Tag Archives | Bybel

Balanseer jou siel

 

John Ortberg en Philip Yancey is skrywers wat my ’n dieper insig in die Bybel en die lewe gee.

Soms wil ek so ver gaan om te sê dat ek in hulle boeke meer stof tot nadenke kry, as sommige Sondae in die kerk!

Ook nou weer so met John se nuwe boek, Soul Keeping: Caring for the most important part of you.

Die boek het my met ’n skok laat besef dat ek my siel amper 61 jaar tweede viool laat speel het! Terwyl ek my worrie oor my al groter wordende omtrek,  het ek bitter min sleg geslaap oor my siel.

Dat ek ’n siel het, daarvan is ek deeglik bewus, want oorkoepelend is die siel tog in alle godsdienstige praktyke teenwoordig. Ons sing daarvan, ons lees daarvan in die Bybel en as ’n skip vergaan, praat ons van die aantal siele wat omgekom het.

In Soul Keeping vertel John van die Barna Research Group wat ’n nasionale aanlynmeningspeiling in die VSA geloods het om vas te stel wat mense ten opsigte van sonde as hulle topversoekings ervaar.

Alweer sonde! hoor ek jou sug.

Sterk wees. Hierdie is nie nog ’n preek oor wat jy nie mág of móét doen nie. Onthou net, sonde en jou siel is nie maatjies nie!

Terug by die meningspeiling. Topversoekings? Natuurlik dink ons dadelik aan die sondes wat ander doen. Veral in Suid-Afrika sal woorde soos korrupsie, geweld, misdaad, jaloesie, pornografie en rassisme by die meeste mense opkom.

Wat egter interessant was, was dat die nommer een versoeking wat die anonieme deelnemers gelys het, iets was wat hulle nie in die tronk sou laat beland nie! Jy kan dit jou hele lewe lank doen en niemand sal dit eens weet nie.

Nommer een op die lys was, bekommernis.

Of anders gestel, worrie.

Ja, dit is daardie ding wat ons laat wakker lê in die nag. Wat maak dat ons maagswere, siektes en peste ontwikkel van al die dink daaraan. Dit is daardie ding waarvan ons sing if you worry you die, so why worry maar niks toepas van wat ons sing nie!

Hoeveel ure al deur worrie gemors is, is seker onberekenbaar. En ons weet uit ondervinding dat die meeste van dit waaroor ons ons bekommer, nooit waar word nie. Maar steeds hou ons aan met worrie.

Nou hoe kom ons daarby dat bekommernis sonde is, wil jy weet.

Jy sien, worrie word ‘n gewoonte. ’n Gewoonte wat sê dat ek God nie genoeg vertrou nie.

’n Slegte en sondige gewoonte, want ons navigeer ons lewens met die gewoontes wat ons vorm en ontwikkel. Goeie gewoontes maak ons vry en maak dat ons goeie dinge kan doen en sê. Sondige gewoontes perk my en my siel in en verhoed dat ek die goeie doen waarvan Paulus praat, want ek is te besig om te worrie.

Genoeg oor bekommernis. Jy wonder seker wat in die tweede plek was?

Tweede was uitstel. En dan het te veel eet, sosiale media en luiheid gevolg.

Gaan lees gerus Soul Keeping as jy jou lewe en die ewigheid in balans wil bring.

 

Food for the body is not enough. There must be food for the soul. – Dorothy Day

Prayer is not asking. It is a longing of the soul. Mahatma Gandhi

For truly we are all angels temporarily hiding as humans.Brian L. Weiss

 

Continue Reading

40 Days: Tradisie of Turksvy?

Dis weer sulke tyd!

Skoolhoofde en onderwysers bid dié dag verby en sommige dink selfs dat as hulle maak of die dag nie bestaan nie, dit eenvoudig net sal verbygaan.

Helaas. Hierdie volstruistaktiek is net so fataal soos Dewald Potgieter se weiering om pale toe te skop. Op die ou einde verloor jy net.

In enige matrikulant se lewe is 40 Days ‘n gegewe. Net soos Kersvader ‘n gegewe in kleuters se lewe is. Al sê jy nou wat; Kersvader bring die persente. Net so met 40 Days. Saak gesluit en basta verder.

Nou van waar dan gehasie met hierdie 40 Days-gier? Is dit tradisie of ‘n gril wat net geïgnoreer moet word?

Jy kan enige matrikulant oor 40 Days vra, hulle sal met ‘n onwrikbare sekerheid sê dat dit ‘n tradisie is. Vra jy hoekom; is die antwoord: omdat verlede jaar se matrieks dit gedoen het!

Miskien is dit die rede waarom menige skool nie eens wil hoor van 40 Days nie. Presies oor dít wat verlede jaar se matrieks gedoen het. Of liewer; nie moes gedoen het nie!

Die meeste matrikulante assosieer 40 Days met pret en plesier. Soms te veel daarvan en nie altyd in die regte volgorde nie. Dit is die simbolies amper klaar met skool wees. En met reg, want twaalf jaar is nogal ‘n lang tydperk in enige mens se lewe.

Min weet egter van waar die sogenaamde 40 Days-tradisie kom of waar dit ontstaan het. Miskien selfs ook nie die onderwysers nie?

Die mansonderwysers wat diensplig gedoen het, sal die Weermagtradisie van 40 Days verstaan. Min dae! Salueer met ‘n paar vingers en die eretitel van ou manne. Klaar met army en terug na die lewe van civiestraat.

Wat egter baie interessant is, is dat daar in die Bybel baie verwysings na 40 dae is. Dit het vir 40 dae en nagte gereën toe God die wêreld wou reinig (Eks 7:12) en die Israeliete het 40 jaar in die woestyn deurgebring; een jaar vir elke dag wat dit hulle geneem het om die beloofde land verken (Eks 16:35) en Goliat het die soldate vir 40 dae getart voor Dawid hom op sy plek kom sit het (1 Sam 17:16). Miskien het 40 Days dan lank voor ons eintlik daarvan geweet het, reeds sy bestaansreg gekry?

Of was dit Cliff Richard met sy liedjie oor 40 Days wat die tradisie kom vestig het?

Hoe dit ook al sy. 40 Days is hier om te bly.

Matrieks se veertigste dag hoef nie ’n nagmerrie te wees nie. Gesprekvoering en beplanning kan van 40 Days ‘n geleentheid maak wat almal kan geniet en wat op die ou einde ‘n waardige tradisie op die jaarprogram word.

Ruim ‘n gedeelte van die skooldag in waar matrieks die dag op gepaste wyse kan vier. En dit is oor dié gepaste wyse wat daar gesprekvoering en beplanning moet wees.  Ek het al gesien dat ‘n skool in België op die dag suksesvol ‘n matriekkonsert vir die res van die skool aanbied. Elke matriekregisterklas kry ‘n beurt en die klasonderwyser koördineer die betrokke klas se kreatiewe poging. ’n Uitstekende uitlaatklep vir almal wat na amper 12 jaar iets wil sê of gesien wil wees.

Of kry ‘n interessante spreker van hul keuse om met hulle te kom praat en laat hulle daarna êrens op die skoolterrein braai.  En gee hulle ‘n bietjie vroeër af… al sê die Departement dit is teen die reëls. 40 Days maak mos ‘n bietjie van die rebel in ons almal los. Ook in die skoolhoof!

En as al die voorstelle nog té radikaal is, onthou net oor ‘n bietjie meer as 40 dae vier hulle voluit karnaval by die een of ander universiteit. Nie my probleem nie, hoor ek jou sê.

Verkeerde antwoord, Dewald. Verkeerd!

Speel dan ten minste net die liedjie vir hulle…

I’m gonna give you, forty days to geta back … Yea, in forty days(forty days) forty days (forty days).

Tradition is the illusion of permanence. – Woody Allen

It takes an endless amount of history to make even a little tradition. – Henry James.

Tradition is a guide and not a jailer. – W. Somerset Maugham

Image: podpad/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Moet op prinse nie vertrou nie.

Wat is dit met ons rolmodelle dat hulle so sukkel om staande te bly?

Raak al die aandag en geld net te veel? Maak al die bewondering en gedurige in die kollig wees dat hulle onaantasbaar en verhewe bo die gewone en alledaagse begin voel?

Eers is dit Hansie wat aan ’n duur Indiese samoesa verstik. Toe Tiger wat oor sy gholfstok struikel en daarna vriend Lance wat hom uit sy fiets uit verneuk. En nou is dit onse Oscar wat dink hy is die enigste sheriff in Pretoria.

Paddy Upton (prestasiebestuurder van die Proteas) meen dat mense geneig is om kampioene spesiaal te behandel. Maar hy waarsku ook dat 80% van bergklimmers wat die hoogste piek bereik, hulle nadat hulle die kruin bereik het, doodval. Dieselfde gevaar staar kampioene wat op die kruin van die golf ry, volgens hom, in die gesig.

Behalwe die naar kol op my maag oor my rolmodelle se doen en late, maak hulle eskapades dat ek al my aanbiedings oor rolmodelle moet gaan oordoen. Ek kan hulle nie meer op die rolmodeltroontjie sit en aan mense as die voorbeeld van waarna ons moet strewe, voorhou nie.

Of miskien kan ek nou juis, want dit is dalk ons wat vergeet dat hierdie rolmodeltroontjie nie uit klip gekap is nie, maar uit klei. Net soos die klei waarin ons met ons eie ou voetjies staan.

Al weet ons baie goed dat mense feilbare wesens is, plaas ons hierdie kampioene, helde en celebs tog te graag op die troontjie. En as hulle daar affoeter, is ons geskok. Ons gryp na ons harte en snak na ons asem en wonder hoekom. Hoe kon hulle? Meer nog; hoe durf hulle!

Die Bybel waarsku ons tog al vir eeue: Vertrou nie op prinse, mensekind, by wie geen heil is nie (Ps. 146:3). Maar steeds luister ons nie!

Ons gaan voort om mense te verafgod omdat hulle ’n bal kan skop of ’n noot kan sing. Of ’n filmster omdat sy woorde kan opsê wat iemand anders vir haar geskryf het. Self het hulle niks meer as ek en jy bereik nie. Meer in die kollig en meer geld ja, maar niks minder voete van klein as ons nie.

Ek is oortuig, nou meer as ooit, dat dit tyd geword het dat ons na die ware helde in die wêreld gaan soek. Gewone mense wat elke dag hulle bes probeer om hulle werk so goed as moontlik te doen en onder die moeilikste omstandighede vir hulle kinders kos op die tafel sit.

Daardie skoonmaker op die skoolgronde wat nie die voorreg gehad het om teologie op Potch te gaan swot nie, maar wat Saterdag na Saterdag in die derdeklaswa vir die dronkes en eensames op pad na nêrens preek.

Die vrou wat nooit geleer het om ’n musiekinstrument te bespeel nie, maar elke week die siekes in Worcester se hospitaal begelei en voorgaan in die sing van lofliedere.

Die bode en sy vrou in Heideveld wat nou al tien kinders in hul huis het. Net twee hul eie. Die res wees- en hawelose kinders van die gemeenskap. En elke keer as daar nog een aankom, kry hulle nog ’n gaatjie waar hy/sy kan slaap!

Hierdie is ons ware helde! Hulle dra nie make-up of verdien miljoene in borgskappe nie. Van hulle kan nie eens ’n bal slaan of skop nie. Sommige van hulle sing erg vals en party is nie eens mooi om na te kyk nie. Gelukkig weet hulle nie van die kollig nie, want die meeste het nie eens elektrisiteit nie!

Terwyl ons helde met vervelige reëlmaat om ons val, is dit dalk nou die tyd dat ek en jy weer ons supermanonderbroek aantrek en die rolmodelle word wat van ons verwag word. Moenie skrik nie! Jy hoef nie die wêreld oor heldedade te gaan verrig nie.

Net daar waar jy moet. In jou gesin, by die werk en tussen jou vriende.

Dit is nou tyd dat ons land se kinders weer soos hulle ouers wil wees. My pa is die sterkste en my ma die mooiste …

Al is hulle voete is van klei. Hulle gly en val, maar staan elke keer weer op.

Maar op die wêreld se prinse vertrou hulle nie.

A hero is a man who does what he can. – Romain Rolland

A hero is someone who understands the responsibility that comes with his freedom. – Bob Dylan

A hero is not braver than an ordinary man, but he is brave five minutes longer. – Ralph Waldo Emerson

Image: siraphat/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Lig jou keps vir dié boere!

Ek erken ek weet nie veel van boerdery nie, maar dit gaan my nie keer om vandag ’n kersie vir die meerderheid boere in Suid-Afrika aan te steek nie. Veral nou dat dit lyk of die stof in die wingerde en boorde van die Wes-Kaap vir ’n tydjie loop lê het.

Gelukkig ken ek nie daardie boere waarvan Tony, en die ander man met die swart keps en die graad twee-retoriek, praat nie. Dié boere wat hulle werkers te min betaal en hulle teen hul sin in onmenslike omstandighede laat werk nie.

Dat daar seer sekerlik sulke boere is, dit betwyfel ek nie. Waar daar mens is, daar sal dié onmenslikes wees.

Die boere wat ek ken, van hulle het ek nooit oor die TV gehoor nie. Die boere wat al lankal, so ver as dertig jaar gelede, hulle werkers veel meer betaal as waarvoor hulle vra. Wat aan hulle werkers behuising, en hier praat ek nie van ondergeskikte huisies nie, voorsien. Vir hulle pensioen, mediese fonds en selfs aandele in die plaas gee. Voordele wat nie vir werkers by sommige privaat maatskappye, of party onderwysers wat deur beheerliggame aangestel word, beskore is nie.

Boere wat saam met hulle werkers grootgeword het en wat hulle familie so goed soos sy eie ken. Wat hulle kinders by die sogenaamde ou model C-skole laat leer en hulle selfs universiteit toe stuur.

Maar die man met die keps swyg oor hierdie boere …

Gee die arbeider sy loon, want hy is dit werd. Dit sê die Bybel. Maar die Bybel sê ook dat jy jouself nie op die skouer moet klop nie, laat dit aan ander oor om te doen.

Ek het gewag dat Tony en die kepsman die goeie boere op die skouer moet klop, maar daar het dadels van gekom. Miskien is goeie stories nie goed vir kwaadstokery nie?

Laat ek dit dan vandag maar doen.

Dankie aan al die boere wat lank voor swart keps en sy gehuurde boelies oor die minimum loon begin dink het, reeds hulle werkers met liefde en regverdigheid behandel het.

Nie omdat een of ander wet of staking hulle gedwing het om dit te doen nie. Maar omdat hulle wou.

Want almal op die plaas, is mos onse mense.

The ultimate goal of farming is not the growing of crops, but the cultivation and perfection of human beings. – Masanobu Fukuoka

Farming is a profession of hope. – Brian Brett

Good farmers, who take seriously their duties as stewards of Creation and of their land’s inheritors, contribute to the welfare of society in more ways than society usually acknowledges, or even know. – Wendell Berry

Foto: vitasamb2001/FreeDigtalPhotos.net

Continue Reading

Parstyd: Nie een maal nie, maar twee!

 

Beyers vertel nou die dag dié storie en ek besef dadelik dit sal ‘n goeie tema vir ’n skoolhoof se saalperiode wees. Maar ook ’n baie gepaste post hier net voor Paasfees.

In die Bybel word daar baie na druiwe, wyn en of die wingerdstok verwys. Party bronne beweer tot so veel as 200 keer!

Die wyn waarvan daar in die Bybel gepraat word, is gewoonlik met water verdun en die wynmaakproses was nie so wetenskaplik soos ons dit vandag ken nie. Die druiwe is gepars en die sap is dan deur lappe gefiltreer. Om dit te bewaar, is dit in kleipotte of leersakke gestoor.

Wat egter vir die proses van wynmaak belangrik is, is die feit dat die druiwekorrel gebreek moet word sodat die sap kan uitkom. Die selletjies breek of bars en stel dan die kleur en geur van die druif vry.

Om die soet sap in droë wyn te verander, is ‘n gistingsproses nodig wat weer op sy beurt die suiker in alkohol omskakel. Behalwe vir die omskakel na alkohol, maak die gisting alles in die sap skoon.  Dit reinig en suiwer.

Om ’n vonkelwyn te kry, word ’n basiswyn gemaak en daarna word dit nog ’n keer in ’n tenk of in die bottel gegis om die koolsuurgas te ontwikkel wat die bruisende borreltjies in die vonkelwyn vorm.

Nou waarom dié lang storie oor vonkelwyn?

Die analogie behoort voor die hand liggend te wees, want ons as gelowiges is net soos wyn.

Ons moet ook eers gebreek word om die sap en die kleur in ons  te laat uitkom. By baie van ons stop die proses daar en ons vorder nie verder as ‘n druiwesapgeloof nie. Soet en lekker, maar sonder werklike substansie.

Ander weer gaan deur een gistingsproses en vorder tot ’n basiswyngeloof. Drinkbaar en verouder mooi met tyd.

Die gelukkiges onder ons kry die voorreg om twee keer gesuiwer of gelouter te word. Dit is in die meeste gevalle nie lekker nie en dit gaan gepaard met jeremiades en tonne betwyfeling. Maar as jy dit oorleef, dan is die borrels daar! Dan is die vonkelwyngeloof daar. Gereed om die prop te laat skiet en uit te jubbel dat ons Verlosser leef!

Om só te kan leef dat ander te alle tye die borrels in jou lewe sien en om saam te bid dat die Here ons daagliks soos vonkelwyn skoon sal maak – nie een keer nie, maar twee!

Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. – Johannes 15:1

Eat the bread with joy and
drink the wine with a merry heart. – Ecclesiastes 9

Men are like wine – some turn to vinegar, but the best improve with age.  – Pope John XXIII, 1881-1963

 

Image: Indra Harsaputra 

Continue Reading