Tag Archives | Luca

Is ouderdom só goor?

ATT00019Ek hoor nou elke dag meer en meer dat om oud te word nie vir sissies is nie.

So asof almal my teen die ouderdom wil waarsku. Asof alles van ouderdom net altyd sleg of onaangenaam is.

Of is dit dalk dat hulle dink dat ek ’n sissie is?

Het ouderdom dan geen positiewe kant nie?

Is dit net tieners en dié onder veertigs op wie die son kan skyn? Nie dat ek kon onthou dat puisies en onkunde enige pret was nie, maar miskien het ek net vergeet hoe lekker dit was.

Wat baie mense nie besef nie, is dat daar voordele aan ouderdom verbonde is. En hier praat ek nie net van goedkoper gaan fliek of op die bus ry nie. Nie dat die laatste een in Suid-Afrika ’n opsie is nie!

Kenners beweer dat senior burgers gelukkiger as hulle jonger eweknieë is. En in teenstelling met die algemeen aanvaarde persepsie dat jou brein totaal aan die ineenstort is, beweer dié slim mense dat sekere dele van die brein beter funksioneer as in die verlede. (Laat dit nou vir julle jonges ’n les wees.)

Maar my waardering van ouderdom is nie so wetenskaplik gefundeerd as bostaande navorsing nie.

Myne was sommer ’n laatnag hartsgewaarwording van ’n baie dankbare oupa.

Luca het gister vyf geword en ek het opnuut besef dat om oupa te wees en om jou kleinkinders se armpies om jou nek te voel, net iets is wat met die ouderdom gepaard kan gaan. Jy moet eers daardie grens van nie-sissie-wees-nie, oorsteek om dít te ervaar.

Maar ek het my eie kinders, hoor ek jou sê.

Toegegee, eie kinders is verby kosbaar. Maar kleinkinders is soos ’n ekstra bonus. ’n Onverwagte Lotto-wen! Kleinkinders en al die gepaardgaande, ongelooflik kosbare gewaarwordinge is ’n fase van die lewe, wat ek vir geen terugdraai van die horlosie, sal verruil nie.

En as ek dalk as jeugdige geweet het hoe vervullend dié ervaring sou wees, sou ek dalk gouer oud wou wees! Of soos my goeie vriend Dan van Zyl senior altyd sê: As ek geweet het hoe lekker kleinkinders is, sou ek hulle eerste gehad het!

Dankie, Here vir die genade om oud te kan word!

 

None is so old as those who have outlived enthusiasm.Henry David Thoreau

Because if you’ve found meaning in your life, you don’t want to go back. You want to go forward.Morrie Schwartz

Learn how to live and you’ll know how to die; learn how to die, and you’ll know how to live. – Morrie Schwartz

Image: Daily Telegraph.com.au

Continue Reading

‘n Briefie vir my juffrou.

My naam is Luca.

My oupa sê ek is van ’n ander planeet.

Ek is vier jaar oud en gaan vanjaar vir die eerste keer na die groot skool toe. Na graad RR.

Dit is daarom dat ons die briefie aan juffrou skryf.

My oupa sê dis nonsens dat ek só gou al in ’n skool moet gaan sit, want ek is reeds slim genoeg. Hy vra dat juffrou my nie slim moet maak nie, maar net slim hou.

Ek kan al tel en ek weet hoe ’n iPad werk. En ek was al in Hong Kong en het al met ’n helikopter gevlieg, maar ek was nog nie op die maan nie.

Oupa vra dat juffrou my nie net van die goed wat juffrou moet sal leer nie, maar ook van myself. En die wêreld en die mense in dié wêreld. Dat juffrou my truuks sal leer van hoe om in 2032 te leef.  Ek sal dan 21 wees!

Truuks van hoe om goed te kan praat, hoe om nie met mense te baklei nie, hoe om vir mense lief te wees, veral vir mense wat anders as ek is. Ook hoe om weer op te staan as ek val en dat dit OK is om buite die lyne in te kleur.

Oupa sê ek gaan baie lief wees vir  juffrou, want jy is ’n superhero. Jy gebruik woorde soos WOW, wonderlik, cool en fantasties.  Jy dra ook baie keer ’n donkerbril, want jy sê ons toekoms is so helder dat dit in jou oë skyn.

Juffrou gaan ook vir my lief wees, want Liewe Jesus het jou spesiaal geva om na my en my nuwe maatjies te kyk. Niemand anders nie.

My naam in Luca.  Luca Dominico Cutino en ek is ’n groot seun.  Ek het die foto van my, sélf geneem. ’n Selfie op die dag toe my sussie gedoop is.

Juffrou kan my ook Superman noem. Of Mannemarak, want dit is wat my oupa my noem.

Lief vir juffrou.

Die superhero-personeel van Laerskool Fairland verwelkom die kinders vir 'n WOW-2015 terug. 14/1/2015

Willie Goosen (Skoolhoof) verduidelik aan die kinders dat daar reeds voetspore op die maan is. Laerskool Fairland gaan hulle om die rede in 2015 verby die maan vat. Go my Captain go!!

I think a role model is a mentor – someone you see on a daily basis, and learn from them.Denzel Washington

I never teach my pupils. I only attempt to provide the conditions in which they can learn.Albert Einstein

I believe this passionately: that we don’t grow into creativity, we grow out of it. Or rather, we get educated out of it. Ken Robinson

 

Continue Reading