Tag Archives | Waardes

Die dorp wat hulle grootmaak

It’s a strange, strange world we live in master Jack…

Of die Four Jacks and a Jill in 1968 ooit besef het hoe profeties hierdie woorde sou word, betwyfel ek.

En net toe ons dink Covid en al sy tentakels is die toppunt van tragedie, wys van ons medeSuid-Afrikaners ons hoe sake oornag van erg na erger kan eskaleer.

Ek is die eerste een wat erken Afrika is ’n tawwe kontinent, maar selfs ek het nie in my wildste drome gedink mense sal oop en bloot, in die lens van van ’n nasionale TV-kamera, ’n winkelsentrum plunder en beroof nie!

Nie eens rot en kaal steel nie, want ek glo dat elke rot betyds die pad gevat het… Eerder tot op die fondasie afbreek!

Wat nog erger was, was om kinders tussen die volwassens te sien wat meedoen aan hierdie skreiende anargisme.

Die spreekwoord It takes a village to raise a child het onwillekeurig in my gedagtes opgekom.

En ek wonder wat het in hierdie dorpie skeefgeloop?

Wie was hulle rolmodelle? Politici, gemeenskapleiers, ouers, grootouers, bure, onderwysers…

Watter waardes is aan hulle voorgehou? Die vyf op die plakkate in die skoolgange strook definitief nie met dit wat hulle by die leiers van die dorp en land waargeneem het nie.

Dalk is dit ’n onderwysstelsel wat geen waarborg op werk verskaf nie?

Was dit sistemiese armoede of honger wat hulle hiertoe gedryf het?

Of is hulle bloot in die suigstroom van die dorp opgeslurp en in hierdie chaos uitgespoeg?

Maar die ergste nog; is hierdie nuwe normaal hulle morele kompas vir die res van hulle lewe?

As bogenoemde vraag waar sou wees; behoed hulle, ons en die land waarvan hulle dorpie ’n deel is.

 

The essence of community, its heart and soul, is the non-monetary exchange of value; things we do and share because we care for others, and for the good of the place. – Dee Hock

Parents must lead by example. Don’t use the cliche; do as I say and not as I do. We are our children’s first and most important role models. – Lee Haney

Parents are the ultimate role models for children. Every word, movement and action has an effect. No other person or outside force has a greater influence on a child than the parent. Bob Keeshan

Continue Reading

Tien sent se steel.

Tydens my gesprekke met onderwysers, beklemtoon ek altyd die feit dat waardes vinniger as straatname verander. En dat onderwysers nie moet laat slap lê as dit kom by waardes en die inprent van dit wat reg en wat verkeerd is nie.

Reg bly reg en verkeerd bly verkeerd.

Jock de Jager (voormalige rektor van Paul Roos Gimnasium) het eens op ‘n tyd aan my gesê, dat hy ondervind dat kinders net erken dat hulle verkeerd is as hulle op heterdaad betrap word. Word hulle nie betrap nie, dan is dit OK om verkeerd te doen. Moet net nie uitgevang word nie.

Vandag, lyk dit my, het die skeidslyn tussen byvoorbeeld steel en nie steel nie, so verdof dat dit aanvaarbaar geword het om ander se besittings vir jou toe te eien. Al word jy uitgevang!

Miskien is dit die daaglikse roof en inbrake waarmee ons moet saamleef, dat mense diefstal as deel van hul bestaan aanvaar? As ek nie ’n flatscreen het nie, dan steel ek een by iemand anders.

Miskien is dit omdat die almal-doen-dit-norm die riglyn van ons lewe geword het?  As ek nie hou van my skoolsak nie, dan ruil ek dit om met daai brand-ene in die gang.

Of miskien is dit die voorbeeld wat volwassenes en die land se leiers aan ons kinders stel? Mammie wat op haar selfoon klets en bestuur as sy hulle by die skool gaan haal en maatskappye en munisipaliteite wat miljoene rande laat verdwyn.

Net hierdie week praat ek weer dieselfde praat met beginneronderwysers op Potgietersrus. Moenie net die sillabus onderrig nie. Onderwys is nie die onderrig van ‘n sillabus nie. Dit is baie meer as dit.  Dit is die onderrig van kinders!

Leer hulle waardes!

Leer hulle daar is nie grade van sonde nie.

Oppad terug Tambo toe, stop ek om iets te koop en kry ’n praktiese les van presies dit wat ek probeer teoretiseer.

Die pakkie sout-en-asyn chips wat ek koop, kos R5.90. Of altans, dit is wat die rakprys aandui. Maar toe ek my geld, nogal presies R6 in munte, vir die kassiere gee, sê sy dit kos ses rand. Eers dog ek ek het verkeerd gelees, want ek het geen benul van wat chips moet kos nie.

Toe ek egter vir haar sê die rak sê dit kos R5.90, pluk sy sonder om te blik of te bloos die geldlaai oop en gee my 10c.

Ek wag dat sy gaan sê sy is jammer vir die fout, maar stilte. Hou net my tiensent na my toe uit asof sy nie ’n oomblik gelede gesê het dit kos ses rand nie!

As ek haar nie bevraagteken het nie, sou sy die tien sent gehou het en niks daarvan gedink het nie.

Verdomp, dis 10c! hoor ek jou skree.

Toegegee, maar dit is die beginsel wat geld.

Daar is nie ’n verskil tussen tien sent steel en tien miljoen steel nie. Die grense raak net makliker om te skuif as jy wegkom met die tien sent. Volgende keer is dit tien rand en wat gebeur dan daarna?

Hoeveel sou sy my teruggegee het as ek met ’n R10-noot betaal het? Drie rand? Ek wonder …

As ek haar nie uitgevang het nie, was haar optrede vir haar aanvaarbaar. Sy sou daarmee weggekom het! En daarmee aangehou het. Nie dat ek dink ons oomblik van waarheid gaan haar laat besin nie. Ek is oortuig verskeie tiensente en meer het intussen hulle weg na haar sak gevind.

Ons kinders, en selfs volwassenes, begin glo dat waardes veranderlik is. Dit is omruilbaar en dat jy dieselfde waarde tydens verskillende situasies verskillend kan aanwend. As jy nie van die een hou nie; daar is baie ander om van te kies.

Noem my outyds, maar tien sent se steel is nie minder krimineel as tien miljoen rand se steel nie!

You, who are on the road, must have a code, that you can live by. Teach your children well… – Cosby, Stills, Nash & Young

Nie alles wat getel kan word, tel nie en nie alles wat tel, kan getel word nie. – Albert Einstein

What you think is right isn’t the same as knowing what is right. – EA Bucchianeri

Grafika: thanunkorn/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading