Tag Archives | Dissipline

Dissipline : Reëls, regulasies en wette

Die woorde dissipline en straf is vir ouers en onderwysers nie vreemd nie. Dissipline is ’n woord wat in elke notule en agenda van ’n personeelvergadering voorkom en menige ouer sukkel die een of ander tyd met die balans tussen dissipline en straf.

Om presies dié rede wou ek aan die begin van die tweede kwartaal hierdie blog vir onderwysers en ouers skryf, maar min het ek geweet daar gaan nie ’n tweede kwartaal wees nie!

Miskien ook goed, want hierdie tyd van inperking het my laat besef ek moet alle beleidmakers, ons hele kabinet en die nasionale bevelsraad (wie hulle ook al mag wees!) by die onderwysers en ouers voeg. 

Jordan Peterson het in sy boek, 12 Rules for Life, hierdie oënskynklik vreemde vyfde reël, naamlik: Do not let your children do anything that makes you dislike them.

In reël vyf bespreek hy ’n paar beginsels wat ouers, en die res wat ek bygevoeg het, kan help om opbouende dissipline daar te stel en toe te pas.

Maar laat ek dadelik my standpunt rakende dissipline op die tafel sit. Ek glo beslis dat gesonde dissipline nodig is, want sonder dissipline gaan ons kinders nie in volronde, gebalanseerde volwassenes ontwikkel nie. 

Duidelike reëls (ek verkies reëlings) lei tot geborge kinders en kalm, rasionele ouers. Helder, deursigtige beginsels  en die gebalanseerde toepassing daarvan, bly ons keerwal teen chaos en anargie.

Dissipline wat verkeerd toegepas word, word eerder drakoniese reëls wat  daarop uit is om ten alle koste te straf of een persoon of groep se mag oor ander te bevestig. Eerder as om op te bou en te ontwikkel.

Hier volg Peterson se beginsels met my kantaantekeninge:

    1. Limit the rules : Of dit nou in die klaskamer, sitkamer of raadsaal is, die eerste vraag behoort altyd te wees: Is dié reël werklik nodig? Ons het almal al met situasies te doen gehad waar as die reël nie werk nie, iets bygevoeg word met die hoop dat dit dan sal werk, maar wat dit net nóg lomper maak. Hierdie punt vereis nugtere denke waarom ‘n reël nodig is. Belangriker; of dit enigsins nodig is. Die Israeliete het net tien reëls gekry en hulle moes deur die woestyn trek.  Ons het tydens inperking duisende moets en moenies en ons moet in die huis bly! 
    2. Use the least force necessary to enforce the rules : As jy dan die reël gemaak het, bepaal dan wat die minimum toepassing sal wees om dié besluit af te dwing. Op skool kry jy detensie vir min of meer enige oortreding onder die son. Wat hierdie  argaïese koekiedrukkerstraf tot gevolg het, is dat die toepasser nie meer hoef te dink nie. Een straf is die oplossing vir elke oortreding. Die graad van die oortreding en die straf balanseer die skaal van geregtigheid soms glad nie. Amper soos die arme man wat sy sypaadjie tydens inperking skoonmaak en dan ’n boete van R5 000 op die lyf loop. ’n Man of vrou in blou wat tonne welwillendheid kon koop deur eerder te waarsku, as om te straf!
    3. Parents, teachers and ministers should come in pairs : Die ou spreekword van twee koppe is beter as een! Iemand met ’n koeler hoof wat jou kan keer om jou naam gat te maak. Iemand wat net kan sê: Stop en dink voor jy doen. Gelukkig word ouers en onderwysers se dissiplinêre blapse nie op nasionale televisie ontbloot nie!. Ons regering se inligtingsessies tydens die inperkingstyd, lyk eerder na ’n uitsending van stomstreke as na  ingeligte kabinetsministers wat probeer keer dat Suid-Afrika deur ’n viruspandemie verswelg word. Ongelukkig verberg selfs ’n masker nie stommiteit nie.
    4. Parents, teachers and ministers should understand their own capacity to be harsh, vengeful, arrogant, resentful, angry and deceitful : Nie eers die beste onder ons is sonder genoemde krake nie. En hierdie krake word afgronde in uitdagende dissiplinêre situasies. Dink maar aan die tyd toe jou kind ’n vloermoer in die supermark se gangetje gegooi het, en hoe jy in jou gedagtes planne beraam het om hom/haar terug te kry (hopelik het dit darem net by gedagtes gebly).  Of hou net vir Donald Trump tydens ’n sessie met verslaggewers dop. 
    5. Parents, teachers and ministers have a duty to act as proxies for the real world : Al drie die genoemde groepe het die verantwoordelikheid om dissipline toe te pas. Ons kan hierdie verantwoordelikheid nie op iemand anders afskuif nie. Die kwessie bly egter steeds hóé ons dit toepas.  Doen ons dit as rolmodelle wat reëls, regulasies en wette in belang van diegene aan ons toevertrou maak, of doen ons dit as diktators wat ons eie belang in die hele proses eerste stel.  Of dit nou jou eie kinders, iemand anders se kinders of ’n nasie wat jy goedgunstiglik verteenwoordig, ons skuld hulle ’n voorbeeld van wat en wie hulle behoort te wees.

Of ons in elke geval in die toekoms die beker gaan kry vir die beste reëls gemaak, dit is  te betwyfel, want daarvoor is ons maar net te feilbaar.

Maar as ons net die bostaande vyf wenke sal onthou as ons enige dissipline moet toepas, of reëls moet neerlê, behoort ons beslis baie beter te vaar.

 

If you destroy a free market you create a black market. If you make 10,000 regulations you destroy all respect for the law. – Winston Churchill

Nothing in life is to be feared, it is only to be understood. Now is the time to understand more, so that we may fear less. – Marie Curie

I follow three rules: Do the right thing, do the best you can, and always show people you care. – Lou Holtz

Continue Reading

Die jeug se oplossing vir SA Onderwyskrisis

Aldu Duminy

 Hierdie week se gasskrywer is Aldu Duminy van Riversdal. Ek het hom tydens die US-Jip Matrikulant van die Jaar-kompetisie ontmoet en gevra hy moet sy siening oor Suid-Afrikaanse Onderwys met Piesangs en Jellietots deel. Aldu was vanjaar hoofseun van Hoërskool Langenhoven en het tydens bogenoemde kompetisie ’n toekenning vir uitnemendheid (‘n beurs ter waarde van R30 000 en ‘n skootrekenaar te waarde van R12 000) ontvang. Hier volg sy oplossing vir SA se onderwys:

Die kruin van die onderwyskrisis is uiteindelik bereik. Verskeie alternatiewe roetes wink nou vir die toekomstige onderwys. In ons keuse van ‘n roete behoort ons bewus te wees dat onderwys die enigste sleutelfaktor is en altyd sal wees, wat aangewend kan word om ‘n verskil in ons land te maak.

Aangesien opvoeding, finansies en ander insette benodig word, is die regering en die privaatsektor die hoofrolspelers en argitekte in hierdie verband. Sedert 1994, nadat ‘n nuwe aanslag ten opsigte van onderwys gemaak is, kleef ons nog steeds vas aan dieselfde eertydse veranderinge.

Die tyd het aangebreek vir ‘n nuwe wending. Die belegging in onderwys tot op hierdie stadium, wat ‘n groot persentasie uitmaak van die Nasionale Begroting oor die afgelope 17 jaar, moet nou beslis herevalueer word. Die volk, asook die wêreld, wil graag weet wat die rentabiliteit op hul belegging en insette tot op hede is.

Gesien in die lig van vorige opmerkings, is dit dus glashelder dat daar nou eerder staat gemaak moet word op die kreatiwiteit en inisiatief van die opportunistiese jeug.

Om mee weg te spring: Die eerste twee bedreigings, naamlik armoede en werkloosheid, kan in ‘n waardevolle geleentheid omskep word. Die sleutel tot hierdie sukses berus op kreatiwiteit – met opvoeding as basis. Deur hierdie kosbare hulpbron positief te benut, kan daar ‘n daadwerklike verskil gemaak word aan menselewens en hul sodoende toerus met vaardighede wat hul van regeringstoelaes onafhanklik sal maak. Op hiérdie wyse word mense beklee met ‘n visie vir die toekoms, wat op hul beurt ’n positiewe sneeubal-effek sal verseker.

‘n Ander voorstel lê in die keuse rondom leerareas opgesluit. Sekere leerareas word huidig op leerders, sonder in agneming van potensiaal en belangstelling, afgedwing. Introspeksie moet ten opsigte van die waarde hiervan gedoen word. Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid en Lewensoriëntering is die struikelblokke wat toekomsroetes versper. Daar moet besin word of die gedwonge bestudering van hierdie leerareas die kernprobleme in ons land aanspreek. Ons het eerder ‘n behoefte aan beroepsgerigte onderwys van so vroeg as wanneer leerders hul eerste tree op die skoolgrond gee.

Voorts sal in die toekoms vanweë globalisering, veel groter eise aan individue gestel word. Die minimum vereistes in hierdie verband word nog nie deur die huidige stelsel in ag geneem nie. Gesien in die lig dat die wêreld omskep word in ‘n klein dorpie, moet daar op ‘n gekoördineerde en harmonieuse wyse beplan en besin word wat nou eintlik die primêre vaardighede vir elke toekomstige aardbewoner moet wees. ‘n Eenvormige taal wat in ons kontinent en die wêreld gebesig word, moet bemeester word. Sodoende kan kommunikasie, as primêre medium, die uitdagings rondom globalisering die hoof bied.

Dissipline is ‘n rots in die weg van kwaliteit onderwys. Leerders ontwyk dissipline in gevalle waar die omgewing met hul persoonlike verwagtinge bots. Die skoolkurrikulum, gebrek aan kommunikasie tussen ouers en onderwysers, aanslag en bevoegdhede van pedagoë, asook die skoolinfrastruktuur, ondermyn dissipline. ‘n Duidelike organigram met afgebakende magte, bevoegdhede en verantwoordelikhede moet vir al die rolspelers, aan die begin van elke jaar, uitgespel word ten einde impulsiewe delegering van pligte te voorkom. Hierdie euwel bring mee dat belangrike doelwitte nooit gekontroleer en uitgevoer kan word nie. Dit is dus ooglopend dat hierdie rots tot die kernprobleem in die hedendaagse onderwysstelsel ontwikkel het.

Hierdie argitektoniese, nuwe skepping van toekomstige onderwys dien as rigtingaanwyser om die mees aanvaarbare, alternatiewe roete te bewandel. Deur hiérdie rigting in te slaan, sal ons die uitdagings in verband met opvoeding in definitiewe geleenthede omskep – met buitengewone opbrengs vir álle rolspelers.

 

’n Intellektueel is ’n persoon wat opgevoed is bokant sy intelligensie. – Jan Smuts

Education is the most powerful weapon which you can use to change the world. – Nelson Mandela

An investment in knowledge pays the best investment. – Benjamin Franklin

  

Continue Reading