Tag Archives | Namakwaland

Debbie Thompson: Nie bang om voor te stap nie!

 

Saam met Debbie op Simonsig

Boesmanland vat my hand …

Hoe gebeur dit dat ‘n meisie van Springbok as Suid-Afrika se vrouewynmaker van die jaar aangewys word?

Wyn is mos amper, net soos Engels, ’n vreemde besigheid daar tussen die gousblomme en amperse woestyn! Brits word net in ekstreme omstandighede, soos vir selfsverdediging, gepraat en wyn net by die nagmaal gebruik.

Maar soos met baie goed in Namakwaland, moet jy nie dat dit wat jy sien jou mislei nie. Wat vir jou soos sand lyk, is eintlik ’n swanger blomtuin en die matriekmeisie van die Hoërskool Namakwaland is een van Suid-Afrika se toekomstige wynmaaksterre.

Debbie Thompson (Burden) is ’n gebore en getoë Namakwalander. Nie so duidelik waarneembaar as jy na haar uitspraak luister nie, maar as jy tog mooi oplet, kan jy die Namakwalandse oorronding optel.

Sy het as kind op Oranjemund gebly en later op Springbok groot geword. Gematrikuleer aan die plaaslike hoërskool en deelgeneem aan netbal en alle ander aktiwiteite denkbaar gedoen.

Haar aanvanklike gedagte was om ’n veearts te word, maar omdat die keuring streng en die toelating min was, besluit sy om eers net vir B.Sc. by Universiteit Stellenbosch in te skryf.  Dalk sal sy na haar eerste jaar aansoek doen vir Veeartsenykunde in Pretoria.

 Gelukkig vir wyndrinkers reg oor die wêreld, en ongelukkig vir die diere, byt die wyngogga Debbie gedurende haar eerste maande op Stellenbosch. Na verskeie wynproeë verander sy haar kursus na B.Sc.Agric. met spesialisering in Wynkunde.

Sy voltooi die finale praktiese komponent van haar kursus op Hazendal onder toesig van Ronell Widd en word gedurende hierdie tyd vir ’n onderhoud op Simonsig Landgoed genooi.  En later vir ’n tweede onderhoud. En Johan Malan sien raak dat hierdie student van Springbok die eerste vrouewynmaker van Simonsig kan word. Die res is geskiedenis.

 Debbie vorm vandag, as rooiwynmaker, saam met Johan Malan as keldermeester en Hannes Meyer as witwynmaker Simonsig se formidabele span.

Volgens Debbie was haar eerste pars op Simonsig vir haar die ergste. Sy was ’n totale groentjie en boonop ’n vrou in ’n manswêreld. Sy was nie net in beheer van die pars nie, maar moes ook leiding gee en vir die ou hande wys dat sy voor kan stap.

Sy sê sy het baie gestres en baie gehuil. Maar met harde werk en tipiese Namakwalandse vasbyt, het sy die eerste toets geslaag.

Sedert daardie eerste pars het Debbie baie toekennings en eerbewyse ontvang. Tussen al die Veritas Dubbelgoud en die ABSA Top Tien-toekennings bly die aanwysing as Vrouewynmaker van die Jaar in 2005 vir haar die kosbaarste. Sy skryf haar toekennings toe aan harde werk, maar ook aan goeie spanwerk. Prestasies behaal jy nie op jou eie nie en sy praat met groot trots en deernis van die manne saam met haar in die kelder.

Sy is intussen getroud met, soos sy sê ’n Engelsman, Simon Thompson (ook in die wynbedryf) en is die ma van een. Die tweede gaan sy/haar opwagting tydens volgende jaar se pars maak.

Om Debbie beter te leer ken het ek haar die volgende vrae gevra:

Waarom het jy ’n wynmaker geword?

Wynmaak is ’n proses waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef en ook jou persoonlike stempel kan afdruk. Dit kombineer die praktyk en teorie vir my. En ek kry die kans om soms buite te werk!

• Wat is die beste wyn wat jy ooit gemaak het?

Simonsig Redhill Pinotage 2003

 • Wat is die beste wyn wat jy gedrink het?

Châteauneuf du Pape 1995

As jy nie ’n wynmaker geword het nie, wat dan anders?

Veearts of dalk wildbewaarder.

• Wat is onafgehandel op jou bucket list?

Baie oorsese reise. Veral na Toskane in Italië.  Die fliek Under the Tuscan Sun is een van my gunstelinge en dan Mauritius. Die laaste een moet saam met die hele familie en al die kinders wees.

• Troeteldier(e)

Honde. ’n Boerboel en Jack Russel.

Gewildste TV-program

Brothers and Sisters en mag ek sê … 7e Laan!

• Watter liedjie sing jy in die kelder/stort/kar?

AC/DC – You shook me all night long. Dit was die instapliedjie op ons troue.

• Jou lewensmotto?

Aanhouer wen!

Wat dink jy van bokswyn?

Daar is beslis ‘n plek vir bokswyn;  so lank die mense net wyn drink! Ek is baie gekant teen die snobisme wat met wyn gepaard kan gaan. Ons kan te ernstig raak oor wyn.

Watter wyn drink jy as jy nie jou eie drink nie?

Oldenburg Vineyards se Cabernet Sauvignon of Cabernet Franc.

• In watter kultivar het Jesus die water by die troue in die Nuwe Testament verander?

Pinot Noir. Dit is ’n moeilike kultivar om goeie wyn van te maak.

• Tent of Hotel?

Hotel

• Hoe ontspan jy?

Draf. Ek draf elke dag in my etensuur so 5 kilometer. Dit maak my kop oop en ek kom buite.

In die proeglas: Simonsig Redhill Pinotage 2009

Analysis: Provided by Simonsig

Alcohol: 15% vol

Residual Sugar: 2.1 g/l

Total Acidity: 6.05 g/l

Ph: 3.34

Style: Full bodied wood matured Pinotage from a specific vineyard site.

Wine Description: Dense opaque colour. A tapestry of dark luscious fruit. Effortless expression of intense notes of plum and mulberry. A thread of cinnamon spice and vanilla pod adds dimension to this tapestry. Tightly knitted yet smooth tannins sculpture a lingering palate of fruit filled delicacies.

Wood Maturation: 17 months oaking.

Serving Suggestions: Cape Malay bobotie, seared tuna, slow roasted belly of pork, oven roasted rack of lamb, crispy duck salad with hazelnut praline.

www.simonsig.co.za

021 888 4932

 

The real Antichrist is he who turns the wine of an original idea into the water of mediocrity. – Eric Hoffer

Life is too short, and I’m Italian. I’d much rather eat pasta and drink wine than be a size 0. – Sophia Bush

Always carry a corkscrew and the wine shall provide itself. – Basil Bunting

   
 
 

Simonsig Landgoed se imposante ingang

 

Restaurant en proelokaal

 

Daar is beslis genoeg wyn!

 

Studie in nuwehout

Simonsig laat die Kaap vonkel!

 

  

  

   

  

  

Continue Reading

My kosbaarste besitting

Vir vyftien maande van my lewe het ek die voorreg gehad om in Springbok te kon bly. As skoolhoof van die Hoërskool Namakwaland, of soos almal dit in daardie geweste ken en noem, HSN.

Vir diegene wat nie weet waar Springbok is nie, kan ek net sê dit is een van die groot stede in Namakwaland. 

En vir stadsjapies soos ek, is Namakwaland ’n ander land. Jy moet na regte eintlik ‘n visum  daarvoor hê, want dis soos die bekende reisspreuk sê: you go to another country to find they do things differently there.

Nie te min, die aanpassing was nie altyd maklik nie en menige dag het ek my besluit om die Kaap te verlaat, ernstig betwyfel.  Tot op een goeie pragtige Namakwalandse môre …

Op dié spesifieke oggend, ek kan nie meer onthou watter dag van die week dit was nie, het ek seker drie keer verby ’n vrou gestap wat in die voorportaal voor my kantoor gewag het.  Ek was onder die indruk sy het ’n afspraak met iemand anders, maar later vra ek tog of ek haar kan help? 

Sy sê toe sy is op soek na die skoolhoof. 

In die kantoor wou ek weet hoe ek haar kon help?  Voor my het ’n vrou met ’n kopdoek oor haar hare gesit.  Haar gesig gebeitel deur die fel Namakwalandse son en weer.  Maar met ’n trots van iemand wat nie twyfel oor wie sy is nie.

Sy wou hoor of ek nie haar dogter by HSN sal inskryf nie.

My onmiddellike reaksie was dat die skool en koshuis vol is en dat sy aan die begin van die nuwe skooljaar weer moet probeer. Dit was in die middel van die kwartaal en die skool en koshuis was tot kapasiteit toe beset.

Maar ek wou meer uitvind van hierdie vrou, want miskien is sy onwetend een van die rykste mense in die omgewing en ek wys haar uit onkunde weg.  Wie weet, dalk wil sy ’n swembad vir HSN bou? Ek kon al die Rian Truter Swembad se blou water sien!

Ek wou weet van waar kom sy?  Van Garies.

Wat doen sy?  Sy werk as skoonmaker in die skoolkoshuis op Garies.

Hoe het sy dan op Springbok gekom?  Sy het ’n geleentheid agter op een of ander boer se bakkie gekry.

Nou was my visoen van ’n moontlike swembad  in skerwe en saam daarmee was HSN finaal vol!

Die skoolhoof in my het ingeskop. Sy moet daarvan vergeet om haar dogter by HSN in te skryf, want behalwe dat ons vol is, kon sy vir baie goedkoper haar kind op Garies laat skoolgaan.

Asseblief meneer, vra sy.  Asseblief meneer, ek het tydens die blommetyd by die hotel op Kammieskroon gaan werk en die blommekykers se klere gewas om ekstra geld te verdien.  Ek het vir Grietjie (kan tot my skande nie meer die kind se naam onthou nie!)’n onderokiekie en ’n seepiekie gekoop.  Asseblief, meneer!

Ek het volgehou dat die skool vol was en opgestaan.  Toe ek my hand uitsteek om haar te groet, gryp sy my hand met altwee haar hande vas.

Asseblief, meneer…

Maar mevrou ek het mos gesê die skool is vol en in elk geval is dit beter vir jou en Grietjie dat sy sommer daar by jou skoolgaan.

En net toe ek besig was om my finaal van hierdie vrou se hande los te wikkel, los sy skielik my hand en buig na my toe oor die lessenaar en kyk my met trane in haar oë aan en sê in ’n fluisterstem:

Asseblief, meneer.  Meneer, ek bring vandag vir jou my kosbaarste besitting …

Dit was op daardie oomblik dat die Here my klap en vir my sê: Dit is waarom Ek jou Springbok toe gestuur het.  Om net weer te besef dat jy elke dag met iemand se kosbaarste besitting werk.

Baie dae vergeet ons as onderwysers dat ons elke dag met mense se kosbaarste besittings werk.  Ons hou kermisse en samel verwoed geld in vir die skool en reël selfs dat die bank die geld op ’n Saterdagmiddag vir veilige bewaring sal kom haal.

Maar elke dag sit daar miljoene rande se kosbaarste besittings in ’n klas en so maklik sê ons jou luiaard, sleg, skollie of onnosel.

Ongelukkig is dit ook waar dat ouers van hul kosbaarste besitting vergeet.  Hulle raak so besig met ander dinge wat veel minder werd is as hul kinders en skrik soms te laat wakker as hierdie kosbaarste besitting amper deur hul vingers geglip het.

Of HSN vol gebly het?

Nee, skielik was ons nie meer so vol dat ek nie nog een kosbare besitting kon akkommodeer nie.

  

We are always too busy for our children; we never give them the time or interest they deserve.  We lavish gifts upon them; but the most precious gift, our personal association, which means so much to them, we give grudgingly. –  Mark Twain

Throughout life one does not miss any chance to hold onto the things that are really precious. If one is truly wise.  – Ed Greenwood

Die ma se hart is haar kind se klaskamer.  – Henry Ward Beecher

Continue Reading

‘n Teerpad van ‘n ander kleur.

Take me home country roads sing oorlede John Denver terwyl die klippe onder my bakkie se wiele spat.

Behalwe vir die hitte, en die koue waarvan hulle vergeet het, was van die eerste dinge waarteen die Namakwalanders my met ons koms na Springbok gewaarsku het, die grondpaaie van die omgewing. 

Nie dat die pad iets aan jou gaan doen nie.  Nee, dit is eerder wat jy dink jy aan die pad kan doen.  Want sien, jy glo baie gou dat ‘n grondpad eintlik maar net ‘n teerpad van ‘n ander kleur is.  En jy begin dit dan so behandel.

En dit is dan net daar waar jy jou deeglik met jou oordeelsvermoë misgis en voor jy kan sê kokerboom, sit die grondpad wydsbeen oor jou!  As jy gelukkig is, sal jy jou stommiteit kan oorvertel, maar daar is baie wat nie kon nie …

Grondpadry is baie soos die lewe.  Dit is net as jy dink jy het hierdie oefening mooi onder die knie, dat die lewe jou onverwags uit die saal gooi.

Om ‘n groot lorrie op ‘n grondpad verby te gaan is een van die moeilikste en frustrerendste dinge waaraan ek kan dink.  Jy kan niks sien aankom nie, want die stofwolke is so dig dat jy amper nie eens jou bakkie se neus kan uitmaak nie!

In die lewe kry ons ook baie spreekwoordelike lorries wat in ons pad kom.  Baie lyk onmoontlik om by verby te kom en dit is amper of ons niks voor die lorrie kan sien nie.  Of dit ‘n reguit stuk pad is en of daar ‘n draai is, dit weet jy nie. Maar in die meeste gevalle kom ons tog op een of ander gelyk stukkie pad om hierdie voortsnellende hindernis.  En dan lê die pad weer wyd en oop voor ons.

Die ander pes van ‘n grondpad is die opskietklippe wat jou voertuig en voorruit kan tref. Baie keer kom jy ongeskonde uit jou grondpadryery, maar ander kere is daar ‘n prys te betaal.  Soos ‘n gat in die voorruit.

Maar dit help nie om te lank daaroor te huil of te kla nie, want dit is deel van die grondpadpakket. Toe dit met my net anderkant Sesriem gebeur, en  ek op die eerste beste Namibiër se skouer wou huil, toe sê hy: Meneer, dis Namibië dié.  Wat verwag jy?

Dit is die lewe, Meneer. Wat verwag jy? Niemand kom ongeskonde uit die lewe nie. Party rol hul karre, ander kry klippe deur die ruit en ander vreet stof.

Ek wonder of Winston Churchill ooit grondpad gery het?  Hy moes, want hy het eens op ‘n tyd  gesê:

If you are going through hell, keep going!   

Maar dit is eers as jy ‘n grondpad met ‘n fiets probeer aandurf, dat jy weet hóé onsimpatiek en ongenaakbaar só ‘n pad kan wees. Elke voertuig van voor en agter is soos ‘n persoonlike aanval op jou lewe. As jy net stof vreet dan is jy gelukkig …

As jy by die armsalige vent op sy fiets verby flits, besef jy hoe gelukkig jy is om hierdie pad in jou bakkie te kan aanpak.  Dit kon ék op daardie fiets gewees het.

Die sleutel tot grondpadry is respek.  Behandel daardie gruis met ‘n heilige ontsag. 

En geniet dit, want dalk gaan jy daardie stuk pad net een keer in jou lewe ry…

 

The safest road to hell is the gradual one – the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts. – C.S. Lewis

You know, somebody actually complimented me on my driving today. They left me a little note on the windscreen, it said Parking Fine. – Tommy Cooper

Trying to predict the future is like trying to drive down a country road at night with no lights while looking out of the back window. – Peter Drucker

Continue Reading