John Stephen Akhwari: Goud vir laaste!

Het jy al van John Stephen Akhwari gehoor?

Nog nie?

Moenie sleg voel nie.  Bitter min mense weet wie hy is.

Maar nou dat die Olimpiese Spele net ’n week of twee weg is, dink ek onwillekeurig meer aan hom.  Elke reklameflits op die TV laat sy storie weer opvlam en dwing my om verder van hom te vertel.

John Stephen was in 1968 lid van Tanzanië se olimpiese span van drie atlete!  Hy was ‘n marathonatleet wat op die laaste dag nog ’n kans gestaan het om ’n medalje vir sy land huis toe te bring.

Maar op Sondag 20 Oktober 1968 het sake nie verloop soos hy gehoop het dit sou nie. Die lugdruk pla hom sommer met die wegspring en vroeg in die wedloop val hy en beseer hy sy knieligamente. Hy staan egter op en voltooi bebloed en al strompelend die wedloop.

Die merkwaardigheid van Akhwari se prestasie lê eerstens opgesluit in die feit dat hy die wedloop voltooi het. 75 Atlete het weggespring, maar net 57 het dit klaar gemaak. En hy was beseer genoeg om te sê tot hiertoe en nie ‘n tree verder nie.

Wat sy wedloop egter nog merkwaardiger maak, is dat hy nie gewen het nie! Gewoonlik verwag ons ’n Walt Disney-einde met die held wat ten spyte van terugslae steeds triomfeer.

Nie in sy geval nie. John Stephen kom heel laaste.  Nie net laaste nie; die wenner is reeds meer as ’n uur gelede oor die wenstreep. Akhwari se tyd kon amper met ’n almanak gemeet word!

Die merkwaardigste gebeur toe ’n verslaggewer hom na die wedloop vra waarom hy dan aanhou hardloop het? Waarom het hy nie net opgehou nie?

Verbaas het Akhwari geantwoord: My country did not send me to Mexico City to start the race. They sent me to finish.

Sjoe, John my kaptein! Wat ‘n antwoord!

Hoeveel keer gooi ons nie sommer tou op nie?

Dit voel amper vir my of die moderne samelewing met ’n wit vlag in die sak gebore word. Gereed om dit op te steek en oor te gee as dinge net ietwat moeilik of rof raak.

Ons kinders stop netbal speel as hulle uit die eerste span gedrop word. Tweede span is nie goed genoeg nie.  Net eerste of niks.

Wat dan van John Stephen Akhwari? Waar sou hy moes speel?

Miskien is dit omdat ons nie altyd weet waarheen ons oppad is nie. As jy nie ’n einddoel in sig het nie, is dit makliker om tou op te gooi. John het geweet waar sy eindpunt was. In die stadion.

Miskien is dit omdat ons te graag vir die skare wil speel. Kyk maar Saterdag na Saterdag hoe soek die rugbyspelers hulself op die groot skerm van die stadion. Daar was bitter min toeskouers om vir John hande te klap.  Die wat egter daar was, was bevoorreg om een van die grootste oomblikke in die olimpiese geskiedenis te aanskou.

Miskien is dit omdat ons nie weet vir wie of hoekom ons dit doen nie? Dit lyk vir my almal doen net iets as dit vir hulle eie gewin is. Dis net ék ék ék. En as ek nie baat nie, dan doen ek dit eenvoudig net nie. John het geweet hy doen dit vir sy land, want hulle het hom met ’n opdrag gestuur.  Maak klaar wat jy begin!

Jy wil by my weet wie gewen het.

Die wenner was ’n Ethiopiër met die naam Mamo Wolde.

Maar kom ek wed jou dat jy sy naam nie gaan onthou nie. John Stephen Akhwari sin wel.

En hy het nie eens ’n medalje gekry nie!

Ek wonder net wat het van die ander agtien, wat nie klaar gemaak het nie, geword?

 

Most important thing in the Olympic Games is not to win, but to take part; just as the most important thing in life is not the triumph but the struggle. The essential thing is not to have conquered, but to have fought well. – Olympic Creed

Perseverance is the hard work you do after you get tired of doing the hard work you already did. – Newt Gingrich

Men do not quit playing because they grow old; they grow old because they quit playing. – Oliver Wendell Holmes

Image: www.ficomaulana.com

(Visited 294 times, 1 visits today)

, , ,

6 Responses to John Stephen Akhwari: Goud vir laaste!

  1. Christine July, Thursday 12 2012 at 1:39 pm #

    Wyse wyse woorde. Dit is ‘n waarheid om nooit te vergeet nie. Dankie.

    • Rian Truter July, Thursday 12 2012 at 4:14 pm #

      Dankie, Christine! Mooi loop en dankie vir die kommentaar en lees van P&J

  2. Martina July, Friday 13 2012 at 10:13 am #

    Ware woorde wat ons gerieflikheidshalwe vergeet. Dankie Rian

  3. Erich July, Monday 16 2012 at 7:43 pm #

    Ja, gee mens iets om oor na te dink. Dankie Rian!

Leave a Reply