Vir vyftien maande van my lewe het ek die voorreg gehad om in Springbok te kon bly. As skoolhoof van die Hoërskool Namakwaland, of soos almal dit in daardie geweste ken en noem, HSN.
Vir diegene wat nie weet waar Springbok is nie, kan ek net sê dit is een van die groot stede in Namakwaland.
En vir stadsjapies soos ek, is Namakwaland ’n ander land. Jy moet na regte eintlik ‘n visum daarvoor hê, want dis soos die bekende reisspreuk sê: you go to another country to find they do things differently there.
Nie te min, die aanpassing was nie altyd maklik nie en menige dag het ek my besluit om die Kaap te verlaat, ernstig betwyfel. Tot op een goeie pragtige Namakwalandse môre …
Op dié spesifieke oggend, ek kan nie meer onthou watter dag van die week dit was nie, het ek seker drie keer verby ’n vrou gestap wat in die voorportaal voor my kantoor gewag het. Ek was onder die indruk sy het ’n afspraak met iemand anders, maar later vra ek tog of ek haar kan help?
Sy sê toe sy is op soek na die skoolhoof.
In die kantoor wou ek weet hoe ek haar kon help? Voor my het ’n vrou met ’n kopdoek oor haar hare gesit. Haar gesig gebeitel deur die fel Namakwalandse son en weer. Maar met ’n trots van iemand wat nie twyfel oor wie sy is nie.
Sy wou hoor of ek nie haar dogter by HSN sal inskryf nie.
My onmiddellike reaksie was dat die skool en koshuis vol is en dat sy aan die begin van die nuwe skooljaar weer moet probeer. Dit was in die middel van die kwartaal en die skool en koshuis was tot kapasiteit toe beset.
Maar ek wou meer uitvind van hierdie vrou, want miskien is sy onwetend een van die rykste mense in die omgewing en ek wys haar uit onkunde weg. Wie weet, dalk wil sy ’n swembad vir HSN bou? Ek kon al die Rian Truter Swembad se blou water sien!
Ek wou weet van waar kom sy? Van Garies.
Wat doen sy? Sy werk as skoonmaker in die skoolkoshuis op Garies.
Hoe het sy dan op Springbok gekom? Sy het ’n geleentheid agter op een of ander boer se bakkie gekry.
Nou was my visoen van ’n moontlike swembad in skerwe en saam daarmee was HSN finaal vol!
Die skoolhoof in my het ingeskop. Sy moet daarvan vergeet om haar dogter by HSN in te skryf, want behalwe dat ons vol is, kon sy vir baie goedkoper haar kind op Garies laat skoolgaan.
Asseblief meneer, vra sy. Asseblief meneer, ek het tydens die blommetyd by die hotel op Kammieskroon gaan werk en die blommekykers se klere gewas om ekstra geld te verdien. Ek het vir Grietjie (kan tot my skande nie meer die kind se naam onthou nie!)’n onderokiekie en ’n seepiekie gekoop. Asseblief, meneer!
Ek het volgehou dat die skool vol was en opgestaan. Toe ek my hand uitsteek om haar te groet, gryp sy my hand met altwee haar hande vas.
Asseblief, meneer…
Maar mevrou ek het mos gesê die skool is vol en in elk geval is dit beter vir jou en Grietjie dat sy sommer daar by jou skoolgaan.
En net toe ek besig was om my finaal van hierdie vrou se hande los te wikkel, los sy skielik my hand en buig na my toe oor die lessenaar en kyk my met trane in haar oë aan en sê in ’n fluisterstem:
Asseblief, meneer. Meneer, ek bring vandag vir jou my kosbaarste besitting …
Dit was op daardie oomblik dat die Here my klap en vir my sê: Dit is waarom Ek jou Springbok toe gestuur het. Om net weer te besef dat jy elke dag met iemand se kosbaarste besitting werk.
Baie dae vergeet ons as onderwysers dat ons elke dag met mense se kosbaarste besittings werk. Ons hou kermisse en samel verwoed geld in vir die skool en reël selfs dat die bank die geld op ’n Saterdagmiddag vir veilige bewaring sal kom haal.
Maar elke dag sit daar miljoene rande se kosbaarste besittings in ’n klas en so maklik sê ons jou luiaard, sleg, skollie of onnosel.
Ongelukkig is dit ook waar dat ouers van hul kosbaarste besitting vergeet. Hulle raak so besig met ander dinge wat veel minder werd is as hul kinders en skrik soms te laat wakker as hierdie kosbaarste besitting amper deur hul vingers geglip het.
Of HSN vol gebly het?
Nee, skielik was ons nie meer so vol dat ek nie nog een kosbare besitting kon akkommodeer nie.
We are always too busy for our children; we never give them the time or interest they deserve. We lavish gifts upon them; but the most precious gift, our personal association, which means so much to them, we give grudgingly. – Mark Twain
Throughout life one does not miss any chance to hold onto the things that are really precious. If one is truly wise. – Ed Greenwood
Die ma se hart is haar kind se klaskamer. – Henry Ward Beecher
As meer mense soos u dink sal die lewe
‘n baie beter plek wees.
Ons skole het meer van u nodig.
Kan hierdie storie nie erens geplaas word sodat meer mense dit kan lees nie?
Dankie, Magda! Ek vertel dit vir almal wat wil luister.
Dankie Rian. Wens so ALLE mense wat met kinders te doen kry, kan dit te lees kry.
My vreugde, Hobbie! Mooi loop!
Pragtig Riaan, laat n mens dink aan die geleenthede wat n mens kry om n verskil te maak. Ons moet sulke geleenthede aangryp!!! Jy het dit gedoen!!!
Waardeer, Jannie!
Yes, Rian….mens kry so halwe wind-uit skop in die maag by die laaste woorde van die ma…..kinders is die kosbaarste besitting van ‘n ouer….al skeep hulle af wetend of onwetend. Ek share die storie op FB.
Groete
Dankie, Erich! Sien jou by GE 4.
Hierdie storie is presies wat ek nodig het! Ek is so bevoorregd om ‘n pa soos pappa te he. Dankie xxx
Probeer ook maar net. Dankie Este en die regte besluite is nie altyd die maklikste nie!
Totaal hartroerend, ek is in trane… x
Dankie vir die lees, Lindi! Waardeer.