Hierdie post is ‘n opsomming van my aanbieding met dieselfde titel. Mense het al gevra waar hulle ‘n DVD van die aanbieding kan koop (verbeel jou!) of hulle wil dit vir hulle kind/man/bure gaan vertel, maar kan nie alles onthou nie. Hier is dit nou. (Sonder die prentjies) Jammer vir die lank wag.
Wanneer laas het jy na die maan gekyk en gewonder hoe dit sou wees om daarop te kan loop?
Vandat Neil Armstrong en sy makkers hul voete daarop gesit het, is dit of die maan sy magiese aantreklikheid vir baie mense verloor het. Ons was mos al daar! Hoeveel onse is daar in jou pond? vra ek.
Ek loop daagliks mense raak wat net nie meer maan toe wil gaan nie. Nie letterlik of figuurlik nie. Hulle het net nie meer die begeerte om daardie amper onbereikbare iets aan te pak nie. Hulle drome maak hulle ook nie meer bang nie, want ek dink hulle droom nie meer nie! Dalk was hulle al ook dáár …
Daar is ook dié wat sê dat hulle te oud is. Te oud om nog dinge te wil doen. Om nog te droom om by die maan uit te kom. Al is dit net eendag.
Ander sê weer dit is die misdaad en korrupsie in Suid-Afrika wat hulle van die maan weghou. Of dit is die swak elektrisiteitsvoorsiening en die politici wat hulle self ten koste van ons arme drommels verryk, wat in hulle pad maan toe staan.
Maar daar is tog nog baie, ongeag ouderdom, wat sê: vat my maan toe!
Die saak is eintlik heel eenvoudig. Wil jy, of wil jy nie? Maklik. Dit is net ’n simpel keuse. JK Rowling vat dit mooi saam as sy sê: it’s our choices that show what we truly are, far more than our ability. Of in Afrikaans gesê: Maan toe of moer toe!
Vir dié wat kies om nie maan toe te wil gaan nie, die maklike keuse, is dit moer toe. Vir die ander wat die moeiliker keuse maak, is dit maan toe. Sonder enige belofte dat jy wel daar gaan kom. Maar ten minste gaan jy probeer.
En dit is vir hulle wat ek ’n space case gepak het om daar uit te kom.
In hierdie tassie het ek 10 goed gesit wat jy op pad na die maan nodig gaan hê. Ek noem hulle in geen orde van noodsaaklikheid nie en gee ook net ‘n kort beskrywing waarvoor dit gebruik kan word:
1. Kompas: Hierdie apparaat simboliseer visie. Of jy nou maan of winkel toe gaan, jy moet weet hoe jy daar gaan kom en wat jy daar gaan maak. Ook só in die lewe. Hellen Keller sê: The only thing worse than being blind is having sight but no vision.
2. Blikkie Redbull: Passie, passie en nog ‘n keer passie! Jon Bon Jovi het gesê passion, not pedigree will win in the end. En hoe reg is hy nie! As jy die maan wil haal, gaan jy meer as net ‘n teelepel passie nodig hê.
3. ‘n Glas: ’n Mens kan tog nie op jou reis na die maan die heeltyd uit ’n tandepastabuis wil eet nie! Veral nie wyn drink nie! Maar eintlik is die glas net daar om jou, as die reis moeilik raak, te herinner dat jy moet onthou dat jou glas half vol is. Nie half leeg nie. Die glas is die simbool van optimisme. Jy gaan die maan net haal as jy optimisties is.
4. Pakkie Vetkryte: Nie net een nie. Al die kleure van die reënboog! Om maan toe te gaan sal jy soms kreatief moet wees. Om dié rede die kryte. Jy kan nie vir juffrou Rottenmeier van jou graad 1-klas blameer dat sy jou kreatiwiteit opgefoeter het nie. Kreatiwiteit het niks met jou kleinspierkoördinasie, of hoe mooi jy tussen die lyne kan inkleur, te make nie. Dit het alles te doen met hoe uit-die-boks jy kan dink.
5. Skaal: Die skaal is nie net om mee te weeg nie, maar om jou te herinner dat ’n mens balans nodig het om suksesvol te wees. Almal ken die ou spreekwoord all work and no play makes Jack a dull boy, maar baie min pas dit suksesvol in hulle lewe toe. Jy sal baie uitgebrande wrakke op pad maan toe sien.
6. Twitterrekening: As jy die maan wil haal, sal jy al die nuwe tegnologie tot jou beskikking moet gebruik om daar te kom. Van tweet tot Facebook. Daar is nie meer enige verskonings nie. Of gebruik jy nog ’n telraam?
7. Maatband: Meet om te weet! ‘n Ou gesegde, maar baie is te bang om te weet. Jy moet jou reis, en dit waarmee jy besig is, gereeld evalueer. Of jy nou daarvan hou of nie. Dit is die enigste manier om te weet hoe naby of ver jy van die maan is.
8. Supermanbadge: Daar is bewerings dat Superman hom daar iewers in die ruimte bevind en ons wil liefs nie in sy verkeerde boekies beland nie. Daarom die badge. Jy wil wys jy is hom goedgesind en kom in vrede. Maar eintlik is die badge daar om jou te herinner dat jy iets besonders aanpak. Amper so heroïes soos ’n heldedaad van einste Superman. Verbeel jou jy is Superman en jy gaan soos ’n superheld begin optree.
9. Wonderbra: Behalwe dat jy dié kledingstuk as ’n noodwaaierband of masker kan gebruik, is dit eintlik daar vir die ondersteuning! Op jou reis gaan jy ondersteuning van jou medereisigers nodig hê. Let dus mooi op na wie klim saam met jou in die ruimtetuig.
10. Koerant: Koerante het stories. Deesdae nie te opbeurend nie, maar soms kom daar stories soos die van Larry Walters verby. Larry se storie kom sê vir jou dat as jy maan toe wil gaan, sal dit ’n roeping moet wees en nie ’n job nie.
Nou moet jy besluit. Maan toe of …
Jy kan, soos hulle in ’n destydse suikerrietadvertensie gesing het, bly soos jy is, of jy kan wegbreek …
Bly soos jy is, en moer toe is jou voorland!
Breek weg en die moontlikheid is daar dat jy die maan kan haal. Of dalk nie. Wat maak dit saak? Ten minste het jy probeer. En dit is eintlik die probeer wat die meeste saak maak.
Geronimo!
Life is not a journey to the grave with the intention of arriving safely in one pretty and well preserved piece, but to skid in broadside, thoroughly used up, worn out and defiantly shouting GERONIMO! – Bill McKenna
When once you have tasted flight, you will forever walk the earth with your eyes turned skyward, for there you have been, and there you will always long to return. – Unknown
A man is not old until regrets take the place of dreams. – John Barrymore
The best thing in every noble dream is the dreamer… – Moncure Conway
Image: Evgeni Dinev/FreeDigitalPhotos.net
Bravo!
Baie dankie! Waardeer!
MAL hieroor:)
Dankie!!!
PRESIES wat ek vandag weer nodig gehad het! xxx
Bly as dit kon help. Darem net betyds vor die Lentedag (LS Eversdal) more. Anders vra hulle dit weer!
Dankie Rian.Ek wil dit graag vir al die ‘space cases’ hier by my gee.
Dankie, Chris! Deel uit, deel uit! Hoe meer mense wil maan toe wil gaan hoe beter!
Ek lees so baie wat jy weekliks sê, en geniet elke oomblik daarvan, dan dink ek nou is die tyd om iets vir jou te stuur. Elk keer raak jy net weer vasgevang in jou eie besige skedule dat dit ook maar net weer verander in nog ‘n wonderlike gedagte.
Ons is hierdie week besig met ons 105 jarige bestaan se feesvieringe. Dis nou net hier waar ek vinnig jou piesangs en jellietots lees en besef ek onthou hierdie besondere praatjie van jou en hoe dit my destyds getref het. Ek gaan haal my storie dalk vêr, maar aan die einde sal jy sien dit maak tog sin.
Nou, dat ek dit die minste kan bekostig om iets vir jou te skryf, maak ek tyd. Ja, dit is nou ‘n wilsbesluit en ek glo daaraan, dat as jy aan iemand iets goeds wil doen, of om jou dankbaarheid te toon of net om dankie te sê, of net te komlimenteer, moenie uitstel nie; doen dit nou. Nou is die oomblik wat tel.
So, hier kom dit. Die dag toe ek die gedeelte die eerste keer gehoor het wou ek jou al laat weet het wat dit vir my as hoof en mens beteken het. In my lewe het ek ook by punte gekom waar ek vra: “Leef” ek of “bestaan” ek net. Waar lê my doel in die lewe? Hoe sien my lewe daaruit vir die volgende klompie jare. Ja, ek het drastiese veranderinge gemaak. Sommige goed en ander dalk minder goed. Wat tel, was dat ek beweeg het. Ek het myself in ‘n donker tonnel van die lewe bevind. Iemand het eendag gesê:” As jy voel jy is in hierdie donkerte vasgevang, moet net nie gaan staan nie. Bly net aan beweeg”.
Vandag is ek bevry van klomp goed. Ek het beweeg en die uitkoms was wonderlik. Ek sê dit met die nodige dankbaarheid en uit nederigheid, want vir sommige ander mense mag die prenjie anders lyk. Vir my skyn die son die helderste wat hy nog ooit geskyn het. Daarvoor sê ek dankie aan mense soos jy wat dalk onbewus êrens iets gesê het wat mense se lewe aangeraak het.
My standerd 6 Aardrykskunde onderwyser: Mnr.PW Pieterse, het eendag gesê: “Ek kan julle niks nuuts leer nie, maar ek gaan dalk vir julle dinge wat julle reeds weet net op n ander manier vertel, dat jy gaan voel jy leer elke dag nuwe dinge”. Hy het later hoof geword van Vanderbijl Park Hoër. Hy is ‘n legende, vandag nog. Ons leuse was: “Altyd die hoogste”. Ook hy het die hoogste sport bereik.
Nou, die punch line:
Met al ons feesvieringe het ek net weer besef, hoe waardevol “verhoudings” is en “spanwerk”. Hierdie week is vir ons baie besonders. Nerwe is dun en humeure loop hoog, foute glip in, maar die gesindheid bly nog goed. As jy daai kinders sien “perform”, dan weet jy: Die hart klp nog goed. Ons is nie die rykste skool wat daar is nie, maar ons personeel het ‘n passie en toewyding wat ons onderskei van ander skole. Dit is wat my nog opgewonde maak en laat besef: “Tyd” is wonderlik. Dit is wat jy nou doen, wat saak maak en wat êrens, miskien iemand se lewe aanraak op so ‘n manier dat hy of sy eendag terugkyk en sê: Dit is wat daai persoon vir my beteken het.
Dit gaan goed met ons by Setlaarspark, sal van die foto’s stuur. Die water projek gaan aan en wil net vir jou laat weet. Ons lees jou rubriek en al antwoord ons nie elke keer nie. Weet net, dit word waardeer en hou aan met wat jy doen. Jy doen dit wonderlik.
Dankie, Andre! Jy maak my dag! Sterkte met wat jy doen. Party keer dink ek jy’s verby die maan!
LOVE LOVE LOVE!!!! Pitkos vir my siel!
Dankie, Sitka!
Daardie bus maan toe mis ek vir niks! En ek sit heel voor links en ek sal al die hekke sonder betaling oopmaak!
Ons praat vandag met ons kinders oor wanneer hulle ‘uit die boksie’ begin dink het. Ongelukkig het dit eers op universiteit begin omdat n skoolsisteem dit nie regtig aangemoedig het nie. Maar vandag kan hulle nie meer ‘binne die boksie’ dink nie.
Baie dankie vir die puik artikel. Al die bg feite het ons nodig in ons ‘reis’ met ons jong heuningbostee maatskappy op pad maan toe!
Alle kaartjies asseblief! Bly om jou aanboord te he!
Ek geniet jou skryfwerk Rian….knapgedaan of sal ek sê welgedaan….dit sal vir NASA soveel makliker wees as jy net jou kennis en ervaring van die maan met hulle deel! ‘n MAAN PARTYJIE is dalk net die regte ding i.p.v. ‘n nuwejaarspartyjie! Almal is uitgenooi….Plek: Maan / Tyd: 00:00 / Dag:1112 / Drag: Gemaklik om in te sweef!
Erich, nooit nog daaraan gedink nie. Wonner net hoe ons die wyn gaan drink? Hoop nie uit ‘n buis nie? Amper vergeet … dis waarvoor die glas daar is. Lets rock around the moon!
Dit is lekker om net weer te hoor dat jou drome moontlik is, maar dat jy jou alie in rat moet kry.
Dankie daarvoor. Werklik pitkos, soos Sitka se.
Dankie, Nina!