Tag Archives | Stoney Steenkamp

Climb out affirmatively!

Ek kom in om te land!

Felix Baumgartner se epiese valskermsprong  het my laat dink aan die dag toe ek ook uit ’n vliegtuig gespring het. Weliswaar nou nie soos hy van 39 km bo die aarde nie, al het dit so gevoel!

Ook heel teen my vriend Stoney se wyse raad in, want volgens hom spring net mal mense uit vliegtuie wat meganies in ’n werkende toestand is!

Waar en wanneer hierdie idee om te gaan valskermspring gebore is, kan ek nie meer presies onthou nie. Ek vermoed dit was gedurende die onderste helfte van ’n bottel rooiwyn.

Laat die valskermspringedagte nou maar ontstaan het waar dit wil, die personeel van Hoërskool DF Malan het besluit om op te hou praat en iets te doen. ’n Tipe spanbou-oefening, maar ons wou ook vir almal in Suid-Afrika wys dat ons so sterk in ons roeping glo, dat ons iets buite die normale sou doen. Ons spreuk vir die betrokke jaar was dan ook nie verniet dis nou die tyd vir gewone mense om buitengewone dinge te doen, nie.

Maar om ‘n lang storie kort te hou; ons is op die ou einde 18 wat gaan spring. Die res van die personeel vorm die ondersteunende grondspan (sekerlik tot party se diepe dankbaarheid) wat die springers aanmoedig, ondersteun en op die grond inwag.

Die springery kos baie geld, maar ons kry borge vir hierdie poging wat ons Borg ’n onnie oppad onder toe doop! Met almal geborg, trek ons senuweeagtig op na Stellenbosch vir twee dae se opleiding. Ja, jy het reg gelees. Twee dae. Eintlik net ‘n aand en oggend. Dis glo net parabats wat ses maande opleiding ontvang! Nie ons nie! Die instrukteurs het sommer dadelik gesien ons kán spring!

Tydens al dié baie opleiding, vertel ons instrukteur dat as jy nou uiteindelik daar bo uit die vliegtuig klim, dan moet jy climb out affirmatively!

Eers dog ek ek hoor nie mooi nie, maar toe hy dit vir ’n tweede keer sê, toe wonder ek of die ANC nou al wragtag ook die valskermspringbesigheid oorgeneem het?

Watse ge-affirmatively uitklim is dit? Daar is genoeg daarvan in my elke dag se lewe!

Ek sou later verstaan wat hy presies bedoel het met climb out affirmatively.  Eers toe ek my voet by die gat in die vliegtuig se romp probeer uitsteek om te spring, toe maak sy affirmatively sin.

Met my eerste probeerslag om uit te klim, waai die wind my voet terug tot in die vliegtuig! En ek besef dadelik dat jy hier nie versigtig kan uitklim nie, want dan gaan jy nooit jou voet op daardie wiel kry nie. Al lyk dit vir jou of daar niks is waarin jy trap nie, moet jy nogtans daardie tree met mening gee. Amper asof jy besig is om ’n duin in die Namib te klim.

En met ’n tweede trap, waarmee ek ’n deur sou kon oopskop, slaag ek om uit die vliegtuig te kom.

You must climb out affirmatively!

Is dit nie ook maar dieselfde met baie dinge in die lewe nie?

As jy iets wil bereik, dan kan jy nie halfhartig daarmee omgaan nie. Jy kan nie maak asof jy probeer nie. Jy moet dit voluit doen, of anders gaan jou poging weer terug waai tot daar waar jy weifelend daarmee begin het.

Of ons toe almal veilig terug aarde toe gekom het? Ja, sonder enige  pyne en skete. Niemand het ’n been gebreek of selfs ’n spier verrek nie.

Mense het my al baie gevra of die DF-personeel daarna die Cobra in Ratanga gery het? 

Ietwat van ‘n swak vraag; parabats hou hulle nie besig met speelgoed nie!

 

The moment you doubt whether you can fly, you cease for ever to be able to do it. – JM Barrie

Sometimes you have to be really high to see how small you really are. Felix Baumgartner

We must overcome the notion that we must be regular… it robs you of the chance to be extraordinary and leads you to the mediocre. – Uta Hagan

Foto: Tyger-Burger 11 Maart 1998

Continue Reading

Op wieke van die wind

 

My goeie vriend, Stoney Steenkamp van Bredasdorp,  is hierdie week die gasskrywer op P&J. Stoney is ’n professionele pensioenaris en ’n rolmodel van hoe jy na jou dagwerk moet leef! Hoekom wil mens nou op `n motorfiets die land deurkruis?

Die antwoord is eenvoudig; as jy dit nog nooit gedoen het nie, sal jy nooit weet hoe lekker dit is nie.  Daardie gevoel van vryheid, die reuk van die veld, die wind wat aan jou pluk en dan natuurlik die avontuurlus wat dit in `n mens wakker maak, is onbeskryflik.

Ek wou eerstehands hierdie gevoel van vryheid, waarvan so baie gepraat word, ervaar.  En so begin my eerste grondpadtoer saam met twee goeie vriende.

Om vir `n paar dae met `n motorfiets te toer, veral in eensame gebiede, moet jy anders kan dink en daarvolgens kan beplan.  Jy moet groot dink, maar klein en min pak, want sien die spasie op `n motorfiets is mos maar min. 

So begin die items wat moet saam gestalte kry: `n klein 1-mantentjie, `n klein slaapsakkie, braairoostertjie, gasstofie en net die nodige klere.  As jy al die klein items bymekaar het, dan moet jy weer prioritiseer, want nog steeds kan alles nie saamgaan nie.

Ek vertrek die Maandagoggend vroeg vanaf Bredasdorp, onderskep die R62 kort duskant Barrydale en ontmoet my reisgenote op Oudtshoorn.  Hiervandaan is die beplanning oor die Swartberge, dan af in Gamkapoort (Die Hel), terug oor Prins Albert, Merweville, Fraserburg, Sutherland, Middelpos, Calvinia, met die Calvinia Ceres Karoopad (skynbaar die langste stuk reguit grondpad) tot in Clanwilliam.  Hiervandaan deur die Cederberge, in `n suidelike rigting deur die Koue Bokkeveld om die Klein Karoo weer by Montagu binne te kom. 

By Oudtshoorn word my motorfiets amper koorsagtig met onderdele (voetrus/pedale), wat skynbaar nie breed genoeg is vir die doel nie, gemodifiseer.  My tegniese vriend doen die werkie in `n japtrap en nadat ons weer voorraadopname gedoen het, vertrek ons via die Swarbergpas, om sowat een uur later te begin afsak in die Hel in. 

Ek het nooit kon dink dat ek ooit dié gevaarlike pas met `n motorfiets sou aandurf nie.  Wat `n belewenis was dit nie! Om telkemale stil te hou en net die omgewing in te asem, was ongelooflik. 

Ons oornag in die wilderniskampgebied en durf (versigtig) weer die pas aan; hierdie keer in Prins Abert se rigting.  Hier vul ons brandstof aan en vertrek na Fraserburg oor Merweville.  Die grondpaaie hier is in `n goeie toestand en ons kan redelik vinnig vorder om dan juis die heel lekkerste van so `n avontuur te kan beleef; die stilhou in die middel van nêrens om die grootheid van hierdie pragtige deel van ons land te kan inneem.  Die oneindige horisonne, silhoeëtte van berge in die vertes, windpompe wat onverstoord draai, plaasdamme en alles wat sinoniem kan wees met die Karoo. 

Ons reis vorder gedurende die volgende vyf dae en elke dag word my gees versterk met die eenvoudige  maar tog  die mees vervulde ervaringe; om saam met goeie vriende te reis, om sommer net oor die klein dingetjies liries te raak. Om uitbundig te lag en die prag en praal van die Karoo te kan beleef. 

Ons stop op afgeleë plekkies en swem in plaasdamme, ontmoet die mees fantastiese mense, wat met groot dankbaarheid leef en met min tevrede is.  In die aande word tent opgeslaan, vuurgemaak en sterre gekyk.  Waar in die wêreld kan die naghemel mooier lyk as in die Karoo.  Dis dan wat ek onwillekeurig dink aan die gedig en gebed van `n goeie vriend:

Onse Hemelse Vader.

Wees my genadig en bring u Koningkryk nader.

Help my om te glo en te aanvaar,

te besef alles is nie aan die mens geopenbaar.

Laat my weer word soos `n onskuldige kind,

laat my twyfel verdwyn op wieke van die wind.

So eindig `n fantastiese motorfietstoer.  Sal ek dit weer wil doen?

Beslis!  Die volgende toer word reeds beplan!  

Ons dink groot: om die sirkel om die Groot Karoo nog wyer te trek, om met minder klein goedjies oor die weg te kom en om die skoonheid van ons land en die genade van God, soos die sterre van die Karoo nog helderder te ervaar.

Let us so live that when we come to die even the undertaker will be sorry. – Mark Twain     

Wat my betref, reis ek nie om na enige plek te gaan nie, maar om te gaan. Ek reis om te reis. Die groot ding is om te beweeg. – Robert Louis Stevenson

One who does not travel will not know the value of men. – Moroccan proverb

 

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

Stoney en sy ysterperd(e)

  

Continue Reading