Tag Archives | Dale Carnegie

For he’s a jolly good Fellow!

Ons bloed is Groen! Hier kom die Bokke!

Dit lyk my ons Minister van Sport, die agbare Fikile Mbalula, het ook Dale Carnegie se boek How to win friends and influence people gelees?

Klaarblyklik het daar sedert ek die boek gelees het ‘n hoofstuk bygekom.  Naamlik: Hoe om in Afrikaans te vloek en vriende te maak.

Dat Afrikaans ‘n kragtige taal is, dit weet almal van ons wat dit van kindsbeen praat.  En dat daar seker min tale in die wêreld is wat by Afrikaans kan kers vashou as dit by vloekwoorde kom!

Die heer Fikile het dit ook seker gesnap, want waarom anders sal hy ons Springbokke opdrag gee om hulle te moer?  En hulle te bliksem?

Miskien wou hy hulle met Kill the Kiwi aanhits, maar het hom bedink en gedog die plakaat wat hy in die skare sien, was deel van sy toespraak. Of dalk het die jolige atmosfeer hom terug geneem na sy dae as ANC Jeugliga-voorsitter.  Dit was nou voor onse Julius M.

Die skare was egter in hulle noppies, want hier praat die agbare minister, wat meegehelp het dat hulle geliefde bok nou ‘n laaste staanplek op die trui se mou gekry het, húlle taal.  En boonop sterk woorde.  Woorde wat hulle verstaan. For he’s a jolly good fellow …

Ek dink arme Bakkies Botha was totaal verward.  Wat moet hy nou doen? Hulle bliksem of uitlos?

Ek hoop Minister Fikile gaan opdraf as ons manne sy opdrag letterlik opneem en ons met 13 man moet speel.  Want dit wil lyk dat as hy praat, luister hulle.

Die minister moes dieselfde woordeskat tydens personeelsessies gebruik het, want na die SA Sporttoekennings in Sun City vanjaar, het sy personeel blykbaar ‘n hotelkamer wat R60 000 per nag kos se versiering eiehandig verander. Maar hulle sê dis kwaadwillige liegstories.

Ek hoop dit was Minister Mbalula se laaste spanpraatjie aan enige sportspan – behalwe aan ons boksers.  Hulle het dit nodig, want hulle word gewoonlik net gemoer.

Ek wil aanbeveel dat die minister die betrokke hoofstuk weer, maar met meer aandag, gaan deurlees. Êrens mis hy ‘n belangrike sinsnede.  Die een wat sê dat die mooiste woorde in ‘n vreemde taal asseblief en dankie is.

Om in enige taal die vloek- en kragwoorde te gebruik, maak van vreemdelinge nog nie jou vriende nie.  Hulle wonder eerder oor jou.

Ons land en kinders het rolmodelle nodig.  Mense vir wie ons ons nie hoef te skaam nie. Mense soos Nelson Mandela wat die hele Suid-Afrika verenig het sonder om enige negatiewe woord te uiter.  Hy wat die Springbokke en hul ondersteuners tot die wen van die Web Ellistrofee gemotiveer het deur net hul geliefde groen trui te dra.

Daar is oorgenoeg mense in ons land wat wil moer en bliksem, maar ek dog dit is presies van hulle wat ons ontslae wil raak. Ons is eerder op soek na mense wat bereid is om die ander wang te draai. Suid-Afrikaners wat mekaar se hande wil vat in plaas van hul hande vir mekaar vuis te maak.

Skuus, meneer die Minister! Ek weet rugby is ‘n kontaksport, en volgens Div nie ballet nie, maar ons wil nie alles moer en bliksem nie. Ons het genoeg daarvan gehad. Kyk hoe lyk ons pragtige land van al die gemoer en gebliksem!

For he’s a jolly good fellow … maar ons sê nie almal só nie!

Alle praat in hierdie treurige, bitter, bont, begrafnisland is politiek – of dit nou fluisterpraat, kakpraat, wind- of spoeg- of sáámpraat is. – Breyten Breytenbach

The most terrifying words in the English language is: I’m from the goverment and I’m here to help. – Ronald Reagan

Continue Reading