Tag Archives | Geloof

Geloof – ook in jouself!

Geloof is om te glo. Onwrikbaar te glo.

Gewoonlik dink ons aan die begrip van geloof binne ’n religieuse konteks en nie binne ons persoonlike ruimte nie.

Soms wil dit vir my boonop lyk of sommige mense makliker binne ’n godsdienstige konteks kan glo, as in ’n persoonlike konteks.

Miskien is dit omdat baie van ons so Calvinisties grootword dat die gedagte, dat jy in jouself kán en mág glo, summier in sy spore versmoor word. Die eie ek word amper as iets harkoppig en as antagonis vir die goeie ek voorgehou. Om in jouself te glo, grens aan selfverheerliking en dít is ’n groot taboe.

Menige klaskaptein het al ’n verkiesing met een stem verloor, want hy het vir iemand anders gestem. Nie vir homself nie, want dit doen jy nie. As ek dan vir hom vra of hy glo die ander kandidaat is beter as hy, dan sê hy nee, maar jy mag mos nie vir jouself stem nie!

Kurrikulums en werkplekke promofeer spanwerk en saamwerk as vaardighede wat ’n suksesvolle toekoms verseker. Glo aan die krag van die ons en nie die ek nie.

Is dit dan enigsins vreemd dat ons in ’n samelewing leef waar so baie mense opsoek is na hulle eie identiteit? Hoe kan jy weet wie jy is as jy nie in jouself kan en mag glo nie?

En as die papaw die fan tref, dan gryp ons die selfhelpboeke en lees daarin dat die eerste stap op die pad van herstel, is om in jouself te glo!

Ons glo liewer enige iemand anders as wat ons onself glo. Mense met titels en ampte weet skynbaar die beste. Skrywers en sangers gee raad van hoe om gewig te verloor tot hoe om swanger te raak. En ons volg dit slaafs.

Dit het tyd geword om ons kinders te leer dat die ek net so belangrik soos die ons is. En dat hulle in hulle self moet glo.  Dat hulle in hulself mag glo. En dat dit nie verkeerd is nie.

Kom ons hou op om kinders groot te maak wat liewer gesien word as wat hulle gehoor word. Kom ons leer hulle hoe hulle moet maak om gehoor te word.

Ek dink geloof in jouself, of kom ons noem dit sommer selfvertroue, gaan die nommer een oorlewingsvaardigheid vir kinders word.

Sonder hierdie vaardigheid gaan hulle vir iemand anders werk. Gaan hulle nooit hulle eie drome verwesenlik nie, want iemand anders met ’n titel of amp gaan voorgee om meer oor hulle toekoms te weet as hulle self.

Miskien is my alma mater se leuse van toepassing: Wees uself. Maar dan gaan die spreekword verder deur te sê … vra ek vir iemand, maar hy kon nie, want hy was niemand!

Behoede my van dié dag!

Be yourself; everyone is already taken. – Oscar Wilde

It took me a long time not to judge myself through someone else’s eyes. – Sally Field

If being an egomaniac means I believe in what I do and in my art or music, then in that respect you can call me that … I believe in what I do, and I’ll say it. – John Lennon

Continue Reading

Parstyd: Nie een maal nie, maar twee!

 

Beyers vertel nou die dag dié storie en ek besef dadelik dit sal ‘n goeie tema vir ’n skoolhoof se saalperiode wees. Maar ook ’n baie gepaste post hier net voor Paasfees.

In die Bybel word daar baie na druiwe, wyn en of die wingerdstok verwys. Party bronne beweer tot so veel as 200 keer!

Die wyn waarvan daar in die Bybel gepraat word, is gewoonlik met water verdun en die wynmaakproses was nie so wetenskaplik soos ons dit vandag ken nie. Die druiwe is gepars en die sap is dan deur lappe gefiltreer. Om dit te bewaar, is dit in kleipotte of leersakke gestoor.

Wat egter vir die proses van wynmaak belangrik is, is die feit dat die druiwekorrel gebreek moet word sodat die sap kan uitkom. Die selletjies breek of bars en stel dan die kleur en geur van die druif vry.

Om die soet sap in droë wyn te verander, is ‘n gistingsproses nodig wat weer op sy beurt die suiker in alkohol omskakel. Behalwe vir die omskakel na alkohol, maak die gisting alles in die sap skoon.  Dit reinig en suiwer.

Om ’n vonkelwyn te kry, word ’n basiswyn gemaak en daarna word dit nog ’n keer in ’n tenk of in die bottel gegis om die koolsuurgas te ontwikkel wat die bruisende borreltjies in die vonkelwyn vorm.

Nou waarom dié lang storie oor vonkelwyn?

Die analogie behoort voor die hand liggend te wees, want ons as gelowiges is net soos wyn.

Ons moet ook eers gebreek word om die sap en die kleur in ons  te laat uitkom. By baie van ons stop die proses daar en ons vorder nie verder as ‘n druiwesapgeloof nie. Soet en lekker, maar sonder werklike substansie.

Ander weer gaan deur een gistingsproses en vorder tot ’n basiswyngeloof. Drinkbaar en verouder mooi met tyd.

Die gelukkiges onder ons kry die voorreg om twee keer gesuiwer of gelouter te word. Dit is in die meeste gevalle nie lekker nie en dit gaan gepaard met jeremiades en tonne betwyfeling. Maar as jy dit oorleef, dan is die borrels daar! Dan is die vonkelwyngeloof daar. Gereed om die prop te laat skiet en uit te jubbel dat ons Verlosser leef!

Om só te kan leef dat ander te alle tye die borrels in jou lewe sien en om saam te bid dat die Here ons daagliks soos vonkelwyn skoon sal maak – nie een keer nie, maar twee!

Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. – Johannes 15:1

Eat the bread with joy and
drink the wine with a merry heart. – Ecclesiastes 9

Men are like wine – some turn to vinegar, but the best improve with age.  – Pope John XXIII, 1881-1963

 

Image: Indra Harsaputra 

Continue Reading