‘n Skool vra my nou die dag om oor standaarde met hulle te kom praat. Makliker gesê as gedaan, want mense se begrip van wat goeie standaarde is verskil so baie van mekaar soos die Stormers en die Bulle. En tog speel beide rugby.
Om nie eens van skole te praat nie. Party dink goeie rugby is die standaard en ander slaan weer die tromme as hulle aan die staat se slaagvereistes voldoen.
Maar laat ek begin deur te vra: wie het al van Alexander the Good gehoor? Of van Henry die Middelste of van Gertjie die Tweede Beste? Ek is seker nie baie nie.
Maar van Alexander the Great en van Henry die 8ste weet ons almal.
Nou wat het Alexander met standaarde uit te waai? Net dit: as jy jou standaard op good instel, gaan dit net so niksseggend soos Alexander the Good wees. Goed is net nie meer goed genoeg as dit by die stel van standaarde kom nie.
Sannie op Bitterfontein se cupcakes kan goed wees en almal op die basaar kan vrek daaroor. Die vraag is of hulle dieselfde aftrek in Upington gaan kry? Of in Kaapstad en of Sanjeev in Deli dit sal ruil vir sy kerrie?
Indien wel; dan is haar cupcakes nie meer good nie maar great! Dan is Sannie se standaard nie meer local nie maar global… En dit is die standaard waaraan ons moet meet.
Jy kan nie (eerder mág nie!) pille, karre of vakansiehuise om die draai van my verhuur of verkoop en sê dat jy nie elke dag jou e-pos of sms’e lees nie! Nie as ek binne minute van Atilla Yurttas in Istanbul kan hoor in watter Hamam ek moet gaan bad nie. Dit is duidelik dat Atilla die Turk besig is om draaie om jou te hardloop.
Jim Collins het gesê dat goed die grootste vyand van great is. Volgens hom is dit dan ook die rede waarom baie dinge net goed bly en nooit uitsonderlik word nie, want dit is net baie makliker om vir goed te skik.
Miskien kan besighede, skole en kerke nog verskoon word as hul standaard net goed is, want almal beskik nie oor ’n MBA nie.
Onverskoonbaar, eintlik krimineel, as die standaard vir jou lewe net goed is. As jy eendag op die ouetehuis se stoep sit en fluister dat jy net ’n goeie lewe gehad het.
Net ’n goeie lewe? wil ek skree. Het jy dan die standaad vir die lewe heeltemal gemis? Strategies verkeerd gelees soos Malema.
Het jy vergeet van Covey se the law of abundance. Dat daar oorvloed in die lewe is. Genoeg vir almal om great te kan lewe.
Jy ken nie my lewe nie, hoor ek jou sê. Jy weet nie waardeur ek is nie.
Reg so my pel, maar miskien was dit net makliker om vir ‘n good life te settle?
Jý wat lees. Hoe lyk jou lewe? Net good?
Kom nou.
Skree Geronimo en vra: Alexander wie?
Don’t try to innovate for the future. Innovate for the present. – Peter Drucker
Excellence means when a man or a woman asks of himself more than others do. – Jose Ortega Y Gasset
Hold yourself responsible for a higher standard than anybody expects of you. Never excuse yourself. – Henry Ward Beecher
Image: koratmember/FreeDigitalPhotos.net