Archive | Life

Balanseer jou siel

 

John Ortberg en Philip Yancey is skrywers wat my ’n dieper insig in die Bybel en die lewe gee.

Soms wil ek so ver gaan om te sê dat ek in hulle boeke meer stof tot nadenke kry, as sommige Sondae in die kerk!

Ook nou weer so met John se nuwe boek, Soul Keeping: Caring for the most important part of you.

Die boek het my met ’n skok laat besef dat ek my siel amper 61 jaar tweede viool laat speel het! Terwyl ek my worrie oor my al groter wordende omtrek,  het ek bitter min sleg geslaap oor my siel.

Dat ek ’n siel het, daarvan is ek deeglik bewus, want oorkoepelend is die siel tog in alle godsdienstige praktyke teenwoordig. Ons sing daarvan, ons lees daarvan in die Bybel en as ’n skip vergaan, praat ons van die aantal siele wat omgekom het.

In Soul Keeping vertel John van die Barna Research Group wat ’n nasionale aanlynmeningspeiling in die VSA geloods het om vas te stel wat mense ten opsigte van sonde as hulle topversoekings ervaar.

Alweer sonde! hoor ek jou sug.

Sterk wees. Hierdie is nie nog ’n preek oor wat jy nie mág of móét doen nie. Onthou net, sonde en jou siel is nie maatjies nie!

Terug by die meningspeiling. Topversoekings? Natuurlik dink ons dadelik aan die sondes wat ander doen. Veral in Suid-Afrika sal woorde soos korrupsie, geweld, misdaad, jaloesie, pornografie en rassisme by die meeste mense opkom.

Wat egter interessant was, was dat die nommer een versoeking wat die anonieme deelnemers gelys het, iets was wat hulle nie in die tronk sou laat beland nie! Jy kan dit jou hele lewe lank doen en niemand sal dit eens weet nie.

Nommer een op die lys was, bekommernis.

Of anders gestel, worrie.

Ja, dit is daardie ding wat ons laat wakker lê in die nag. Wat maak dat ons maagswere, siektes en peste ontwikkel van al die dink daaraan. Dit is daardie ding waarvan ons sing if you worry you die, so why worry maar niks toepas van wat ons sing nie!

Hoeveel ure al deur worrie gemors is, is seker onberekenbaar. En ons weet uit ondervinding dat die meeste van dit waaroor ons ons bekommer, nooit waar word nie. Maar steeds hou ons aan met worrie.

Nou hoe kom ons daarby dat bekommernis sonde is, wil jy weet.

Jy sien, worrie word ‘n gewoonte. ’n Gewoonte wat sê dat ek God nie genoeg vertrou nie.

’n Slegte en sondige gewoonte, want ons navigeer ons lewens met die gewoontes wat ons vorm en ontwikkel. Goeie gewoontes maak ons vry en maak dat ons goeie dinge kan doen en sê. Sondige gewoontes perk my en my siel in en verhoed dat ek die goeie doen waarvan Paulus praat, want ek is te besig om te worrie.

Genoeg oor bekommernis. Jy wonder seker wat in die tweede plek was?

Tweede was uitstel. En dan het te veel eet, sosiale media en luiheid gevolg.

Gaan lees gerus Soul Keeping as jy jou lewe en die ewigheid in balans wil bring.

 

Food for the body is not enough. There must be food for the soul. – Dorothy Day

Prayer is not asking. It is a longing of the soul. Mahatma Gandhi

For truly we are all angels temporarily hiding as humans.Brian L. Weiss

 

Continue Reading

‘n Samaritaan by die verkeerslig

Ek is oortuig die nimmereindigende stroom bedelaars by my voordeur sou die Samaritaan geknak het.  Barmhartig of te not!

Boonop wil dit vir my lyk of elke besige kruising deesdae ook met ’n bedelaar ge-issue word.

Gee werk, gee kos. Help ’n bietjie. André.

Op elke stukkie denkbare karton word tranetrekker-jeremiades geskryf. Vinnig geoordeel; baie min van dié skrywers het hul lopende skrif in graad 2 geslaag!

Hulle stoei met ander manne wat elke artikel wat jy uit draad kan vleg, of wat jy uit China kan kry, verkoop, vir die beste staanplek op die middellyn van die pad.

Só sit ek nou die middag weer by ‘n verkeerslig en staar in die emosielose gesig van nóg ’n plakkaathouer. Sy gesig uitdrukkingloos en die toonbeeld van ’n stamboeksnotpsalm*.

Dis Saterdagmiddag en die moontlikheid van ’n goeie oes vir hom, lyk vir my skraal.

Niemand in die Pajero’s of BMW’s lyk of hulle die bedelaar eens opmerk nie. Wat nog te sê dat hulle hul beursies gaan oopmaak!

Reg voor my staan en bewe ’n Mazda tree-to-tree wat lyk of dit uit ’n boom geval het… ’n paar keer gerol en wonderbaarlik weer op sy wiele te lande gekom het.

Net voor die lig na groen verander, verskyn daar skielik ’n arm deur die tree-to-tree se voorste ruit. Dié arm wink in die rigting van die plakkaatdraer en ’n groen tienrandnoot weerkaats helder teen die swart teer.  Net vir ’n oomblik sien ek ’n flikkering van emosie op die bedelaar se gesig en sy standbeeldlyf kry wonderbaarlik lewe.

En daar op die stopstaat, verstaan ek skielik die gelykenis van die tannie met die twee geldstukkies in die Nuwe Testament.

Dié tannie het gegee. Al het sy dit self nie eens so breed gehad nie.

Sy het gegee, want sy het geweet wat dit is en hoe dit voel om nie te hê nie.

Ons wat so baie het, en net gee uit die oorvloed van wat ons besit, gee nog nie regtig nie.

Dit is darem al iets, hoor ek jou sê.

Toegegee, maar miskien sus ons net ons gewete, want ons weet van die ryk man en die naald se oog.

Die Mazda stotter en dit lyk of dit sy eie rigting wil inslaan.

Dalk op soek na nóg ’n kruising met ’n storie om te vertel.

 

When you learn, teach. When you get, give. – Maya Angelou

For it is in giving that we receive. St. Francis of Assisi

We make a living by what we get. We make a life by what we give.Winston Churchill

 

* Snotpsalm: gehuil: Die snotpsalm insit, begin huil. (HAT)

 

Continue Reading

Luister lekker!

Ek lees nou die dag op ’n plek dat die meeste leiers met hulle monde oop sterf.

Ja, met hulle monde oop, want hulle is gedurig aan die praat. Besig om mense te vertel hoe om dít of dát te doen of om raad te gee, want leiers moet mos altyd die antwoorde hê.

Dit het my laat wonder oor hoe goed ek luister? Wanneer laas het ek meer gekonsentreer op wat die ander persoon sê as wat my antwoord gaan wees?

Suksesvolle leiers, en dit sluit ouers in, is goeie luisteraars. En natuurlik goeie sprekers, maar jy kan net regtig in mense belangstel en vir hulle omgee as jy na hulle luister.  En laat ek dadelik bysê: met volle oorgawe na hulle luister!

Dit is hier waar die meeste van ons se voorneme om te luister in die hek duik. Al is ons mond dalk toe, is ons brein op ’n ander plek. Ons dros eintlik so ’n bietjie uit die gesprek en terwyl die persoon voort babbel, dink ons aan ander dinge.

Hopelik sal ons, as sy stilbly, net instemmend kan knik of ’n ekspressiewe geluid kan uiter om valslik te wys dat ons met die gesprek bygebly het.

Ongelukkig is stilbly nie luister nie. Om regtig intensief na iemand anders te luister, beteken dat die persoon na wie jy luister, die middelpunt van jou totale belangstelling word. Al jou sintuie is gefokus op wat die persoon sê en ook nie sê nie. Baie keer hoor jy meer uit die persoon se liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en uit dit wat die persoon nie sê nie, as die woorde.

Om na iemand te luister, sê dat jy respek vir hom of haar het. Al is jy die meerdere. Uit respek ontwikkel daar vertroue wat hopelik tot groter verdraagsaamheid en tot minder konflik sal lei.

As ons meer luister, gaan ons beslis ook meer weet.  Meer weet van die wêreld waarin ons leef en van die mense wat dié aarde saam met ons bewandel.

Jy gaan agterkom hoe effektiewer jy luister, hoe rustiger en kalmer gaan jy word. Nie omdat dit makliker is om te luister nie. Inteendeel; luister verg baie meer inspanning en vaardigheid as praat! Maar omdat jy fokus en daarom alle ander bollie uit jou kop en lewe skuif.

As ons meer luister as praat, sal ons ook dalk minder spyt wees oor goed wat ons nie moes gesê het nie.

Onthou die wyse raad: ’n Toe bek is ’n heel bek!

 

No man ever listened himself out of a job. – Calvin Coolidge

The first duty of love is to listen. – Paul Tillich

The greatest gift you can give another is the purity of your attention. – Richard Moss

Image: David Castillo Dominici/FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading

Wat is raai, Oupa?

Ek sê nou die dag vir Luca (ons kleinseun) hy moet raai hoeveel klippies in my hand is.

Wat is raai? is sy teenvraag.

En daar snoeker hy my geheel en al. Wat ís raai vir ’n driejarige? Hoe verduidelik jy raai aan ’n driejarige? Of nóg moeiliker; hoe verduidelik jy kleur aan ’n blinde? Hoe gee jy betekenis aan ’n begrip wat vir jou as volwassene amper  te simplisties logies is?

Dit is eers as jy probeer verduidelik, dat jy skielik verstaan dat dit vir hom net ’n woord gaan bly. Sonder betekenis.  ’n Woord wat hy eers kan begryp as hy ervaring daaraan kan koppel.

Ek het nou nog nie ’n antwoord nie, maar dit het my laat dink aan wat Pieter de Villiers (coach) nou die oggend gesê het.

Hy sê, kos is net ’n woord in die woordeboek totdat jy honger is. Dan eers kry dit regtig vir jou betekenis.

Woorde soos lewe en dood is ook vir die meeste van ons sulke woordeboekwoorde.  Ons ken hulle, en kan hulle is die regte konteks in sinne gebruik, maar verstaan hulle eers werklik as ons hulle naby aan ons eie lyf voel.

Soos met die skielike afsterwe van my skoonsuster Esmé drie weke gelede. Skielik is dalk ook die verkeerde woord. Dalk is plotseling ’n beter woord, want hoe beskryf jy om binne sekondes dood te gaan aan iemand? Hoe beskryf jy die verskil van sekondes tussen lewe en dood aan iemand wat dit nie beleef het nie.

Net iemand, soos Beyers, wat die een sekonde nog die lewe in die oë kon sien en die volgende oomblik die leweloosheid kon waarneem, kan dit verstaan en begryp.  Dit is dan eers dat die verskil tussen lewe en dood begin sin maak. En dan wat retoriek soos ek verstaan hoe jy voel as die totale snert wat dit is, ontmasker word.

Want jy kan net verstaan, as jy dit al sélf beleef het.

Maar dit is ook in die verstaan van lewe en dood dat ander woordeboekwoorde betekenis begin kry. Dit is hierdie tyd van hopelose onbegrip en seer dat vriendskap, huil en omgee sin begin maak.

Dit is wanneer jy opgehuil is en die dominee tydens die diens sê dat die kortste teks in die Bybel in Johannes 11:35 staan: Jesus het gehuil, dat jy verstaan hoe Jesus oor sy vriend Laserus se dood gevoel het. En dat jy weet dit is OK om te huil.

Ek het ook besef Naas is verkeerd. Cowboys do cry. Want die hoeveelheid huil wat groot manne kon huil, is verstommend. Johan Kat se lang lyf met die trane wat oor sy wange stroom; André, Balie, Abré, Paul en al die ander se trane het woorde totaal onnodig gemaak.

Geen woorde kan meer betekenis hê as wanneer dit met trane gesê word nie. Trane maak woorde onnodig, want trane sê ek is hier vir jou; ek deel jou pyn asof dit my eie is.

Manne druk mekaar ook glo nie. Sê wie? As dit nie vir druk en vashou in hierdie tyd was nie, sou ons seker weggedryf het in ’n see van hopeloosheid. Vashou en saamhuil was ’n boei in hierdie storm van hartseer. Vasdruk was soos ’n kaai waarteen jy vir ’n oomblik kon rus en sê dankie, hier is ek veilig.

Dit is ook as ons midde in hierdie storm is dat ons woordeboekwoorde beter verstaan. Dit is dan dat ons hand en mond belowe om nie weer vriendskap, omgee en huil op die rak te laat staan nie.

Maar helaas. By die volgende begrafnis besef ons net weer met ’n skok dat van dié woorde weer êrens in die woordeboek opgeneem is.

Wat is raai, Oupa?

Ek kan nog nie verduidelik nie, Luca.  Maar ek weet ek raai nie meer oor wat huil, vriendskap en omgee beteken nie.

Ek verstaan dit nou.  Ek het dit weer vars aan my lyf gevoel en beleef.

Laat Oupa liewers aan jou verduidelik dat huil meer as woorde sê; dat vriendskap meer werd is as goud en dat die lewe régtig baie, baie kort is.

En dat omgee beter is as om vir die eerste span te speel.

Gegroet, Esmé.

Dankie dat jy weer die woordeboek vir my kom oopmaak het.

 

Tears are words the mouth can’t say nor can the heart bare. – Joshua Wisenbaker

Friends are the family you chose. – Jess C. Scott

Hold a true friend with both your hands. – Nigerian proverb

 

Continue Reading

Hoog- of Laagwater?

Lewe jy op die hoog- of op die laagwatermerk?

Die hoogwatermerk! hoor ek jou skree.

Dalk het jy die vorige weke te veel motiveringsessies bygewoon? Of dalk net te veel selfhelpboeke verslind.

Miskien wil jou brein jou oortuig dat die hoogwatermerk die regte antwoord is, want dié orgaan het die gedagte dat die halfvol glas beter is as die halfleë een, êrens in die gleuwe van sy/haar geheue gebêre.

Vir die duikers onder ons is laagwater ’n beter tyd om perlemoen (toe jy nog kon!) uit te haal as hoogwater. Jy hoef nie so diep te duik om by jou buit uit te kom nie.

Maar as jy by Struisbaai die branders wil surf, dan is die tyd waarvoor jy wag, beslis hoogwater. Dit is dan dat die branders jou tot op die strand sal dra.

Die meeste van ons leef egter ons lewens so êrens gerieflik tussen die hoog- en laagwatermerk. So êrens in die middel.

Êrens tussen die vlak poeletjie en die baie diep water.

’n Good life in plaas daarvan om die grense van hoog- en laagwater uit te daag om die skatte wat eb en vloed bied, te ontdek.

Maar dit is ook waar dat ’n great life nie beteken om gedurig branders te ry nie!

’n Great life impliseer eerder om te weet hoe en wanneer om die beste uit dit wat hoog- en laagwater bied, te gaan haal.

’n Great life vereis dat jy die middelgrond verlaat om die grense te gaan verken.

Dit is slegs dán wat jy die skatte wat hoog- en laagwater bied, sal ontdek.

 

Life is either a daring adventure or nothing at all. – Helen Keller

You can’t cross the sea merely by standing and staring at the water. – Rabindranath Tagore

The sea once it casts its spell, holds one in the net of wonder forever. – Jaques Yves Cousteau

Image courtesy of CNaeme/FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading

Die klein jakkalsies.

Mense kan nogal groot rampe oorleef.

Dink maar aan oorloë, konsentrasiekampe, natuurrampe, siekte, moord en misdaad.  Baie mense ervaar hierdie verskillende vorms van hel elke dag, maar dit is asof die wat dit oorleef, sterker aan die ander kant van dié donker tonnel uitkom.

Maar dit is baie keer die klein dingetjies in die lewe wat jou amper van jou trollie laat aftuimel! Regte onbenullighede as hulle teen die groter dinge van die lewe gespieël word.

My eie klein jakkalsie, wat my omtrent elke keer oor die afgrond van moedeloosheid en magteloosheid dryf, is ‘n leë kramdrukker! Veral as ek  papiere met oorgawe aan mekaar wil kram en die verdomde drukker dan net so ‘n staal-op-staal-geluid baar. Klang!

Die teleurstelling is soos om vir die glimlag van ‘n mooi meisie te wag, maar dan, as sy glimlag, te ontdek sy is tandloos. Die ene gums!

In my toestand van frustrasie wonder ek dan hoekom het die persoon wat die kramdrukker voor my gebruik het, dit dan nie weer volgemaak nie? Maar hoe moes hy geweet het dit was die laaste krammetjie? Die masjien sê dit nie vir jou nie! Miskien is dit ‘n idee vir die nuwe Apple van kramdrukkers? ‘n Aanduider wat vir jou sê daar is nog net vyf, vier, drie, twee, een krammetjie oor.

My vriend Jakkie sê weer ‘n geroeste skuifspeld (paper-clip vir diegene onder 40) breek sy spoed. Veral daai roesbruin strepe wat die speld op sy pragtige wit papier trek!

Ek is oortuig dat almal van ons wat met papier werk, Jakkie se frustrasie deel en ken. Maar die ergste hiervan is dat ons dit nog steeds oorkom! Ons  weet baie goed die geroeste skuifspeld gaan die papier bemors, maar word deur die jakkalsies in ons brein omgehaal dat dit nie hierdie keer sal gebeur nie. En dan doen ons dit weer!

Die oplossing met hierdie klein jakkalsies in ons lewe is om dalk met hulle te maak soos met die klein bobbejaantjie wat mense op jou skouers kom aflaai. As hulle eers die bobbejaantjie aan jou oorgegee het, stap hulle weg en wil om elke hoek en draai by jou weet hoe dit met die bobbejaantjie gaan.

Die bobbejaankenners sê daar is net twee maniere om hierdie probleem op te los. Jy moet óf die bobbejaan voer óf jy moet dit skiet. Alles natuurlik figuurlik gesproke.

Miskien ook só met die klein jakkalsies?

Laat weet watter klein jakkalsies jou teen die muur laat opklim.

 

I don’t have pet peeves; I have whole kennels of irritation. – Whoopi Goldberg

Dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. – Afrikaanse idioom

I have always had a talent for irritating women since I was fourteen. – Marilyn Monroe

 

Image: Gualberto107/FreeDigitalPhotos.net

 

 

Continue Reading

Drome kan gevaarlik wees!

Dit was nadat ek nou die dag weer tydens ’n praatjie iets kwyt geraak het dat ’n mens drome moet hê, dat een van die mense daar my vra om iets oor drome te skryf.

En sonder dat hulle gevra word, sing die Everly-broers in my kop:

Drea-ea-ea-ea-eam, dream dream dream …

Laat ek begin deur te sê dat daar twee tipes drome is. Die eerste soort is die wat nie die werklikheid is nie.  Die wat gebeur as ons slaap.  En in dié drome is alles moontlik.  Ek het weer hare en jy is Twiggy se baas en die Lotto is joune, maar as jy wakker word is al wat jy het, teleurstelling.

Die tweede tipe droom waarvan ek praat, is daardie iets wat jy begeer of wil hê, maar wat amper so ’n ietsie onmoontlik aan hulle het. Amper soos die koekieblik op die kas wat jy net-net nie kan bykom nie.

Maar ons drome kán waar word.  Net soos jy die koekieblik in jou hande kan kan kry.  Al wat nodig is, is ’n stoel om op te staan.

Drome waarin jy vlieg soos Superman, of Charlise Theron word jou buurvrou (wag hierdie kan een kan nog moontlik wees, maar onwaarskynlik) is slegs verbeelding.  Onwerklik en onmoontlik.  Lekker ontvlugting soos ’n storieboek waarin jy jou vir ’n kort tydjie kan inleef, maar only trouble is, gee whiz I’m dreaming my life away… (weer die Everly-boeties).

In dreams you can fly forever, And never miss a turn, In dreams you can spread your wings, And know where to turn. – Yoko Ono

As ek vir iemand sê om aan te hou droom, dan is dit nie dié soort drome nie.  Die drome waarvan ek praat, kán waar word. Maar net as jy iets daaraan probeer doen.

Ek praat van oop-oë-drome. Drome waarin jy kan sien en weet wat is werklikheid en wat is verdigsel. DH Lawrence sê hierdie oop-oog-dromers is gevaarlike mense, want hulle doen iets aan hulle drome.  Hulle wag nie vir die skip om in te kom nie, hulle swem sommer self na die skip toe!

Drome wat waar word sonder dat jy iets daaraan probeer doen, is niks anders as geluk nie. En oor geluk het nie jy of ek beheer nie.

Die belangrikste is egter dat jy droom.

Want wie weet; eendag maak jy dalk net jou oë oop en begin regtig skaaf aan jou lugkasteel in die wolke.

All men dream, but not equally. Those who dream by night in the dusty recesses of their minds, wake in the day to find that it was vanity: but the dreamers of the day are dangerous men, for they may act on their dreams with open eyes, to make them possible. – TE Lawrence

A dream doesn’t become reality through magic; it takes sweat, determination and hard work. – Colin Powell

The world needs dreamers and the world needs doers. But above all, the world needs dreamers who do. – Sarah Ban Breathnach

Continue Reading

Oorvloed of Skaarste?

Cornel sê gister op sy 60 ste verjaarsdag dat hulle die paartie vir ons hou. Vir al hul vriende, want dit is hoe hulle wil dankie sê vir dit wat hulle vriende tot hulle lewenspad bygedra het.

Hulle wil hul vriende se bydra tot hul lewe vier en daarom ruk hy en sy vrou al die stoppe uit. Hulle gee vandag graag met oorgawe weg, want hulle het dan so baie ontvang.

Sy woorde het my aan Stephen Covey se oorvloedmentaliteit herinner. Volgens Covey is daar mense (soos Cornel en Suzél) wat met hierdie mentaliteit, dat daar vir almal oorgenoeg in die wêreld is, leef. Maar ongelukkig is daar ook mense wat met die skaarsheidmentaliteit lewe en glo daar sal net nooit genoeg wees nie en daarom moet hul bymekaarmaak en versamel om te oorleef.

Hierdie mense kán of wíl die oorvloedmentaliteit net nie begryp nie. Vir hulle is die Scrooge-mentaliteit net baie makliker om te verstaan. Hou alles baie dig teen jou bors. Opgaar en vasklou is baie makliker as weggee en deel.

Wees gewaarsku! Die Scrooge-mentaliteit is verslawend en selfs dodelik. Voor jy jou kom kry, neem jy na ’n bring-en-braai die minimum. Hou jy jou bring in die mandjie en kyk jy eers of die ander sin nie genoeg is om mee te kuier nie, want dan kan jy jou kosbare proviand weer huis toe neem. En jy kamoefleer hierdie inhalige daad onder die vaandel van spaarsamigheid (of wat jy ook al wil glo).

Covey se abundance mentality sê daar is genoeg vir almal. Moenie worrie nie. Jy sal jou deel kry. Jy hoef nie ander uit die pad te storm om eerste die winskopie te gryp of jou bydrae laaste uit die mandjie te haal nie. Wees daarom vrygewig, deel uit en verbly jou in ander se sukses en goeie geluk.

Die Bybel sê ook dat jy jou brood op die water moet werp en dit nie in jou mandjie moet los nie.

Truter sê as iemand van jou twee uie vra, neem drie. Want slegs deur meer te gee as wat daar van jou gevra word, sal jy die vreugde van oorvloed ondervind. En kan jy daardeur dankie sê dat jy so baie ontvang het.

Wakker loop, want voor jy jou kom kry, verander spaarsamigheid in suinigheid en suinigheid in ingatheid.

En ingatheid is ’n lelike ding; dit wys op jou gesig!

It is preoccupation with possessions, more than anything else, that prevents us from living freely and nobly. – Thoreau

Three great forces rule the world: stupidity, fear and greed. – Albert Einstein

He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose. – Jim Elliot

Continue Reading

Aftree: Magies of Tragies?

Wat gaan jy doen as jy aftree?

Hoekom soek mense so naarstigtelik ‘n antwoord op dié vraag?

Aftree sê mos presies wat dit is. Dit is soos om van ‘n trein af te klim wat jou tot by ’n sekere punt gebring het.

Maar as jy jou bestemming bereik, het jy eintlik nog ’n keuse. Bly op die trein, of klim af …

Vir my wil dit lyk of die meeste mense baie versigtig is vir dié aanstap. En spesifiek hoe om alles daaraan verbonde te hanteer. Om sake te vererger, help die polissmouse ook nie om die onstuimigheid in jou gemoed tot bedaring te bring nie, want hulle projeksies wys nooit dat jy ooit genoeg sal hê nie!

Ander weer kan nie wag vir hierdie magiese dag nie, want dit klink vir my of hulle lewe dan eers begin.

Al wat ek oor wonder, is: Hoekom tree jy dan af as jy nie weet wat jy gaan doen nie? Mens klim tog mos nie by enige stasie af nie! As jy dan nie niks wil doen nie (dit is tog wat met aftree bedoel word?) kry nóú jou eendjies in ’n ry.

Moenie wag tot jy nie meer kantoor toe hoef te gaan om uit te vind wat jy met al jou vrye tyd gaan doen nie. ’n Mens kan net só veel vakansie hou, winkel toe gaan of op die stoep sit. Jy gaan ontdek dat die res van die wêreld nog werk en nie vir jou sit en wag nie.

Begin nou al met iets wat jou na aftrede kan besig hou en selfs as ’n nuwe inkomste kan dien. Moet dus nie tot stilstand kom nie, verander eerder net van rigting.

Die tweede ding waaroor ek wonder: Hoekom dan tot by aftrede wag om te begin lewe? Wat maak jy dan nou? Bestaan jy net?

Miskien is ons probleem dat ons groot gemaak is met die idee dat ons moet lewe om te werk en nie werk om te lewe nie! Natalie Babbitt het hierdie lewenstragedie baie raak saamgevat toe sy gesê dat ’n mens nie die dood moet vrees nie, maar ’n lewe wat nie geleef is nie!

Ek moet sê, ek verkies eerder om te hoor dat mense wil weet wat ek na aftrede gaan doen, as dat iemand sê hy het nog net vyf, vier, drie, twee, een jaar oor voor hy aftree.

Laasgenoemde het reeds afgetree, maar besef dit nie. Behoede die werkplek wat vir die volgende vyf, vier, drie, twee, een jaar ‘n oorklimstasie na AFTREE word!

Aftree is eintlik net ’n syfer. ‘n Syfer wat deur werkgewers bepaal word.

Dit is wat jy met daardie syfer gaan doen, wat regtig saak maak.

You get old faster when you think about retirement. – Toba Beta

The trouble with retirement is that you never get a day off. – Abe Lemons

Don’t simply retire from something; have something to retire to. – Harry Emerson Fosdick

Image: Stuart Miles/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

‘n Nuwe kyk na wat jy doen

Hoekom doen ek dit?

Gewonder waarom hou jy skool, of waarom bak jy cupcakes? Of bloot die wonder of daar nie ‘n beter manier is om te doen wat jy nou besig is om te doen nie?

Baie keer ken jy die antwoord, maar jy soek net weer so ‘n geutjie ekstra inspirasie.  Daardie skop onder die jis, daardie inspuiting van ‘n nuwe kyk na wat jy doen.

Presies so ‘n boek is die The Fortune Cookie Principle deur Bernadette Jiwa.

Of jy nou ‘n skoolhoof of ‘n graad 1—juffrou is, hierdie boek gaan jou nuut na jou besigheid laat kyk.  En daaroor laat wonder.

Laat ek dadelik sê dat The Fortune Cookie Principle nie ‘n onderwysboek is nie. Dit is eintlik ‘n besigheidsboek, maar of jy nou skoolhou, wynmaak, preek of ‘n ma van Mom’s Taxi is, jy bedryf eintlik ook ‘n besigheid!

Tina Roth Eisenberg (stigter van Tattly) som dit knap op: If you’re someone who cares about why you do what you do and how you do it, this book is for you.

Die Fortune Cookie Principle lees maklik en is glad nie in hoogdrawende M.B.A-taal geskryf nie. Jiwa illustreer haar stellings met inspirerende stories oor besighede soos Lego, Airbnb, Kimpton Hotel en vele ander.

Hier volg ‘n paar aanhalings wat jou sommer dadelik aan die dink (en lees) sal sit:

People don’t want to buy a quarter-inch drill. They want a quarter-inch hole. – Theodore Levitt, Harvard Business Professor

We are defined not by what we do but by why we do it. …We need to understand our purpose, and without that we’re just going to set up a company to make money to sell it. In a way, businesses need soul, too, and the why is the soul. – David Hieatt, co-founder, Hiut Denim

Consumers don’t want to understand the story. Increasingly, they want to be part of it … – Robert Fabricant

Lees gerus The Fortune Cookie Principle. Jy sal nie spyt wees nie!

Continue Reading