Tag Archives | Boomklim

Boomklim in die Onderwys

Vra enige ma of haar kinders dieselfde geaardheid het en sy sal sonder om te huiwer sê dat hulle verskil. Nogal baie! Soms so baie dat sy nie kan glo hulle is almal háár kinders nie!

Wakker ouers probeer dan ook om hierdie verskille te akkommodeer. Jannie word toegelaat om die branders te tem terwyl Daan weer sy talente op die saksofoon kan uitkerm. Elkeen soos hy geveer is.

Maar dit is as hulle skool toe gaan, dat die spreekwoordelike kam te voorskyn kom. Dit is dan wanneer die surfer en die saksofoonspeler oor presies dieselfde kam geskeer word. Veral wat die akademie betref.

As ek die spotprentjie, die ene waar die onderwyser vir die diere sê om die boom te klim, wys dan lok dit gewoonlik ‘n gegiggel en self ‘n hardop gelag by onderwysers uit.  Want wie is dan nou so simpel om net een toets vir die verskillende diere te gee?

Hoe gaan goudvis in die eerste plek uit sy bak kom? Wat nog te sê van boomklim! Om dan nog nie eens van Wagter te praat nie. Al wat hy met die boom gaan doen, is om sy been daarteen te lig!

Die ironie van dié toets is dat Bobbejaan dit gaan geniet! En boonop gaan hy baie goed vaar. Besonder goed. So goed dat hy selfs as begaaf bestempel gaan word.

Elke dag kom ons kinders met totaal verskillende vermoëns, agtergronde, talente, belangstellings, swak en sterk punte skool toe. Maar ons verwag dan van almal om dieselfde te wees? Almal kry dieselfde taak: Klim die boom!

Maar dit is wat die sillabus van ons verwag, hoor ek jou sê. Ek verstaan, want ek was self ook daar, maar probeer verdomp net ’n slag iets anders! Of gee ’n verskeidenheid toetse dat Goudvis en Rakkertjie Rob ook soms soos wenners kan voel. En kyk ’n slag hoe Bobbejaan spartel om kop bo water te hou as hy moet swem.

Ek weet dit is nie altyd maklik of selfs moontlik nie, maar hierdie een resep vir almal is nie besig om ons kinders vir die regte lewe voor te berei nie.

Nog beter (of vir party dalk erger) kom ons beloon ’n slag almal wat net probeer om die boom te klim.

Want in die regte lewe is dit eintlik hierdie aanhou-probeer-ten-spyte-van-wat-eienskap wat base by hulle werknemers soek.

Seth Godin verwys onlangs na die uitmergelende Iditarod honde-sleeresies in Alaska en die toekenning van die Rooi Lantern.

Een van die pragtige gebruike van dié resies is dat die persoon wat laaste die wedren voltooi, die gesogte Rooi Lantern as toekenning vir sy vasbyt en deursettingsvermoë ontvang. Al steek hy letterlik, soos in 1973, die eindstreep twaalf dae na die wenner oor.

Seth skryf verder: Failing to finish earns you nothing, of course. But for the one who sticks it out, who arrives hours late, there’s the respect that comes from finding the strength to make it, even when all seems helpless.

Most parents (and most bosses) agree that this sort of dedication is a huge asset in life. And yet, as we head back for another year of school, I can’t help but notice that school do nothing at all to encourage it.

The director of the school play puts the same kids in leading roles year after year. After all, the reasoning goes, we need to have to reward the best performers, just like they do in real life.

But school isn’t real life. School is about learning how to succeed in real life.

Hierdie boomklimtoetsery laat my deesdae, as ek na skole se prestasieborde in die saal of hul gange kyk, diep dink. Wie was die  Dux-leerder? Bobbejaan of Kraai?

En as ek vra wat het van Goudvis geword, dan sug hulle…

Jy sal nou nie glo nie, maar ons het alles probeer om hom in die boom te kry.

Ekstra klasse, remedieering, maar niks wou help nie!

Goudvis het tot ons spyt skool vroeg verlaat.

Hy wou die heeltyd net swem…

Everybody is a genius. But if you judge a fish by its ability to climb a tree, it will live its whole life believing that it is stupid. – Albert Einstein

Intelligence is the ability to adapt to change. – Stephen Hawking

I think kids should have a mentor and a role model, but they shouldn’t take one person’s opinion to be what we call final assessment or judgment about how life is supposed to be. – Sean Paul

Image: Imgur

Continue Reading