Kaptein, span ons seile!

Na afloop van die Vadersdagete staan en tuur ek by die Cape Town Yacht Club deur die woud van maste die verte in.

En ek wonder of die eienaars van die luukse seiljagte gelukkig is?

Maar eintlik is gelukkig die verkeerde woord.

Geluk is iets wat  jy kry as jy die dobbelsteen reg rol. Ek praat hier van iets  geheel en al anders.

Die woord wat ek soek, is tevredenheid.

Is hulle nou tevrede vandat hulle die duur boot besit? Of hunker hulle reeds na iets anders? Iets groters? Iets duurder?

En wat maak die kaptein van dié seiljag meer tevrede as die kaptein van ‘n mokoro in die Okavango Delta?

En ervaar die mokoroskipper nie dalk meer tevredenheid as die seiljageienaar nie?

Die antwoord op dié vraag, lê myns insiens nie in hoeveel of hoe min iemand besit nie. Of wie of wat jy is nie.

Dié sleutel tot die antwoord lê in die spasie tussen jou ore opgesluit.

Dit is eintlik hoe jy oor die lewe  en jou eie situasie dink.

Die dag as jy begin wonder oor wanneer is genoeg nou eintlik genoeg, dan snap jy skielik die antwoord. Die geraas in jou kop klaar op as jy besef daar is ander mense wat bid en pleit om daardie goed te bekom wat jy eintlik nie meer na waarde ag nie.

En tevredenheid is wanneer jy genot in die oomblik van nou vind en nie gedurig hunker om op die een of ander plek te wil wees nie.

Tevredenheid beteken egter nie dat jy nou maar terug sit en bloot aanvaar wat met jou gebeur nie. Ook nie dat jy nie mag probeer om jou omstandighede  en/of besittings te verbeter nie.

Nie die kaptein van die seiljag of moroko kan as die storm woed sy hande in die lug gooi en en bloot vir die beste hoop nie. Nee, hy moet al sy kennis en vernuf inspan om te keer dat sy bootjie nie ’n watergraf tegemoetgaan nie.

’n Toestand van tevredenheid word bereik as jy jou deel gedoen het en aanvaar en tevrede is dat jy jou bes gedoen het.

Óf dit dan so bedoel is dat jy met jou mokoro tussen die seekoeie en krokodille moet vaar, óf dalk met jou seiljag tussen die wie’s wie in Monaco seile moet skuur. Maak nie eintlik saak watter van die twee nie; jy is tevrede en dankbaar vir jóú boot.

Ware en opregte tevredenheid is as jy nie eens ’n boot van enige aard besit nie, maar steeds met dankbaarheid en bewondering daarna kan kyk.

En die wete dat jy nie dié gevaartes hoef te onderhou nie, help ook!

 

Until you make peace with who you are, you will never be content with what you have. – Doris Mortman

Be thankful for what you have; you’ll end up having more. If you concentrate on what you don’t have, you will never, ever have enough. – Oprah Winfrey.

He who is not contented with what he has, would not be contented with what he would like to have. – Socrates

 

Image: FreeDigitalPhotos.net

David Castillo Dominici

 

(Visited 189 times, 1 visits today)

, , , , ,

4 Responses to Kaptein, span ons seile!

  1. Pierre Potgieter June, Wednesday 18 2014 at 2:55 pm #

    Ai Rian, sulke ware woorde. My gesondheid alleen is vir my genoeg.

    Mooi bly.

    • Rian Truter June, Wednesday 18 2014 at 9:51 pm #

      Stem 100% saam, Pierre! Mooi loop!

  2. Jacob Rheeder June, Wednesday 18 2014 at 4:59 pm #

    Ek het genoeg. Ek is te dom om CEO van ‘n groot maatskappy te wees. Ek is te sag om met personeel te raas. Ek is te lui om ‘n groot huis te onderhou. My paaie is te sleg vir ‘n netjiese ryding. Ek het genoeg

    😉

    • Rian Truter June, Wednesday 18 2014 at 9:52 pm #

      Presies so, Jakkie ou maat! Groete en mooi loop!

Leave a Reply