Tag Archives | Liefde

Motte het nie ore nie

Die eenvoudigste speelgoed lyk my bly nog maar die interessantste. Veral as dit nog lewendig is!

Nou die middag speel ek en Luca met ’n  mot. Ek vang die mot en laat hom dan weer uit die tronk van my bakhand ontvlug. Luca gril en gil van senuweeagtigheid en plesier. As ek dink dis nou genoeg, want die mot is besig om in stof te verander, dan skree hy: Nog, Oupa! Nog!

Uiteindelik ontsnap die mot en gaan kruip êrens tussen die struike, waar ons hom nie weer kan kry nie, weg. Ek verwonder my aan Luca se rooi wangetjies en besef net weer hoe kosbaar die lewe is. En êrens in my onderbewussyn klink Annesu de Vos se woorde uit haar gedig Pilatus op:

jy

kan my nie hoor nie

want motte het nie ore nie

nie ore nie

’n mot het nie

’n oor nie

En skielik besef ek daar is nog so baie wat ek vir my kleinkinders moet leer…

Leer dat hulle vir alles wat asem haal, respek moet hê. Selfs vir ’n mot, want alles wat asem het, is ’n skepping van God.

En saam met die respek moet hulle ook liefhê.

Seth Godin skryf dat liefde vir iets eers na die respek kom: Respect is insufficient by itself, though. Respect doesn’t get the heart to race, respect doesn’t often lead to waiting in line or gushing about an idea to someone else. No, those things come from falling in love, from the ineffable and magic switch that gets flipped when we are touched by something on an emotional level.

Maar my kleinkinders het ore. Ore om te hoor wat Oupa oor die lewe vir hulle wil sê.

Oupa moet dit nét sê …

Ek wil hê jy moet saam sing as die musiek begin speel. En dans in die somer se reën. En soek vir die reënboog langs die pad, my skat. – Karin Zoid

The truest form of love is how you behave toward someone, not how you feel about them. – Steve Hall

The man who sat on the ground in his tipi, thinking of life and its meaning, accepting the kinship of all creatures and knowing unity with all things, was drawing into his being the true heart of civilization. – Chief Luther Standing Bear

Foto: Christian Meyn/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Om Jesus se tafel

Ek was onlangs bevoorreg om saam met Nico en Tania Bezuidenhout (NG Moedergemeente Oos-Londen) en vroue van die Oos-Kaap ’n vrouenaweek op Stutterheim te kon meemaak.

Om deel van hierdie besondere groep dames te kon wees, was werklik iets wat my siel verryk en gevoed het.  Nie alleen is my geestelike gedetox nie, maar ons gasvrou van Eagles Ridge Country Hotel, het dit ook amper met my lyf vermag. ’n Slaai met 27 bestanddele, die meeste daarvan blare, wil gedoen wees!

Ek lees graag onderhoude met interessante mense en baie keer is daar ’n vraag oor wie hulle vir ete sal nooi. Hul keuses is baie uiteenlopend, maar ek kan nie onthou dat ek al ooit gelees het dat iemand vir Jesus wil nooi nie.

Het jý dalk al daaraan gedink om vir Jesus te nooi om saam met jou te kom eet?

Watter gereg sal ek voorsit? Hoe sal die uitnodiging lyk?

Dalk moet ek eers gou die eetkamer laat uitverf?

En … watter wyn bedien jy vir iemand wat water in wyn kan verander? Is daar disse wat Hy nie eet nie en is Hy dalk allergies vir iets?

In Matteus 9: 9 – 13 word daar vertel van hoe Jesus na Matteus se roeping by hom gaan eet. Die reaksie van die Fariseërs hierop is nie te gunstig nie en Jesus word as ’n vraat en ‘n wynsuiper uitgekryt. (Lukas 7:34)  Ook as iemand wat ‘n sosiale taboe oortree deur saam met sondaars en tollenaars te eet.

Hierdie skrifgedeeltes het my oor die verskil tussen die Fariseërs se etenstafel en dié van Jesus laat wonder.

Soos ek dit verstaan, is daar by die Fariseërs se tafel net plek vir mense wat hulle wette gehoorsaam en goeie gelowiges was. Met ander woorde, mense wat perfek is.  By Jesus se tafel is dit beslis nie die geval nie. Jy hoef jy nie perfek te wees nie. Krom en skeef is meer as welkom!

By die Fariseërs se tafel is daar net plek vir sommiges. Kenners, deskundiges en mense van aansien. By Jesus is daar plek vir almal. Jy hoef nie eens ‘n titel te hê nie. Skaapwagters wat na skaap ruik en vissermanne met skubbe en visbloed aan hul klere, is meer as welkom. Jesus trek nie Sy neus op ’n plooi vir aardse klankies nie!  By die Fariseërs se tafel moet jy rein wees.  By Jesus se tafel word jy rein gemaak.

Die Fariseërs se tafel klink vir my na ’n stresvolle affêre. Jy moet híér sit en só maak en nie só nie – amper soos ’n formele ete in die parlement. Jesus se tafel is stresloos, want daar is aanvaarding en genade.

Jy moet na die Fariseërs se tafel genooi word. Slegs op uitnodiging en net genooides welkom. By Jesus is geen uitnodiging nodig nie. Jy is altyd welkom en jy hoef nie eens te bespreek nie.  Daar is altyd ’n plek vir jou om die tafel.

Ek is ook oortuig daarvan dat die Fariseërs se tafel net op geleentheid gedek word. Daarteenoor is Jesus se tafel altyd gedek. Meer nog; die gasheer is altyd daar! Geen bestuurder wat vir Hom instaan nie.

Die Fariseërs soek fout. Hulle krap waar dit nie jeuk nie en veroorsaak meer kneusplekke. By Jesus se tafel word mense gesond gemaak.  Dit is nie net ’n eetplek nie; wonde en kneusplekke word hier genees.

John Ortberg sê dat almal van ons, soos die verlamde man wat deur die dak na Jesus laat sak word, ons eie figuurlike matjie het waarmee ons deur die lewe gaan. Hierdie matjie hoef nie letterlik ’n fisieke gestremdheid te wees nie.  Dit kan iets soos ons humeur of ons ydelheid wees.

By Jesus se tafel word elkeen se matjie opgevou en weggepak …vir altyd!

By Jesus se tafel sien ons die nuwe hemel in al sy glorie, want Jesus se tafel is ’n tafel van hoop en liefde. ’n Tafel wat kettings breek en mense by mekaar bring sonder enige klas of stand. Om Jesus se tafel is almal eenders: deur genade kinders van God.

Koos Kombuis sing in sy aangrypende lied Ek dood:

Petrus krap kop

Glimlag dan, sluit oop

Gaan maar binne

God nie godsdienstig

God liefde.

Wonder jy steeds oor wat jy moet voorsit as Jesus by jou kom eet?

Hou dadelik op met wroeg, want …

Hy het jou lankal genooi om by Hom te kom eet!

 

If you are afraid of hospitality – that you don’t have much personal strength or personal wealth – good. Then you won’t intimidate anybody. You will depend all the more on God’s grace. You will look all the more to the work of Christ and not your own work. And what a blessing people will get in your simple home or little apartment. – John Piper

Fellowship is a place of grace, where mistakes aren’t rubbed in but rubbed out. Fellowship happens when mercy wins over justice. – Rick Warren

We are so busy planning the perfect retirement.  That we lose eternity! – John Ortberg

 

Continue Reading