Tag Archives | Prof Johann Coetzee

Dink nuut oor leerderleierskap

Wat is dit met ons en badges?

Hoe blinker en hoe meer die balkies, hoe beter die leier glo ons.

Amper soos Idi Amin van vervloë dae.

Om watter duistere rede beplak ons kinders met badges en balkies om te wys dat hulle leiers is? Is dit dalk hier ’n geval van dat ons hoop die nodige vere die nodige voël gaan maak?

Elke keer as ek met kinders oor leierskap praat, wil ek by hulle weet hoekom hulle dink hulle as leiers geïdentifiseer is.

Min van dié leiers kon nog ’n sinvolle antwoord verskaf en meestal dink hulle, let wel, dink hulle sus of so. Miskien het iemand iets in my gesien?  Of dalk dink hulle ek kan dit of dat vermag.

Dit is dan dat ek hulle herinner dat ek glo, sonder om te veralgemeen, die meeste van hulle gelukkig is om daar te wees, want ek is oortuig daar is baie ander “leiers” in die skool, wat gemaklik hulle plek kan neem.

Miskien is die kwessie nie die leiers wat skole voorhou nie, maar dít wat met die leiers gebeur.

In die meeste gevalle; niks. Na die bekroning met die badge of balkie vind daar die tradisionele kamp of seminaar plaas en daarna moet die balkie hulle op koers hou.

Orals in die wêreld, en veral in Suid-Afrika, het leierskap ’n brandende kwessie geword. Etiese en besielende leiers bestaan amper nie meer nie en almal kla en mor oor die gebrek aan leiers wat as rolmodelle kan dien.

Dit het dus dringend noodsaaklik geword dat skole oor leierskap moet besin. Nie op die tradisionele Leerderraad- of prefekmanier nie, maar nuut en vars.

As ons gaan kyk hoeveel van ons skoolkinders op universiteit of na skool hulle vir leierskapposisies beskikbaar stel, dan wonder ons of die skoolleierstelsel hulle lus gemaak het om te lei, of totaal daarvan afgeskrik het.

Ek glo nie die probleem is dat daar te min leiers in ’n skool is nie. Daar is eerder te veel. Die probleem lê myns insiens daarin dat ons nie die volle potentiaal van leierskap in ons skole ontsluit en ontgin nie.

Hoe dan gemaak?

Die antwoord lê opgesluit in ons vermoë om al die leierskappotensiaal wat in ’n skool is raak te sien en te ontwikkel.

Hoekom hoegenaamd leiers aanwys?

Waarom moet net 20 of 30 leerders elke jaar die voorreg kry om as ’n sogenaamde leier ontwikkel te word?

Hoekom nie alle graad 12’s of graad 7’s as leiers beskou nie? Stel almal aan gereelde leierskapontwikkeling bloot en beloon die uitskieters om soos nodig ’n leiersrol te vervul.

As die vlag gehys moet word, kry vir Piet en verduidelik dat jy dink hy is nou die geskikte leier om die vlag die lug in te stuur.  As die genooide gas volgende week verwelkom moet word, kry vir Mandie, want sy is op daardie oomblik die vaardigste spreker in die groep.

O nee, hoor ek baie brom. Wat van die tradisie?

Moet asseblief nie die tradisieverskoning gebruik nie!

Ek is pro-tradisie, maar vir baie van ons het tradisie sinoniem met gewoonte geraak.  En almal van ons weet dat gewoonte en in ’n groef wees, amper dieselfde is.

In die woorde van prof Johann Coetzee: nou is die tyd dat onderwysvoorlopers die konvensionele skooldinge vir die onkonvensionele moet verruil.

Wees braaf en doen ’n slag dinge anders!

As ons effektiewe leierskap begeer, kan ons nie langer wag nie.

Veral nie in ons skole nie, want dit is daar waar die leiers van môre gekweek en ontwikkel word.

 

You don’t need a title to be a leader.Mark Sanborn

Men don’t follow titles, they follow courage.William Wallace in Braveheart

As we look ahead into the next century leaders will be those who empower others.Bill Gates

Foto: AP

 

Continue Reading