Tag Archives | Harde werk

Sewe wenke vir sukses.

Word suksesvolle mense net met meer suksesgene as die minder suksesvolle wesens gebore? Of glimlag die geluksgodin maar net meer in hulle rigting?

Ek was onlangs bevoorreg om ’n paar gedagtes rakende sukses met leerders van die Laerskool Lochnerhof in die Strand te deel.  Wat volg is ’n sinopsis van dié gesprek:

Punt 1: Het jy al gehoor mense praat van as hulle skip eendag kom, dan gaan hulle dit en dat doen? Mense wat iets bereik, wag nie vir dié skip nie. Hulle swem na die skip toe!  As jy vir geleenthede wag, gaan jy dalk jou hele lewe lank wag. En dan as jy oud is, gaan jy sê: as ek maar toe sus of so gemaak het!

Onthou: Opportunity knocks once at every man’s door and then keeps on knocking. As jy nie die geleenthede wat die lewe na jou kant toe gaan aangee aanvaar nie, gaan hy dit vir die volgende persoon aanbied.

Punt 2: Suksesvolle mense kan hard werk.  Nou hard werk is ook ’n relatiewe begrip!  Want die probleem lê by wat jy onder hard werk verstaan en wat harde werk regtig is.  Mense wat sê ek het dan nou só hard gewerk en nog steeds nie die bevordering of die prys gekry nie!  Arme ek! Die vraag wat hulle moet beantwoord, is of hulle só hard gewerk het dat hulle die 10 000-uur-beginsel kan regverdig, want kenners beweer dat mense soos die Beatles en Steve Jobs wat werklik suksesvol is, meer as 10 000 uur gewerk het om te kom waar hulle nou is.

Op skool kan jy nog met net jou talente ver kom, maar later in die lewe is net talent nie meer goed genoeg nie. Dan moet jy jou talent met harde werk kombineer. ’n Onbekende persoon het dit raak opgesom: Hard work beats talent when talent fails to work hard.  Voeg hierby ook die bekende spreuk van don’t work harder just work smarter, en jy is op die regte pad na sukses.

Punt 3: Suksesvolle mense verloor nie moed nie!  Hulle gooi nie sommer die handdoek in nie en hulle laat hulle nie sommer op die krytvloer uittel nie.  Hulle staan weer en weer en weer op!

Punt 4: Mense wat sukses behaal, het meer as een plan.  Die meeste van ons het dalk ’n plan B.  Maar ook nie almal nie! Wat gebeur as jou enigste plan nie werk soos jy gehoop het nie? Gaan jy dan hande in die lug gooi en almal behalwe jouself blameer? Mike Tyson vat dit skerp saam as hy sê: Everyone has a plan B till they get punched in the mouth! Suksesvolle mense se planne raak nooit op nie!

Punt 5: Suksesvolle mense het integriteit. Wat verstaan ons as ons van integriteit praat? Onwillekeurig dink die meeste mense dit is die verskil tussen reg en verkeerd. Harvard Besigheidskool omskryf dit eerder as: Integrity is honoring your word. Ek hou baie hiervan, want vir suksesvolle mense is hulle woord hulle eer.  Jy hoef nie ’n kontrak met hulle te teken nie; ’n handdruk is genoeg.

Punt 6: Suksesvolle mense maak ’n verskil. Hulle glo vas dat go-givers beter is as go-getters.  Hulle is bekommerd oor die voetspoor wat ons op die aarde laat en daarom wil hulle eerder hulle handprint op die aarde los. ’n Oop hand wat gee, in plaas van ’n voetspoor wat vertrap en net inpalm.

Punt 7:  Suksesvolle mense is gelukkige mense. Gelukkig met wie hulle is en wat hulle het. Daarom laat hulle nie ’n kans glip om met oorgawe te lag en te dans nie.

Die kernvraag bly egter wat is sukses dan?  Volgens my beskeie mening is sukses om jou potensiaal in die lewe te verwesenlik. Almal se potensiaal verskil, maar jy moet joune bereik.  Nie myne of syne nie, want die Here het jou uniek en met besondere gawes en talente geskape. Jy is kwaai gebore my broe! As jy met daardie talente woeker, gaan jy suksesvol wees.

Nie net vir jouself nie, maar ook vir ander mense en diere. 

Vir hierdie een wêreld wat aan ons geleen is.

En as jy dan sukses behaal en met jou talente gewoeker het, is daar nog net een opdrag om jou volkome suksesvol te maak: The meaning of life is to find your gift; the purpose of life is to give it away. – Onbekend

 

 

Hy is een van daardie mense wat, as jy hom in ’n rivier gooi, met ’n vis in die mond na bo kom. – Arabiese Spreekwoord

As jy net een keer méér kan opstaan as wat jy geval het, gaan jy dit maak. – Chinese Spreukwoord

Sukses sonder integriteit is soos ’n soutlose bord kos. Dit sal jou honger stil, maar dit gaan ’n slegte smaak in jou mond laat. – Joe Paterno

Continue Reading