Verlede week was ek die amptelike meet and greeter vir ’n funksie.
Omdat daar uitstallers en onderwysers teenwoordig was, moes ek uitvind wie is wie. En omdat my instink na jare in die tuig nog redelik akkuraat is (of so het ek gedink), kon ek die onderwysers met min moeite identifiseer.
Met die oorgrote meerderheid was my voorgevoel in die kol, maar ’n paar keer het ek die toets liederlik gedop!
Om te sien of my vermoede reg is, het ek dan aan hulle gevra of hulle onderwysers is.
Die meeste het die vraag positief beantwoord en sommer vrywilliglik bygevoeg watter skool hulle verteenwoordig.
Maar drie keer was die antwoord : Ek is die hoof! (Menende die skoolhoof.)
Jammer Meneer/Mevrou! Ek is ontsettend jammer dat ek nie u titel kon raaksien nie!
Allemagtig! Wat is dit met sommige mense en titels?
Van wanneer is skoolhoofde dan nie meer onderwysers nie? Of is, om nét ’n onderwyser te wees, benede dié uitverkore betiteldes?
Sondagaand, tydens die US Woordfees, luister ons na Koos van der Merwe en hy sing Bob Dylan:
Mama, take this badge off of me
I can’t use it anymore
It’s gettin’ dark, too dark to see
I feel I’m knockin’ on heaven’s door.
En ek besef; dit is nét heavens door wat die badge van sommige mense sal kan stroop.
Sela.
I don’t want to be a VIP. I want to be a LIP, a Less Important Person. – Mamata Banerjee
I can’t help feeling that I am not a very important person, and being treated like one gives me strange feelings. – Sally Rooney
I didn’t wake up one morning and become some important person. – Linda Sarsour