Ek was ’n paar weke gelede bevoorreg om by Universiteit Stellenbosch – JIP Matrikulant van die Jaar-kompetisie betrokke te kon wees. En ek gebruik die woord voorreg nie sommer ligtelik nie!
Na ’n ontmoeting met die finale 22 jong volwassenes, het ek gevoel die woorde van Timbuk3 se liedjie the future’s so bright I gotta wear shades behoort die perfekte slagspreuk vir hierdie kompetisie te wees. Nie alleen het hierdie jongmense opnuut ‘n hoop vir die toekoms by my laat opvlam nie; hulle laat jou selfs daarna uitsien!
Prof Russel Botman het tydens die toekenningsgeleentheid die volgende aan die finaliste gesê: “My generasie het die gat in die osoonlaag veroorsaak, julle generasie moet dit weer toemaak. My generasie het oorloë veroorsaak, julle moet ‘n stop daaraan sit. Julle is die mense wat hierdie land in die toekoms moet lei.”
Dat hulle sy opdragte gaan uitvoer, daaroor het ek geen twyfel nie. Waaraan ek wel twyfel, is of ons generasie genoegsame leiding aan hulle gee om dit wel suksesvol te kan doen?
Sir Ken Robinson, kreatiwiteitsghoeroe, is van mening dat dit onderwys is wat ons die onbekende toekoms in moet neem. Amper soos ’n ontdekkingstog die vreemde in.
Wat moet ons dan nog vir hierdie jong reisigers, benewens die basiese onderwyskennis soos lees en skryf, optel en aftrek, inpak?
Ek meen die volgende vier sake is noodsaaklik as hulle al die gate wil toestop:
- ’n Heilige respek vir die Omgewing
- ’n Verstaan en begrip van Diversiteit
- ’n Eerlike en nederige begrip van Leierskap
- ’n Stel ingekoopte Waardes.
Boonop sal elkeen van hulle ook moet besef dat Jason Ohler se woorde …adding value becomes everything. I don’t care what the business is – selling education or selling cars – if you are not adding value, you are out of the game ononderhandelbaar vir hulle en ons toekoms is.
Baie geluk aan Universiteit Stellenbosch en JIP vir die inisiatief met hierdie projek geneem!
It’s education that’s meant to take us into this future we can’t grasp … – Sir Ken Robinson
Imagination is more important than knowledge. – Albert Einstein
Human intelligence is richer and more dynamic than we have been led to believe by formal academic education. – Sir Ken Robinson
Foto: Justin Alberts