Beyers vertel nou die dag dié storie en ek besef dadelik dit sal ‘n goeie tema vir ’n skoolhoof se saalperiode wees. Maar ook ’n baie gepaste post hier net voor Paasfees.
In die Bybel word daar baie na druiwe, wyn en of die wingerdstok verwys. Party bronne beweer tot so veel as 200 keer!
Die wyn waarvan daar in die Bybel gepraat word, is gewoonlik met water verdun en die wynmaakproses was nie so wetenskaplik soos ons dit vandag ken nie. Die druiwe is gepars en die sap is dan deur lappe gefiltreer. Om dit te bewaar, is dit in kleipotte of leersakke gestoor.
Wat egter vir die proses van wynmaak belangrik is, is die feit dat die druiwekorrel gebreek moet word sodat die sap kan uitkom. Die selletjies breek of bars en stel dan die kleur en geur van die druif vry.
Om die soet sap in droë wyn te verander, is ‘n gistingsproses nodig wat weer op sy beurt die suiker in alkohol omskakel. Behalwe vir die omskakel na alkohol, maak die gisting alles in die sap skoon. Dit reinig en suiwer.
Om ’n vonkelwyn te kry, word ’n basiswyn gemaak en daarna word dit nog ’n keer in ’n tenk of in die bottel gegis om die koolsuurgas te ontwikkel wat die bruisende borreltjies in die vonkelwyn vorm.
Nou waarom dié lang storie oor vonkelwyn?
Die analogie behoort voor die hand liggend te wees, want ons as gelowiges is net soos wyn.
Ons moet ook eers gebreek word om die sap en die kleur in ons te laat uitkom. By baie van ons stop die proses daar en ons vorder nie verder as ‘n druiwesapgeloof nie. Soet en lekker, maar sonder werklike substansie.
Ander weer gaan deur een gistingsproses en vorder tot ’n basiswyngeloof. Drinkbaar en verouder mooi met tyd.
Die gelukkiges onder ons kry die voorreg om twee keer gesuiwer of gelouter te word. Dit is in die meeste gevalle nie lekker nie en dit gaan gepaard met jeremiades en tonne betwyfeling. Maar as jy dit oorleef, dan is die borrels daar! Dan is die vonkelwyngeloof daar. Gereed om die prop te laat skiet en uit te jubbel dat ons Verlosser leef!
Om só te kan leef dat ander te alle tye die borrels in jou lewe sien en om saam te bid dat die Here ons daagliks soos vonkelwyn skoon sal maak – nie een keer nie, maar twee!
Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. – Johannes 15:1
Eat the bread with joy and
drink the wine with a merry heart. – Ecclesiastes 9
Men are like wine – some turn to vinegar, but the best improve with age. – Pope John XXIII, 1881-1963
Image: Indra Harsaputra