Tag Archives | Entropy

Die Genetika van Moer Toe.

Alles het versorging nodig!

Ek besef nou die dag, terwyl ek met ’n groep oor hoe om by die maan uit te kom  praat, dat ek eintlik nooit die ander rigting bespreek nie.  So alsof almal weet hoe moer toe gebeur.

Daarom wil ek vandag so ’n bietjie oor die ander rigting van maan toe, naamlik moer toe, gesels.

Nou hoe gebeur dit? Die moer-toe-ding.

Eerstens: Dit gebeur net!  

Jy staan een oggend op en bekyk jouself in die spieël en tot jou skok besef jy dít hét gebeur. Jy ís moer toe!

En dan begin wonder jy wanneer en wat het dan gebeur dat jy só agteruit geboer het.  Miskien is die verval in die eens trotse borskas wat nou ’n hangkas is, of nog erger… Jou gemoed en gedagtes het meer potholes as ’n pad in Noordwes Provinsie!

Sonder dat ons dit besef, laat ons almal toe dat dinge en goeters verval.  Of dit nou die geute van jou huis is of die spiere in jou lyf, almal het onderhoud en versorging nodig.  Niks bly dieselfde of in dieselfde topkondisie nie!  As jy nie daarna kyk nie, sál dit uitmekaar begin val.

Tweedens: Skaarsheid teenoor oorvloed.  

Stephen Covey praat van die abundance mentality.  As jy eers begin glo daar is nie meer genoeg vir jou oor nie, dan moet jy weet jy is volstoom op pad moer toe! 

As jy net versamel, bymekaar maak en opgaar vir die verbeelde ramp en hongersnood wat kom, het jy reeds die grens na moer-toe-land oorgesteek. Jou paspoort is gestempel en jy kan maar net so wel om burgerskap aansoek doen!

Maar as jy besef jou taak is om weg te gee, want daar is oorgenoeg vir ieder en ’n elk om ’n bestaan te maak… dan is jy beslis op pad maan toe.

Dan verstaan jy die wêreld het oorgenoeg go-getters, maar beslis nie genoeg go-givers nie!

Derdens: Die mense en dinge wat jou beïnvloed. 

Kom ons noem hulle sommer net jou beïnvloeders, want dit is hulle wat jou die rigting van moer toe aandui. Wat ontstellend van hierdie beïvloeders is; hulle is die mense en dinge naaste aan jou.  

Soms besef jy met ’n skok jy gebruik dieselfde woord as jou beste vriendin! Die regering is só hopeloos en die onderwysers by die skool is net totaal useless! En daar is tog nie hoop vir ons kinders nie, maar dit is nou seker te laat om die land te verlaat.

Wat jy net nie besef nie, is dat jy dié land al lank al verlaat het! Nie in die vlees nie, maar in die gees. Jy is nou ’n burger van die Republiek van Moer Toe!

Maar dit is egter ook die nuus wat jy kyk en die artikels wat jy lees.  Dit is die TV-programme wat jy kyk. En al dié word later die stories wat jy glo… En meer nog; jou besittings wat jou hele bestaan definieer!

En dit alles, word jy!

Moer toe!

 

The most basic human impulse is towards entropy and laziness. The less we have to do to grow spiritually, the more likely we are to do it. – Alexandra Fuller

An abundance mentality springs from internal security, not from external rankings, comparisons, opinions, possessions, or associations. – Stephen Covey

The people you surround yourself with influence your behaviours, so choose friends who have healthy habits. – Dan Buettner

 

 

Continue Reading

Afrikaans sê dit so mooi…

Claude Moller

 

My goeie vriend Claude Moller lewer die volgende kommentaar op verlede week se blog, Leer ‘n nuwe woord. Sy verduideliking van Entropy in Afrikaans is so raak en kosbaar dat ek dit vir alle Piesang & Jellietot-lesers móét laat lees. Hier is dit:

Ek vermoed mens spel dit “ENTROPIè” in Afrikaans. Dewet Watsenaam, ‘n afgetrede National Geographic-fotograaf, het gepraat van : CHANGE YOUR LENS; CHANGE YOUR LIFE. Om dus met nuwe oë, na die bestaandes in ons lewens te kyk; om raak te sien, wat ons oorsien. Entropie is waarskynlik die disintegrerende effek van gelatenheid. Bloei, kan ook egter kom uit verval; lig word altyd in en vanuit donker, gebore. Oooeee, wetterweet, as NAFI-GEIT jou eers beet het, is dit EERSTENS die INSIEN van ons OORSIEN, wat die lelie uit ons ashoop laat blom.

In three words I can sum up everything I’ve learned about life: it goes on. – Robert Frost

He who has a why to live can bear almost any how. – Friedrich Nietzsche

There are three constants in life … change, choice and principles. – Stephen Covey

Continue Reading

Leer ‘n nuwe woord!

Ek het ‘n rukkie gelede ‘n nuwe woord geleer.

Entropy.

Sê vir my niks, hoor ek jou sê.  Wag net, die woord is baie meer potent as die sewe letters wat dit lank is.

Volgens die woordeboeke beteken dit onder andere everything that is left to itself has a tendency to deteriorate. Ek het gedink ek snap dié begrip. Is dit dan nie wat met my lyf gebeur het nie?

Maar eers nou die dag, nadat ons ons swembad ’n nuwe lining gegee het, het ek dit regtig met my volle verstand verstaan en regtig begryp.

Dit was asof die swembad ons skielik ’n klomp ander goed ook laat doen en sien het. Goed wat lankal reggemaak of weggegooi moes gewees het. Maar wat net vir iets of iemand gewag het om die lont aan die brand te steek.

Voor dit was ons amper in ’n vakuum van entropy. Ons weet van al die goed, maar ons sien dit nie meer nie en het geleer om daarmee saam te leef. Dis nou nie wonderlik nie, maar dis OK.

John Ortberg beskryf dié toestand so: When you settle for the path of least resistance in some area of life, entropy set in, dreams die, and hopes fade. Then a terrible thing happens: You learn you can life with mediocrity. It’s not a great life but you can tolerate it.

Die ergste hiervan is dat ons, as gevolg van hierdie ou woordjie, ons drome laat sterf. En saam daarmee verdwyn ons hoop op iets beter. Die groter TV, die ekstra kamer of die eksotiese vakansie of selfs die opgeroesde kruiwa wat weggegooi moet word, ontspoor in iets brandsiek en uitgeteer.  En dan gee ons oor…

En eers as die swembad weer diepblou skitter, besef ons Kanaan was toe eintlik op ’n ander plek. Nie daar waar ons onself gaan parkeer het en vir onsself gelieg het dat perdebolle vye is nie!

Die nuwe jaar is nog net ’n maand oud. Het jy vergeet van al daardie beloftes aan jouself vir 2013?

Hou dan dadelik op om dubbel te parkeer! Ortberg het ook gesê entropy is a great enemy of the human spirit!

Kyk bietjie met nuwe oë om jou rond en draai daai entropy-monster soos Siembamba vinnig nek om!

Jou gees is baie groter as dié simpel sewe-letter-woordjie!

There is real magic in enthusiasm. It spells the difference between mediocrity and accomplishment. – Norman Vincent Peale

We must accept finite disappointment, but never lose infinite hope. – Martin Luther King Jr.

Just because a man lacks the use of his eyes doesn’t mean he lacks vision. – Stevie Wonder

Continue Reading