Tag Archives | Koos Kombuis

‘n Hond soos Kerneels

Kerneels

Hy was nie net ‘n hond nie. Hy was soos Koos Kombuis oor Kytie sing, ’n vriend vir my.

Dit is nou amper vyf maande dat Kerneels se hart sommer net een skielike dag besluit het om op te hou om bloed te pomp. En ek waag nou eers om daaroor te skryf. Miskien is dit selfs nog te gou, want my trane maak dat en nie die letters op die rekenaar se skerm kan sien nie.

Nie te min. Kerneels was groter as die goue Spaniel wat hy was. Hy was ons leeu, die braaikaptein, Spanjaard en die oortreffende trap van die Energizer Bunny.

Ek moes geweet het dat Kerneels nie normaalweg sou dood nie, want hy het alles met oorgawe en op volspoed gedoen. Selfs op 80 km per uur uit die bakkie geklim. Op sy kop geval. Hom ’n keer of wat geskud en begin aanstap in die teerpad waar hy te lande gekom het. Tipies, Kerneels. ’n Lewende getuienis van pick yourself up, dust yourself off, and start all over again. (Dorothy Fields)

Maar dat hy só skielik dood is, dit kan ek vandag nog nie my kop om kry nie. Of laat ek eerder sê, my hart om kry nie. Oor die gat in my hart wil daar nét nie ’n roof groei nie. Miskien is dit omdat ek nie daar was om  afskeid te neem nie. Om regtig die ou leeu te kon  groet nie, want sien hy is dood toe ek besig was om die Taj Mahal te bewonder.

Of is dit omdat ek in die hele besigheid my eie verganklikheid sien? Kerneels en ek sou saam oud word. En nou is hy weg. Skielik. Alleen. Sonder om te groet…

En nou moet ek alleen braai.

En oud word …

A dog is the only thing on earth that loves you more than he loves himself. – Josh Billings

If there are no dogs in Heaven, then when I die I want to go where they went. – Will Rogers

Heaven goes by favor. If it went by merit, you would stay out and your dog would go in. – Mark Twain

Continue Reading

Om Jesus se tafel

Ek was onlangs bevoorreg om saam met Nico en Tania Bezuidenhout (NG Moedergemeente Oos-Londen) en vroue van die Oos-Kaap ’n vrouenaweek op Stutterheim te kon meemaak.

Om deel van hierdie besondere groep dames te kon wees, was werklik iets wat my siel verryk en gevoed het.  Nie alleen is my geestelike gedetox nie, maar ons gasvrou van Eagles Ridge Country Hotel, het dit ook amper met my lyf vermag. ’n Slaai met 27 bestanddele, die meeste daarvan blare, wil gedoen wees!

Ek lees graag onderhoude met interessante mense en baie keer is daar ’n vraag oor wie hulle vir ete sal nooi. Hul keuses is baie uiteenlopend, maar ek kan nie onthou dat ek al ooit gelees het dat iemand vir Jesus wil nooi nie.

Het jý dalk al daaraan gedink om vir Jesus te nooi om saam met jou te kom eet?

Watter gereg sal ek voorsit? Hoe sal die uitnodiging lyk?

Dalk moet ek eers gou die eetkamer laat uitverf?

En … watter wyn bedien jy vir iemand wat water in wyn kan verander? Is daar disse wat Hy nie eet nie en is Hy dalk allergies vir iets?

In Matteus 9: 9 – 13 word daar vertel van hoe Jesus na Matteus se roeping by hom gaan eet. Die reaksie van die Fariseërs hierop is nie te gunstig nie en Jesus word as ’n vraat en ‘n wynsuiper uitgekryt. (Lukas 7:34)  Ook as iemand wat ‘n sosiale taboe oortree deur saam met sondaars en tollenaars te eet.

Hierdie skrifgedeeltes het my oor die verskil tussen die Fariseërs se etenstafel en dié van Jesus laat wonder.

Soos ek dit verstaan, is daar by die Fariseërs se tafel net plek vir mense wat hulle wette gehoorsaam en goeie gelowiges was. Met ander woorde, mense wat perfek is.  By Jesus se tafel is dit beslis nie die geval nie. Jy hoef jy nie perfek te wees nie. Krom en skeef is meer as welkom!

By die Fariseërs se tafel is daar net plek vir sommiges. Kenners, deskundiges en mense van aansien. By Jesus is daar plek vir almal. Jy hoef nie eens ‘n titel te hê nie. Skaapwagters wat na skaap ruik en vissermanne met skubbe en visbloed aan hul klere, is meer as welkom. Jesus trek nie Sy neus op ’n plooi vir aardse klankies nie!  By die Fariseërs se tafel moet jy rein wees.  By Jesus se tafel word jy rein gemaak.

Die Fariseërs se tafel klink vir my na ’n stresvolle affêre. Jy moet híér sit en só maak en nie só nie – amper soos ’n formele ete in die parlement. Jesus se tafel is stresloos, want daar is aanvaarding en genade.

Jy moet na die Fariseërs se tafel genooi word. Slegs op uitnodiging en net genooides welkom. By Jesus is geen uitnodiging nodig nie. Jy is altyd welkom en jy hoef nie eens te bespreek nie.  Daar is altyd ’n plek vir jou om die tafel.

Ek is ook oortuig daarvan dat die Fariseërs se tafel net op geleentheid gedek word. Daarteenoor is Jesus se tafel altyd gedek. Meer nog; die gasheer is altyd daar! Geen bestuurder wat vir Hom instaan nie.

Die Fariseërs soek fout. Hulle krap waar dit nie jeuk nie en veroorsaak meer kneusplekke. By Jesus se tafel word mense gesond gemaak.  Dit is nie net ’n eetplek nie; wonde en kneusplekke word hier genees.

John Ortberg sê dat almal van ons, soos die verlamde man wat deur die dak na Jesus laat sak word, ons eie figuurlike matjie het waarmee ons deur die lewe gaan. Hierdie matjie hoef nie letterlik ’n fisieke gestremdheid te wees nie.  Dit kan iets soos ons humeur of ons ydelheid wees.

By Jesus se tafel word elkeen se matjie opgevou en weggepak …vir altyd!

By Jesus se tafel sien ons die nuwe hemel in al sy glorie, want Jesus se tafel is ’n tafel van hoop en liefde. ’n Tafel wat kettings breek en mense by mekaar bring sonder enige klas of stand. Om Jesus se tafel is almal eenders: deur genade kinders van God.

Koos Kombuis sing in sy aangrypende lied Ek dood:

Petrus krap kop

Glimlag dan, sluit oop

Gaan maar binne

God nie godsdienstig

God liefde.

Wonder jy steeds oor wat jy moet voorsit as Jesus by jou kom eet?

Hou dadelik op met wroeg, want …

Hy het jou lankal genooi om by Hom te kom eet!

 

If you are afraid of hospitality – that you don’t have much personal strength or personal wealth – good. Then you won’t intimidate anybody. You will depend all the more on God’s grace. You will look all the more to the work of Christ and not your own work. And what a blessing people will get in your simple home or little apartment. – John Piper

Fellowship is a place of grace, where mistakes aren’t rubbed in but rubbed out. Fellowship happens when mercy wins over justice. – Rick Warren

We are so busy planning the perfect retirement.  That we lose eternity! – John Ortberg

 

Continue Reading

Bye 2011… Yebo 2012!

Nog ‘n einde van ‘n jaar! Hoe het dit gebeur?

Ek is seker dat as jy oor jou skouer loer, jy verstom sal staan oor alles wat hierdie jaar gebeur het.  Die meeste daarvan voel reeds onwerklik en soos iets uit die argief.  Die tsunami in Japan, die aardbewing in Christchurch, prins William se troue en Osama bin Laden se dood.

Daar is egter ook gebeure wat voel of ek dit nooit sal vergeet nie.  Dinge soos Pieter de Villiers se wyshede, Bryce Lawrence, Julius en die uitroei van ons kosbare renosters en perlemoen!

En ons het nog nie eens by sake wat aan ons eie nerf raak, uitgekom nie! Die dinge wat die proppe laat skiet het en dié wat diep groewe uit ons bestaan gekerf het.

Oral hoor ek dat mense ’n beter en voorspoediger jaar as vanjaar begeer. Amper soos Koos Kombuis se Almal wil ’n huisie by die see hê…

Self hoop ek glad nie op ‘n beter 2012 nie, want ek glo ek en my huis het 2011 tot die droesem geleef! As jy dit nie gedoen het nie, het jy net jouself te blameer!

Ek sien wel uit na ’n opwindende nuwe jaar.  Een wat my kneukels wit gaan laat uitslaan van al die vasklou.  Ene wat my gaan laat gil: Geronimo! Ek leef!

’n Geseënde Kersfees en ’n baie opwindende nuwe jaar vir alle Piesangs & Jellietots-lesers. Dankie vir julle ondersteuning die afgelope paar maande vandat P&J die lig gesien het. Bly by my, want daar wag ‘n klompie verrassings in die nuwe jaar!

Jacob Rheeder, my goeie vriend daar uit die Oos-Kaap, sluit hierdie laaste post van 2011 met dié wyse woorde af:

Die gedagte aan kersvakansie gee jou hart net so ‘n ekstra klop, doef-drrroeof-doef, want baie wyk uit see toe of iewers lekker, soos selfs om by die huis te bly. Vir baie van ons met die prentjie-nommerplate begin daar eersdaags ‘n gestoeiery om by daardie spesiale plekkie uit te kom, ja, met die kar gepak tot teen die dak. Maar om die eerste draai raak jy kriewelrig, want dinge loop nie teen jou spoed nie. Of jy sit by die oorvol Wimpy langs die see en die diens is nie na jou wense nie. Die engelse praat van “silly season”, klink waar, want dis asof ons in hierdie 3 weke die hoender wil ruk, mal gaan en handuitruk, ons is op vakansie en bogger die res.

Hêhê, dis waar 1 Tes 5:15 ons rieme bietjie vir ons intrek. Kom ons verander die ek en ons na julle, ja, kom ons kyk bietjie in hierdie dae hoe ons dit vir ander lekker kan maak. Boeta, hulle lieg vir jou, jou hande gaan nie afval as jy skottelgoed was nie en Ousus, jy weet dit nie, maar jy kán lekker ontbyt maak. Maak jou bed op, koop lekkers vir die familie se kinders en sê dankie vir die een wat jou vuilgoed kom wegry. Ander mense sien net so uit na die vakansie soos ek en jy.

 

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. – Joh 3:16

En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê. – Luk 2:10-12

May your right hand in the New Year always be stretched out in friendship, never in want. – Irish proverb

 

Image: Ideago/FreeDigitalPhotos

 

Continue Reading