Tag Archives | Barmhartigheid

‘n Samaritaan by die verkeerslig

Ek is oortuig die nimmereindigende stroom bedelaars by my voordeur sou die Samaritaan geknak het.  Barmhartig of te not!

Boonop wil dit vir my lyk of elke besige kruising deesdae ook met ’n bedelaar ge-issue word.

Gee werk, gee kos. Help ’n bietjie. André.

Op elke stukkie denkbare karton word tranetrekker-jeremiades geskryf. Vinnig geoordeel; baie min van dié skrywers het hul lopende skrif in graad 2 geslaag!

Hulle stoei met ander manne wat elke artikel wat jy uit draad kan vleg, of wat jy uit China kan kry, verkoop, vir die beste staanplek op die middellyn van die pad.

Só sit ek nou die middag weer by ‘n verkeerslig en staar in die emosielose gesig van nóg ’n plakkaathouer. Sy gesig uitdrukkingloos en die toonbeeld van ’n stamboeksnotpsalm*.

Dis Saterdagmiddag en die moontlikheid van ’n goeie oes vir hom, lyk vir my skraal.

Niemand in die Pajero’s of BMW’s lyk of hulle die bedelaar eens opmerk nie. Wat nog te sê dat hulle hul beursies gaan oopmaak!

Reg voor my staan en bewe ’n Mazda tree-to-tree wat lyk of dit uit ’n boom geval het… ’n paar keer gerol en wonderbaarlik weer op sy wiele te lande gekom het.

Net voor die lig na groen verander, verskyn daar skielik ’n arm deur die tree-to-tree se voorste ruit. Dié arm wink in die rigting van die plakkaatdraer en ’n groen tienrandnoot weerkaats helder teen die swart teer.  Net vir ’n oomblik sien ek ’n flikkering van emosie op die bedelaar se gesig en sy standbeeldlyf kry wonderbaarlik lewe.

En daar op die stopstaat, verstaan ek skielik die gelykenis van die tannie met die twee geldstukkies in die Nuwe Testament.

Dié tannie het gegee. Al het sy dit self nie eens so breed gehad nie.

Sy het gegee, want sy het geweet wat dit is en hoe dit voel om nie te hê nie.

Ons wat so baie het, en net gee uit die oorvloed van wat ons besit, gee nog nie regtig nie.

Dit is darem al iets, hoor ek jou sê.

Toegegee, maar miskien sus ons net ons gewete, want ons weet van die ryk man en die naald se oog.

Die Mazda stotter en dit lyk of dit sy eie rigting wil inslaan.

Dalk op soek na nóg ’n kruising met ’n storie om te vertel.

 

When you learn, teach. When you get, give. – Maya Angelou

For it is in giving that we receive. St. Francis of Assisi

We make a living by what we get. We make a life by what we give.Winston Churchill

 

* Snotpsalm: gehuil: Die snotpsalm insit, begin huil. (HAT)

 

Continue Reading

Leer omgee deur te voel.

Wonder jy ook soms of jy genoeg vir die armes en die behoeftiges doen?

En wonder jy ook wie jy nou eintlik moet help? Wie het jou bydrae die meeste nodig en wie gaan jou geld reg gebruik?

Jy is nie onwillig om te help nie, maar as jy sien hoe word geld deur ons regering gemors, raak jy totaal en al onwillig om nog geld in ’n bodemlose put te gooi! Of om dit in iemand se beursie te sit wat dit nie verdien nie.

So gepraat van barmhartigheid. Iets wat my senuweepunte op ’n knop trek, is die sogenaamde barmhartigheidsaksies wat sommige van ons skole van stapel stuur.

Ons besoek vir ’n middag gou ’n ouetehuis of ’n hospitaal en dan het ons die kinders geleer hoe om van hulself te gee.

Krokodilbollie!

Dis weer Paastyd en ons dra tonne paaseiers na mense toe aan wat dit vir hulle self kan koop en wat dit in elk geval nie meer kan eet nie.

Na die kinders daar weg is, moet die verpleegsters die oues van dae, as gevolg van ’n oordosis suiker en sjokolade, van die plafonne afskraap. Pasaangeërs slaan oor na hoogste ritme en almal se suikervlakke dryf hulle vinniger na AVBOB se stoep as wat jy totsiens kan sê.

Ons jeug leer nie op dié manier om van hulle self te gee nie. Die enigste manier waarop hulle sal leer, is as hulle self voel. Self voel hoe om ’n huis te bou en self voel hoe is dit om nie kos (nie paaseiers nie!) te hê om te eet nie.

Gelukkig is daar nog instansies wat presies op hierdie manier te werk gaan. En wat jou ondersteuning nodig het.

Een hiervan is die Potato Foundation. Gaan klik gerus op hulle logo regs van hierdie post en leer meer van hulle en wat hulle doen.

Potato Foundation se Kaalvoetdag op 16 April  is ‘n praktiese oefening en ’n manier om daadwerklik te help. Hier is wat hulle vra:

Trek daai skoene uit en maak ‘n verskil!!!

Die Potato Foundation gaan hierdie jaar weereens ‘n “KAALVOETDAG” hou as deel van ons Winter Warm projek.

Ons daag elke persoon, besigheid en skool uit om  op 16 April 2013 kaalvoet werk toe of skool toe te gaan.  Die doel is om mense bewus te maak van hoe dit vir ‘n kind voel indien hy/sy nie skoene het om in die winter te dra nie.

Al wat ons vra is dat jy ‘n paar kinderwinterskoene of -skoolskoene skenk, wat jy nie meer gebruik nie.  Jy, jou besigheid en jou skool kan dus ‘n verskil maak in iemand se lewe sonder om ‘n sent te spandeer.

Ons daag jou uit: Kom maak ‘n verskil!!!

Besoek hulle webwerf by http://www.thepotatofoundation.co.za/barefoot_registration.php om jou

Ouers, skoolhoofde en onderwysers: laat die kinders asseblief vir ’n dag sonder skoene loop.

Laat hulle met elke senuwee voel hoe baie mense elke dag van hul lewe die wêreld moet aandurf.

Kom ons leer hulle om opreg te gee, want hulle sal dan verstaan hoe dit is om iets nie te hê nie.

Want hulle het dit aan hulle eie lyf gevoel …

En basta met paaseiers!

If you haven’t got any charity in your heart, you have the worst kind of heart trouble. – Bob Hope

A bone to the dog is not charity. Charity is the bone shared with the dog, when you are just as hungry as the dog. – Jack London

No person was ever honored for what he received. Honor has been the reward for what he gave. – Calvin Coolidge

Continue Reading