Geloof is om te glo. Onwrikbaar te glo.
Gewoonlik dink ons aan die begrip van geloof binne ’n religieuse konteks en nie binne ons persoonlike ruimte nie.
Soms wil dit vir my boonop lyk of sommige mense makliker binne ’n godsdienstige konteks kan glo, as in ’n persoonlike konteks.
Miskien is dit omdat baie van ons so Calvinisties grootword dat die gedagte, dat jy in jouself kán en mág glo, summier in sy spore versmoor word. Die eie ek word amper as iets harkoppig en as antagonis vir die goeie ek voorgehou. Om in jouself te glo, grens aan selfverheerliking en dít is ’n groot taboe.
Menige klaskaptein het al ’n verkiesing met een stem verloor, want hy het vir iemand anders gestem. Nie vir homself nie, want dit doen jy nie. As ek dan vir hom vra of hy glo die ander kandidaat is beter as hy, dan sê hy nee, maar jy mag mos nie vir jouself stem nie!
Kurrikulums en werkplekke promofeer spanwerk en saamwerk as vaardighede wat ’n suksesvolle toekoms verseker. Glo aan die krag van die ons en nie die ek nie.
Is dit dan enigsins vreemd dat ons in ’n samelewing leef waar so baie mense opsoek is na hulle eie identiteit? Hoe kan jy weet wie jy is as jy nie in jouself kan en mag glo nie?
En as die papaw die fan tref, dan gryp ons die selfhelpboeke en lees daarin dat die eerste stap op die pad van herstel, is om in jouself te glo!
Ons glo liewer enige iemand anders as wat ons onself glo. Mense met titels en ampte weet skynbaar die beste. Skrywers en sangers gee raad van hoe om gewig te verloor tot hoe om swanger te raak. En ons volg dit slaafs.
Dit het tyd geword om ons kinders te leer dat die ek net so belangrik soos die ons is. En dat hulle in hulle self moet glo. Dat hulle in hulself mag glo. En dat dit nie verkeerd is nie.
Kom ons hou op om kinders groot te maak wat liewer gesien word as wat hulle gehoor word. Kom ons leer hulle hoe hulle moet maak om gehoor te word.
Ek dink geloof in jouself, of kom ons noem dit sommer selfvertroue, gaan die nommer een oorlewingsvaardigheid vir kinders word.
Sonder hierdie vaardigheid gaan hulle vir iemand anders werk. Gaan hulle nooit hulle eie drome verwesenlik nie, want iemand anders met ’n titel of amp gaan voorgee om meer oor hulle toekoms te weet as hulle self.
Miskien is my alma mater se leuse van toepassing: Wees uself. Maar dan gaan die spreekword verder deur te sê … vra ek vir iemand, maar hy kon nie, want hy was niemand!
Behoede my van dié dag!
Be yourself; everyone is already taken. – Oscar Wilde
It took me a long time not to judge myself through someone else’s eyes. – Sally Field
If being an egomaniac means I believe in what I do and in my art or music, then in that respect you can call me that … I believe in what I do, and I’ll say it. – John Lennon