Tag Archives | Moer

Die Genetika van Moer Toe.

Alles het versorging nodig!

Ek besef nou die dag, terwyl ek met ’n groep oor hoe om by die maan uit te kom  praat, dat ek eintlik nooit die ander rigting bespreek nie.  So alsof almal weet hoe moer toe gebeur.

Daarom wil ek vandag so ’n bietjie oor die ander rigting van maan toe, naamlik moer toe, gesels.

Nou hoe gebeur dit? Die moer-toe-ding.

Eerstens: Dit gebeur net!  

Jy staan een oggend op en bekyk jouself in die spieël en tot jou skok besef jy dít hét gebeur. Jy ís moer toe!

En dan begin wonder jy wanneer en wat het dan gebeur dat jy só agteruit geboer het.  Miskien is die verval in die eens trotse borskas wat nou ’n hangkas is, of nog erger… Jou gemoed en gedagtes het meer potholes as ’n pad in Noordwes Provinsie!

Sonder dat ons dit besef, laat ons almal toe dat dinge en goeters verval.  Of dit nou die geute van jou huis is of die spiere in jou lyf, almal het onderhoud en versorging nodig.  Niks bly dieselfde of in dieselfde topkondisie nie!  As jy nie daarna kyk nie, sál dit uitmekaar begin val.

Tweedens: Skaarsheid teenoor oorvloed.  

Stephen Covey praat van die abundance mentality.  As jy eers begin glo daar is nie meer genoeg vir jou oor nie, dan moet jy weet jy is volstoom op pad moer toe! 

As jy net versamel, bymekaar maak en opgaar vir die verbeelde ramp en hongersnood wat kom, het jy reeds die grens na moer-toe-land oorgesteek. Jou paspoort is gestempel en jy kan maar net so wel om burgerskap aansoek doen!

Maar as jy besef jou taak is om weg te gee, want daar is oorgenoeg vir ieder en ’n elk om ’n bestaan te maak… dan is jy beslis op pad maan toe.

Dan verstaan jy die wêreld het oorgenoeg go-getters, maar beslis nie genoeg go-givers nie!

Derdens: Die mense en dinge wat jou beïnvloed. 

Kom ons noem hulle sommer net jou beïnvloeders, want dit is hulle wat jou die rigting van moer toe aandui. Wat ontstellend van hierdie beïvloeders is; hulle is die mense en dinge naaste aan jou.  

Soms besef jy met ’n skok jy gebruik dieselfde woord as jou beste vriendin! Die regering is só hopeloos en die onderwysers by die skool is net totaal useless! En daar is tog nie hoop vir ons kinders nie, maar dit is nou seker te laat om die land te verlaat.

Wat jy net nie besef nie, is dat jy dié land al lank al verlaat het! Nie in die vlees nie, maar in die gees. Jy is nou ’n burger van die Republiek van Moer Toe!

Maar dit is egter ook die nuus wat jy kyk en die artikels wat jy lees.  Dit is die TV-programme wat jy kyk. En al dié word later die stories wat jy glo… En meer nog; jou besittings wat jou hele bestaan definieer!

En dit alles, word jy!

Moer toe!

 

The most basic human impulse is towards entropy and laziness. The less we have to do to grow spiritually, the more likely we are to do it. – Alexandra Fuller

An abundance mentality springs from internal security, not from external rankings, comparisons, opinions, possessions, or associations. – Stephen Covey

The people you surround yourself with influence your behaviours, so choose friends who have healthy habits. – Dan Buettner

 

 

Continue Reading

Twee moerse stories

As jy sensitief is vir die woord moer, moet asseblief nie verder lees nie!

Pieter van Jaarsveld vertel nou die dag van die juffrou wat by die skool vir dowes op Worcester skool gehou het.

Op een goeie dag moes sy ’n groep kinders Kaap te vergesel vir die een of ander funksie. Maar omdat sy eers vinnig iets in die Paarl moes gaan optel, besluit sy om met haar eie kar te ry.

Die eerste deel van die rit ry sy agter die bus en hou dop dat niks verkeerd loop nie. Maar in die pas (nog voor die tyd van die tonnel) besef sy dat sy moet opskud as sy nog in die Paarl wil aangaan en nie na die bus in die Kaap wil aankom nie.

Sy besluit om die bus verby te gaan, maar die wat die pas goed ken, weet dit is makliker gedink as gedoen. Na vele probeerslae, en ten aanskoue van die kinders in die bus, besluit sy dis nou of nooit. Sy pluk haar 1200 Datsun agter die bus uit en begin verby steek.

Halfpad verby, verskyn ’n lorrie uit die mis en sy besef hier kom groot fout. Sy trap die petrolpedaal plat teen die vloer en loer uit die hoek van haar oog waar die bus hom bevind. Wat sy sien is egter nie net die bus nie, maar ook een van die kinders wat vervaard besig is om ’n gebaar, wat soos iemand wat besig is om ‘n gaskraan oop en toe te draai, te maak. So ’n wilde draai na links en dan terug na regs, na links en dan weer na regs.

Met die bestiering van Bo en haar eie vernuf, glip sy net betyds voor die bus en die aankomende lorrie in. Verward en natgesweet laat waai sy die berg af. Soos sy tot verhaal kom, begin sy wonder oor die teken wat die kind gewys het. Sy ken gebaretaal goed, maar dié gebaar en sy betekenis is vir haar duister.

In die Kaap aangekom, vra sy die kind wat beteken die gebaar wat hy gemaak het.  Sy ken dit nie

Hy sê: Nee, ju-ju-ju-frou.  Ek w-w-wou ma-maar ne-ne-net sê ju-ju-frou is in ju-ju ju-frou se moer!

In ons Geskiedenisklas in matriek was daar een van die manne wat die onderwyser se geduld uiteindelik tot op die uiterste gerek het. Die gesprek het min of meer soos volg verloop:

Onderwyser: Lourens, kan jy vlieg?

Seun : Nee, meneer.

Onderwyser: Lourens, kan jy kruip?

Seun: Ja, meneer.

Onderwyser: Lourens, kruip dan in jou moer in!

If you can’t laugh at yourself, then who can you laugh at? – Tiger Woods

The one serious conviction that a man should have is that nothing is to be taken too seriously. – Samuel Butler

When angry, count to four; when very angry, swear. – Mark Twain

Foto: John Kasawa/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading