Tag Archives | Potato Foundation

Lekker kaalvoet op Warrenton

En die nuus oor die kaalvoetdag hou nie op nie!

Laerskool Van Riebeeckstrand (Melkbos) het laat weet hulle kaalvoetdag was ‘n groot sukses en Russel Pitchers van Laerskool Warrenton skryf:

Môre Rian

Ons, Laerskool Warrenton, het ook jou uitdaging aanvaar en toe sommer self met die Potato Foundation geskakel.  Wat ‘n lieflike inisiatief en projek!

Ons het ons dag egter geskuif na die Vrydag, lekker kaalvoet skooltoe gekom, sommer met gewone klere ook.  Die geld wat ons met die dag gemaak het gaan ons aan hulle gee en die 352 pare skoene het ons aan ‘n welsynsorganisasie op die dorp(Thabisho) gegee om te versprei.  Toe val ons Vrydag, 19de, ook nog so dat dit sommer lekker koud was.

Ou tannies van die dorp se VLV het ook hiervan gehoor en sommer ook kom deel in die pret.  Ek stuur so twee foto’s – die res sal volg.

Dankie ook weereens vir Piesangs en Jellietots.

Groetnis

Wat die kinders kan doen, kan juffrou ook.

LS Warrenton wys hul kaalvoete!

Continue Reading

Hier’s jou kans om te help?

Baie dankie aan almal wat gesê het hulle gaan Potato Foundation se Kaalvoetdag ondersteun.

Skoolhoofde het belowe om hulle skole te mobiliseer en self  kaalvoet te loop en oumas het laat weet hulle bang nie kaalvoetloop nie.

Veral nie vir ‘n goeie saak nie.

Soos met alle praat kom daar altyd ‘n tyd waar jy moet wys dat jy bedoel wat jy gesê het, want praat is maklik en doen moeilik.

Ek het intussen met die mense by Potato Foundation gepraat en gesê dat dit nie vir elke Piesang & Jellietotter moontlik gaan wees om op 16 April sonder skoene hulle dagtaak aan te durf nie.

Geen probleem nie, want ons het ooreengekom dat jy maar jou skoene kan aanhou as jy net daadwerklik tot die projek gaan bydra.

Hoe maak ‘n mens dan om betrokke te wees?

1. Koop ‘n paar skoolskoene en stuur/gaan gee dit vir hulle daar in Pretoria. Miskien bietjie moeilik vir mense wat nie in Pretoria bly nie?

2. Skenk geld vir ‘n paar skoolskoene. Ons het ooreengekom dat dit so plus minus R150 ‘n paar sal kos. Teen die bedrag kan jy dalk twee paar gee? Of een paar vir elk van jou kinders of kleinkinders.

Ok. Nou weet ons hoe om te maak. Doen nou net een van die volgende as jy opsie twee gaan kies:

  • Doen ‘n elektroniese oorbetaling aan Potato Foundation en spesifiseer jou bydrae as: Kaalvoetdag.  Hier is hulle bankbesonderhede:

Naam: The Potato Foundation

Bank: Standard Bank

Rekno: 420234616

Takkode: 012 345

  • Besoek hulle webtuiste en klik op DONATION bo-aan die blad.

As jy vergeet het waaroor hierdie saak presies gaan of nou vir die eerste keer hiervan hoor, lees gou weer my post Leer omgee deur te voel. Of kliek op Potato Foundation se logo regs op Piesangs & Jellietots.

Ai, ek kan jou nie maak gee nie, maar kyk net weer bietjie om jou rond om te sien hoeveel jy het om voor dankbaar te wees.

Kom ons hou op om te hoop dat dinge gaan verander. Kom kon begin dinge self verander.

Wag ek hoor iets…

Die kinders sê dankie vir die skoene.

O ja! Onthou om jou kaalvoetfoto’s te stuur dat ek van hulle op P&J kan plaas.

Continue Reading

Leer omgee deur te voel.

Wonder jy ook soms of jy genoeg vir die armes en die behoeftiges doen?

En wonder jy ook wie jy nou eintlik moet help? Wie het jou bydrae die meeste nodig en wie gaan jou geld reg gebruik?

Jy is nie onwillig om te help nie, maar as jy sien hoe word geld deur ons regering gemors, raak jy totaal en al onwillig om nog geld in ’n bodemlose put te gooi! Of om dit in iemand se beursie te sit wat dit nie verdien nie.

So gepraat van barmhartigheid. Iets wat my senuweepunte op ’n knop trek, is die sogenaamde barmhartigheidsaksies wat sommige van ons skole van stapel stuur.

Ons besoek vir ’n middag gou ’n ouetehuis of ’n hospitaal en dan het ons die kinders geleer hoe om van hulself te gee.

Krokodilbollie!

Dis weer Paastyd en ons dra tonne paaseiers na mense toe aan wat dit vir hulle self kan koop en wat dit in elk geval nie meer kan eet nie.

Na die kinders daar weg is, moet die verpleegsters die oues van dae, as gevolg van ’n oordosis suiker en sjokolade, van die plafonne afskraap. Pasaangeërs slaan oor na hoogste ritme en almal se suikervlakke dryf hulle vinniger na AVBOB se stoep as wat jy totsiens kan sê.

Ons jeug leer nie op dié manier om van hulle self te gee nie. Die enigste manier waarop hulle sal leer, is as hulle self voel. Self voel hoe om ’n huis te bou en self voel hoe is dit om nie kos (nie paaseiers nie!) te hê om te eet nie.

Gelukkig is daar nog instansies wat presies op hierdie manier te werk gaan. En wat jou ondersteuning nodig het.

Een hiervan is die Potato Foundation. Gaan klik gerus op hulle logo regs van hierdie post en leer meer van hulle en wat hulle doen.

Potato Foundation se Kaalvoetdag op 16 April  is ‘n praktiese oefening en ’n manier om daadwerklik te help. Hier is wat hulle vra:

Trek daai skoene uit en maak ‘n verskil!!!

Die Potato Foundation gaan hierdie jaar weereens ‘n “KAALVOETDAG” hou as deel van ons Winter Warm projek.

Ons daag elke persoon, besigheid en skool uit om  op 16 April 2013 kaalvoet werk toe of skool toe te gaan.  Die doel is om mense bewus te maak van hoe dit vir ‘n kind voel indien hy/sy nie skoene het om in die winter te dra nie.

Al wat ons vra is dat jy ‘n paar kinderwinterskoene of -skoolskoene skenk, wat jy nie meer gebruik nie.  Jy, jou besigheid en jou skool kan dus ‘n verskil maak in iemand se lewe sonder om ‘n sent te spandeer.

Ons daag jou uit: Kom maak ‘n verskil!!!

Besoek hulle webwerf by http://www.thepotatofoundation.co.za/barefoot_registration.php om jou

Ouers, skoolhoofde en onderwysers: laat die kinders asseblief vir ’n dag sonder skoene loop.

Laat hulle met elke senuwee voel hoe baie mense elke dag van hul lewe die wêreld moet aandurf.

Kom ons leer hulle om opreg te gee, want hulle sal dan verstaan hoe dit is om iets nie te hê nie.

Want hulle het dit aan hulle eie lyf gevoel …

En basta met paaseiers!

If you haven’t got any charity in your heart, you have the worst kind of heart trouble. – Bob Hope

A bone to the dog is not charity. Charity is the bone shared with the dog, when you are just as hungry as the dog. – Jack London

No person was ever honored for what he received. Honor has been the reward for what he gave. – Calvin Coolidge

Continue Reading

One small step …

In watter liggaamsdeel kramp jy as jy oor nasionale TV sê jy wens die pikkewyn in jou tuin by Bettiesbaai kry ‘n virus en vrek? En dit as jy 79 jaar oud is?

Wat maak ’n mens so onvergenoeg en só behep met jouself? Ouderdom? Of sommer net ’n ingatgeit wat geen perke ken nie?

Vir sulke mense wil ek sê: Hou ’n slag op om net vir jouself te leef.  Die wêreld is heelwat groter as jy.

Hou op kla oor alles en almal en hou op om vir jou kleinkinders te vertel van die goeie ou dae. Miskien weet ek nie so baie van die goeie ou dae soos jy nie, maar ek onthou darem party wat maar bra bollie was!

Moenie jou skouertjies optrek en vir my sê niks wat jy doen gaan tog help nie.  Hoe kan die ou klein bietjie wat ek dan nou doen tog ‘n verskil maak? Die oormag is net te groot!

Ek wonder wat moeder Teresa vir die pikkewyne sou gesê het? Beslis nie ek hoop jy vrek nie!

Wat sy wel gesê het, is if you can’t feed a hundred people, then feed just one.

Hou op wag vir die Groot Knal-ingryping wat jou pikkewynprobleem gaan oplos. Doen iets. Span self ’n draad.

Koop ’n roomys en gee dit vir die man, met die baie kinders en geen werk nie, by Willowbridge se kruising.

Glimlag vir die suring langs jou.  Oeps, sorrie … Dis jóú weerkaatsing in die ruit!

Borg ’n kind se kampgeld by Potato Foundation of maak ’n donasie vir fetale alkoholsindroom by die Faith Fund.

Raak ontslae van al die klere wat jy nie dra nie en gee dit vir mense wat dit nodiger het as jy.

Dóén ’n slag net iets. Gee die eerste tree. Al dink jy dis klein.

Miskien gaan jy nie dadelik die verskil sien nie, maar jy gaan beslis beter voel.

 

A bone to the dog is not charity. Charity is the bone shared with the dog, when you are just as hungry as the dog. – Jack London

You can give without loving, but you can never love without giving. – Robert Louis Stevenson

Small deeds done are better than great deeds planned. – Peter Marshall

Continue Reading