Tag Archives | Stephen Covey

Die Genetika van Moer Toe.

Alles het versorging nodig!

Ek besef nou die dag, terwyl ek met ’n groep oor hoe om by die maan uit te kom  praat, dat ek eintlik nooit die ander rigting bespreek nie.  So alsof almal weet hoe moer toe gebeur.

Daarom wil ek vandag so ’n bietjie oor die ander rigting van maan toe, naamlik moer toe, gesels.

Nou hoe gebeur dit? Die moer-toe-ding.

Eerstens: Dit gebeur net!  

Jy staan een oggend op en bekyk jouself in die spieël en tot jou skok besef jy dít hét gebeur. Jy ís moer toe!

En dan begin wonder jy wanneer en wat het dan gebeur dat jy só agteruit geboer het.  Miskien is die verval in die eens trotse borskas wat nou ’n hangkas is, of nog erger… Jou gemoed en gedagtes het meer potholes as ’n pad in Noordwes Provinsie!

Sonder dat ons dit besef, laat ons almal toe dat dinge en goeters verval.  Of dit nou die geute van jou huis is of die spiere in jou lyf, almal het onderhoud en versorging nodig.  Niks bly dieselfde of in dieselfde topkondisie nie!  As jy nie daarna kyk nie, sál dit uitmekaar begin val.

Tweedens: Skaarsheid teenoor oorvloed.  

Stephen Covey praat van die abundance mentality.  As jy eers begin glo daar is nie meer genoeg vir jou oor nie, dan moet jy weet jy is volstoom op pad moer toe! 

As jy net versamel, bymekaar maak en opgaar vir die verbeelde ramp en hongersnood wat kom, het jy reeds die grens na moer-toe-land oorgesteek. Jou paspoort is gestempel en jy kan maar net so wel om burgerskap aansoek doen!

Maar as jy besef jou taak is om weg te gee, want daar is oorgenoeg vir ieder en ’n elk om ’n bestaan te maak… dan is jy beslis op pad maan toe.

Dan verstaan jy die wêreld het oorgenoeg go-getters, maar beslis nie genoeg go-givers nie!

Derdens: Die mense en dinge wat jou beïnvloed. 

Kom ons noem hulle sommer net jou beïnvloeders, want dit is hulle wat jou die rigting van moer toe aandui. Wat ontstellend van hierdie beïvloeders is; hulle is die mense en dinge naaste aan jou.  

Soms besef jy met ’n skok jy gebruik dieselfde woord as jou beste vriendin! Die regering is só hopeloos en die onderwysers by die skool is net totaal useless! En daar is tog nie hoop vir ons kinders nie, maar dit is nou seker te laat om die land te verlaat.

Wat jy net nie besef nie, is dat jy dié land al lank al verlaat het! Nie in die vlees nie, maar in die gees. Jy is nou ’n burger van die Republiek van Moer Toe!

Maar dit is egter ook die nuus wat jy kyk en die artikels wat jy lees.  Dit is die TV-programme wat jy kyk. En al dié word later die stories wat jy glo… En meer nog; jou besittings wat jou hele bestaan definieer!

En dit alles, word jy!

Moer toe!

 

The most basic human impulse is towards entropy and laziness. The less we have to do to grow spiritually, the more likely we are to do it. – Alexandra Fuller

An abundance mentality springs from internal security, not from external rankings, comparisons, opinions, possessions, or associations. – Stephen Covey

The people you surround yourself with influence your behaviours, so choose friends who have healthy habits. – Dan Buettner

 

 

Continue Reading

Oorvloed of Skaarste?

Cornel sê gister op sy 60 ste verjaarsdag dat hulle die paartie vir ons hou. Vir al hul vriende, want dit is hoe hulle wil dankie sê vir dit wat hulle vriende tot hulle lewenspad bygedra het.

Hulle wil hul vriende se bydra tot hul lewe vier en daarom ruk hy en sy vrou al die stoppe uit. Hulle gee vandag graag met oorgawe weg, want hulle het dan so baie ontvang.

Sy woorde het my aan Stephen Covey se oorvloedmentaliteit herinner. Volgens Covey is daar mense (soos Cornel en Suzél) wat met hierdie mentaliteit, dat daar vir almal oorgenoeg in die wêreld is, leef. Maar ongelukkig is daar ook mense wat met die skaarsheidmentaliteit lewe en glo daar sal net nooit genoeg wees nie en daarom moet hul bymekaarmaak en versamel om te oorleef.

Hierdie mense kán of wíl die oorvloedmentaliteit net nie begryp nie. Vir hulle is die Scrooge-mentaliteit net baie makliker om te verstaan. Hou alles baie dig teen jou bors. Opgaar en vasklou is baie makliker as weggee en deel.

Wees gewaarsku! Die Scrooge-mentaliteit is verslawend en selfs dodelik. Voor jy jou kom kry, neem jy na ’n bring-en-braai die minimum. Hou jy jou bring in die mandjie en kyk jy eers of die ander sin nie genoeg is om mee te kuier nie, want dan kan jy jou kosbare proviand weer huis toe neem. En jy kamoefleer hierdie inhalige daad onder die vaandel van spaarsamigheid (of wat jy ook al wil glo).

Covey se abundance mentality sê daar is genoeg vir almal. Moenie worrie nie. Jy sal jou deel kry. Jy hoef nie ander uit die pad te storm om eerste die winskopie te gryp of jou bydrae laaste uit die mandjie te haal nie. Wees daarom vrygewig, deel uit en verbly jou in ander se sukses en goeie geluk.

Die Bybel sê ook dat jy jou brood op die water moet werp en dit nie in jou mandjie moet los nie.

Truter sê as iemand van jou twee uie vra, neem drie. Want slegs deur meer te gee as wat daar van jou gevra word, sal jy die vreugde van oorvloed ondervind. En kan jy daardeur dankie sê dat jy so baie ontvang het.

Wakker loop, want voor jy jou kom kry, verander spaarsamigheid in suinigheid en suinigheid in ingatheid.

En ingatheid is ’n lelike ding; dit wys op jou gesig!

It is preoccupation with possessions, more than anything else, that prevents us from living freely and nobly. – Thoreau

Three great forces rule the world: stupidity, fear and greed. – Albert Einstein

He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose. – Jim Elliot

Continue Reading