Archive | 2012

Rudi laat D’Aria se wyne sing!

Saam met Rudi in D'Aria se proelokaal.

Dis nat en koud in die Kaap toe ek op D’Aria opdaag vir my onderhoud met Rudi von Waltsleben.

Hy is ’n paar minute laat, want hy moes vroegoggend Barrydale of  iewers toe vir wynsake en die een lorrie wat moes oplaai was laat en so gebeur dit dat alles in mekaar se pad kom staan.

Maar Rudi, soos ek sal agterkom, laat nie sommer toe dat goed in sy pad kom staan nie. Hy kom letterlik aangehardloop vir ons afspraak. Gefokus en gereed!

Ons verskuif na die warmer binnekant van die restaurant en soos die gesprek vorder, ontdek ek hierdie wynmaker het baie meer fasette as wat ek van weet. Amper soos die russiese Matryoshka-poppies. Net as jy dink jy het nou die laaste van die poppies uitgehaal, ontdek jy daar is nóg een!

Tydens die gesels ontdek ek Rudi von Waltsleben is nie net ’n wynmaker nie. Hy skryf en sing sy eie musiek (nog een uit die noordelike voorstede), is ’n uitstekende sjef, skryf stories en draaiboeke en het boonop ’n graad in die Regte.

Rudi het in Bellville grootgeword en aan die Hoërskool Bellville gematrikuleer.  Op skool het hy aan verskeie aktiwiteite deelgeneem en onder andere rugby en krieket gespeel. Hy neem ook Grafiese Kuns as vak en word gedurende sy skoolloopbaan as ‘n Santam Kinderkunswenner aangewys.

Na skool gaan hy Universiteit Stellenbosch toe om Regte te studeer. Hy gaan tuis in Dagbreek en volgens Rudi het die koshuis ’n groot invloed op sy lewe gehad. Dit was dan ook hier waar hy sê hy wyn eers regtig leer waardeer het.

Die kreatiwitiet van die wynmaakproses en sy nuutgevonde liefde vir wyn laat hom dan, terwyl hy nog besig is om regte te studeer, besluit om wynmaker te word. Maar wat Rudi begin, dit maak hy klaar.  Hy voltooi sy regstudie en gaan daarna na Elsenburg waar hy hom as wynmaker bekwaam.

Na Elsenburg konsulteer hy vir vir sewe plase in die Paarl waar Nico Vermeulen ’n groot invloed op hom het.

As gevolg van Rudi se pa Johan se verbintenis met die plaas, is Rudi van jongs af met D’Aria gemoeid. Gedurende vakansies het hy wingerd geplant en orals uitgehelp.  Aanvanklik het  D’Aria net druiwe aan kelders gelewer, maar op aanvraag van die restaurant het daar ’n behoefte na die plaas se eie wyn ontstaan.

Die kelder was dan ook Rudi se idee en van 2007 is hy permanent as wynmaker op D’Aria. Interessant om daarop te let die D’Aria-wyne, as gevolg van Rudi se liefde vir musiek, name het wat met musiek gekoppel is.

Om meer van die mens, Rudi von Waltsleben, te wete te kom het ek hom die volgende vrae gevra:

Waarom het jy ‘n wynmaker geword?

Ek is nie ’n resepmens nie en daarom het die kreatiwiteit van wynmaak my aangetrek. Soos gesê, ek het eers Regte geswot, maar terwyl ek op Stellenbosch was het ek regtig wyn leer waardeer. Ek het toe besluit om te gaan wyn maak, maar het eers my regskursus voltooi en toe Elsenburg toe gegaan.

Wat is die beste wyn wat jy ooit gemaak het?

Die D’Aria Songbird 2010. (Winemakers Choice Diamond Award 2011)

Wat is die beste wyn wat jy gedrink het?

’n Pinot Noir uit Burgundy. Kan die naam nie meer onthou nie en  ’n Chardonnay van Peter Michael uit die Napa Vallei.

As jy nie ‘n wynmaker geword het nie, wat dan anders?

Musikant. Ek skryf musiek en sing self. My tweede CD verskyn binnekort.

Wat is onafgehandel op jou bucket list?

F1-resies in Monaco; fietstoer deur Viëtnam en Kambodja en salm vang bo in Noorweë.

Troeteldier(e)

Geen troelteldiere op die oomblik nie.

Gewildste TV-program

Ek kyk nie eintlik TV nie. Om die waarheid te sê ek besit nie een nie.

Watter liedjie sing jy in die kelder/stort/kar?

Alles behalwe my eie musiek.

Jou lewensmotto?

’n Mens is instaat om alles te doen wat jy wil. My Oupa was vir my ’n voorbeeld hiervan. ’n Mens ken eintlik nie jou limiet nie en wat jy wil doen, dit kan jy.

Wat dink jy van bokswyn?

Daar is niks fout daarmee nie.  Dit dra maklik.

Watter wyn drink jy as jy nie jou eie drink nie?

’n MCC van Chabivin.

In watter kultivar het Jesus die water by die troue in die Nuwe Testament verander?

Shiraz. So ‘n groot, vol ronde een.

Tent of hotel?

Tent

Hoe ontspan jy?

Braai vleis en luister na musiek. Ek maak ook graag kos. Ek dink ek kook vir ontspanning!

In die proeglas:

Songbird Sauvignon Blanc

Vintage: 2011

Varieties: 100% Sauvignon blanc

Region: Durbanville, Western Cape

Yield: 6 ton per ha

Age: 11 years

Analysis: Alc 14% by vol

Vinification: The grapes are picked by hand and placed into small lug boxes. At the cellar, berries are again sorted by hand before going into the press. After pressing, the juice spends about 24 hours on the skins. Most is then transferred into 1 000-litre stainless steel tanks for fermentation, while a small amount (about five percent) goes into the barrel. After three months on the lees, a selection is made from the various tanks and blended with the barrel-fermented component.

Description: A complex Sauvignon blanc, combining aromas and flavours of green pepper, asparagus and goosberries with tropical fruit and hints of grapefruit on the finish. The palate is full, yet elegant.

Food: A serious food wine calling for white meats, from fish and shellfish to chicken and pork. Ideal with vegetarian dishes as well.

www.dariawinery.co.za

(021) 801 6772

 

Ek soek jou in my wynglas, ek soek jou in my dop. Jy loop hier rond in my kop. – Dozi

Wine makes every meal an occasion, every table more elegant, every day more civilized. – Andre Simon

Compromises are for relationships, not wine. – Sir Robert Scott Caywood

 

Die kelder op D'Aria.

Proelokaal

Rudi besig met 'n optrede.

Continue Reading

‘n Vreemde leermeester

Garr Reynolds het tydens ’n TED-konferensie ’n skitterende aanbieding met die titel The Ten lessons from Bamboo gelewer. Omdat ons in Suid-Afrika nie so vertroud soos die Oosterlinge met bamboes is nie, het ek dit tong in die kies, vir my generasie wat nog die rottang geken het, aangepas.

Die rottang, hoor ek ’n afkeurende gefluister.

Hokaai! Byt net gou vas!

Voor al die Green Peace- en anti-lyfstrafaktiviste uitasem raak en na hulle hartpille gryp, laat ek dadelik sê dat ek 100% teen onsinnige lyfstraf gekant is. Lyfstraf ís en wás nog nooit ’n alternatief vir goeie dissipline nie.

Maar soms is dit al uitweg.  In baie gevalle kan ek, en sekerlik vele ander, getuig dat ’n pak slae op sy tyd wondere gedoen het. En weer praat ek van gesonde tugtiging; nie mishandeling nie!

‘n Punt van opmerking: vandag se generasie wat nie meer lyfstraf mag ontvang nie, speel gewelddadiger TV-speletjies as wat ’n pak slae ooit kan wees!

Nou dat die lug gesuiwer is, die lewenslesse:

1. Wat swak lyk, is eintlik sterk: Ou Bulletjies se rottang het maar ietwat pieperig gelyk. Nie lank of dik nie.  Beslis nie so sterk soos ‘n telefoonpaal nie, maar sterk genoeg om enige balhorige wetenskapklas tot orde te roep. Ons onderskat maklik mense omdat hulle nie groot of sterk lyk nie. Onthou wat die Jedi-meester gesê het: Size matters not. Look at me. Judge me by my size do you?

2. Buig, maar moenie breek nie: Elke keer gewens die bleddie ding wil breek, maar al wat dit doen is buig. Buig om jou boude! Meer nog; ek was elke keer vasbeslote om nie te huil nie, al was dit hoe seer. Buig, maar nie breek nie! ’n Buig-maar-nie-breek-nie-houding is een van die geheime van die lewe. Amper ’n go with the flow, want as jy vir elke terugslag van die lewe sou breek, sou hulle jou gou op die krytvloer uittel. Ons raak egter so rigied en stram in leefwyse dat ons sommer knak en breek as iets anders as dit wat ons glo die waarheid is, oor ons pad kom. Dit is dan wanneer ons blikkieskos begin opgaar en kragopwekkers vir die spreekwoordelike duisternis wat kom, koop.

3. Gooi ankers uit: Die bamboesplant weerstaan blykbaar die woeste storms as gevolg van sy unieke wortelstelsel. Terwyl groot bome in die woud omgewaai word, bly hy stewig geanker. As jy diepgewortelde waardes het, dan kan die storm maar kom. Ongelukkig is dit vandag met waardes soos met standaarde. Daar is so baie om van te kies!

4. Sit jou brein in ’n laer rat: As jy buk en gereed maak vir die pak wat kom, was daar min ander dinge waaraan jy gedink het. Vandag besef ek eers dit was terapie! Mense betaal groot geld om net hulle gedagtes te fokus en tot stilstand te bring.

5. Altyd gereed: Ek het nog nooit gehoor van ’n rottang wat eers moes opwarm voor jy dit kon gebruik nie. Altyd reg vir aksie. Die lewe gaan nie eers vra of iets met jou kan gebeur nie.  Dit gebeur net. Ons moet altyd gereed wees vir wat na ons kant toe kom. Die lofprysing en ook die pak slae. Dis eers wanneer jy die sjampanje in jou yskas hou dat jou lotto-wen jou nie onverhoeds betrap nie.  Maar dit is ook as jy verstaan wat Scott Peck bedoel as hy sê life is difficult, dat jy regtig begin leef.

6. Wysheid in leegheid: Kloof ’n rottang in twee, so asof jy ’n vlieër wil maak, en jy sien die rottang is hol van binne. Vele pakke slae was die gevolg van te veel hubris, soos die geleerde mense sal sê. Te vol wees van jouself, te aanmatigend. Ons lewens is ook so. Vol, voller, oorvol. Nie tyd  genoeg nie en my kop hou nie op met rondspring van die een ding na die ander nie. Veral volwassenes is so vol van wat hulle weet, dat niks of niemand hulle iets kan leer nie. ’n Mens kan net iets byleer as daar plek is om iets nuut by te sit. Maak jou self net ’n slag leeg dat jy weer met nuwe idees en gedagtes gevul kan word.

7. Verbind jou tot groei en vernuwing: Miskien is dit die hoofles van enige pak slae? Commitment om dit nie weer te doen nie en om te leer uit die fout(e) wat jou tot by hierdie punt gebring het.

8. Eenvoud is kragtig: So ‘n eenvoudige stukkie apparaat, maar tog só bruikbaar. Sonder fieterjasies en gebruikersvriendelik. Steve Jobs sou gewens het hy het dit ontwerp! Dit is nie altyd die duurste en blinkste dinge in die lewe wat die meeste vreugde of bevrediging gee nie. Geluk word omtrent altyd in die eenvoudige dinge gevind.

9. Bons terug: ’n Rottang het die vermoë om na elke hou weer na sy oorspronklike vorm terug te keer. Maar nie almal in die lewe kan dit doen nie. Party van ons kan maar net nie weer opkom en aangaan na ’n lewensles nie. Na ’n pak slae is dit die beste om maar op te staan, jou af te stof (letterlik en figuurlik) en aan te gaan. Ons moes nog dankie sê ook! Veel later het ek besef die dankie was vir die les geleer en nie vir die straf wat ek ontvang nie.

10. Lag en die wêreld lag saam: Vreemd vir ‘n loesing, maar blykbaar bevat die Chinese karakter wat glimlag of lag beteken, ook twee simbooltjies wat bamboes beteken.  Het my niks gehelp nie, hoor ek jou sê. Maar miskien is die wete, dat die rottang in ‘n ander deel van die wêreld met vreugde geassosieer word, soos a spoon full of suger helps the medicine goes down van Mary Poppins?

My goeie vriend Hentie Gericke sê altyd ons lag te min. En hy is só reg. Dwarsoor die wêreld betaal maatskappye groot geld aan ghoeroes om hulle werkers te laat lag, want die direkteure besef lag en laat lag, speel ’n groot rol in liggaamlike en geestelike gesondheid.

Dalk moet hulle net die rottang gebruik?

Ek weet nie, maar al hierdie goed wil my laat opstaan om met nuwe insig te gaan dankie sê aan almal wat my hierdie lesse geleer het.

 

Empty your mind, be formless, shapeless – like water. Now you put water into a cup, it becomes the cup, you put water into a bottle, it becomes the bottle, you put it into a teapot, it becomes the teapot. Now water can flow or it can crash. Be water, my friend. – Bruce Lee

We must all suffer one of two things: the pain of discipline or the pain of regret or disappointment. – Jim Rohn

The nice thing about standards is that there is so many of them to choose from. – Andrew S Tanebaum

 

Continue Reading

John Stephen Akhwari: Goud vir laaste!

Het jy al van John Stephen Akhwari gehoor?

Nog nie?

Moenie sleg voel nie.  Bitter min mense weet wie hy is.

Maar nou dat die Olimpiese Spele net ’n week of twee weg is, dink ek onwillekeurig meer aan hom.  Elke reklameflits op die TV laat sy storie weer opvlam en dwing my om verder van hom te vertel.

John Stephen was in 1968 lid van Tanzanië se olimpiese span van drie atlete!  Hy was ‘n marathonatleet wat op die laaste dag nog ’n kans gestaan het om ’n medalje vir sy land huis toe te bring.

Maar op Sondag 20 Oktober 1968 het sake nie verloop soos hy gehoop het dit sou nie. Die lugdruk pla hom sommer met die wegspring en vroeg in die wedloop val hy en beseer hy sy knieligamente. Hy staan egter op en voltooi bebloed en al strompelend die wedloop.

Die merkwaardigheid van Akhwari se prestasie lê eerstens opgesluit in die feit dat hy die wedloop voltooi het. 75 Atlete het weggespring, maar net 57 het dit klaar gemaak. En hy was beseer genoeg om te sê tot hiertoe en nie ‘n tree verder nie.

Wat sy wedloop egter nog merkwaardiger maak, is dat hy nie gewen het nie! Gewoonlik verwag ons ’n Walt Disney-einde met die held wat ten spyte van terugslae steeds triomfeer.

Nie in sy geval nie. John Stephen kom heel laaste.  Nie net laaste nie; die wenner is reeds meer as ’n uur gelede oor die wenstreep. Akhwari se tyd kon amper met ’n almanak gemeet word!

Die merkwaardigste gebeur toe ’n verslaggewer hom na die wedloop vra waarom hy dan aanhou hardloop het? Waarom het hy nie net opgehou nie?

Verbaas het Akhwari geantwoord: My country did not send me to Mexico City to start the race. They sent me to finish.

Sjoe, John my kaptein! Wat ‘n antwoord!

Hoeveel keer gooi ons nie sommer tou op nie?

Dit voel amper vir my of die moderne samelewing met ’n wit vlag in die sak gebore word. Gereed om dit op te steek en oor te gee as dinge net ietwat moeilik of rof raak.

Ons kinders stop netbal speel as hulle uit die eerste span gedrop word. Tweede span is nie goed genoeg nie.  Net eerste of niks.

Wat dan van John Stephen Akhwari? Waar sou hy moes speel?

Miskien is dit omdat ons nie altyd weet waarheen ons oppad is nie. As jy nie ’n einddoel in sig het nie, is dit makliker om tou op te gooi. John het geweet waar sy eindpunt was. In die stadion.

Miskien is dit omdat ons te graag vir die skare wil speel. Kyk maar Saterdag na Saterdag hoe soek die rugbyspelers hulself op die groot skerm van die stadion. Daar was bitter min toeskouers om vir John hande te klap.  Die wat egter daar was, was bevoorreg om een van die grootste oomblikke in die olimpiese geskiedenis te aanskou.

Miskien is dit omdat ons nie weet vir wie of hoekom ons dit doen nie? Dit lyk vir my almal doen net iets as dit vir hulle eie gewin is. Dis net ék ék ék. En as ek nie baat nie, dan doen ek dit eenvoudig net nie. John het geweet hy doen dit vir sy land, want hulle het hom met ’n opdrag gestuur.  Maak klaar wat jy begin!

Jy wil by my weet wie gewen het.

Die wenner was ’n Ethiopiër met die naam Mamo Wolde.

Maar kom ek wed jou dat jy sy naam nie gaan onthou nie. John Stephen Akhwari sin wel.

En hy het nie eens ’n medalje gekry nie!

Ek wonder net wat het van die ander agtien, wat nie klaar gemaak het nie, geword?

 

Most important thing in the Olympic Games is not to win, but to take part; just as the most important thing in life is not the triumph but the struggle. The essential thing is not to have conquered, but to have fought well. – Olympic Creed

Perseverance is the hard work you do after you get tired of doing the hard work you already did. – Newt Gingrich

Men do not quit playing because they grow old; they grow old because they quit playing. – Oliver Wendell Holmes

Image: www.ficomaulana.com

Continue Reading

‘n Helse Definisie

Ek sit nou die dag, tydens ons onderwyskongres, oopmond na Braam Malherbe en luister.

Die man is amper so aan die gang soos daai batteryhasie wat net nie tot rus wil kom nie!

Dié dag kry ek  baie stof tot nadenke, maar die een gedagte wat regtig my senuweepunte laat kortsluit, is die volgende:

A wonderful definition of Hell: Arriving at the end of your life and meeting the person you could have been

Whoa! Stop die lorrie!

Wat ’n skok en ontnugtering moet dít nie wees nie!

Veral as jy onder die indruk verkeer dat jy ’n ietwat oraait lewe gelei het.

Dit moet die toppunt van vertwyfeling wees om te besef dat jy soveel meer kon gewees het!

En om dan elke dag en elke oomblik te moet dink aan al die geleenthede wat jy deur jou vingers laat glip het.

Dalk erger nog; om te weet dat net jy hiervoor verantwoordelik is.

Ek dink ek verstaan nou waarom Braam so aan die gang is …

 

My philosophy is that not only are you responsible for your life, but doing the best at this moment puts you in the best place for the next moment. – Oprah Winfrey

If you are going through hell, keep going. – Winston Churchill

I long to accomplish a great and noble task, but it is my chief duty to accomplish small tasks as if they were great and noble. – Helen Keller

 

Continue Reading

Eina, my China!

 
 

Op die Groot Muur!

Ek is een van daardie mense wat China-betotteld is.

Hierdie betotteldheid het die dag toe ek my voete op die Groot Muur gesit het, begin.  Daai dag het China my vasgegryp.

En ’n snaakse soort vasgryp is dit, want aan die een kant wil jy jou verwonder aan China se grootsheid en vernuf, maar terselfdertyd gly daar ’n koue rilling vir sy geheimsinnige andersheid teen jou ruggraat af.

China het dieselfde effek op my as wat ’n disko op ’n non het; dit maak my opgewonde, maar tog ietwat senuweeagtig!

Niemand lig vandag meer ’n wenkbrou oor Made in China nie, want die kenners voorspel mos dat China binnekort die belangrikste moondheid in die wêreld gaan word.  En as jy iets goedkoop gedoen wil hê, moenie verder as die Chinese soek nie.

Nêrens word China se fenomenale konstruksievernuf beter ten toon gestel as met die Groot Muur nie. Die omvang daarvan besef jy eers as jy op die muur staan en dit soos ‘n figuurlike draak oor die verafgeleë heuweltoppe verdwyn.

China se Groot Muur is die langste mensgemaakte struktuur in die wêreld. Ongeveer 3 460 kilometer lank. Daar word beweer dat as al die stene in die Groot Muur gebruik word om ’n ander muur te bou, dit die aarde by die ewenaar sal kan omsirkel met ’n muur wat ’n meter dik en 1.5 meter hoog is! Gedurende die Ming dinastie (1368-1644) is ongeveer 90% van China se bevolking gedwing om aan die muur te werk. Volgens skatting het een van hierdie onwillige bouers vir elke meter van die konstruksie daarvan gesterf!

Maar as jy dieper as die Groot Muur en verby die heerlike Dim Sum kyk, besef jy wat daardie senuweeagtigheid in jou aan die gang hou. 

Dit is nie net Tiananmen Plein en voorsitter Mao se groot portret wat jou ongemaklik laat voel nie. Ook China se uiters kontroversiële een-kind-beleid, wat baie streng deur die staat toegepas word, laat jou nekhare orent staan.

Die Chinese regering verwys na hierdie beleid, wat stedelike paartjies tot slegs een kind beperk, as ’n gesinsbeplanningsbeleid.

Daar bestaan wel ’n klompie uitsonderings soos byvoorbeeld vir paartjies in die platteland wat die vergunning kry om as die eerste kind nie ’n seun is nie, nog ’n kind te mag hê. Voorstanders van dié beleid meen dit is ’n stap in die regte rigting, want die aarde (en veral China) het reeds te veel mense om ’n volhoubare bestaan te verseker.

Die ander kant van hierdie argument lyk egter nie so rooskleurig nie.

Die probleem met die een-kind-beleid lê nie nie in die toegelate aantal kinders nie. Die kwessie is die gedwonge toepassing van dié geboortebeperkingsmaatreëls deur die staat. Of ouers nou toegelaat word om een of twee kinders te hê, dit bly ‘n skending van basiese menseregte om ‘n vrou  teen haar sin ‘n aborsie te laat ondergaan of om haar te laat steriliseer.

Katie Melua sing there are nine million bicycles in Beijing, that’s a fact … Maar terwyl ek my aan die muur verwonder het, was ek salig onbewus van die volgende:

  • Chinese statistiek toon dat daar elke jaar 13 miljoen aborsies in die land gedoen word. Gemiddeld 35 000 elke dag! 
  • Gedurende die jaar 2000 was meer as helfte van alle aborsies in China as gevolg van geslagskeuse.
  • Swaar boetes word opgelê vir die oortreding van die een-kind-beleid.
  • 500 Vrouens pleeg elke dag in China selfmoord. 
  • China is die enigste land in die wêreld waar meer vrouens as mans selfmoord pleeg. 

Skielik voel my volgende tree op die muur asof ek op iemand se graf trap. Op iemand wat, as gevolg van onmenslike beleide, nie hier sal kan staan nie. Dit voel of ek regtig op AVBOB se stoep speel …

Made in China?

Jy laat my lag!

Eerder ‘n grynslag …

  

All of us have to recognise that we owe our children more than we have been giving them. – Hillary Clinton

How can happiness feel so wrong? How can misery feel so sweet? – Katie Melua (The Closest Thing to Crazy)

The real struggle for us is for the citizen to cease of be the property of the state. – Adam Michnik

 Lees gerus die volgende:   A Heart of Freedom – Chai Lee

                                        The Great Run – Braam Malherbe

 Gaan kry meer info by:   www.womansrightswithoutfrontiers.org

                                     www.allgirlsallowed.org

 

Continue Reading

Tequila en Jeugdag

Tiergarnale met Tequila

Noudat daar sprake is dat ons vakansiedae dalk gaan minder word, het Braaitang en ek gedink ons moet Jeugdag sinvol aanwend. Wie weet; dit mag dalk die laaste een wees?

Ons beskeie bydrae tot die feesdag sou ’n nuwe (OK, niks is ooit nuut in kosmaak nie en daarom sommer dadelik ons erkenning aan almal wat dalk al so iets gemaak het) reseppie wees.

En omdat onse president ons op dié groot dag in Mexiko verteenwoordig, het ons gevoel ’n mexikaanse geurtjie sal gepas wees. Vandaar die uitreik na die bottel met die wurmpie op die bodem. So in solidariteit met onse prez.

Omdat almal vir die vale ontbeen en vlek, het ons besluit om iets anders te doen.  Tequila was reeds die hoofrolspeler, maar wat sou saam met dit op die braai werk? Slotsom: prawns! Vir die taalpuriste: garnale.

Nie daai pieperige, pienk goetertjies wat jy in ’n seekosmengsel kry nie. Die egte, regte tiere van die see.

Nou hoe gemaak met die tequila en die garnale? Volg hierdie reseppie stap vir stap en ons belowe jou jy sing voor jy jou kom kry Seeman beter as oorlede Gé Korsten.

Jy benodig:

  • 1 Pak tiergarnale (± 25)
  • ½ Koppie olyfolie
  • ¼ Koppie Tequilla (of dalk ’n bietjie meer…)
  • 1 Rooi ui (Fyn gekap)
  • 2 Knoffelhuisies (Gekap)
  • 1 Rissie (of meer na smaak)
  • 2 Teelepels komyn
  • Sout en Peper na smaak

Maak nou so:

  • Voeg al die bestanddele, behalwe die olyfolie, saam.
  • Gooi nou die olyfolie stadig by die eerste mengsel en roer.
  • Plaas die garnale in ’n houer of groot plastieksak. As jy die sakopsie kies, wees versigtig om die garnale met die omdraaislag nie te breek nie.  Sagte handjies word benodig!
  • Gooi marinade oor die garnale. Maak seker dat almal met die marinade bedek word.
  • Bedek met kleefplastiek (as nie in sak nie) en marineer vir ten minste 4 ure in die yskas. Draai so elke uur om vir ‘n egalige bedekking van die marinade.
  • Braai oor matige kole tot die garnale ’n pienkerige kleur kry (so tusen 6 en 10 minute afhangende van jou hitte en die hoogte bo die kole). Moenie die garnale te lank braai nie, want dan kan jy net so wel die rekke op jou seun se kettie eet!

So ja, sit nou terug.  Gooi gister se koerant oop vir die doppe en los die servette, want jy gaan sommer jou vingers skoon lek.

Kom, skink nóg ’n enetjie, want ek sien daar’s suurlemoen en sout op die tafel oor.

Guadalajara!

Op die jeug van Suid-Afrika!

 

Computers have enabled people to make more mistakes faster than almost any invention in history, with the possible exception of tequila and hand guns. – Mitch Ratcliffe

When life hands you lemons – break out the tequila and salt. – Unknown

Now tequila may be the favoured beverage of outlaws but that doesn’t mean it gives them preferential treatment. In fact, tequila probably has betrayed as many outlaws as has the central nervous system and dissatisfied wives. Tequila, scorpion honey, harsh dew of the doglands, essence of Aztec, crema de cacti; tequila, oily and thermal like the sun in solution; tequila, liquid geometry of passion; Tequila, the buzzard god who copulates in midair with the ascending souls of dying virgins; tequila, firebug in the house of good taste; O tequila, savage water of sorcery, what confusion and mischief your sly, rebellious drops do generate! – Tom Robbins

 

Continue Reading

Lekker op die plaas!

 

Beyers en die krewe van Vermont

Dit moes darem seker lekker gewees het om op só ’n plaas te kon grootword?

Mense maak baie keer hierdie opmerking as hulle hoor dat ek en Beyers broers is.  Min wetend dat die plaas waarop ons grootgeword het, ’n agterplaas in Kaapstad was!  Bygesê, ’n grote, maar darem nog nie só groot dat ’n mens dit ’n plaas kon noem nie.

Behalwe dat Beyers, vir ’n stadsjapie ’n merkwaardige pad in die Suid-Afrikaanse wynbedryf geloop het, is hy ook ’n besondere mens.  Ek hoor al hoe sê jy dis maklik om so te sê, want hy is jou broer!  Wat kan jy nou eintlik anders sê?

Maar Beyers is nie net ’n wynmaker nie.  En dis ook nie van sy wynmaakvaardighede wat ek wil vertel nie; dit kan jy op ander plekke van gaan lees.  Hy is ook politikus, kerkmens, kosmaker, geselser en ’n mens-mens.  En dit is oor sy  omgee vir mense wat ek wil vertel.

Behalwe vir sy omgee vir elke mens, is dit veral die lot van die mense op Stellenbosch se plase wat hom naby aan die hart lê.  Dit was dan ook om onder andere na hulle belange om te sien dat hy figuurlik gesproke op ’n trekker, met die leuse Stem Trekker en maak die plaaslewe lekker, die plaaslike politiek binnegery het. 

Seer sekerlik een van die uitdagendste probleme wat die wyndistrikte in die gesig staar, is fetale alkoholsindroom.  Baie van die gesinne in die wynland word deur alkoholmisbruik geraak; waarvan fetale alkoholsindroom slegs een aspek is.

Die meeste swanger vroue wat hulle aan alkoholmisbruik skuldig maak, besef nie eens die skade wat hulle aan hul ongebore kind aanrig nie.  Hulle het in die meeste gevalle geen, of die verkeerde, voorligting rakende alkohol en swangerskap ontvang.

Die hartseer van verstandelike vertraging en geboortedefekte as gevolg van fetale alkoholsindroom het by Beyers gespook om iets aan hierdie saak te probeer doen.

Hy stig dan ’n paar jaar terug as ’n nie-winsgewende artikel 21 maatskappy die Beyers Truter Fetale Alkoholsindroom Hulpfonds.  Saam met prominente Suid-Afrikaners soos Chester Williams en Mbhazima Shilowa het hulle net een doel voor oë – om fetale alkoholsindroom vir eens en altyd op sy plek te sit.  Deur middel van die Fonds hoop hy dat hulle genoeg fondse sal genereer om programme te implementeer wat hierdie probleem effektief sal kan aanspreek.

Klik op die Faith-ikoon regs van hierdie blog as jy meer van die Faith Fund wil weet. Of as jy voel jy wil ’n bydrae vir hierdie goeie saak maak.

Pinotage-koning; eerder dienaar.  Nie op ’n troon nie,  maar plat op die aarde tussen sy mense.

Dis my broer, Beyers.

 

A benefit consists not in that which is done or given, but in the intention of the giver or doer. – Seneca

Beyers is a great speaker; like Peter de Villiers, he doesn’t always make sense but he’s fascinating to listen to! – Koos Kombuis

Everybody can be great…because anybody can serve. You don’t have to have a college degree to serve. You don’t have to make your subject and verb agree to serve. You only need a heart full of grace. A soul generated by love.   – Martin Luther King, Jr.  

All you have shall some day be given; 
Therefore give now, that the season of giving
may be yours and not your inheritors. – Kahil Gibran

  

Continue Reading

Sosiale media laat my kop raas!

Is dit net ek, of voel dit vir my of die lawaai in die wêreld elke dag meer word.

Lank gelede was dit net die nuus op die radio of die koerant wat my kon ontstel. Nou word ek elke oomblik van die dag met inligting gekonfronteer wat my senuweepunte laat kriewel. Van alle kante en uit alle oorde. Of ek nou wil hoor of nie.

Gemorspos in die posbus. Tele-bemarkers met aanbiedings wat ek nie wil hê nie. Bedelaars by die deur. Massiewe skerms in die winkelsentrums. BBM. SMS. En só kan ek aanhou.

Wat moet ’n mens doen om net weer ’n bietjie stilte te kry?

Of om ’n slag net dit te hoor wat jy wíl hoor?

Die slim ouens sê jy moet eers van alles wat oorbodig of onnodig is, ontslae raak. Weg met alles wat jy die afgelope jaar nie gebruik het nie.  Moenie opgaar nie en les bes my eie raad; raak ontslae van alle natbroeke en moangatte in jou lewe.

Benewens die klompie raserige voorbeelde wat ek genoem het, het ek besef dat sosiale media ook tot die geraas in my lewe bydra. En ek het besluit om iets daaraan te doen.

Ek gaan nie meer mense volg wat probeer kyk hoeveel tweets hulle kan stuur nie! Asof dit ’n kompetisie is! Veral nie as meer as die helfte van die tweets in elk geval gerecycle (retweet) is nie!

Ek gaan ontslae raak van al my FB-vriende wat elke dag hulle papegaai of goudvis se jongste gier en grinne aanstuur.

As dit al is wat jy kan sê, dan is dit nie vir my nie.

Ek wil baie graag van die belangrike dinge in jou lewe weet.  Die oorspronklike en regte jy. Dinge wat jy self uitgedink en ervaar het.

Ek wil nie elke keer weet as jy toilet toe gaan of die lig aanskakel nie. Ook nie dat jy gaan slaap of opstaan nie. Ek verwag dit van jou. Ek like dit om van jou vakansie, jou kinders, kleinkinders en nuwe plekke te hoor, maar Oliver Tambo? Regtig?

Facebook en Twitter, en die res, is seer sekerlik daar om ons lewens te verryk. Beslis nie om nog meer geraas en snert tot ons daaglikse bestaan te voeg nie. Daarvoor het ons in elk geval mos ons politici.

As jy dus waarneem dat jy van my lysie verdwyn het, weet net dit is nie iets persoonlik nie. Ek is steeds baie lief vir jou, maar die geraas maak my doof!

En as ek raas, maak my stil.

Asseblief!

 

Noise proves nothing. Often a hen who has merely laid an egg cackles as if she laid an asteroid. – Mark Twain

When the river is deepest it makes least noise. – Proverb

Ten persons who speak make more noise than ten thousand who are silent – Napoleon Bonaparte

 

Image: FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Daar’s ‘n Turk in my badwater!

 
 
 

My badplek in Istanbul

Het jy al van ’n Hamam gehoor?

Nog nie? En nee, jy kan dit beslis nie met ’n mes en vurk eet nie! Dit is ook nie ’n mediese kondisie of ‘n danspassie nie.

’n Hamam is ’n Turkse bad!

Amper ‘n kruising tussen ’n sauna en ’n massage.

Tydens my vorige besoeke aan Turkye het ek nog nooit by die neem van ’n Hamam gekom nie. Deels omdat daar te baie was om te sien, en die tyd min, maar ook omdat ek ’n bietjie skrikkerig was.

Daarom was dit hierdie keer heel bo aan my lysie.  Ek het opgelees en uitgevra en uiteindelik was ek gereed om daai dunnerige handdoekie, ‘n pestamal, om my lende te vou.

By hierdie delikate stap in die voorbereidingsproses het ’n mens ’n keuse.  Jy kan ’n swembroek of iets anders onder die handdoek aan hou, of jy maak soos ’n ware Turk dit doen. Au naturel. En wie is ek nou om vroom te wees as ons leiers vir ons die voorbeeld stel? Oop ketel – Afrika is leeuwêreld!

Met net die handdoek om verdwyn ek in ’n mistige vertrek, wat glo lank voor Jan van Riebeeck geweet het hy kom Kaap toe, gebou is. Nogal in 1584 deur ’n een of ander Turkse sultan se vrou.

In hierdie saal is daar ’n moewiese groot verhitte marmerblad waarop jy veronderstel is om te gaan lê. Ek kyk rond en wonder waar my hulp vandaan gaan kom, maar al wat ek sien, is manne met sulke groot oë. Nóg vreemdelinge in Istanbul wat die moed bymekaar geskraap het om te kom bad!

Uiteindelik maak ek maar soos almal om my en strek my op die warm klip uit.  En ek begin te sweet. Nie normale sweet nie. Letterlik soos die uitdrukkig sê, jy sweet op plekke wat jy nie eens geweet het jy het nie!

Toe ek net soos ’n droë vrug wil begin voel, verskyn daar uit die mis ’n besnorde Turk lang my. Ook met ’n handdoekie om. Nou worrie ek nie meer oor die bo bly van my ou doekie nie. Ek hou nou Evel Knievel sin dop, want as daai doekie val, is ek in die verkeerde plek!

Gelukkig by dit bo en hy beduie ek moet nader skuif. Hier tot op die rant, want hy wil my nou begin bad. Voor ek ’n geluid kon maak, kry hy my beet en keer ’n paar gellings water oor my uit! En net voor ek kan verdrink, gryp hy iets wat soos ’n kussingsloop lyk en druk dié in ‘n emmer langs hom. Die sloop verskyn wonderbaarlik soos ’n seepballon bo jou kop en met een vernuftige trek van sy hand word ’n bolling seep oor jou uitgegiet.

Ek wou nog vra of hy dalk seep kan gebruik wat nie my oë sal brand nie, toe begin ou Snorre my al skrop. Letterlik van kop tot toon. Al wat nie deurloop nie, is my presidensiële plekke. Dié verneem ek genadiglik moet jy self verf, ek bedoel skrop.

Hierna volg nog emmers water en uiteindelik kan ek weer sien. Die Turkse weergawe van Magnum PI druk my weer op die marmer plat en verduidelik met handgebare en drie woorde Engels dat ek moet lê. Nog tien minute en dan kan ek gaan stort. En dan volg sy ander drie Engelse woorde: Then you tip!

Na my stort dog ek die ondervinding is verby en ek kry so ’n amperse verligting oor my. Daardie vermakerige gevoel as jy iets waaghalsig gedoen en reggekry het. Maar net voor ek whê kan sê, keer ’n ander seun van ’n sultan my voor en beduie dat ek moet terug na die warm kamer.

Regtig? vra ek. Regtig, sê hy in Turks en daar lê ek weer op die marmer.

Ek begin nou wonder hoe kom ’n mens hier uit?

Later begin ek my oorgee aan die warmte en kom ek agter ek sweet nie meer nie. Dit is wat die Turk wou hê. Ek begin die affêre nou verstaan. My spiere ontspan en ek gee my aan die wonder van die hamam oor.

Waarom jaag ons alles so af? Hierdie Turke het beslis iets beet.

Ek begin visioene sien. Turkse sultans en hul harems wat dae lank bad. Cleopatra en haar bad vol melk. Dalk moet ek ook so iets in Bellville begin?

Bou my braaiplek toe. Koop nog ’n ketelbraai en sit ’n stuk marmer bo-op. Snorre (Div) is hoeka sonder werk en met ’n handdoekie om kan hy maklik vir die ware Jakob deurgaan…

’n Koue emmer water tref my tussen die blaaie en my visioene verdamp saam met Snorre by die koepel van die hamam uit.

Dit is weer Magnum PI.

You finish. When you tip? 

En tot my skok besef ek dat die Wet van Transvaal selfs so ver soos hier in Turkye geld!

If the poor overweight jogger only knew how far he had to run to work off the calories in a crust of bread, he might find it better in terms of pond per mile to go to a massage parlor. – Christiaan Barnard

Don’t call the world dirty because you forgot to clean your glasses. – Aaron Hill

A pint of sweat will save a gallon of blood. – George s. Patton

Continue Reading

Wie gaan voor sit?

Ek wonder of daar op die ark ook ‘n besigheidsklas was?

Of Noag en sy gesin die diere bedien het en of daar ’n keuse tussen chicken en beef was? En of die ete wat jy uiteindelik kies, ook altyd, na jy hoe lank oor jou keuse getob het, nie beskikbaar was nie?

Natuurlik sou daar nie ’n chicken-of-beef-keuse gewees het nie, want ek is seker dit sou die diere uiters senuweeagtig gemaak het.  Jy was nooit seker wanneer jou status van passasier na spyskaartinskrywing kon verander nie!

Hierdie tipe vrae hou my op ’n onlangse vlug na Istanbul wakker. Eintlik dink ek dit was my brein se poging om my nie aan my deurgesitte boude te laat dink nie!

Die sneller vir dié vrae was sonder twyfel die lugwaardin wat die gordyn tussen ons en die uitverkorenes in besigheidsklas toegepluk het. Leedvermakerig! So asof ons aan hierdie kant van die gordyn iets onder lede het.

Waarom is mense so behep met hiërargie? Klasse, range, apartheid, posisies en dies meer.

Besigheidsklas mag kom rondstaan tussen die gepeupel, maar waag dit net om jou neus agter daardie gordyn te gaan indruk!  Alle hel in die lugruim daal op jou neer.

Maar wat darem troos, is dat ek weet dat daar eendag geen onderskeid gaan wees nie. Ons gaan almal dieselfde vlug na die ewigheid moet haal.

En soos ek verstaan, is daar nie ’n keuse van watter klas jy wil vlieg nie.

Almal sit aan dieselfde kant van die gordyn!

 

Wil jy vreet, of wil jy vlieg? – Hendrik Schoeman

Things turn out the best for people who make the best of the way things turn out. – John Wooden

Funny, isn’t it? The airlines go to all that trouble to keep you from taking a gun on board, then they just hand you a dinner roll you could kill a musk ox with. – Dave Barry

Image: FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading