Wat die hoep-hoep my geleer het!

My hoep-hoep

Ek het ‘n hoep-hoep wat die afgelope twee jaar in my garage se dak kom nes maak.  Reg op die hoek.  Elke nou en dan sien ek hom (haar) onder die dakteël inkruip.  En dan voel ek lekker, want ek het my eie hoep-hoep! Die klein hoepie het ek nog nie te siene gekry nie, maar ek wag in spanning!

’n Geheel en al ander spanning as laas Sondag se rugby.  Want, sê ek vir myself, dit is mos maar wat almal al ’n jaar of twee lank voorspel het gaan gebeur. Maar as dié voorspellings waar word, dan bly dit steeds nie lekker nie.  Die hoop het dan net weer begin opvlam dat ’n wonderwerk saam met Peter tog dalk nie onmoontlik is nie.

Terug by my hoep-hoep. Sy tuismaak in my dak (en die rugby) het my laat dink aan iets wat Dee Hock eens op ‘n tyd gesê het: The problem is never to get new innovative thoughts into your mind, but how to get the old ones out! En hoe waar is dit nie!

Soms kom ons so ontvanklik vir nuwe idees voor en sien onsself as vrydenkend, maar in die praktyk gaan ons voort en doen presies dit wat ons nog altyd gedoen het. Ek dink ons merk meestal vir onsself die oopkopboksie af as ons moet kies tussen dít of die  verkrampboksie.  Maar in praktyk oordonder ons ou manier van doen so baie kere die nuwe idees wat ons wil doen of selfs net wil probeer.

Kry nou net ’n idee!  Miskien moet ek êrens ’n opname van die wedstryd in die hande kry en met ‘n oop gemoed bekyk? Bekyk sonder dat my Vlak 2-afrigtingsertifikaat die manne in groen en die skeidsregter beoordeel. Miskien moet ek my nie te veel verknies oor die feit dat Peter baie leë beloftes maak nie, want hy is mos eintlik ’n spreker van formaat.  Baie flinker met die die mond as met die afrigting!

Terwyl ek dan nou so radikaal wil raak.  Miskien moet ek sommer vriend Vincent Koekemoer oornooi om saam met my na die wedstryd se kykweer te kom kyk.  En daarna kan ons saam braai. En terwyl ek nooi; wat van Steve en Julius?

Al wat my van my nuwe flinkdink-idee bekommer, is dat hierdie mense gewoonlik nie alleen kom kuier as jy hulle nooi nie.  Amper soos familie, want as jy hulle nooi, kom al die aangeplaktes saam.  Dit kan amper soos ’n Mighty Men saamtrek word!  En waar parkeer die busse?  En wat daarvan as my hoep-hoep skrik en besluit om te voertsek as gevolg van al die gebraai en gedansery terwyl ons na die wedstryd kyk?

Nee wat, los maar!  Dit sal in elk geval nie werk nie.  En terwyl my nuwe gedagtes terug koers kry êrens heen en my oues hulle hande soos nat vlieë van lekkerkry vryf, mis ek uit op ’n moerse braai en vriende wat ek nooit sal ken nie.

My hoep-hoep kom sit op die geut en sing: Hoep-hoep hoep-hoep… hoera vir die jollie bobbejaan!

Verbeel ek my of koggel die bleddie voël my?

Every mind is a room packed with archaic furniture. – Dee Hock

Ideas are like wandering sons.  They show up when you least expect them.  – Bern Williams

Old beliefs die hard even when demonstrably false. – EO Wilson

        

(Visited 519 times, 1 visits today)

, , ,

2 Responses to Wat die hoep-hoep my geleer het!

  1. jeanette October, Sunday 16 2011 at 6:39 pm #

    Ai,ai,ai, die waarheid en die waarheid is soms maar moeilik om te verteer!

  2. Nina October, Monday 17 2011 at 3:01 pm #

    Ek stem saam Jeanette.

    Ou kennis en vaardighede is so moeilik om te ontgun, veral as mens dit lanklaas gebruik het. En dan net so soms speel die geheue ook nie saam nie. Is dit nie een van die hoofdoele van onderwys nie. Mens moet die kinders in skole so leer dat hulle dit wat hulle geleer is, hul hele lewe lank kan gebruik.

Leave a Reply