Tag Archives | Maan

Die Genetika van Moer Toe.

Alles het versorging nodig!

Ek besef nou die dag, terwyl ek met ’n groep oor hoe om by die maan uit te kom  praat, dat ek eintlik nooit die ander rigting bespreek nie.  So alsof almal weet hoe moer toe gebeur.

Daarom wil ek vandag so ’n bietjie oor die ander rigting van maan toe, naamlik moer toe, gesels.

Nou hoe gebeur dit? Die moer-toe-ding.

Eerstens: Dit gebeur net!  

Jy staan een oggend op en bekyk jouself in die spieël en tot jou skok besef jy dít hét gebeur. Jy ís moer toe!

En dan begin wonder jy wanneer en wat het dan gebeur dat jy só agteruit geboer het.  Miskien is die verval in die eens trotse borskas wat nou ’n hangkas is, of nog erger… Jou gemoed en gedagtes het meer potholes as ’n pad in Noordwes Provinsie!

Sonder dat ons dit besef, laat ons almal toe dat dinge en goeters verval.  Of dit nou die geute van jou huis is of die spiere in jou lyf, almal het onderhoud en versorging nodig.  Niks bly dieselfde of in dieselfde topkondisie nie!  As jy nie daarna kyk nie, sál dit uitmekaar begin val.

Tweedens: Skaarsheid teenoor oorvloed.  

Stephen Covey praat van die abundance mentality.  As jy eers begin glo daar is nie meer genoeg vir jou oor nie, dan moet jy weet jy is volstoom op pad moer toe! 

As jy net versamel, bymekaar maak en opgaar vir die verbeelde ramp en hongersnood wat kom, het jy reeds die grens na moer-toe-land oorgesteek. Jou paspoort is gestempel en jy kan maar net so wel om burgerskap aansoek doen!

Maar as jy besef jou taak is om weg te gee, want daar is oorgenoeg vir ieder en ’n elk om ’n bestaan te maak… dan is jy beslis op pad maan toe.

Dan verstaan jy die wêreld het oorgenoeg go-getters, maar beslis nie genoeg go-givers nie!

Derdens: Die mense en dinge wat jou beïnvloed. 

Kom ons noem hulle sommer net jou beïnvloeders, want dit is hulle wat jou die rigting van moer toe aandui. Wat ontstellend van hierdie beïvloeders is; hulle is die mense en dinge naaste aan jou.  

Soms besef jy met ’n skok jy gebruik dieselfde woord as jou beste vriendin! Die regering is só hopeloos en die onderwysers by die skool is net totaal useless! En daar is tog nie hoop vir ons kinders nie, maar dit is nou seker te laat om die land te verlaat.

Wat jy net nie besef nie, is dat jy dié land al lank al verlaat het! Nie in die vlees nie, maar in die gees. Jy is nou ’n burger van die Republiek van Moer Toe!

Maar dit is egter ook die nuus wat jy kyk en die artikels wat jy lees.  Dit is die TV-programme wat jy kyk. En al dié word later die stories wat jy glo… En meer nog; jou besittings wat jou hele bestaan definieer!

En dit alles, word jy!

Moer toe!

 

The most basic human impulse is towards entropy and laziness. The less we have to do to grow spiritually, the more likely we are to do it. – Alexandra Fuller

An abundance mentality springs from internal security, not from external rankings, comparisons, opinions, possessions, or associations. – Stephen Covey

The people you surround yourself with influence your behaviours, so choose friends who have healthy habits. – Dan Buettner

 

 

Continue Reading

Maan toe of moer toe?

 
 
 

One small step for man ...

 

Hierdie post is ‘n opsomming van my aanbieding met dieselfde titel. Mense het al gevra waar hulle ‘n DVD van die aanbieding kan koop (verbeel jou!) of hulle wil dit vir hulle kind/man/bure gaan vertel, maar kan nie alles onthou nie. Hier is dit nou. (Sonder die prentjies) Jammer vir die lank wag.

Wanneer laas het jy na die maan gekyk en gewonder hoe dit sou wees om daarop te kan loop?

Vandat Neil Armstrong en sy makkers hul voete daarop gesit het, is dit of die maan sy magiese aantreklikheid vir baie mense verloor het.  Ons was mos al daar!  Hoeveel onse is daar in jou pond? vra ek.

Ek loop daagliks mense raak wat net nie meer maan toe wil gaan nie. Nie letterlik of figuurlik nie.  Hulle het net nie meer die begeerte om daardie amper onbereikbare iets aan te pak nie.  Hulle drome maak hulle ook nie meer bang nie, want ek dink hulle droom nie meer nie!  Dalk was hulle al ook dáár …

Daar is ook dié wat sê dat hulle te oud is.  Te oud om nog dinge te wil doen.  Om nog te droom om by die maan uit te kom. Al is dit net eendag.

Ander sê weer dit is die misdaad en korrupsie in Suid-Afrika wat hulle van die maan weghou.  Of dit is die swak elektrisiteitsvoorsiening en die politici wat hulle self ten koste van ons arme drommels verryk, wat in hulle pad maan toe staan. 

Maar daar is tog nog baie, ongeag ouderdom, wat sê: vat my maan toe! 

Die saak is eintlik heel eenvoudig. Wil jy, of wil jy nie? Maklik. Dit is net ’n simpel keuse. JK Rowling vat dit mooi saam as sy sê: it’s our choices that show what we truly are, far more than our ability.  Of in Afrikaans gesê: Maan toe of moer toe!

Vir dié wat kies om nie maan toe te wil gaan nie, die maklike keuse,  is dit moer toe.  Vir die ander wat die moeiliker keuse maak, is dit maan toe.  Sonder enige belofte dat jy wel daar gaan kom.  Maar ten minste gaan jy probeer.

En dit is vir hulle wat ek ’n space case gepak het om daar uit te kom.

In hierdie tassie het ek 10 goed gesit wat jy op pad na die maan nodig gaan hê.  Ek noem hulle in geen orde van noodsaaklikheid nie en gee ook net ‘n kort beskrywing waarvoor dit gebruik kan word:

1.  Kompas: Hierdie apparaat simboliseer visie. Of jy nou maan of winkel toe gaan, jy moet weet hoe jy daar gaan kom en wat jy daar gaan maak.  Ook só in die lewe.  Hellen Keller sê: The only thing worse than being blind is having sight but no vision.

2.  Blikkie Redbull: Passie, passie en nog ‘n keer passie!  Jon Bon Jovi het gesê passion, not pedigree will win in the end.  En hoe reg is hy nie! As jy die maan wil haal, gaan jy meer as net ‘n teelepel passie nodig hê.

3.  ‘n Glas: ’n Mens kan tog nie op jou reis na die maan die heeltyd uit ’n tandepastabuis wil eet nie!  Veral nie wyn drink nie! Maar eintlik is die glas net daar om jou, as die reis moeilik raak, te herinner dat jy moet onthou dat jou glas half vol is.  Nie half leeg nie.  Die glas is die simbool van optimisme.  Jy gaan die maan net haal as jy optimisties is.

4.   Pakkie Vetkryte: Nie net een nie. Al die kleure van die reënboog! Om maan toe te gaan sal jy soms kreatief moet wees.  Om dié rede die kryte. Jy kan nie vir juffrou Rottenmeier van jou graad 1-klas blameer dat sy jou kreatiwiteit opgefoeter het nie.  Kreatiwiteit het niks met jou kleinspierkoördinasie, of hoe mooi jy tussen die lyne kan inkleur, te make nie.  Dit het alles te doen met hoe uit-die-boks jy kan dink.

5.  Skaal: Die skaal is nie net om mee te weeg nie, maar om jou te herinner dat ’n mens balans nodig het om suksesvol te wees. Almal ken die ou spreekwoord all work and no play makes Jack a dull boy, maar baie min pas dit suksesvol in hulle lewe toe.  Jy sal baie uitgebrande wrakke op pad maan toe sien.

6.  Twitterrekening: As jy die maan wil haal, sal jy al die nuwe tegnologie tot jou beskikking moet gebruik om daar te kom.  Van tweet tot Facebook.  Daar is nie meer enige verskonings nie.  Of gebruik jy nog ’n telraam?

7.  Maatband: Meet om te weet!  ‘n Ou gesegde, maar baie is te bang om te weet. Jy moet jou reis, en dit waarmee jy besig is, gereeld evalueer.  Of jy nou daarvan hou of nie.  Dit is die enigste manier om te weet hoe naby of ver jy van die maan is.

8. Supermanbadge: Daar is bewerings dat Superman hom daar iewers in die ruimte bevind en ons wil liefs nie in sy verkeerde boekies beland nie.  Daarom die badge.  Jy wil wys jy is hom goedgesind en kom in vrede. Maar eintlik is die badge daar om jou te herinner dat jy iets besonders aanpak.  Amper so heroïes soos ’n heldedaad van einste Superman. Verbeel jou jy is Superman en jy gaan soos ’n superheld begin optree.

9.  Wonderbra: Behalwe dat jy dié kledingstuk as ’n noodwaaierband of masker kan gebruik, is dit eintlik daar vir die ondersteuning! Op jou reis gaan jy ondersteuning van jou medereisigers nodig hê.  Let dus mooi op na wie klim saam met jou in die ruimtetuig.

10.  Koerant: Koerante het stories.  Deesdae nie te opbeurend nie, maar soms kom daar stories soos die van Larry Walters verby.  Larry se storie kom sê vir jou dat as jy maan toe wil gaan, sal dit ’n roeping moet wees en nie ’n job nie.

Nou moet jy besluit.  Maan toe of …

Jy kan, soos hulle in ’n destydse suikerrietadvertensie gesing het, bly soos jy is, of jy kan wegbreek …

Bly soos jy is, en moer toe is jou voorland!

Breek weg en die moontlikheid is daar dat jy die maan kan haal. Of dalk nie.  Wat maak dit saak?  Ten minste het jy probeer.  En dit is eintlik die probeer wat die meeste saak maak.

Geronimo!

Life is not a journey to the grave with the intention of arriving safely in one pretty and well preserved piece, but to skid in broadside, thoroughly used up, worn out and defiantly shouting GERONIMO!   – Bill McKenna

When once you have tasted flight, you will forever walk the earth with your eyes turned skyward, for there you have been, and there you will always long to return. – Unknown

A man is not old until regrets take the place of dreams. – John Barrymore

The best thing in every noble dream is the dreamer… – Moncure Conway

Image: Evgeni Dinev/FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading