m taking a decision in terms of curbing the abuse of children in Khayelitsha.

Despite no film experience, Ashley was determined to raise awareness of the situation by making a documentary.  She raised a thousand rand, rallied her friends together and took to the streets of Khayelitsha with camera in hand.

She called her documentary Uthando labantwana – For the love of our children.

During October 2005 Carte Blanch picked up on Ashley’s story. She knew Nocawe needed to raise funds for a new centre.  Nocawe’s dream was to build a proper counseling center, with a safe house, a clinic and counseling rooms.

Support poured in from Carte Blanche viewers.

In April 2008 the Nonceba Family Counselling Centre was opened.  That October, it was dedicated to the memory of Ashley Kaimowitz.

Kom ons leer ons kinders, en al die kinders aan ons sorg toevertrou, dat dit beter is om te gee as om te ontvang.  Dat dit nóg beter is om jou hande in nat sement te druk om ’n huis te bou as om net jou geld in die bussie te gooi.  Dat dit die beste is om sonder iets klaar te kom omdat jy iets vir iemand anders gegee het wat dit nodiger as jy het.

Uthando labantwana!

I have found that among its other benefits, giving liberates the soul of the giver. – Maya Angelou 

I hate the giving of the hand unless the whole man accompanies it. – Ralph Waldo Emerson 

Generosity is not giving me that which I need more than you do, but it is giving me that which you need more than I do. – Khalil Gibran

Photo: Steven Yafa

Continue Reading

Legends

Die polemiek woed weer in die pers oor wie die beste is of was.  Wie gee wie die reg om hom of haar as die beste ooit te klassifiseer?  Amper tot legendestatus te verhef …

Tydens ’n besoek aan die KKNK het ek ontdek dat sommige mense soos oom Gert van Tonder skielik ‘n legend geword het, want al die jonges wat saam met die oom gesing het, het hom ‘n legend genoem.  Is dit dalk omdat hulle hom van hulle doek- en Wielie-Walie-dae onthou, want oor sy sang kan dit nie wees nie.

Hierdie kwistige gebruik van legend voor en agter het my laat wonder oor wie en wat nou eintlik ‘n legend is. 

Volgens my beskeie mening is Staal Burger, tannie Evita  Bezuidenhout en die Toyota-bakkie ‘n legend.  Maar om sommer links-regs enige iemand met die titel legend te bekroon, wil vir my ‘n bietjie goedkoop voorkom.

Ek vermoed die mense probeer eintlik sê die betrokke persoon is ‘n held. Maar in hierdie tyd waar alles cool is, het held ook seker êrens in die stof gebyt?  Legend is nou die woord op die tong.

Nou hoe lyk ‘n legend dan nou eintlik?

Om as ‘n legend geklassifiseer te word, voel ek, moet die persoon as eerste vereiste darem sy/haar eie leeftyd kan oorleef.  Daarmee bedoel ek, jy moet darem lank na jy die tydelike met die ewige verruil het, nog altyd oor gepraat of onthou word.

Legends moet ook ‘n bietjie opgeoffer het vir ‘n saak groter as hulself. Om net op ‘n KKNK-verhoog te verskyn en liedjies met drie versreëls te sing, plaas jou nie summier in dié klas nie. Nostalgie of te not!

Legends moet ook guts hê.  Soos ‘n Wolraad Woltemade wat ten koste van homself sy perd die branders inry om absolute vreemdelinge te red.  Om net Kaptein span die seile te sing, laat jou nog nie eens uit die hawe kom nie!  Sarah Palin het die eienskap netjies raakgevat toe sy die volgende opmerking gemaak het: “…the difference between a pit bull and a hockey mum; it’s only the lipstick.”

Wat vir my egter die belangrikste aspek rondom ‘n legend is, is die stories wat hy/sy vertel.  En ook die stories wat van hom/haar vertel word.

Suid-Afrika het vandag genuine legends nodig. Nie kunstefees- legends nie.  Legends wat ook leiers is. Mense wat bereid is om stories, wat as ‘n morele barometer sal dien, vir die kinders en mense van Suid-Afrika, te vertel. Mense wat ons onvoorwaardelik as morele voorbeelde aan die wêreld kan voorhou.

Fred Harburg meen as leiers die krag van ‘n storie verstaan, maak hulle ‘n blywende verandering. Hy verwys in dié aanhaling na ‘n maatskappy, maar ek dink dis net so van toepassing op enige land in die wêreld. When a company is blessed with leaders who express compelling stories about things that matter — grounded in fact and reason, tied to values that are widely embraced, constructed with logic and expressed in positive, emotionally passionate terms — people not only listen, but are moved to action. 

As ons leiers hierdie tipe stories begin vertel, kan ons almal lustig saam sing met al ons helde op die verhoë dwarsdeur Suid-Afrika. Ek sal dan weet dat die legends van hierdie land se stories ‘n verskil gaan maak wat langer as die 90 minute van die vertoning sal duur.

There used to be a time when the idea of heroes was important. People grew up sharing those myths and legends and ideals. Now they grow up sharing McDonalds and Disneyland. (New York, 1989) – Bob Dylan

True Legends never die. – Unknown

Image: mieliestronk

 

 

Continue Reading